Archive for Desember, 2009

31
Des
09

Vir jou

16 April 2009

Ek het al baie keer gedink om iets hieroor te skryf, maar elke keer het my moed my begewe.  Weet ook nie hoekom nie.  Ek kan mos skryf wat ek wil, hier op my eie ashoop?

Dit was so wipplank-week vir my, en ek het nog nie mooi daarvan herstel nie.  So, vergewe my as ek dalk erg soppy klink, maar my ou hartjie is tog so vol daarvan.  Dit moet net uit!

Ek (maar eintlik almal, as ons nou moet eerlik wees!) raak gereeld moeg vir hierdie gebloggery.  Elkeen blog seker maar om sy eie redes.  Vir my is dit iets wat ek graag wou hê my kiddies moet lees oor 10 jaar.  Baie van hul lewens is ook hierin, en dalk kyk hulle eendag met nuwe oë na wat alles met ons gebeur het.  Verder is dit ‘n manier om my man/kinders (hang af wie is afwesig) op hoogte te hou met al my dinge.  Hulle is ook die eerstes om te vra: “Hoekom het Ma ophou blog?”  Ek sal nie sommer my blog delete nie – dit sal ‘n oomblik van absolute waansin moet wees.

Wat my aan die blog hou (en nou laat ek dit soos werk klink, wat dit nie is nie!) is julle.  Die mense agter die blogs.  Die mense agter die skuilname.  Daar is baie weirdo’s, maar om een of ander rede tref hulle my nie.  Dalk is ek nie mal genoeg nie.  Of dalk te mal.  Hmmm…

Die verdraagsaamheid in die blogosfeer verstom my elke keer.  Mense kan veg dat die hare vlieg, maar die volgende dag weer gemoedelik oor koeitjies en kalfies gesels.   Groot skandes word ontbloot, maar dis nie erg genoeg om mense af te sit nie.  As die regte wêreld maar so kon wees.

Daar is mense wat die afgelope wetie-hoeveel maande oor my pad gekom het, wat vandag vir my so spesiaal is soos mense wat ek in vlees en bloed ken.  Die belangrikste twee, die ganse van my dam, Dellie en Ebie.  Ons het so saam-saam begin blog, en toe het ons oor rotte, skurwe hakskene en boerbokke gesels.  Deesdae kom ons nie eens elke dag bymekaar uit nie, maar ek weet ek kan enige dag op hulle knoppies druk.  En ek doen! Ek wil nie namens hulle praat nie, maar hulle is redelik up-to-date met al my wel en weë.  Het ek al ooit vir julle dankie gesê?

Jaco en Krista, ek weet ek klink gereeld soos ‘n loskop flossie, maar julle twee…julle is spesiaal.  My dunk van julle sal nooit verander nie.  Dankie –  julle weet waarvoor.

Die ander lede van die Boksombende: Pik wat my weer moed gee vir moederskap op erg beleë ouderdom, Wip wat my laat dankbaar voel omdat ek nie die enigste een is wat gerook is nie, BB wat altyd regverdig en genadig is, Kaalvoet die ewige diplomaat, Zee die ystervrou, koel Sammi met die vurige hart, Botter die sexy ene, wyse Sonkind.

Ek hardloop uit kommas uit.  Daar is nie woorde om Vygie en Carina te beskryf nie.  Seer, sterk, dapper harte het diè twee.  Dierbare, sagte  OgiesRosalindFranklin, slim, vattikakki.  Adrie die stirrer.   Standvastige RoerDemoerin – met die  fyn sin vir humor (en het my geleer van sluwe onderwater gutter seks.)  Die Snotblokkers wat my teen my sin bietjie verder laat kyk en dink.  Bedaarde Rustig.  Objektiewe BoerSandra in die sandput.  Corli die Vrystaatse nuusmeisie.  Eelt my ou hero.  JaneWhite KnightSoldaat.  Bekkige Gert GariepNikita. Al die Maxi’s, Sigeuners en Alta’s wat af en toe oor my pad kom.

Wie’t ek uitgelos?  Vergewe my!

Dankie dat julle elkeen so klein puntjie van die sluier oplig dat ek kan sien wat in julle lewens aangaan.  Dankie vir wat julle my leer.  Dankie vir die lag.  En die huil.  Dankie dat ek kan baklei en stry en julle my weer vergewe. (Ek hoop!)  Dankie dat ek een dag ‘n lawwe dolla kan wees en die volgende dag een van die Grafsteensangers.

Oeps.  Nou klink dit seker of ek op my laaste bene is en julle elkeen wil groet?  No, no.  Ek dink net julle is erg special en wil hê julle moet dit weet!  Mwha!

Ek gaan die comments afsit.  Netnou ontaard dit in ‘n ge-oor en weer “jy’s net so dierbaar, Boendoe”, en dis tog so yukkie.   :mrgreen:

Lekker naweek!  Mag die Proteatjies tog wen!

Advertisements
31
Des
09

Blou-ape

16 April 2009

Dìs wat ons is.  ‘n Donnerse klomp blou-ape.

