Archive for September 18th, 2009

18
Sep
09

…oeee…aaaaa…

30 September 2008

Small things amuse small minds…  Ek het dan sekerlik die kleinste breintjie…   :lol:

Is ek die enigste idjit wat nog nooit ‘n pynappel(plant) sien vrugte dra het nie?

Moederliefde!Moederliefde!

Ons het hierdie pynappeltjies by Kissama Nasionale Park se ‘lodge’ raakgeloop.  Eers moes ek tweekeer kyk, toe het my bek oopgeval en toe het ek ‘terms of endearment’  uitgeryg soos laas met Pieter se geboorte.  “Dierbare goedjies.”    “Te cute.”    “Izzit nie cute nie, Lief?”    ”Kyk hoe sweet lyk dit!”    “Ek kan dit nie glo nie!”  “Wag, ek moet nog ‘n foto neem…”

Dierrrrbaar...Dierrrrbaar…

Julle kan nie stry nie.  Dit is blêrrie cute, nê?!

Geen plek vir boet in die foto nie - net pynappeltjies!Geen plek vir boet in die foto nie – net pynappeltjies!
18
Sep
09

Sulke goed breek my spoed

29 September 2008

Soms is die internet my grootste vyand.  Vir my, die blogger.  Hier kom ek terug van ‘n heerlike naweek, gewapen met foto’s en stories en kom sit en bespied wat in my wêreld gebeur het die afgelope 48 uur, en woeps, weg is die lus om enigiets te deel.

Hoe kan my grille en geite enigsins vergelyk met die verskrikking van ‘n 8 jarige dogtertjie wat deur twee leeus verskeur is? Hoe voel ‘n ma wat haar kind vir dood optel en op handdoeke gaan neerlê?  Dit voel onvanpas om te spog òf te kla oor my eie kinders.  Stilbly en dankbaarheid voel na beter opsies.

Twee opskrifte, ironies genoeg reg langs mekaar, in die Beeld:  die Christen Party beskryf die 4 352 aborsies in Mpumalanga die afgelope jaar,  as massamoord.  Ja, wil ek saamstem, maar die ander opskrif laat my weer dink: Baba met sak oor kop in sloot gekry.  Sou ‘n aborsie nie meer lyding vir die baba voorkom het nie?  En vir die ma?  Ek weet nie.  Ek wil nie eens begin bespiegel oor wat ‘beter’ sou gewees het nie.

Daar is te veel mense wat op hierdie oomblik swaarkry en seerkry.  Vandag wil ek ‘afvat’ en ophou nonsens praat.  Ek wil dink aan o.a die Waterkloof 4 se ouers.  Ek is self die ma van ‘n 18 jarige seun en kan net sê “there, but for the Grace of God…”  Wat doen ‘n ma as jou kind op 16 jaar iets stupid doen en sy hele lewe daarmee opneuk…?

Dankbaar stilbly.  Dìs wat ek vandag gaan doen.

18
Sep
09

Uitstappie

25 September 2008

Eergister na werk het ons bietjie in die buitewyke van ons dorpie gaan rondry.  Baie het verander het verander in vier maande.  Nuwe paaie, twee nuwe “bottling plants”, oral is vooruitgang te bespeur.  Dat hierdie plekkie sy landelike voorkoms gaan verloor en ‘n industriële ‘hub’ gaan word, is nie altemit nie.  Ek het gehoor dat dit geoormerk is vir die industriële ontwikkeling.  Dit gaan waarskynlik voordele inhou vir die plaaslike bevolking, maar die natuur gaan tweede kom.  Dis seker hoe dit gaan, maar ek vind dit tog jammer.

Tussen al die gebou en gebreek, kon ons tog stukkies ongeskonde natuur kry.  Die kremetarte staan kaal en swart in die wit, stowwerige landskap.  Die paaie is tot ‘n fyn poeierstof gery.  Bome langs die pad lyk soos wit standbeelde, so toe is hulle onder die stof.  Ook mooi, op ‘n ander manier.

Op ons pad terug, ry ons verby die fabrieke se ‘dumping ground.’  Daar brand amper permanent ‘n vuur, met rook wat oor alles hang.  En 50 meter van die brandende gemors, nog ‘n nuutopgerigte kerk.  Gemaak uit kartonne van die fabrieke.  As mens mooi kyk, sien mens “Boxmore, Harrismith” daarop.  Snaaks om te dink dat uit die skilderagtig dorpie in die Vrystaat die boumateriaal vir ‘n kerk kom.

