Posts Tagged ‘Familie-dinge

20
Mar
10

Goeie nuus

7 Augustus 2009

Riaan was vanoggend vir sy scan.

In ‘n week se tyd  het die tumor só gekrimp, dat dit skaars  sigbaar is.  :shock:

Hy gaan Dinsdag weer sy onkoloog sien, en sal dan weet wat die pad vorentoe inhou.  Hulle gaan nog voort met die bestraling, maar almal is baie in hul noppies dat daar so groot verandering is.

Ons is só dankbaar.

Dankie vir almal se gebede.

Advertisements
20
Mar
10

Riaan

5 Agustus 2009

Dit voel soos gister toe ek saam met twee kaalgat boeties in die modder gespeel het, maar dis langer gelede as wat ek graag sal wil hê.  :wink:

Normaalweg is ek nie regtig lief vir ander mense se kinders nie, maar my twee oudste broers se kinders het ek so te sê help grootmaak.  Boonop was ek nader hul ouderdom as hul pa’s s’n.  Dis regtig 3 seuns vir wie ek baie lief is.  Vandag is al drie al getroud – alles behalwe seuns.  Ek was hul tannie, maar hulle het my g’n stuk ge-tannie nie.  Toe ek tiener was, wou ek baie graag ‘tannie’ wees.  Êrens eendag het ons ‘n ooreenkoms aangegaan: as ek die dag kinders het, sal hulle my tannie noem.  Dit was ook so.  Die dag toe Bruce gebore is, het ek verander van ‘Hettie’ na ‘tannie Hettie’.  :lol:

Die twee jongeres het lankal opgehou daarmee, en noem my net Hettie.  Die oudste, Riaan, noem my nog steeds Ta’Hettie.

Riaan. ‘n Liewe, sagte mens, die onskuld vanself.  ‘n Jaar of twee gelede vertel hy my doodernstig van die nag-apie wat hy vasgehou het, “maar ta’Hettie, hy’s nie giftig nie.”  Ek het my agterent geskeur, en dis vandag nog ‘n private joke tussen ons.   :lol: (En nou blaker ek dit hier uit…)

Hy is nou al 27, getroud met Koba, en hulle het drie oulike kindertjies.  Ek kan baie dinge in my kop vir myself uitklaar, maar ek kan nie verstaan hoekom Riaan  – van alle mense – met breinkanker gediagnoseer moes word nie.

Ek het gewik en geweeg om oor hom te skryf.  Sy ma het my op die ou einde oorreed om dit te doen.  Miskien gaan daar nog een of twee skietgebedjies vir hom op – en elkeen help.  :wink:

Van kleintyd af het hy gesukkel met sinusprobleme en erge hoofpyne.  En die neiging om ‘n storie oor en oor te herhaal – wat ons soms ergerlik kon maak.  :oops: Vandag weet ons hoekom.  Dis ‘n tumor wat al jare met hom saamkom.  Dit was eers ‘n paar weke gelede toe hy begin braak het, dat daar ‘n scan gedoen is.  Selfs toe was hy baie ongeërd daaroor.  Vertel vir sy pa dis ’so groot soos ‘n ertjie en hulle gaan dit sommer deur my neus uithaal.’  :shock: My ma bel hom, en al wat hy vir haar kan sê, is “Ouma, ons gaan ‘n babatjie kry!”  (Koba was weer swanger, maar het intussen die baba verloor.)

Twee, drie weke gelede het hy sy bewussyn verloor, oë rollend in hul kaste.  Die tumor veroorsaak dat breinvloeistof nie kan dreineer nie, met gevolglike drukking op die brein.   Hy is Pretoria toe waar ‘n pypie ingesit is wat die vloeistof na sy buik lei.  Maandag het hy begin met dubbelsterkte bestraling.  Hopelik krimp die tumor genoeg dat hulle kan opereer.  Vrydag gaan hy vir nog ‘n skandering om te sien of daar enige verandering is.

Hou saam duimvas?

5852_1207371385541_1266380904_600851_6027669_n 5852_1207371425542_1266380904_600852_519125_n

20
Mar
10

Oor tweede kanse

2 Augustus 2009

Hoe het Roer altyd haar postings begin?  Die inskrywing Belydenis hou verband…   :lol:

Ek kan nie die storie vertel as ek nie iets van myself verduidelik nie.  Jammer as ek iemand se bubble bars…maar oulik en cute is ek nie.  Om die waarheid te sê, tot my ma – wat baie lief is vir my – is gou om my ‘n bitch te noem.  My man weet dit, my kinders weet dit, dis ‘n welbekende feit.  Ek het ‘n baie  harde kop.  As ek voel dat ek te na gekom is, word my nek styf. En ek budge gewoonlik nie.  Sad, but true.  Ek het nie vlerkies wat wag om uit te kom nie.  :wink:

