Posts Tagged ‘Humor

29
Jan
10

Google Earth South Africa

12 Mei 2009

Met dank aan Eben.  Hier is ‘n shot van Gugulethu.  Of is dit nou Google-ethu?

Google SA

Advertisements
24
Jan
10

Dis hoe dit is.

21 April 2009

Ek het hierdie by Lood gaan steel:

Hierdie is glo ‘n oerwysheid van ‘n Amerikaanse stam (nie die Republikeine nie):

As jy ontdek jy ry op ‘n dooie perd, is dit die beste om af te klim en op ‘n ander perd te klim.

Hier in Suid-Afrika word meer gesofistikeerde strategieë gebruik, soos:

1.  Koop ‘n sterker, duurder sweep.

2.  Verander die ruiter.

3.  Stel ‘n komitee aan om die perd te bestudeer.

4.  Stel ‘n kommissie aan wat ander lande besoek om te kyk hoe hùl dooie perde ry.

5.  Verlaag die standaarde sodat dit ‘n dooie perd kan insluit.

6.  Herklassifiseer die dooie perd as “polsslag-gestremd”.

7.  Stel kontrakteurs aan om die dooie perd te ry.

8.  Span verskeie dooie perde saam in om die dooie perd se vertoning te verbeter.

9.  Doen ‘n produktiwiteitstudie om vas te stel of ligter ruiters die dooie perd se prestasie sal verbeter.

11.  Hersien die verwagte prestasievereistes vir dooie perde.

12.  Bevorder die dooie perd tot ‘n toesighoudende posisie.

As jy dít alles verstaan, is jy beslis ‘n Suid Afrikaner.

:lol:

Happy voting more!

PS.  Onthou, 5:00 more-oggend kan ons weer iets by die Wosonki’s lees.   :mrgreen:

16
Sep
09

‘n Brief aan my Lief

7 September 2008

Lief,

Oor 13 slapies sien ek jou weer.  Ek sien so uit daarna, maar is ook bang aan die een kant.  Ons het belowe om niks of niemand ooit tussen ons te laat kom nie, maar nou het die ondenkbare wel gebeur.  Ek het toegelaat dat iemand anders vir hom ‘n plekkie in my hart kom oopskrop.  Dit beteken nie ek is nie meer lief vir jou nie.  Net dat ek nou meer het vir wie ek lief kan wees.

Hy is baie soos jy.  Snaaks, en sonder ‘n greintjie kwaad in hom.  Hy kan my grensloos irriteer, maar hy maak op daarvoor as hy my laat lag.  Hulle sê oë is vensters na die siel, en sy hemelsblou oë wys net goedheid en liefde.  Hy laat my hart warm klop.  Soggens as ek wakker word, neurie ek sy naam nog voor my eerste koppie koffie.

Bruce en Jeannie ken hom goed, en is net so geheg aan hom.  Pieter vrek absoluut oor hom.  Jy sien, hy het so gemaklik by hierdie familie ingepas.  Hy verstaan ons, en ons vir hom.  Lief, ek weet dis baie onortodoks, maar ek wil tog hê jy moet hom ontmoet.  Kom ek vertel jou bietjie van hom.

Hy is 102 mm hoog en weeg 28g. Hy is ‘n seespons en woon onder die see in ‘n pynappel in Bikini Bottom.  Hy werk in die Krusty Krap restaurant waar hy crappy patties braai.  Sy beste vriend is Patrick, die seester, ‘n dommerige skepsel.  Hy dink sy buurman en kollega, Squidward, is ook sy vriend, maar ongelukkig kan dié hom nie eintlik uitstaan nie.  Sy baas is mister Krabs, ‘n baie geldgierige ou. Hy hou van bubbles blaas en om jellievisse te vang en sy naam is SpongeBob SquarePants. Party sê hy’s gay, maar dis net ‘n pot nonsens!

Daar is twee goed van SpongeBob wat mens altyd bybly.

Een  sy ‘theme song’ wat erger as ‘Itsy bitsy spider’ nie uit mens se kop wil gaan nie,

en sy baie irriterende laggie wat jou teen die mure opdryf.

