Archive for Oktober, 2009

20
Okt
09

Smokin’

11 Februarie 2009

Nog altyd het ek myself as redelik verdraagsaam beskou.  Gister het ek die minder mooi kant van my gesien.  Ek’s ‘n snob!  Ja, plebberige ek het genuine snobbistiese neigings!

Ek en wederhelfte het ons oggend in die Mall deurgebring.  Die dae hier in die beskawing (al reken sommiges dis glad nie die beskawing nie!)  raak min, en ons slurp op wat ons kan.  Een van die dae eet ons weer net bokvleis en olierige rys, en ons het dus die geleentheid gebruik om sommer ‘n lekker brêkfis ook in te druk.

Ons is twee rokers  :oops: , maar wat, elkeen het seker maar sy vice waarmee hy sukkel.  :roll: Ons gaan maak ons tuis in die piepklein rokersdeel van die restaurant en begin gesellig saam met ons mede-rokers om die lug grys te maak. En grys was daai lug voorwaar.  Ek het net aan my eerste happie Breakfast Tramezzini geproe, toe ‘n ma, die ouma en ‘n baba hul by die tafel langs ons gaan sit.  Die baba, seker so jaar oud, sit in die prêm.  Die ma, ‘n maer vroutjie met donker hare in ‘n poniestert, steek dadelik ‘n gifpyl aan.  Na die eerste teug, grawe sy ‘n botteltjie Purity uit die doekesak.  Sigaret in die hand, begin sy die jongeling voer.

Dit was ‘n afgryslike gesig.  Sy probeer nie eens om die rokende sigaret uit die arme kind se gesig te hou nie.  Nee, die hand wat die botteltjie vashou, hou sommer die siggie ook vas.  Rook draai al om die kind se gesiggie.  Baba spoeg van die Purity uit, maar sy vat dit in haar stride.  Veeg die oranje smeersel van sy ken af met ‘n vinger en lek dit af.  Die origes op sy handjie lek sy sommer ook af.

Klaar geëet, sit sy die fopspeen in sy mond.  Hy pluk hom uit en gooi dit op die vloer.  Al klaend tel sy dit op, lek dit af en druk dit weer in sy mondjie.  En weer en weer.

Nee, jinne, dit was vir my erg.  Duidelik het die vrou nie ‘n idee dat sy enigsins wenkbroue laat lig het nie.  Vir haar is dit so normaal soos more heeldag.  Maar wat is die wetgewing ten opsigte van kinders in restaurante se rokersdeel?  Ek is bietjie agter die tyd, maar laas wat ek gehoor het, word kinders NIE in die rokersdeel toegelaat word nie.

In elk geval, as rokende ouers hul kinders by die rokersdeel MAG invat, verstaan ek nie hierdie rookwetgewing nie.  Ons word mos afgesonder sodat ons nie die gesonde deel van die samelewing vergif nie.  Sluit dit nie rokers se kinders in nie?  Ek vra maar net.  :roll:

Advertisements
20
Okt
09

Ssssss….

9 Februarie 2009

Ek glo nie aan spoke of geeste of sulke vreemde goed nie.  As hulle wel bestaan, wil ek niks van hulle weet nie.  Daar verkies ek om soos ‘n volstruis te wees.  My dapperheid strek net tot op ‘n punt.

Gisteraand gaan sit ek Pieter in die bed.  Gewoonlik nie ‘n probleem nie.  Hy sal nog ‘n rukkie speel, maar hy raak darem wel aan die slaap.  Maar nie gisteraand nie.  Hy’s kort-kort af by die trappe en probeer ‘n geselsie aanknoop.  Later gebruik ek my Very Cross Mommy-stem, en hy hardloop terug kamer toe.  Net om ‘n minuut later weer op die trappe te sit, hierdie keer in trane.  Die rede?  Daar’s “‘n dogtertjie wat ’ssssss’ maak” in die kamer.  :shock:

Oombliklik staan elke haar in my nek regop, maar ek hou die pose.  Verseker hom daar is nie ‘n dogtertjie nie, en gaan lê by hom.  Hy is binne oomblike aan die slaap, en ek kon nie gou genoeg ‘n lyn uit die kamer sny nie.