Ek is al so siek en sat vir politiek, maar…

Die blou-ape trek weer by ons kompleks in.  Ek gaan soek op Google – met die hoop dat daar iets is wat die pestilensies kan verdryf.

Onder “blou-aap” kry ek  boerevryheiddotcodotza, boerestaatpartydotcodotza, bravolanddotcodotza…

“Die Boerevolk sal weer opstaan”

Great.

Moet net nie in Afrikaans op Google soek nie.  Nie na blou-ape nie, in elk geval.

31
Des
09

Jou 3, pleaze

15 April 2009

Mei-maand kom my man vir ‘n rukkie af, dan gaan ons terug Angola toe en gaan vir bietjie meer as ‘n week die land platry.  Fortyfour se overheating probleme word nou aangespreek, my man maak biltong vir padkos, en ek…ek download musiek vir ons trip.  :mrgreen: (Het julle gedink ek boer by YouTube sommer vir sommer?!) Die probleem is, ek slaan so toe soos ‘n klei-os se gat as ek voor Lime Wire sit.  Het nie ‘n clue wat om te soek nie.  Kon nog net so 20 songs aflaai – want dis al waaraan ek kon dink.

Ons is redelik maklik – luister na ‘n groot verskeidenheid musiek.  Hoe lyk dit?  Wil elkeen wat hier lees nie ASSEBLIEF sy/haar 3 hot favorites hier gooi nie?  Meer, as jy wil.  (Oukei, Rosa, jy is verskoon.)  :lol: En nie Suid Afrikaanse kunstenaars nie, asb, Lime Wire het hulle nog nie…  :roll:

31
Des
09

The Sisterhood

15 April 2009

Ek is oor die algemeen nie lief vir vrouens nie.  Ja, skiet my, maar ek verstaan mans beter.  (Hulle is, after all, sulke eenvoudige wesens.  :mrgreen: )  Nee, ek speel.  Ek het 5 broers gehad wat my goed opgedonner het, maar op die ou einde was ek net so wild soos hulle.

Die laaste dag of wat was nie lekker nie.  Die wat weet, weet.  :wink:

Toe kom my girlfriends en…slaan my asem weg.

Dankie, girls.  Julle het my ogies oopgemaak vir die wysheid van ‘n vrou.  Ons hou maar elkeen die ordentlike en gelukkige front voor, maar almal struggle met issues.  En net iemand wat weet, kan die tissue’tjie aangee.

Mwha!  Julle weet wie julle is…  :wink:

31
Des
09

Om soos lovers te baklei

13 April 2009

Lank voor ek en my man ‘n  item was, het ons soos kat en hond baklei.   Toe ons uiteindelik bymekaar uitkom, het hy ‘n stukkie wysheid met my gedeel.  Al het ons so baie baklei, was hy nie ontmoedig daardeur nie.  Ons het soos lovers baklei.

Toe ek daaroor dink, het ek besef dis die waarheid.  Mens baklei anders met die een wat jou hormone deurmekaar krap as met die een vir wie jy ‘n veer voel.

Ek is nog nie ‘n week by die huis nie, en ons het ons eerste lovers’ fight gehad.  Sommer drie uur in die oggend.   :shock: Lankal weer opgemaak,  maar dit is ‘n lekker gevoel in my agterkop.  Hy gee nog om.  Ek gee nog om.  Genoeg om te baklei omdat ons verlang.

Die dag as ons baklei en dis nie meer ‘lekker’ nie, dis die dag dat ek bekommerd sal raak.

(Nog net  ’n maand, Lief.   :wink: )

31
Des
09

Izzit?

12 April 2009

Ha!  Net toe ek dink ek hoort in ons ou landjie, kom ek op hierdie quiz af.  Vir ‘n goeie Suid Afrikaner het ek maar net 87 % gescore.  :lol: Go figure.

27
Des
09

Lank Gelede

12 April 2009

My gerondkrappery in YouTube het weer baie onthou aan die gang gesit.  Ek weet nie hoekom ek dit nie al lankal gedoen het nie!  Die kinders verwilder my gewoonlik van elke ding wat musiek kan maak, maar hier voor my lappie het ek vrede.

Nadat ek Steve gevind  het, moes ek my ander ou gunsteling, Robbie Williams, ook weer gaan soek.  Hy het ‘n regte bad boy-image, maar ek dink hy word ook deur die swart hond gepla.  Sy lirieke is so donker, op die regte dag beskryf sy woorde hoe ek voel.  En dan’s dit tog te lekker om saam met hom in ‘n poel van selfbejammering te lê.  :wink:

Terwyl ek na Robbie luister, het dit my weer teruggevat na 2002.  ‘n Misrabele tyd in my lewe.  Pas geskei.  Alles was onseker en rou.  Ek het by ‘n klein kliniek gaan werk wat pas oopgemaak het.  Ons het iets van alles daar gedoen:  kraam, psigiatrie, post-operatiewe sorg…ag, alles, behalwe pediatrie.  Aanvanklik was ons baie stil, net ‘n pasiënt of twee op ‘n slag.  Dit was nie ‘n baie formele besigheid nie.  Gemaklik en huislik.  Een van ons eerste pasiënte was Dewald.