Eben, boerbokke.  Hierdie klomp het ons in ‘n kraal gekry, baie vreemd vir hierdie geweste. Gewoonlik loop hulle rond vir kwaadgeld.  Maar ek vermoed hulle slaap net snags daar, en word bedags vrygelaat om te gaan eet.  Die bababokkie het my amper my opinie oor hulle laat verander.  Te dierbaar.  Ek moes myself herinner dat hulle gou in groot boosdoeners verander met min wat cute is!

Wat kyk jy, baas Eben??Wat kyk jy, baas Eben??
Baba-duiwelBaba-duiwel

Hierdie twee het in die pad gestaan en baklei, maar darem gou gestop en ‘gepose’ vir die foto.

Terug by die huis, is die rede hoekom boerbokke se pestilensie is.  Die teepee is eintlik beskerming vir ’n babakremetart.  Sonder beskerming, sou die boerbokke mincemeat van hom gemaak het.  Ek het daar ingeloer.  Die boompie is besig om blaartjies te spruit.  Ongelooflik, daar kom omtrent niks son deur nie!

En dit was ons trippie vir die middag!  Sommige goed het baie verander, ander sal nooit verander nie.

18
Sep
09

To put a man on a throne

24 September 2008

Hierdie is een van die stories wat ek wil hê vir die familie behoue moet bly.  Meer spesifiek, vir Pieter.  Eendag hoop ek hy wys sy nuwe vroutjie die inskrywing…   :mrgreen:

Soos baie reeds weet, het die kind my al my dae gegee met sy…eh…opelyf-ritueel.  Hy het volstrek geweier om dit in enigiets anders behalwe ‘n nappy te doen.  Hy het goed geweet wanneer dit ‘tyd ‘ is, en dan gehol dat ek sy doek aansit.  Die skoonmaakslag was ‘n prosedure op sy eie.  Meneer het met sy kop onder ‘n kussing gelê sodat hy niks kon hoor, sien of ruik nie, en Ma moes maar haar neus in die stinkende onderwêreld hou.  Solank hy die ervaring misloop…

My pogings om hom sover te kry om op die troon te sit, het hom heeltemal van die spoor af gebring.  Eers het ek, net voor ons teruggekom het SA toe, probeer.  Oi.  Vir drie dae was dit ‘n sukses.  Toe begin hy, as die groot nood toesak, soos ‘n hondjie buite sy ding doen.  Gewoonlik was dit net so voor 5 uur, huistoekom-tyd vir die manne, en ek het skoon grys hare ontwikkel om al die evidence op te tel voor daar enige toeskouers is.  Geen mooipraat of pakslae het gehelp nie, en toe gee ek maar weer in. Terug op die nappies, en die Diktator was gelukkig.

Terug in SA, moes hy kleuterskool toe.  My nerwe was aan’t flarde, want watter juffrou gaan vir ‘n amper 5 jarige kind ‘n doek aansit?  Toe gee ek dit weer ‘n go.  Grooooot Fout!  As dit sulke tyd is, hardloop hy weg en doen die ding in sy broek.  Dit het my briesend gehad.  En erg bekommerd.  So groot kind moet mos nou al baie gelukkig op die loo wees?  Om die skok van die kleuterskool te versag, gee ek hom sy sin…en weer ‘n pak (of twee of drie) Pampers.  Dat hy nie dom is nie, is verseker.  Daar word geknyp en geknyp, maar by die skool sal hy niks doen nie.  Dis eers as hy by die huis kom, dat hy skree vir sy blêrrie nappy en die sfinkterspiere ontspan.  En die skoonmaaksessie met sy kop onder ‘n kussing deurbring…

So drie weke gelede besluit ek:  genoeg is genoeg.  Om so groot kind se alie skoon te maak, is nie ‘n grap nie.  Daar is niks cute of dierbaar daaraan nie.  Ek gaan koop ‘n kindersitplekkie wat jy bo-op die toiletsitplek sit, en voila!  perfek vir klein boudjies.  Ek vertel hom mooi dat ons nou nie meer “nappy-poefers” is nie, maar “toilet-poefers”, en wag vir die pret om te begin.  Met die eerste benoude getrippel, gryp ek hom, trek sy broekie af, en plak hom op die toilet neer.  Aanvanklik het dit mooipraat gekos, maar toe hy sien daar gaan geen nappy tot sy redding kom nie, het hy maar ingegee.

Tot vandag toe.  Suksesverhaal.  Ja?  Ek weet nie.  Want nou verloop die prosedure sò:  ek moet langs hom sit, op die badrand.  Hy hang dan soos ‘n vlêrmuis koponderstebo oor my skoot terwyl hy sy neus toedruk.  En ek, ek moet sy ore toedruk.  Ek gee nie (nou) om nie.  Die holletjie skoonmaak agterna is baie makliker as in die nappy dae!

