Archive for Januarie, 2010

31
Jan
10

Oppad

27 Mei 2009

Heiko het nou die dag geskryf oor sy Malawi-trip in 1993 toe hy onder andere deur ‘n paar boomrokers opgelaai is.  Kort daarna het Sonneblom ’n brief aan haar seun geskryf.  Op ‘n plek skryf sy:

En seun, nou moet jy mooi luister na wat ek sê.

Jy het geen liefde vir die swart nasie nie. Dis geen geheim nie. Maar wat doen God toe vir jou? Hy stuur ‘n swart boemelaar na jou toe en sê jy moet by hom kom slaap want dis gevaarlik daar. Hy stuur ‘n swart boemelaar om jou op te pas. En toe stuur Hy ‘n swart man op ‘n fiets om jou meer as ‘n uur lank terug te neem na die gastehuis.

Dit was vir my ‘n wow! stukkie.  As haar seun wou vertel, dink ek dit sou ‘n aangrypende storie gewees het.

Ek is mal oor stories waar mense uit verskillende sfere mekaar ontmoet, ‘connect’ en weer uitmekaar gaan.  Die meeste vergeet jy nooit.

My ma vertel gereeld die ondervinding wat sy eenkeer op die pad gehad het.  Dit was in die vroeë sestigerjare.  Haar eerste man is pas oorlede en sy het besluit om met haar drie klein seuntjies van die Kaap te reis na haar ouers in die Bosveld.  Dit was 9 uur die aand toe sy in Bloemfontein aankom.  In Zastronstraat het sy ‘n motel gesien en het besluit om daar te oornag.  Sy is op en af in die straat, maar kon nie die ingang na die motel kry nie.  Op die ou einde het sy besluit  om maar net deur die nag te ry.

Net buite Bloem het ‘n stokou karretjie met swartes in, by haar gebly op die pad.  Sy vertel dat sy een of tweekeer langs die pad gestop het.  Dan het die ander kar ‘n entjie verder stilgehou, en gewag tot sy weer ry.  Nooit was daar enige kontak tussen my ma en die ander kar nie, maar hulle het by haar gebly tot hulle Johannesburg ingery het.  Tóé het die ander kar se bestuurder getoet en gewaai voor hulle in ‘n ander rigting afgedraai het.  Dit het ‘n groot indruk op my ma gemaak.  Oor die jare het ons daardie storie al baie keer gehoor.

My man vertel weer van ‘n keer, in die sewentigs, toe hy as dienspligtige deur ‘n swartman op Warmbad opgelaai is.  Hy wou Pietersburg toe, en die man was ook daarheen oppad.  Dit was ‘n stillerige ou, maar heel vriendelik.  Op Naboomspruit het hulle gestop vir ‘n koeldrank.  Toe my man terug in die kar klim, het hy vir die eerste keer gesien dat daar ‘n stel boeie onder die sitplek was.  Nuuskierig wat hy is, het hy die man daaroor gevra.  “En die boeie?  Is jy ‘n polisieman?”  Die ou het gelag en gesê:  “Nee, ek is ‘n terroris.”  Weer gelag, maar toe erken dat hy ‘n polisieman is.  My man het hom oor sy werk uitgevra, maar hy wou nie daaroor praat nie.  Net droogweg gesê: “Baas John (Vorster) kan maar lekker slaap in die aand as ek op die pad is.”

Later het my man hom gevra hoekom hy by die spoedbeperking hou as hy ‘n polisieman is.  (Daardie tyd was dit glo 90 km/uur, maar ek sal sy woord daarvoor moet vat.  Was lank voor ek geweet het van sulke goed.)  Die polisieman het gesê: “Ja, ek kán vinniger ry en ek sal dalk ‘n halfuur gouer op Pietersburg aankom.  Maar as die traffic cops my stop, laat hulle my maklik ‘n halfuur of langer wag.  So, dit help my niks om te jaag nie.”  True as nuts, toe hulle die Ysterberg uitkom, stop ‘n verkeersman hulle, ‘n groot grinnik op sy gesig.  “Jaaaaa, Kaffer!  Jy wíl mos jaag!”  Die polisieman het gedwee geantwoord:  “Dag, Baas.”  Die spietkop het vir sy papiere gevra, en toe hy daarna kyk, het sy gesig verstar.  Hy het dit teruggegee, die swart ou gesalueer en sonder verdere probleme laat  ry.  Dit tickle my man tot vandag nog oor wát presies daardie papiere gesê het.

