Posts Tagged ‘Kiddies

20
Mar
10

Wanneer bars mens die bubble?

2 Augustus 2009

In plaas van slimmer  soos ek ouer word, word ek wragtig net dommer.  Met ouerskap, meer spesifiek.  Of dalk is dit net omdat Pieter so jiltemal anners is as die twee oudstes.

Bruce het goed soos Kersvader en die Tandemuis in sy stride gevat.  Daaraan geglo, en eendag seker besef dit bestaan nie meer nie.  Geen trane, geen trauma.  Jeannie het van kleins af alles met ‘n knippie sout gevat.  Toe dit tyd word om haar eerste tand vir die Tandemuis te offer, het sy my uitgelag.  Eintlik het ek gedink daar is iets fout met die kind.  Is alle kinders nie veronderstel om aan fiktiewe karaktertjies te glo nie??  Ek het ‘n spesiale tand-kussinkie vir haar gekoop.  Baie fraai: pienk met ‘n mooi blommetjie-sakkie virrie tand.  Daardie aand het ek die tand in die sakkie gedeposit, en onder haar bed gaan sit.  Toe ek later kom om die R5 te ruil vir die tand, was die kussinkie weg.  Die klein merrieperd het die kussing by haar winters-slaapbroek ingedruk. Ek moes so stil soos die Gemaskerde Skim die komberse oplig, saggies my arm by haar broek indruk en êrens by haar knieë het ek die kussing gekry.  En toe ek die ruiltransaksie afgehandel het, moes ek die hele prosedure herhaal.  Sonder sukses.  Die volgende oggend was sy in haar skik oor die R5, maar het sonder twyfel geweet ék is die Tandemuis.

Pieter – dis ‘n ander kalant.  Hy glo onvoorwaardelik aan al sy helde.  Sy maatjie, Kyle, is ‘n koel komkommer en baie realisties.  Een vir een pop hy al Pieter se bubbeltjies.  Nou die dag kom hulle ingehardloop, Pieter voor.  Hy is in trane, vat my gesig in sy twee vuil handjies vas en sê:  “Ma, please tell me that Little Foot is not dead?!”  Nou staan Kyle daar en chirp:  “No, Pieter, the dinosaurs are extinct.”  Wat moes ek sê?  Ek kon nie blatant vir Kyle lieg nie, sy ouers het hom mos nou mooi geleer, maar ek wou Pieter se hart nie breek nie.  “Welllll, some dinosaurs are still alive…”  Dis mos nie heeltemal ‘n leuen nie?  En vir al wat ons weet, is Little Foot een van die oorlewendes…  :roll:

Vanoggend stry hy en Kyle oor Peter Pan.  Pieter het net gister ‘n ‘green suit and a hat with a feather’ gevra, vas oortuig dat hy Peter Pan is.  En dat ons twee na Neverland gaan vlieg, waar hy my gaan verander in Tinkerbell.  Kyle, met hope siniese wysheid, het hom weer gecrush:  “No, Pieter, Peter Pan doesn’t really exist.”  Arme Pieter.  Kyle het  nie daar gestop nie.  Pieter se swaard (’n stomp mes) is ‘net’  ’n mes.  ‘n Swaard is lank en groot.  Het ek al gesê “Arme Pieter?”

POP! goes another bubble.

Advertisements
26
Feb
10

Kalwerliefde x 2

22 Julie 2009

Die dag toe die skole gesluit het, kon ek sien hier kom huismoles.  Jeannie het soos ‘n yskoue wind by die huis ingewaai en sommer met die intrapslag ons almal ‘n kop korter gemaak.  Ek het sover moontlik op my tande gekners; die girl was darem besig om ‘n liefdesteleurstelling te verwerk.  Die eerste week van die vakansie was nie plesierig nie.  Soggens het sy met pof-ogies opgestaan, kos gevat en terug kamer toe gegaan.  As sy met iemand gepraat het, was dit gewoonlik nie baie liefdevol nie.

In week twee het dinge verander.  Sy het eendag met ‘n huppel in haar stap en blos op die wange by my kom sit.  Die Ex-Boyfriend het vir haar ‘n sms gestuur! O, wou ek weet, wat het hy gesê?  Nee, hy was besig om ‘n muffin te eet, en toe dink hy aan haar.  “Maar Ma, wat moet ek vir hom sê?”  Ek was so bly sy het my raad gevra…hier volg die verkorte weergawe:

Dis ‘n mite dat die man die “jagter” is.  Die meisie/vrou is die jagter.  Sý  besluit watter vis innie see sy wil hê, en dan begin sy hom inkatrol.  Die kuns is om die man te laat dink hy is die jagter.  :wink:

“Genuine, Ma?”  Baie ongelowig.

“Genuine, Jeannie.”  Gerusstellend.

“So, ek moet hom eerder nie antwoord nie?”

“Jip.”

Soos die dae verby gegaan het, het sy nie weer van hom gehoor nie.  Sy het later verwytende aanmerkings in my rigting gegooi, maar ek het my doof gehou.  Twee dae voor die skole weer begin het, kom sy by die huis ingewarrel ná ‘n oorslaapsessie by haar niggie.  “Ma! Ma sal só trots op my wees!  X wil my terug hê, maar ek het hom sommer in sy maai  gestuur.”

My battery was bietjie pap.  Ek dog sy wou hom so graag weer terugwen?  :shock: In elk geval, dit was ‘n sterretjie in my boek vir goeie moederlike advies.