18
Sep
09

Kreatiewe Juices – Tag

23 September 2008

Bottertjie het ons nou die dag getag met ‘n digi-scrapping projek.  Ek het my kop daaroor gebreek, want (a) ek is glad nie kreatief nie, (b) ek ken net die basics van my kompertjie en (c) goed soos Photoshop het ek nog net van gehoor.  Maar, ek was vasberade om hoofmeisie te wees, want die ander (Dellie, Zee, Adrie, Wipneus… ) het nog geen teken van aksie getoon nie! Hiehiehie…  Persoonlik dink ek dat Eben ook getag moes gewees het…

Die afgelope ruk het ek dus baie gaan lees oor digi-scrapping  en probeer kop en stert van Photoshop uitmaak.  Ek weet nou dat met scrapping moet mens “layering” dink, maar Photoshop bly nog grotendeels ‘n nasionale geheim.  Gelukkig het ek by Pickleberrypop ’n tutorial gekry wat met prentjies stap vir stap verduidelik hoe om te scrap met Photoshop.  En dit sluit ook ‘n baie basiese sample pack in wat mens saam met die tutorial kan gebruik.  Dis wat ek toe gebruik het vir my projekkie.  Wees gewaarsku.  Dis nie naastenby goed nie, maar dit was my heel eerste poging.  Die voorloper van nog groot dinge!  Jip, die gogga het gebyt, en noudat die druk van ‘n tag weg is, sal ek meer kreatief en avontuurlik (probeer) wees.

En dis wat ek gebruik het:

Country Kitchen Sample Pack created by Kate  found on www.pickleberrypop.com.

Program:  Adobe Photoshop CS2

*    *   *    *    *    *    *    *    *     *    *    *

Net vinnig nog iets.  Die internet-konneksie is bitter, bitter treurig en ek sukkel my gat af om comments te los, veral op blogs buite WordPress.  Ek beweeg wel soos ‘n slak van blog tot blog, maar my comments gaan maar min wees.  O ja, en as Jasper dalk in scrapping belangstel en hier lees!  Jasper, ek sukkel nou al baie lank om enige comments by jou te los.  Wat kan die probleem wees?

18
Sep
09

Geduld

22 September 2008

Die Chinese gaan groot in Angola, en hulle was goed verteenwoordig op Saterdag se vlug.  So beland twee van hulle op die sitplekke by die nooduitgang.  Ek en Pieter het net agter hulle gesit. Ons lugwaardin vir die vlug was ‘n ouerige vroutjie met lang, donker hare in ‘n poniestert, en dun, rooigeverfde lippies wat sy behoorlik op ‘n streep getrek het.  Toe sy die gebruiklike lesing oor die nooddeure wou kom gee, kom sy agter dat my twee Chinese buurmans geen woord Ingels sprak nie.

Op ‘n manier kry sy hulle uit hul sitplekke en sit twee jong Skotte in hulle plek.  Nadat sy breedvoerig aan die twee jongelinge verduidelik het hoe en wanneer hulle die nooddeure moet oopmaak, staan Mnr. Chinees weer langs haar.

Mnr. Chinees:   Chi chong blah blah blah.

Mev. Lugwaardin:  No, I’m sorry, sir, you cannot speak English.  You are not allowed to sit at the emergency exits.

Mnr. Chinees:  Blah blah chi tjong blah blah.

Mev. Lugwaardin:  Sir, you are not allowed to sit here. You cannot speak English.

Mnr Chinees:  Blah chi blah chong blah chi blah

Mev. Lugwaardin:  (nou regtig gatvol)  Sir, I’ve told you.  You cannot sit here. According to International Aviation Regulations, you must be able to speak English to sit near the emergency exit. Now, please go back to your seat.

Mnr. Chinees:  blah blah blah blah…

Mev. Lugwaardin:  (gaan staan reg voor hom, swaai haar hande in die lug)  Sir, can you speaks the English to me?  No?  Then you cannot sit here. According to International Aviation Regulations you are not allowed to sit here!!

Mnr. Chinees is druipstert terug na sy sitplek, en ons lugwaardin beweeg voort na die volgende nooddeure.  Weer twee Chinese…  Hele storie van voor af.