My tweede oudste broer, Hubert, is in 2005 met kanker gediagnoseer. (Eintlik het ek al oor hom geblog, maar vandag het dit my weer aan die dink gesit.)  Dit was  ‘n ‘klein dingetjie’ op een van sy ribbes.  Hy was regtig ‘n dinamiese mens.  Voorsitter van die skool se beheerraad.  President van die Rotariërs.  Op plaaslike en nasionale vlak het hy gedien op komitees van die Jagtersvereniging.  Hoof-ouderling by die kerk.  Ag, en dis net waarvan ek weet.  Op sy begrafnis het iemand ‘n grappie gemaak en gesê nou gaan die hemel reggeruk word.  Toe kanker by hom opgetel is, het hy afgeskaal om sy aandag daaraan te gee.  Omdat dit Hubert was, was ek nie vreeslik bekommerd nie.  Hy was mos altyd in charge.  Die man om dinge te fix.  Hy het chemo gehad, en ek dink vir ‘n rukkie was hy ’skoon’.

In elk geval, Hubert kon my baie vies maak.  Hy het goed gesê soos “komaan, maag in, tieties uit” en “hel, maar jy word nou lekker dik.”  Sondae het ons gewoonlik by my ma gaan eet.  My ma kan altyd so met oorgawe seën vra.  Dan sou Hubert iets sê soos “is Ma nou klaar?” of “ek dog Ma gaan nooit ophou nie.”  Eintlik maar net snaaksigheid, maar na ‘n rukkie het dit my nerwe klaargemaak.  Toe strip ek eendag my moer vir hom – oor ‘n stupid kas.  Dit was simpel, maar daardie tyd het ek gekrenk in my eer gevoel.  So erg, dat ek hom en sy vrou soos die pes vermy het.

In Januarie 2006 is ek Angola toe.  Ek sou sowaar gewaai het sonder om hom te gaan groet, maar daardie laaste aand het hy gekom om koebaai te sê.  (Dis nou een ding van my boeties – jy kan hulle nie uitvang dat hulle nie die ordentlike ding doen nie!)  Ek onthou ek het hom stywerig ‘n druk gegee.  Hy was groot en sterk, en dis die laaste keer dat ek hom so gesien het.

Ek was die volgende 5 maande in Angola.  Ons paspoorte is ingestuur sodat die visums hernu kon word, maar dit het net nooit weer teruggekom nie.  Ek was nie baie bekommerd daaroor nie.  Solank die paspoorte by die Angolese was, kon ek in die land bly.  In daardie tyd het ek gehoor die tumor het weer opgevlam.  Ek gehoor Hubert was vir ‘n operasie.  As ek – uit blote plig – gevra het na sy gesondheid, het almal gesê dit gaan goed.  Een dag, uit die bloute, het Hubert gebel.  Ek was te bang om te antwoord.  Ons het nooit op die telefoon gekuier nie, en eintlik het ek ‘n uitk%k-sessie verwag.  Tot my verstomming het hy net gekuier.  Later het my ander broer gebel en gesê Hubert was vir nog ‘n operasie en ‘hy lyk nie goed nie.’  Maar nog later het dit geklink of alles weer onder beheer was.

Een Saterdagmiddag het ek gaan slaap.  Ek het ‘n droom gehad wat ek tot vandag so helder kan onthou.  Ek en Hubert was in ‘n bootjie op die blou-groen see.  Die golwe was meters hoog, maar ons het nooit nat geword nie.  Dit was ‘n vredige, heerlike droom, maar…toe ek daar wakkerword, het ek begin huil.  Ek het geweet my broer is besig om dood te gaan.

Toe begin die gesukkel om ons paspoorte terug te kry.  Ons het seker nog ‘n maand lank gewag, en uiteindelik kon ons vlieg.  Die dag toe ons in Johannesburg land, is my broer uit die hospitaal ontslaan.  Toe ons in Richardsbaai land, het ons dadelik gery om hom te gaan groet.  Ek het geskrik toe ek hom sien.  Hy was so wit soos sy lakens.  Niemand wou praat van doodgaan nie, maar ek kon sien sy tyd het uitgeloop.  Die kanker het versprei na sy longe en rug.  Hy kon nie meer loop nie, het nie gevoel in sy onderlyf gehad nie.  My groot, sterk broer was bedlêend, hulpeloos soos ‘n baba.

Daar het my tweede kans met Hubert gekom.  Hy het nog ‘n maand gelewe.  Hy was baie trots en onafhanklik, en dit was vir hom ‘n bitter pil dat almal hom kon ruk en pluk soos hulle wil.  Ek het hom begin versorg.  Toe hy later weer in die hospitaal opgeneem is vir beter pynverligting, het ek  saans in die stoel langs sy bed geslaap.  Hy sou soms wakker word, sy klein wekkertjie op sy bedkassie optel om te kyk hoe laat dit is, lip ice aansmeer en water drink.  Ek het hom lekker gespot oor sy wakkerword-ritueeltjies.  In die aande was dit net ons twee.  Vir die eerste keer het ons gesels. Oor alles en almal en wat nog. Ek moet bysê, dit was ook die eerste keer dat hy my nie as die lawwe, dom sussie gesien het nie.  :lol:

Ek is dankbaar dat ek ‘n kans gekry het om dinge met hom reg te maak.  Ek is dankbaar dat ek vir ‘n maand lank na hom kon kyk.  Dit was regtig heilige tye.