Soos jy kan sien, is hy nie perfek nie, maar ons is verskriklik lief vir hom.  Sal jy hom kan aanvaar as deel van die gesin??

SpongeBob en sy jellievis-netSpongeBob en sy jellievis-net

Bron: Wikipedia

NS.  Ek wou eers galbraak ook Vodacom se YeboYethu, maar het besef dit sal net ‘n gepoep teen donderweer wees.

16
Sep
09

Die dag toe Naas geval het.

2 September 2008

In 1987 het my broer, Pieter, my na my eerste (en laaste) rugbywedstryd gevat.  Die venue was die Vrystaat Stadion, en dit was die twee aartsvyande teen mekaar.  Vrystaat teen die Blou Bulle.  As ek nou terugdink, was die pawiljoen maar klein, amper soos ‘n skoolpawiljoen, maar dit was gepak met geesdriftige ondersteuners.

Ek en Pieter het ‘n lekker plekkie halfpad op teen die pawiljoen gekry.  Voor ons het ‘n baie stugge oom gesit.  Ek dink hy was ‘n Bul-ondersteuner.  Langs en agter ons het egter mense met gees gesit.  Die oom voor ons het gelyk soos iemand wat “Rugby for dummies” sou kon skryf.  Ons geskree het hom duidelik baie geïrriteer, maar dit het ons nie in die minste afgesit nie.  Kort-kort het hy half vererg omgekyk, en dan het ons èèrs luidkeels tekere gegaan.  Maar ons was nie alleen nie.  Die res van die toeskouers het net so hard soos ons lawaai.

Die atmosfeer was meesleurend.  Ek weet nie veel van rugby af nie, maar as die regte mense, die Vrystaters, skree, dan skree ek uit volle bors saam.  Soms weet ek nie mooi waaroor die gejubel gaan nie, maar ek het hulle volkome vertrou.  So ploeter die wedstryd aan.  Naas word geboe met elke moontlike geleentheid, en as ek reg onthou, het ons spannetjie nie juis hond haaraf gemaak nie.  Nie dat dit die gees hoegenaamd gedemp het nie.  Daardie jare het ons nie ‘n ‘wenkultuur’ gehad nie.  Ons was gewoond aan verloor, maar het dit geniet om Naas te haat.

Eintlik het ons nie veel rede gehad om so vrolik te wees nie.  Die Bulle het voorgeloop, en ons frustrasievlakke het mettertyd ook begin styg.  En toe.  Kom die Held van Bloemfontein.  Jannie Els.  En hy slaat Naas katswink hier reg voor ons.  Dat Naas agterna opgesukkel het en ‘n strafskop oorgetik het EN dat ons wel verloor het, het nie saak gemaak nie.  Die genoegdoening om ou Tandekas amper in slow-motion te sien val, was iets wat mens nie met ‘n Master Card kan koop nie.  Daai hou het die wedstryd vir ons ‘ge-clinch’.

Ons is op ‘n high daar weg.  Die knorrige oom het ons wel vuil kyke gegee en onderlangs gebrom van ‘onopgevoedheid’, maar dit was water op ‘n eend se rug.  Ons was jonk, ons het die Blou Bulle verpes, en Naas Botha nog meer!

Ek het nie weer van Jannie Els gehoor nie.  Dalk was hy geskors.  Ek onthou net hoe liefdevol die Bloemfonteiners oor hom gepraat het.  Die man wat uitdrukking gegee het aan die provinsie se gevoel oor Naas Botha!  En vroeg in daardie week, het baie karre met stickertjies rondgery wat verkondig: I ♥ JANNIE ELS.

Dis seker hoekom ek nie weer by ‘n rugbywedstryd was nie.  As mens jou rugbytoeskouerloopbaan op sò hoogtepunt begin, sal volgende wedstryde net ‘n anti-klimaks wees.  I really, really ♥ Jannie Els!  xx

13
Sep
09

Sammajore en herinneringe

28 Julie 2008

Op LitNet het ek gister die volgende raakgelees, geskryf deur ene Namib.  So snaaks!
Die in-ding onder vandag se jongelinge is om alles wat met die weermag te doene gehad het in die verlede, te looi as aardsonde. Tog is dit meestal mense wat nooit die weermag self beleef het, wat alles wil verpolitiseer en dan ook nie sal weet van die avontuur, kameraadskap en groot gelag wat saam met die swaarkry hand-in-hand geloop het nie.