Advertisements
31
Jan
10

Deurmekaar praatjies

27 Mei 2009

Ek het BB nou die dag in ‘n comment geantwoord, maar sal dit nou sommer ‘n posting maak.  Blogging, as ek nie begeesterd voel nie, is ‘n vicious cycle. Let wel, dis hoe ék daaroor voel.  En my kop raas op die beste van tye.  :wink:

Dit werk so:

Ek gril my letterlik dood vir my eie griffels. Lees dit nooit weer nie, en sal selde ‘n spelfout gaan regmaak – tensy my man daarop aandring.  Dis grotendeels hoekom ek die een na die ander uitryg.  Ek wil so gou as moontlik van die vorige dag se inskrywing wegkom.  Net om die volgende dag met dieselfde probleem te sit…  :roll: Ek het anderdag by Plasie galgebraak oor die donker, onbekende sluipers op blogs…dit pla my nie so erg as ek elke dag ‘n oog op my blog hou nie.  (Jaaaaaa, ek weet: stapelgek.)  Dae soos gister laat my weer ril.  “Skeurbuik” het 35 soekers gehad.  Goed, dis seker onskuldige skoolkinders wat iets vir ‘n taak gesoek het, maar wat van “Ebo” wat 8 gehad het?  En die soekterm was baie spesifiek:  ebo in die boendoes. Ek kan nie help nie, ek voel half ongemaklik dat iemand weet wáár om iets  te kom soek.  (Sjoe, paranoia is ‘n vreeslike ding!)

Dit laat die “Blog Protected”-opsie baie aanloklik klink.  Sluit jou deure vir vriend en vyand tot jy weer reg is.  Aan die ander kant, ek was een van die groot protesteerders toe mense begin het om hul blogs privaat te maak…  :oops: Wys jou net, never say never.  Dit voel half ongeskik om  eendag net  ’toe te maak’, maar almal weet tog die gogga byt wel weer?  En dis nou nie juis of daar elke keer iets groot ‘fout’ is nie?  Mens hardloop net uit stoom uit.

Nou’s ek lekker op dreef!  :wink:

Twitter.

Wie kan my stap-vir-stap verduidelik wat Twitter is en hoe dit werk?  Ek kry left, right en centre invitations, maar ek het nie clue wat om daarmee te maak nie.  Soos vandag kry ek ‘n kennisgewing dat Simon Rademan my nou volg op Twitter.  Huh?  Ek dink hy’s ‘n bekende mode-ontwerper, maar ek dink regtig nie hy volg my nie.  Dalk is die intensie dat ek hom moet begin volg?  Oi, tegnologie is my gat se deksel.  :shock:

Intussen vreet ek my naels een vir een op.  Ja, ek het nog nie ‘n visum nie.  Donderdag sal my paspoort vir die vereiste 13 dae by die ambassade wees.  Of ek dit dan gaan kry, is ‘n ope vraag.  Ek wil SO graag voor hierdie naweek weg wees.  As ek nog EEN naweek vir die Bulle moet skree, sal dit my einde beteken…  :lol: So, hou tog saam duimvas?

31
Jan
10

FlySAA

25 Mei 2009

Richardsbaai het ‘n klein lughawe.  Die grootste vliegtuig wat hier land is die 50-seater De Havilland van SA Express.  Gedurende ‘n beurtkrag-blackout het ons eenkeer sonder elektrisiteit opgestyg.  Die meisies agter die toonbank het vir ons ‘boarding passes’ uitgeskryf terwyl hulle met klein flitsies lig op die onderwerp probeer gooi het.