Vanaand dieselfde storie.  “Die dogtertjie maak ’sssss’ “  Nou kyk, ek is redelik seker daar is NIE ‘n sissende dogtertjie nie, maar wat as daar een is??  En om die kersie op die koek te sit, vertel ek my nugtere ma daarvan.  Haar reaksie het my ook nie geval nie.  Sy’t my ‘n sekonde of twee aangekyk, en iets soos “Sus, wat as hy regtig iets sien?” gesê.

Nou hoor ek my ma het ‘n soortgelyke ervaring met my effe weird boetie gehad.  Hy het as klein seuntjie een aand hasies gesien.   Bloues en geles en groenes.  En party het hom gebrand!  My ma het die kombers oor hulle koppe getrek en geweier om saam te speel.  :wink:

Nou het ek ‘n potensiële situasie op hande.  Òf ek moet Boetie vasvat want ek gaan nie elke aand saam met hom lê nie.  Òf ek moet die lawwe dogtertjie vasvat.  Boet klink na die makliker opsie.  Maar hoe doen ek dit?  En wat AS hy regtig ‘n dogtertjie sien?  Boonop klink sy nie te vriendelik nie…  :roll: My man het gesê hy sal  met haar praat – mits sy bereid  is om so in die hardloop te gesels…  :lol:

19
Okt
09

Ek wil my boek ook wys

8 Februarie 2009

Rosa het nou die dag oor haar besondere boek geskryf.  Dit het my lus gemaak om mý boek te wys.  Nie naastenby so oud soos Rosa s’n nie, en baie, baie meer gehawend as hare, maar dié boek kan hulle maar eendag op my bors sit en saam met my begrawe.  :wink:

Ek het ‘n obsessie met koffiebekers en kinderboeke.  Ek het bokse vol koffiebekers wat ek in die garage stoor.  Nie stelletjies nie, sommer onpaar bekers wat elkeen op ‘n stadium my fancy getickle het.  Dieselfde met kinderboeke.  Nie sommer enigeen nie, hy moet darem met my psige praat.  Illustrasies moet kleurvol wees en baie detail hê.  Dieselfde storie met my boekies:  bokse vol, êrens in die garage iewers.  Die helfte het ek nog nooit eens my kinders gewys nie.

Maar hierdie een, hy is soos ‘n Bybel vir my.  Waar ek ook al gaan, hy word uitgepak en gebêre waar ek hom maklik weer kan kry.  En so een of twee keer ‘n jaar haal ek hom wel uit, blaai deur hom, bewonder die prentjies en lees ‘n storie of twee.

Toe my pa dood is, was dit die een boek wat ek opgeraap het voordat enigeen hul kloutjies daarop kon kry.  Die bloed en derms het gespat oor Langenhoven se versamelde werke, die Gelofte Land-Beloofde Land reeks en ‘n paar ander boeke.  Gelukkig dink ek nie enigiemand anders het regtig geweet van diè boek se bestaan nie.  Vir solank ek kan onthou, was dit maar altyd in ‘n stowwerige boks.  The Home University Bookshelf, Volume III. Van die ander boeke in die reeks het ook behoue gebly, en ek het hulle ook, maar hierdie enetjie is nie eens meer by sy maats nie.  Hulle krepeer in ‘n boks in die garage.  (Dit het my broers mal gemaak toe hulle later agterkom dat Langenhoven se versamelde werke toe nie so volledig was nie.  Ek het die boek met kinderstories – Brolloks en Bittergal! – skelmpies ‘geleen’.  Maar ek moes dit later teruggee – te veel dreigemente…   :shock: )

Dit was my oupa se boek gewees.  Hy is dood kort nadat hy my vir die eerste keer gesien het, en ek is na hom vernoem.  My ouma was ‘n ou van helsdingen gewees, maar my oupa was, as ek alles moet glo wat ek gehoor het, ‘n baie sagte,  liewe mens.  So, al het ek hom nie geken nie, voel dit of die boek ons konneksie is.  Ek het nie ‘n idee wanneer hy gedruk is nie (sy eerste paar bladsye is weg) en ek stel ook nie regtig daarin belang nie.  Ek kan sien hy’s oud, en dit was my oupa s’n.  Al wat belangrik is.

copy-of-boek-003

Sommer met die eerste oogopslag maak die boek jou lus om in hom rond te blaai.  Fyn feëtjies versier die buiteblad.  Die watermerk daarop maak dit vir my net mooier.  (Wie het daar gemors?  Wat is die storie om daardie paar waterdruppels?)  Die illustrasies is iets wat ek nog nooit in ‘n moderne boek gesien het nie.  Die stories wissel van ou bekendes soos Hansel en Grethel tot Eastern Folklore.  Maklik om te lees.  Nie nagmerrie-goed nie.  Die vergeelde, voos bladsye…die reuk daarvan…nie iets wat ek kan beskryf nie.  Ek’s net baie bly dis mý boek.