Dis seker beter om nie name te noem nie, maar op Speskop daar in Valhalla was daar ‘n baie berugte RSM met ‘n egte weglê-snor wat kon skrou soos ‘n jags mishoring en so algemeen skuins-bedonnerd was soos ‘n vrou wie se man al weke nie die gras sny nie oorlat hy Super-14 kyk. Hy het beheer en regeer. Niemand, maar niemand het gewaag om teë te praat nie. Dié wat nie vinnig genoeg gereageer het op sy bevele nie, het ‘n Samil se wiel teen die bult uit leer ken, van die valhekke af boontoe tot by die LWT – met ‘n rooi doibie op. Min manne het nie katte geskiet in die proses nie.

Tog kry jy daai enkele troep wat totale weerstand het teen moeilikheid. Hy het die sammajoor en sy stront gelate gevat en dit het die sammajoor grensloos geïrriteer. Hy het die troep ekstra swaar laat kry deur vir hom ekstra werk te gee voor inspeksies, en dan donder hy hom in elk geval na die inspeksie op vir dit wat hy nie perfek gedoen het nie.

Toe kry die troep ‘n menslikheidsverlof vir ‘n paar weke en toe hy terugkom, het hy amper net so ‘n snor soos Sammajoor. Darem nog nie heeltemal nie, maar goed op pad. Hy’t die puntjies al begin was gee.

Die oggend toe die Sammajoor die troep op parade sien, word sy oë eers groot; tóé skrou hy. Hy breek die hele parade op en stap sommer reguit op die troep af en steek voor hom vas.

“Troep!” skrou hy. “Wat de fok sit daar onder jou neus?”
“My snor, Sammajoor.”
“Gaan skeer die ding dadelik af!”
“Nee, Sammajoor. Ek mag ‘n snor dra, Sammajoor.”

Die sammajoor snork en gil: “Ek dra nie ‘n snor saam met ‘n troep nie!!” Hy swaai op sy hak om en storm daar weg na sy kantoor toe, reël vir ‘n skeermes en sny sy snor af. Die res van die dag sukkel almal om hom te herken, maar niemand waag om ‘n woord te sê nie.

Die volgende oggend kom die troep daar aan en hy het ook sy snor afgeskeer. Dis net hier waar die sammajoor totale oorlog verklaar teen die troep. Kom Vrydag se inspeksies, dan kry die troep ‘n hele toiletblok net vir homself om skoon te maak. Net ‘n inkelte foutjie, dan is dit Samil se wiel die kop uit. Week na week.

Die troep het besluit om ‘n plan te maak met hierdie storie. Vir Vrydag se inspeksie het hy weer sy gebruiklike toiletblok gehad om skoon te maak. Hy het egter by die kokke ‘n bottel grondboontjiebotter gekry. In die een toilet het hy so ‘n lekker skramsmerk gemaak met die grondboontjiebotter net bo die water in die bak.

Kom die inspeksie en Sammajoor inspekteer die blok spesiaal, soos altyd. Toe hy in dié toilet inkyk en die gemors sien, skrou hy: “Troep! Wat de fok is dít?!”
Die troep buk en vat so ‘n smeer met sy vinger van die ‘drol’, druk sy vinger in sy mond en proe daaraan.
“Dis kak, Sammajoor,” sê hy.

Sammajoor het so ‘n snaakse groen in sy gesig geword en is vinnig uit die gebou uit. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het die troep nie afgechop na inspeksie nie. En die mooiste van die storie is dat die sammajoor en die troep hierna groot buddies geword het, soveel so dat die troep later PF aangesluit het en offisier geword het.

Njannies.

11
Sep
09

tat24u?