Vanaand het Bruce probleme met sy girl opgetel.  Hulle is vandag 11 maande “saam”.  Die meisie wou hê dat hy saam met haar en haar ouers gaan uiteet.  Hy was nie baie begeesterd nie, en het verskoning gemaak.  (My ma wil nie dat ek gaan nie, so ewe.)  Dit was die begin van ‘n fight wat tot nou toe aangehou het.  (Amper middernag)  “Ma, sy is te TE.”  Ek moes lag.  Het hom vertel van my raad aan Jeannie – en my teorie oor wie die eintlike ‘jagter’ is.  Hy het my oopmond aangestaar…en toe saamgestem.  Die arme meisie se probleem is dat die ma net so hard saamvry.  Hy is nog op skool, en hy voel klaar die strop om sy nek.  :lol:

Dis tye soos hierdie dat ek reken ek is glad nie so power ma nie.  Eintlik bloomin’  oulik.  :mrgreen:

14
Feb
10

Matriekafskeid

7 Julie 2009

Bruce en Jeannie verwyt my altyd dat ek Pieter voortrek.  “Ma blog altyd net oor Pieter.  Pieter is so cute, Pieter is so dit, Pieter is so dat…” Wel, miskien het hulle ‘n punt beet.  Die Matriekafskeid was nou al twee weke gelede, en behalwe vir ‘n bietjie gebiets op Facebook, het ek nog nie ‘n dooie woord daaroor gesê nie.  :oops:

Dalk sou ek meer entoesiasties gewees het  as dit vir ‘n Bruce ‘n big deal was.  Maar nee, hy was genadiglik baie ongeërgd oor die storie gewees.  Ek het hom meer begeesterd voor ‘n rugbywedstryd gesien. Die enigste ‘moeite’ wat hy gedoen het, was om sy hare vir die okkasie te laat groei.  Die oggend voor die matriekafskeid het hy vir die eerste keer sy hemp aangepas, en oeps! hy kon nie die boonste knopie toekry nie.  Toe besef hy ook skielik dat hy nie ‘n swart belt het nie.  Ook nie swart kouse nie.  Teen daardie tyd was ek al lekker opgewarm.  :evil:

Maar einde goed, alles goed.

Sy meisie, Marilee, het nou al onder my vel ingekruip.  As ek in Suid Afrika  is, slaap sy elke liewe naweek hier.  Nou is dit vakansietyd, en sy kuier by haar pa.  En die huis voel skoon leeg.

Só het hulle gelyk.  (Daar is blykbaar konsensus in die skool dat Marilee se rok die mooiste was…  :wink: )

...en kyk die sexy ruggie!

…en kyk die sexy ruggie!

06
Feb
10

One Day

29 Mei 2009

Ma,

One day when I’m big

like Bruce

I’m going to drive to school

Cook dinner

Make popcorn

And one day

when I’m big

like my brother

we’re going to play rugby

we’re going to be Sharks

the Cheetahs are LOSERS

and Bruce and I

we’re going to win the trophy

and one day

when I’m big

I’m going to be

Afrikaans.

(Niks dieps hierin nie.  Net alles, woord vir woord – na die beste van my geheue – wat Pieter vanaand kwytgeraak het voor slapenstyd.  Hy dink sy broer is die beste in die weste. )

28
Jan
10

Ongetiteld

9 Mei 2009

Moedersdag.

Ek het eers ‘n lang stuk geskryf oor hóé ek die dag verpes.  Toe klink dit of ek my kinders nie kan verdra nie.  Wat nie so is nie.

Ek dink aan Bruce.  My rebelse kind wat niks van skool hou nie, maar vrek oor rugby.  Wat seer knie en al gaan speel het vandag.  Twee wedstryde ná mekaar gespeel het, en in albei ‘n drie gedruk het.  Wat self vroeg opgestaan het omdat hy na die buurdorp toe moes ry vir die toernooi.  Hy bly 3 maande alleen in die huis en sorg vir hom en sy sussie as sy naweke huistoe kom.  Hy bel skelm sy ouma as sy vir langer as ‘n week weg is  – omdat hy na haar verlang.

Jeannie:  haar ma uitgeknip.  Merrieperd, rissiepit, drama queen.  En nog beter as haar ma:  pligsgetrou, hardwerkend, betroubaar.  Nie een van my grys hare is te wyte aan haar nie.  Ek weet sy mis haar pa nóú baie, maar ek lees dit  net op Facebook raak.  Sy probeer altyd my las lig hou.  Liefste kind.

Pieter:  engelkind.  Hy kam my hare met spoeg plat en teken met koki-penne op my bene.  Hy soen my soggens met sy slaap-asempie en wag dat ek wakker word.  Hy hou nog nie ‘n potlood reg vas nie maar weet van planete en die son en die aarde en saadjies saai en water gee.

Ek soek nie angeliere en ‘n Cardies-kaartjie vir Moedersdag nie.  Ek wil net met nuwe oë na my kinders kyk en weer besef hoekom ek bly is hulle is MY kinders.

26
Jan
10

Beskerm: Boelie

Hierdie inhoud word deur ‘n wagwoord beskerm. Gee asseblief die wagwoord om die inhoud the besigtig.

27
Des
09

18h15

11 April 2009

Dis wat die kaartjie sê.  Dan kom my dogtertjie met die Greyhound.  Ek kan nie wag nie.  Rissiepit, drama queen, my hart se (ander) punt.

copy-of-sumbe-007

Ek wens ek kon sê sy het haar good looks by haar ma gekry, maar nee, ongelukkig nie.  Net die temperament.  :mrgreen:




Statistieke

  • 25,767 keer gelees
Julie 2018
M D W T V S S
« Mar    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  
Advertisements