My In Flight Entertainment System vries.  Jammer, sê my lugwaardin, sy sal dit moet reset, en omdat daar nou trollies in die gange is, sal sy dit eers kan doen as almal drank en kos het en die gange weer oop is.  Toe wag ek maar.  Geduldig en gedweë.  Skuins agter my hoor ek ‘n vreemde geluid.  Ek kyk om.  Mnr Chinees eet.  Oopbek, en met elke oopbek-aksie kom daar ’n afgryslike tja tja-klank.  Dis ongeskik om na mense te staar, en ek kyk weer vorentoe. ”Tja tja tja.”   Ek bly voor my kyk.  “Tja tja tja.”  Ek begin hoendervleis op my arms kry.   “Tja tja tja.”  Ek kan myself nie help nie en ruk my kop agtertoe.  Sy lippe is vol geel goed.  “Tja tja tja.”  Ek wag vir oogkontak en gee hom ‘n vuil kyk.  Hy staar my net koelweg aan met sy donker skrefie-ogies en hou aan eet.  “Tja tja tja.”  Geluidloos boots ek sy oopbek-etery na en ruk my kop vorentoe.  “Tja tja tja.”    Ek kan nie musiek luister nie, nie tv kyk nie en die blessitse gange bly beset…

Gelukkig kom alles tot ‘n einde.

18
Sep
09

Op baie hete kole…

18 September 2008

Ek is veronderstel om vanaand in die ‘blue glass hotel’ op O. Tambo Lughawe te slaap.  Die soetkys is nog nie gepak nie.  Alles lê reg, maar ek wil regtig nie my luck push en nou al begin pak nie. Dis soos om die noodlot te tart:   ek (en Pieter) het nog nie visums nie.  Wel, dalk het ons, maar dit sal ons eers vanoggend uitvind.  Dis sulke tye dat ek voel ek kan die eerste, beste Angolees gryp en wurg tot hy blou word.  Die ambassade was voorverlede week gesluit a.g.v. hul verkiesing.  Verlede Woensdag het iemand van die ambassade die tydelike met die ewige verwissel, en is hulle weer gesluit.  Maandag het hulle oopgemaak, maar Woesnsdag was dit ‘n Angolese vakansiedag, en natuurlik het produktiwiteit weer in die slag gebly.  Dit neem 5 werksdae om ‘n visum te kry.  Maandag is die paspoorte ingestuur, minus Woensdag…dis touch and go op hierdie stadium.  Dis nog oukei as ek ‘n dag of twee moet wag, maar ek weet nie hoe vol die vlugte nou is nie.  So, julle het seker begrip vir die feit dat ek besig is om my hare een vir een uit te trek!

Afgesien daarvan, is ek en Pieter baie opgewonde.  Pieter het met slapenstyd gesê hy gaan slaap, en as hy wakkerword, wil hy in die vliegtuig klim.  Klaar.  Shame, hy weet nie daar lê nog 4 ure skool voor nie!  Sy skooltassie is nou sy reistas.  Vol plastiekbakkies met munte, en êrens, heelonder, lê 4 R100 note.  Mr Krabs van SpongeBob het hom nou ‘n groot liefde vir geld gegee!  Sy vrot ‘jellyfish net’ is so in die kant ingedruk.  Daar is nie ‘n manier hoe ek gaan naam weggooi met daai ding in volle view vir die publiek nie, so daar kom nog ‘n geveg van epidermiese proporsies.

Verder gaan ek (hopelik suksesvol) ‘n kudulelie insmokkel om die impalalelie wat reeds daarbo is, geselskap te hou.  Ek prakseer nog ‘n plan oor hoe om hom ongeskonde en onopgespoor deur doeane te kry.  En vir die eerste keer gaan ek Verimark se vacuum-sakke probeer.  Ek wil maar hou by een soetkys, en die sakke gaan help om plek te wen.  DIt gaan ‘n grap wees as ek om een of ander rede moet oopmaak en uitpak en daarna nie weet hoe om ‘n duvet, twee kussings en ‘n teddiebeer weer in die tas te kry nie nie….   :lol:

My Lief het laat weet dat my 5 kamerade nie kan wag om my weer te sien nie.  So dierbaar!  Hulle het lankal geskimp vir tydmasjientjies, en hierdie keer bring ek vir elkeen ‘n horlosie.  Niks fêncy nie, mind you, sommer Game se goedkoopste.  Elkeen kom darem in sy eie wit plastiekdosie!  En ek vat vir hulle ook ‘n proper, groot snoeiskêr.  Ongelooflik dat in die hele Luanda hulle nie een kon kry nie.

My arme Lief verjaar die 23ste, maar ek het nie vir hom ietsie gekry nie.  Hy sal maar met my tevrede moet wees…  :roll:

UPDATE:  Ons het visums!  Ons het visums!  Ons vlieg vandag…la-la-la…   :mrgreen:




Statistieke

  • 29 970 keer gelees
September 2009
M D W T V S S
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
282930