copy-of-boek-005

copy-of-boek-008

copy-of-boek-010

Ek dink net nie my telgies gaan eendag oor hom baklei nie.   :wink:

19
Okt
09

Warra-warra

5 Februarie 2009

We’re burning the midnight oil tonight.  My man werk aan ‘n Skeinat-taak, en hy moet uithaal en wys om my 92 % vir ‘n Geskiedenistaak te beat!  En nee, dis nie rêrig ons take nie…  :wink: Ja, ja, ek weet, moenie begin preek nie…

Terwyl ek hier by hom sit vir emosionele ondersteuning, gaan ek deur my e-mails.  Ek is regtig t-r-e-u-r-i-g as dit kom by die goed.  Jammer, Ebie, dat ek jou nie ondersteun het met jou krieket-krisis nie.  (Yeah, right!)  Jammer, Son, dat ek nou eers jou Plaxo en Twitter uitnodiging aanvaar het.  Dis ‘n ander storie daai:  Facebook, Plaxo, en nou Twitter.  Ek het steeds nie die vaagste benul wat ek veronderstel is om met al die angels, karmas en kidnappings te maak nie.  :oops: Ouderdom is ‘n blixem as jy hom nie ken nie.

Kan ek nou soppy op julle gaan?  Is blogging nie te wonderlik vir woorde nie?  Ja, dit het sy pyne, maar vanaand voel ek tog o, so gelukkig.  Deur blogging het ek met ‘n paar baie interessante mense in aanraking gekom.  Nou praat ek nie van julle wat so getrou my strooi lees nie.  Of course is julle baie near en dear to me, maar ek praat van so twee of drie ander wat eintlik onverwags op my paadjie gekom het.

Vanaand kry ek ‘n mail van ‘n wildvreemde.  (Dankie, Jaco, dat jy hom op my spoor gesit het.)  Ek weet ek het julle in die verlede VERVEEL met foto’s en stories van my babies, oftewel, my plantjies, wat ek van oral versamel.  Nou, danksy Google , het hierdie man op my blog afgekom.  En hy stel ook belang in cyphostemmas en dies meer!  Ek is skoon in my noppies.  Dit lyk of dit ‘n goeie verhouding kan word:  ek het die looks en hy het die verstand.  Hiehiehie…nee, ek speel sommer.  Hy stel belang in die plante wat ek uithaal en wil graag foto’s sien.  Èk het die plante en kan foto’s stuur, maar weet eintlik sweet blow all van die goedjies af.

Dit kan my baie grys hare spaar.  Ek haal wild en wakker plante uit, maar dis nogal ‘n storie om uit te vind wat hul name is.  Ek is nou maar eenmaal so:  ek wil weet wat in my tuin staan.  Die feit dat hy mooi is, is nie genoeg nie.  En my man dink ek is ‘n boffin met Google.  Tot dusver kon ek nog al die plante op die internet opspoor, maar hy plaas my onder baie druk as hy elke keer verwag dat ek binne 24 uur die naam moet hê!  :lol:

Oukei, die taak gaan nou die eksplosiewe stadium in.  Voor ek die ewigheid ingeblaas word, laat ek eerder afsluit. Hoop die naweek behandel julle nie te stief nie!  :mrgreen:

19
Okt
09

Sirkeltuin

4 Februarie 2009

Pas nadat ek in Bom Jesus aangekom het, het ek begin met ‘n groentetuin.  Dis was ‘n nood leer bid-situasie:  groente is vrekduur in die winkels (Shoprite) en alhoewel mens dit goedkoper by die straatverkopers kry, is die gehalte nie watwonders nie.

Die suksesvolste jaar was die eerste jaar.  Dit moes ‘n gelukskoot gewees het, want ek kon die volgende twee jaar net nie weer die resep regkry nie.  Veral die tamaties was ‘n reuse sukses:  groot, geurige rooi vrugte.  Tamaties het later by almal se ore uitgeloop.  Ek het tot my hand aan tamatiekonfyt en -blatjang gewaag, wat nie te vrot uitgekom het nie.