Nou kan ek verdomp nie verstaan nie.  Hoe is dit moontlik dat hulle die bagasie van 50 passasiers (as die vlug vol bespreek was) kon vergeet op Richardsbaai?  Al die passasiers se bagasie?  Die enigste vlug daardie tyd van die dag?  Tot ek weet nou al hoe hulle ‘operate’.  Vliegtuig land, passasiers af, bagasie af.  Nuwe bagasie op, nuwe passasiers op.  Vliegtuig styg op.  Hoe moeilik kan dit wees?

Maar nou ja.  My beterhelfte moet vanaand kaal slaap.  Dankie, SA Express.  :sad:

30
Jan
10

Janeth

22 Mei 2009

Craig bel vanoggend.  Hy is een van 5 expats wat nog geduldig (NOT!) wag vir ‘n visum.  Hy het slegte nuus.  Janeth is gister in ‘n motorongeluk dood.  Ek het beplan om eendag oor haar te blog.

Janeth was ‘n ’spanner swaaier’.  Sy was saam met Craig ‘n ‘valve and tube specialist.’  Sy het eendag, na werk, by my opgedaag.  Haar Engels was foutloos, en sy het ‘n lewendige, positiewe energie uitgestraal.  Ek was beïndruk.  Sy wou hê dat ek vir haar klere in Suid Afrika koop sodat sy dit in Angola kon verkoop.  Ek het haar fyn lyfie bekyk.  Sy was baie mooi aangetrek:  sexy jeans, mooi hempie, hoë hakkies.  Ek het gewonder of sy regtig ‘n goeie mechanic is.  Later het Craig my verseker:  sy was van die beste wat hy in Angola gehad het.

116

Ek het haar klere gaan koop en sy het dit kom haal.  Geklee in haar overalls.  Ek kon nie glo dis dieselfde modieuse meisie wat die ‘bestelling’ kom plaas het nie.  Met haar toestemming het ek ‘n foto van haar geneem en haar gevra om eendag terug te kom sodat ek haar in haar civvies ook kon afneem.  Haar gesê dat ek oor haar wou blog.  Sy het gelag, maar gesê dis reg.  Eendag, kort voor ek weg is, het sy by die kompleks ingehardloop gekom sodat ek die foto kon neem.  Sy was haastig om die bus terug Luanda toe te vang, maar het nogtans my vrae beantwoord.  Ek het geleer:  sy was 27 jaar oud.  Sy het nie ‘n man of kêrel gehad nie.  Ook nie ‘n baba, soos so baie van die meisies daar nie.  En sy was besig om ingenieurswese te swôt.

Janeth was vir my ‘n toonbeeld van die beste wat Afrika oplewer.  Toegewyd, ambisieus – ‘n girl met ‘n plan.  Nou’s sy weg.

SDC11864

30
Jan
10

Stilte = Verkragting

20 Mei 2009

Gisteraand het ek aanvanklik  met ‘n halwe oor geluister na ‘n program wat gehandel het oor die verkragting van vrouens in die DRC.  Later het ek vasgenael voor die tv gesit.  Net een ding het deur my kop gegaan:  “Goeie #%$!  Hóé is dit moontlik dat ek nog nóóit daarvan gehoor het nie??”  Ek lees immers elke dag my koerant, kyk SkyNews en CNN.

Is hierdie besig om ‘n tweede, veel erger,  Rwanda te word?  Met die Weste van gretig die rykdom van die land opslurp, maar te gewillig is om anderkant toe te kyk oor die erge, erge vergrype van militia?  Hierdie artikel van Jan Goodwin het al in 2004 verskyn.  Dit maak vir grieselrige leesstof – maar lees dit tog.

Volgens die V-Day Movement:

Rape is used as a weapon of war to torture and humiliate women and girls in DRC. This systemic sexual violence not only destroys women and young girls but also entire families and communities. Survivors often suffer in silence, fearing stigma and ostracism. In addition to the severe psychological impact, many survivors are left with genital lesions, traumatic fistulae and other physical wounds, as well as unwanted pregnancies and sexually transmitted infections. Local support for survivors is hindered by a lack of resources.

