15
Sep
09

Die ewige siklus (nee, dis niks diep nie!)

15 Augustus 2008

Goed, nou sit ek met my voete op en vat ‘n breek.  Vanoggend het ek besef: hierdie huis kan nie langer met skoonmaak gedreig word nie.  Hy is besig om pote te ontwikkel.  En toe spring ek weg…

Op sulke oggende weet ek hoekom al daai irriterende advertensies met salig-gelukkige huisvroutjies nooit sal verdwyn nie.  Dis omdat daar poepolle soos ek is.  Nee, ek is nie ‘n salig-gelukkige huisvroutjie nie. Wel, ‘n huisvroutjie wel, maar bitter lui, en soms bitter opstandig oor my lot.  Dis net, as jy daai Mr Min so gespuit het op die meubels, en jy poets alles blink en die vars geurtjie hang in die luggie, dan voel jy so goed! Of as jy uiteindelik jou vuil kombuisvloer van al die koffiemerke en ui-skille bevry het, hoe kan jy nie soos die queen van jou mishopie voel nie?

Wasgoed.  Ai.  Daar is niks so lekker as om ‘n baie vuil kledingstuk te Preen of te Spot-out nie, en hy kom witter as wit daar uit.  En as jy die droë klere van die draad afhaal, en jy druk jou neus in die skoon varsheid daarvan…hemels!  Die mandjie met strykwerk kan ophoop en soos ‘n seer oog in die eetkamer van alle plekke staan, maar as ek nie wil stryk nie, dan stryk ek nie.  Maar…as ek die dag begin stryk, dan speel ek nie.  Ek stryk alles. Panties, onderbroeke, by geleentheid selfs kouse.  En dan gaan pak ek liefdevol elke netjiese hopie in elke geliefde se kas.

‘n Skoon, netjiese huis laat jou soos ‘n suksesvolle vrou en moeder voel.  Ek weet nie of dit te danke aan al die advertensies is nie, maar ek kry ook so salige, vredevolle glimlaggie op my gesig terwyl ek besig is met met my takies.  Al het ek dit vir ‘n week (of meer) uitgestel.

Dan kom die skepseltjies wat ons ‘kinders’ noem en draai die plek op sy kop in 5 minute flat.  Rooi fireball-vingermerke teen die muur, sand op die mat en goetertjies wat rondlê op die sitkamervloer.  Klere word vir ’n paar uur aangetrek, en dan in die wasgoedmandjie gesmyt.  Daar is dadelik vuil koeldrankglase.  My tuin se klippies word vissies, en lê oral rond. (Alles LÊ rond in my huis)  En jy word verbied om dit op te tel.  ‘n Duisendpoot word in jou kleinste Tupperware bakkie gehuisves, en die bakkie is ook op die vloer.

Dis hoekom ek elke week uitstel met die groot skoonmaak, want die vet weet, as ek elke dag deur hierdie gemoedsbevuiling moet gaan, sal ek ‘n psigiater nodig hê.  Maar nou is my taak vir die week vervul, die naweek lê voor en more is dit rugby!  Volgende week los ons vir volgende week.


0 Responses to “Die ewige siklus (nee, dis niks diep nie!)”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar


Statistieke

  • 29 987 keer gelees
September 2009
M D W T V S S
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
282930