Die lewe is te kort vir onbenullighede.  Sodra ek genoeg moed bymekaar geskraap het, sal ek my ander boet bel en vrede maak.

14
Feb
10

Sarah se storie

13 Julie 2009

Omtrent 70 jaar gelede was dit blykbaar…ek weet nie…toegelaat…dat wees Kleurlingkinders van die Kaap na Transvaal ‘ingevoer’ kon word.  Die mense wat hulle ‘aangeneem’ het, moes ‘n halfkroon elke maand vir hulle spaar, en ook kos, klere en huisvesting voorsien.  Sodra die kinders 18 jaar was, kon hulle dan hul eie rigting inslaan.

My ma se tannie, *Tant Lettie, het ‘n meisie, Alice, laat kom.  Alice het verskeie jare by die gesin gebly.  Op ‘n stadium het sy ‘n verhouding met ‘n swart man gehad, en een aand het hulle weggeloop.  Tant Lettie het dinge egter nie so aanvaar nie, en het Alice gaan soek, gevind en teruggebring.  Alice was swanger.  ‘n Dogtertjie is ‘n paar maande later gebore, maar Alice is dood tydens die geboorte.

Tant Lettie het van haar plaasvolk ‘n vrou laat kom om die baba te voed.  Die dogtertjie is *Sarah genoem.  Sarah en haar ‘wet nurse’  het in die kombuis gebly.  Toe Sarah kon begin loop, het sy haar eie kamer in die huis gekry.  Die versorgster is terug na haar mense toe.

Sarah en Tant Lettie se dogtertjie, *Alet het saam grootgeword en was groot maats.   Alhoewel Sarah nooit skool toe is nie, was sy verder  soos een van die gesin se kinders  behandel.  Sy het Tant Lettie “Non Lettie” genoem, en haar man “Baas”.  Verder het sy almal op die naam genoem.  Sy het  nie saam met die  gesin geëet nie, maar ook nie met die bediendes gemeng nie.  ‘n Deurmekaar storie om te verduidelik.  Soms deel van die gesin, soms nie.  Niemand sou dit egter waag om haar teë te gaan nie.  Op daardie plaas was Sarah se woord wet.

Soos die jare verby gegaan het, het Sarah deel van die familie geword.  As ooms en tannies, neefs en niggies, kom kuier het, het Sarah saam met almal gekuier.  As klein dogtertjie was dit vir my ‘n eienaardigheid:  die swart vrou wat soos ‘n witmens Afrikaans gepraat het en in die huis gebly het.  Ek het gehoor hoe kwaai sy met die bediendes was.  As ek my oë toegemaak het, kon ek sweer dit was Tant Lettie wat gepraat het.  Dit was in die tagtigerjare toe ek Sarah vir die laaste keer gesien het.  Ek kan nie meer onthou hoe sy gelyk het nie, maar haar energie sal my altyd bybly.  Tant Lettie was toe al oud, en Sarah was die een wat haar versorg het en die sweep in die huis geklap het.

Onlangs praat ek en my ma (weer) oor die familie.  Sy vertel dat Sarah een dag, omtrent 10 jaar gelede,  in die dorp verby die NG Kerk geloop het.  Die deure het oop gestaan.  Sy het ingestap en die predikant binne gekry.  Sy het hom vertel van haar groot behoefte om ook aan ‘n kerk te behoort.  Die dominee het haar laat katkiseer, en Sarah is voorgestel en aangeneem.  Kyk my ma met ‘n ver-af uitdrukking in haar oë.  “Ek weet ook nie hoe hulle nooit kon besef dat Sarah ook wou kerk toe gaan nie.”

Ek weet nie of Sarah ‘n salaris gekry het nie, maar dat sy geld gehad het, is ‘n bekende feit.  Sy kon koop wat haar hart begeer. Sy het ook nooit ‘n kêrel of man gehad nie.   Sy was iets soos ‘n ‘glorified aunt’.  Die huishouding het sý waargeneem.  Die bestellings vir die plaas het sý gedoen.  Almal op die dorp het haar geken.  Sy was ‘n bekende, en skynbaar geliefde, persoonlikheid.

Ek het nog altyd ‘n heimlik gedink om eendag weer vir die familie te gaan kuier en met Sarah te praat.  Haar te vra oor haar lewe.  Of sy ‘n gemis ervaar het.   Of sy ooit uitgebuit gevoel het. Of sy regtig gelukkig is met hoe haar lewe uitgedraai het.  Ek het nooit nie, en nou is dit te laat.  Sarah is ‘n paar dae gelede oorlede, rustig in haar slaap.   Sy was 68 jaar oud.  Nou kan ek net wonder.  Maar ek hoop sy word uit haar NG Kerk begrawe.

*Nie hul regte name nie.  Die ‘bekende’ deel van die familie.  :wink:




Statistieke

  • 26,211 keer gelees
September 2018
M D W T V S S
« Mar    
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
Advertisements