En ook:

DRC has been called the worst humanitarian crisis in the world and the widest interstate war in modern African history. Fueled by the exploitation of the country’s rich natural resources by foreign and local armies and private enterprises, the war has directly affected the lives of 50 million Congolese. Since 1996, this conflict has caused more deaths than any war since World War II, either as a direct result of fighting or from disease and malnutrition. Five million people have lost their lives as a result of the conflict.

Dis dalk ‘n baie simplisties, maar soos “blood diamonds” ‘n rol gespeel het (en skynbaar nog steeds) in verskeie lande in Afrika, is die DRC se “root of all evil” die mineraal coltan.  Elektroniese produkte soos selfone, rekenaars en dvd-spelers bevat almal coltan.  Die aanvraag is groot, en met die DRC wat 80 % van die wêreld se coltan besit, hoe maklik is dit nie om te maak of daar niks fout is nie?  Volgens die tv-program verlaat tot 80 ton onwettige coltan die DRC elke dag.

Ek wonder ook soos Jan Goodwin:  “Yet where is the international media coverage? The outrage? The demand for justice?”

V-Day Movement –  Stop Raping our Greatest Resource.

birds

29
Jan
10

My lewe in ‘n boks

18 Mei 2009

Ek het vandag die bokse in die garage aangevat.  Van daai bokse is maklik al ses jaar lank toe.  Daar was ‘n paar met platiekgoed en een of twee met breekgoed in, maar die meeste was gemerk “Boeke”.  Eintlik moes hulle eerder “Kakkies” gemerk gewees het, want ek was destyds seker gatvol gepak en het allerhande strooi saam ingegooi.  Soos foto’s in ‘n koekblik en ’n tandemuis-kussinkie saam met ‘n klomp boeke.  Ek het hierdie werkie lank uitgestel.  Eerstens, omdat ek seker was daar sou kakkerlakke uitspring (daar het nie), en tweedens omdat ek besluit het ek gaan ruthless wees.  As ek in ses jaar iets nog nie gemis het nie, het ek dit nodig?  Ek sukkel om goed weg te gooi…

Die “boek”-bokse was ‘n belewenis.  Ek het later op ‘n boks gaan sit en deur al my ou goedjies gelees.  Uit “My Skoolloopbaan” het ek ‘n paar skatte gekry.  (Wie onthou nog daai groot, wit boeke waar jy jou rapporte en skoolfoto’s in kon bêre?!)  Die eerste was twee briefies van my jongste broer toe ons albei nog op skool was.

Liewe Hettie

Hoe gaan dit nog daar?  Met my gaan dit goed.  Saterdag het ek en Andries gaan fiets ry.  toe kom een van ons onnies daar verby gedraf.  hy het vals knie en draf maar stadig!!!!!!  Hy het ons ‘n paar dae van te voore ‘n pak gegee!!!!! toe wou hy nog ‘n spiets ok nog leewer. (verskoon speling)

Ag nou ja dis weer tyd om te groet.

Jou grootste beste flukste mooiste vinnigste broer

Toe hy st. 6 ook koshuis toe is, het ek hom blykbaar gas gegee oor sy rokery – en meisies ook, lyk dit my.  Hierdie briefie, onthou ek, het hy eendag ná skool vinnig in my hand gedruk.  ‘n Klein, opgevoude wit papiertjie.

Hettie wat jy gehoor het is miskien waar maar ek het reeds myself reg geruk en vir daai vleri geskryf dat ek niks met haar tedoen wil hê nie oor dinge wat ek van gehoor het en het al lankal opgehou rook!

Tussen die rapporte en ou love-letters kry ek ook ‘n briefie van my Afrikaanse onnie, Mnr. van Straten, gerig aan ons matriekklas voor die eindeksamen.  Onder andere sê hy:

Is jy nog bang, gespanne, vol twyfel, miskien wanhoop?  Dit is nie meer nodig nie.