16 Junie 2008

My oudste skimp af en toe dat hy graag ‘n tattoo wil hê.  Nou, kyk, ek dink ek is die mees slapgatste ma wat daar is, maar dààr trek ek ‘n streep. ‘n Baie dik streep.  Ek het ‘n kleintjie dood daaraan; dis die een ding wat ek nie kan verdra nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie.  As ek iemand ontmoet wat ‘n tattoo het, sal ek hom/haar nie anders behandel as enige ander mens nie.  Dis nie die mens wat my afsit nie. Dis die liederlike merk op die lyf wat my afsit.  Tattoos is so kommin soos kaaskoek.

Dis my beskeie mening dat die meeste tattoos aangebring word in ‘n oomblik van totale waansin.  Bv. jy is doodverlief en besluit sommer op die ingewing van die oomblik (wanneer jy toevallig by ‘n tattoeerplek verbystap) dat jou geliefde se naam op jou arm moet pryk.  Net om dit twee maande later te berou.  Iemand wat ek ken, het na sy pa se dood (twee dae na sy pa se dood, om presies te wees) ‘n moerawiese swart kruis met sy pa se geboorte- en sterfdatums op sy rug laat aanbring.  Ek weet nie hoe hy vandag daaroor voel nie, maar ek sal bietjie awkward voel om kaal bolyf rond te loop met so iets op my rug.

En dan die elegante dolfyntjies waarvoor die dames so lief is.  Nog iemand wat ek ken, het ‘n pragtige klein dolfyn op haar plat, bruin magie laat verf.  Met haar swangerskap het hy in ‘n walvis verander, en nadat sy gekraam het, was dit ‘n jellievis.  En al kry sy haar lyfie eendag terug, daai dolfyn gaan seker vir altyd bietjie oversized wees.

‘n Vriend het ‘n  pragtige ‘thistle’ op sy bo-arm laat tattoeer.  Hy is nog jonk, en dit lyk regtig goed op sy gespierde arm.  Ek het egter al te veel ou mense met tattoos gesien om te dink dat dit vir altyd so mooi gaan lyk.  Ouderdom bring pap spiere en pap velle.  As mens hul tattoos mooi wil sien, moet jy eers die velle soos ‘n padkaart oopvou.  En hoe stupid lyk ‘n ou man met ‘n draak op sy rug of ‘n ou vrou met ‘n skoenlapper bokant haar een (pap) bors nie?

Dis wat ek teen tattoos het.  Dit akkordeer nie met ouderdom nie.  Vir ‘n paar jaar lyk dit goed op ‘n mooi, jong lyf, maar dertig jaar later is dit ‘n ander storie.  Dus, as ek dit enigsins kan verhelp, gaan my seun nie eendag ‘n tagtigjarige ou man wees met ‘n verrimpelde Nike-teken of iets dergeliks op sy arm nie. BEHALWE as hy I LOVE MY MOM op sy agterstewe wil aanbring,,,

03
Sep
09

Kaalgat innie reen…

5 Mei 2008

Ek het al voorheen genoem dat baie van ons ‘avonture’, eintlik die resultaat is van ons totale stupidgeit. Daardie teorie het ons die afgelope naweek reg bewys.

Woensdagaand, omtrent 19h00, ry ons uit die kamp uit.  Manlief het verlof ingesit vir Vrydag, en ‘n heerlike langnaweek strek voor ons uit.  En…ons besluit ons ry Namibe toe.  ‘n Hele 2 450 km verder.  Om ‘tyd te wen’, wil ons Woensdagaand al deur Luanda wees.  Dis die ergste deel van die trippie.  Ons beplan om by die Kwanza-riviermond oor te slaap.

Die langnaweek-gevoel brand hoog, en ons gaan eet eers garnale in Viana. Op die ou einde kom ons na middernag by ons afdraai na die riviermond aan.  Voor mens by die mond uitkom, ry jy eers verby ‘n groot soutpan.  Die uwe, nou baie, baie moeg, dring daarop aan dat ons op die soutpan moet uitkamp.  Ons wil immers weer 5h00 die volgende oggend in die pad val. Dit het nie sin gemaak om wiele af te pomp en deur sand te sloeg vir ‘n 5 uur-lange slapie nie.  Ongelukkig het my wederhelfte ingegee.