Intussen is daar so baie nuwe huise gebou dat daar nou net nie meer plek is vir ‘n groentetuin nie.  Om sonder groente, veral tamaties, spinasie en kruie, te gaan, is egter net nie ‘n opsie nie.  Op die internet het ek van ‘circle gardens’ gelees.  Dit slaan nie baie plek in beslag nie, verg nie baie inspanning nie, en is maklik om in stand te hou.  Of so word daar belowe.  Dit het (en nog steeds) na ‘n baie goeie idee geklink.

Dis maklik.  Jy merk ‘n sirkel af, 1 m in diameter, verwyder die ‘topsoil’, sit dit eenkant.  Dan grawe jy die ’subsoil’ uit, tot omtrent kniediepte.  Diè word ook eenkant gehou.  Dan word ‘n 2 liter plastiekbottel in die middel van die gat gesit.  (Nadat jy 16 gaatjies in rye van 4 daarin gemaak het.)  Enige ou tuingemors of kompos (in my geval, ou gras) word onder in die gat gesit, omtrent 2 cm dik.  Volgende ‘n 8 cm laag ’subsoil’.  Die hele storie word  goed natgemaak, en dan begin jy met die volgende laag tot jy uiteindelik by die ‘topsoil’ eindig.  Jy kan dan jou saadjies saai/saailinge uitplant.  Die idee is dat die bottel net elke week volgemaak moet word.  Die sponseffek van die grond-en kompos en die water wat uit die bottel drup,  sal plantwortels aanmoedig om af te groei.  Die eindresultaat behoort sterk, gesonde plante te wees.

Pas terug in Angola, probeer ek toe hierdie groentetuintjies.  Merk vir my drie netjiese sirkels uit, en begin grawe.  En grawe.  Ek was vir ses maande in Suid-Afrika, wintertyd.  Die hitte van Bom Jesus het my onkant gevang, glad nie meer gewoond daaraan nie.  Die vyf ‘gardeners’ kyk my met medelye aan.  Ek weier om hulp te vra.  Die aanwysings het gesê dis glad nie ‘labour intensive’ nie.   Ek het egter ook vergeet hoe hard en klipperig die grond is.  In my geestesoog het ek twee netjiese hopies grond gesien:  een met ‘topsoil’, ‘n ander met ’subsoil’.  Op die ou einde was daar een groot, deurmekaar hoop grond en klippe wat rond en bont gelê het.

Een sirkel het my langer as ‘n week geneem.  Ek kon die hitte nie uitstaan nie.  Die ander twee uitgemerkte sirkels het gelukkig vervaag en later verdwyn.   Almeida, my lang, stadige tuinboy, kon dit later net nie meer vat om my gespartel te aanskou nie.  Een oggend het hy my saggies uit die pad gedruk en met die pik daar ingespring.  In die proses ‘n dreinpyp stukkend geslaan, maar hy het ‘n stuk plastiek rondom die pyp gedraai en met grond ‘gepad’.  Einde van die probleem.  Tot dusver.

Die res wàs maklik.  En lekker.  Ek het spinasie gesaai, en toe ek begin Januarie daar weg is, het dit al welig gestaan.  En dis regtig waar:  jy maak die bottel net eenkeer ‘n week vol, en dis die einde van jou bekommernis oor die tuin.  Die deklaag ou gras wat ek bo-op gesit het, verhoed verdamping en ook dat onkruid oorneem.

Die tuiniers, wat aanvanklik  kopskuddend na my gekyk het, het intussen bietjie respek vir die klein, ronde tuintjie gekry.  Ek’t mos gesien hoe hulle elke oggend eers na die beddinkie kom kyk het voor hulle hul gereedskap uit die stoepkamer kom haal het…  :wink:

19
Okt
09

Uit die perd se bek

2 Februarie 2009

Byt vas en luister na die man!

19
Okt
09

Cheerio!

29 Januarie 2009

Liefste mensies,

Ek moet julle groet.

Dis nou tyd vir Sake van die Hart.  :wink:

Meer spesifiek: more is dit speeltyd,  rooiwyn vir brêkfis, tjoklits vir nagereg – en dit alles terwyl die krieket in die agtergrond speel.  (Al brand die vuur van liefde o, so sterk, mens moet nooit jou land vergeet nie…)  So, as jy met teetyd aan jou verlepte toebroodjie hap, moenie wonder oor my nie.   :mrgreen:

I’ll be more than fine!

Toedels!