Onthou:  1.  Lees die vraestel goed deur.

2.  Kies dan jou onderwerp en bly daarby.

3.  Raak al die komponente aan.

4.  Ervaar jou opstel en moet nie bang wees om te veel van jouself te gee nie.

5.  Gee jou gedagtes vrye teuels.

NB       6.  Ek koester hoë verwagtinge.

Mnr. van Straten, of ou Stovies, is verlede jaar in ‘n motorongeluk oorlede.  :sad:

Die boek waarna ek heimlik gesoek het, het saam met Bart Nel en ander walglike voorgeskrewe boeke, te voorskyn gekom.  Die huis van die vier winde. ‘n Geskenk van my pa in 1980.  Ek en my pa het nie ‘n baie goeie verhouding gehad nie, en hierdie boek…ag, ek weet nie.  Hy’t my verskeie boeke gegee, maar dié een is om een of ander rede spesiaal.  Die een storietjie in die boek gaan oor ‘n man wat heuning op ‘n berg gaan uithaal en dan om een of ander rede nie meer kon afkom nie.  Soos die jare verby gegaan het, het hy met sy lang baard en woeste hare gekyk hoe die vryers verby ry na sy plaas om vir sy ‘weduwee’ te gaan kuier.  Hy is darem eventually gered en herenig met sy vrou.  :wink:

Kersfees 1981 het my gróót tjommie vir my ‘n klein boekie gegee.  Springs of Comfort. Ek het nie gedink ek het die boekie nog nie.  Ek kon flikflakke doen vanmiddag toe ek op hom afkom en het ook gou weer deur hom geblaai.  The man who abandons all desire and lives without longing, who says neither mine nor I, wins peace.

Behalwe ‘n opgevoude toiletpapier vierkant met ‘n boodskap I love you, Vollie (ek het nie meer ‘n idee wie Vollie is/was nie!), het ek hope kinderboeke uitgepak.  Pieter is in sy noppies.  Wie sou kon dink dat ‘n skoenlapper-boek wat Bruce twaalf jaar gelede getickle het, vandag nog ‘n wenner kan wees?

Op die ou einde het goed soos my “Verloskunde Bybel” en “Die Pasgebore Baba” op die weggooi-hoop beland.  Somehow dink ek nie dat ek ooit weer die lus sal hê om ‘n moderne mamma te probeer oortuig dat ‘natuurlik’ beter is nie.  Induksies, keisers, epidurale, formule melk…ek het daai battle gefight – en verloor.  Tyd vir iemand anders om die goeie stryd te stry.  Ek quit.

Nog iets wat ek besef het, is dat mense (ek) in ‘n baie kort tyd geweldig kan verander.  Ek het half verbaas na my kerspitboek gekyk, en kop geskud oor die “How to make soft furnishings for the home”.  Die dae wat ek prinsesrokkies, godyne en kussinkies gemaak het, is lank, lank verby.  Om die waarheid te sê, ek sal vandag nie ‘n clue hê oor wáár om te begin nie.  En op ‘n tyd was ek nogal ‘n boffin daarmee!

Bokse uitpak is goedkoop terapie.  Soos ek die bokse oopgemaak het, móés ek net weer terugkyk oor my lewe die afgelope paar jaar.  Party goed wil mens mos nie eintlik onthou nie.  Soms is dit goed – om weer te onthou.

29
Jan
10

Positiewe denke

18 Mei 2009

My visum gaan Donderdag reg wees.

My visum gaan Donderdag reg wees.

My visum gaan Donderdag reg wees.

My visum gaan Donderdag reg wees.

My visum gaan Donderdag reg wees.

My visum gaan Donderdag reg wees.

My visum gaan Donderdag reg wees.

My visum gaan Donderdag reg wees.

My visum gaan Donderdag reg wees.




Statistieke

  • 26,445 keer gelees
Januarie 2010
M D W T V S S
« Des   Feb »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031
Advertisements