Dis ‘n windstil nag.  Geen wolkie in sig nie.  Net talle blink sterretjies.  Ons slaan ons tentjie op, maar los die penne om hom te anker.  Ook g’n tyd vir die ‘flysheet’ nie – dit lyk mos nie asof daar reën gaan wees nie.  Die gazebo kom bo-oor die tent.  Vir beskerming teen ‘moontlike’ reën, maar ook hy word nie geanker nie.  Dit was ‘n moeë drietal wat op die matrassies neersak…

Presies ‘n uur later word ek wakker met die geluid van ‘n woedende wind in my ore.  Vet reëndruppels plons deur die oop tentopening op ons neer. Ek maak my geliefde wakker en beduie ons moet die bybie bakkie toe vat en begin kamp afslaan.  Dis sover ek gekom het.  Die volgende oomblik vlieg die gazebo onderstebo oor die tent, en dit begin sous

Pa is baie, baie erg oor sy gazebo.  Hy hang soos ‘n vink aan die gedoente wat nou ‘n baie eienaardige fatsoen het.  Toe ek sien dat ek nie juis hulp by hom gaan kry nie, vlieg ek met Pieter en sy kombers bakkie toe en drop hom soos ‘n warm patat, voor ek weer terughardloop om ons ander kombers en sakke te gaan red.  Manlief probe er nog steeds sy gazebo red.  Intussen waai die wind kwaai, en die reën deurdrenk ons tot op die vel.

Met die meeste van ons besittings veilig in die bakkie, gaan assisteer ek vir Pa.  Die gazebo is een van daai ooptrek en toedruk affêres.  Gewoonlik doen 4 mense dit.  Ek en Pa kon dit nie regkry in daardie weer nie.  Ek praat mooi met hom, verduidelik dat ons eerder ons losses moet cut.  Uiteindelik laat los Pa, en die gazebo bollemakiesie van ons weg.  Ons aandag gaan tent toe.  Ons matrassies is nog daarin.  Teen hierdie tyd is die soutpan een snotterige laag modder.  Die tent is vol modder.  Toe dit lyk of ons regtig nie gaan wen nie, trek ons die tent tot half onder die bakkie. Vir later.

Poedelnakend spring ons bibberend in die bakkie, ons pajamas nat, modderige hopies buite op die grond, en raak wonder bo wonder weer aan die slaap.  Teen 4h00 word ons wakker as gevolg van ‘n oormag muskiete wat die bakkie deur die ‘vent’ binnestroom. Die storm is verby. Steeds kaalgat, klim ons uit en kyk wat te redde is.  Die tent word agtergelos.  Wie is lus vir ‘n modderige tent aan die begin van ‘n naweek?  Die gazebo is beyond repair. Die nat, vuil matrasse word agterop gelaai met die hoop dat dit wel droog sal word.

Dis eers toe die eerste vissermanne se 4×4’s begin indraai na die mond se rigting, dat ons besef dat ons steeds in ons geboortepakkies rondloop…

Ons het ‘n paar lessies daai aand geleer:

1.  ‘n Soutpan is nie goeie kampplek nie. Veral nie tydens die reënseisoen nie.  2.  Tente en gazebo’s moet altyd geanker word. Altyd.  3.  Die natuur is regtig onvoorspelbaar.  Dit kan binne enkele oomblikke radikaal verander.  Mens moet nie dat wolklose, sterligaande jou flous nie.  4.  ‘n Man kan besonder baie geheg raak aan sy gazebo.  Verkieslik moet ‘n ‘verlore’ gazebo so gou as moontlik vervang word.  (En dis wat ons gedoen het. ‘n Peperduur tent met ‘n gazebo gaan koop by Lobito se Shoprite! Die prys van al daai lessies: net 300 dollar.)  *sug*




Statistieke

  • 26,349 keer gelees
Oktober 2018
M D W T V S S
« Mar    
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
293031  
Advertisements