Dewald (nie sy regte naam nie) was ‘n 24-jarige jongman wat in ‘n rugbywedstryd seergekry het en erge breinbeserings opgedoen het.  ‘n Johannesburgse rehabilitasie-sentrum het hom sonder meer teruggepos na sy ouers.  Hulle kon niks vir hom doen nie.  Dewald het my laat skrik.  Maer, met ‘n trageostomie en gastrostomie.  Hy het op niks gereageer nie.  Met leë oë gekyk en doelloos rondgevat in die lug.  Die spreekwoordelike vegetable.  Sy ouers het ook maar finansieël gesukkel om in alles te voorsien.  Die dokters het hom dus ook  net af en toe kom besoek.  Fisioterapie was basies onbekostigbaar.  Een of tweekeer ‘n week het ‘n goedhartige enetjie gekom om sy tragi behoorlik te suig en skoon te maak.  Vir die res…Dewald was aan ons genade oorgelaat.

Ons het baie genade gehad, maar min kennis.  En min hulp van enige ekspert.  Toe doen ons wat ons guts ons vertel het om te doen.  Daar was in elk geval nie baie werk op daardie stadium nie, dus kon ons bekostig om net op hom te fokus.  Heel eerste het ons musiek ingebring.  Barokmusiek, dag en nag.  Ons het sy stywe, spastiese lyf masseer.  Met hom gepraat.  Hy was nooit alleen nie.  Later het ons hom in ‘n stoel gesit.  Sukkel-sukkel.  Ons moes hom aan die stoel vasbind; hy het altyd afgegly.  So het dit vir weke, maande aangehou.  En eendag het hy na ons gekyk.  Regtig gekyk. En geknik toe ons hom iets vra.

Kort daarna is tragi verwyder.  Gastrostomie toegemaak.  Hy kon met moeite sagte kossies sluk.  Hy kon nie praat nie, maar kon met kopknikke vir ons wys “ja” of “nee”.  Op sy verjaardag, 17 Junie, het al sy rugbymaats vir hom kom kuier.  Ons het die sitkamer mooi gemaak.  Daar was koshappies en koeldrank.  Dewald het in sy rolstoel gesit en al kon hy nie praat nie, het hy geblom.  Later daardie aand, nadat ons hom in die bed gesit het, het iemand vir hom “Ou Ryperd” gesing.  Dewald het gelag.  Vir die eerste keer.  Sonder geluid, maar ‘n properse lag!

Ek het nagdiens gewerk, sewe dae aan, sewe dae af.  In die sewe dae wat ek  gewerk het, was my kinders by hul pa.  Ek het hulle gemis.  Om te kompenseer vir die verlange, het ek al my liefde en aandag op ou Dewald uitgestort.  Ons het gekliek.  Baie gou was hy soos ‘n stout kind oor my – nie dat ek omgegee het nie.  Net ek kon hom gaan bad.  Selfs op my af dae moes ek inry om hom te bad.  Soms het hulle my gebel en gevra:  “Kom praat met Dewald.  Hy wil nie saamwerk nie.”  Hy kon nie emosie wys nie, maar as ek daar instap nà my week af, het sy oë gelag as hy my sien.  Ons het in ‘n roetine verval.  Saans sou ek my werk klaarmaak, en dan het ek by hom gaan sit op sy Lazyboy.  Ek dink dit was vir hom gerusstellend as hy in die aand wakker word, en my daar langs hom sien.

Ons het musiek geluister.  (Barokmusiek was toe lankal deur hom verban!)  Veral die Cranberries was sy een van sy gunstelinge.  Robbie Williams was my gunsteling, en ek het vir hom ‘n cd gaan koop.  Ek weet nie of hy my net wou plesier nie, maar hy het ook graag na Robbie geluister.  Ek onthou ‘n aand alleen by die huis.  Die kinders was om een of ander rede weer by hul pa.  Dit het liggies gereën en ek was alleen en verdrietig.  Toe het ek in my kar geklim, pizza gaan koop en na die kliniek gery.  (Snaaks, ek onthou die nat strate van daardie aand so goed.) Ek en Dewald het woordeloos pizza geëet en na die Cranberries en Robbie Williams geluister.  Salf vir my seer siel.

Dewald is huistoe einde 2003, kort voor ek weg is uit die dorp.  Sy ouers se geld was op.  Ek het hom by die huis gaan groet.  Hy het in sy lazyboy voor die tv gesit.  Hy het intensiewe fisioterapie en arbeidsterapie nodig gehad, maar dit was hom nie beskore nie.  Ek wonder hoe gaan dit met hom.  Ek hoop hy sit nie vandag nog voor die tv in daai stoel nie.




Statistieke

  • 26,349 keer gelees
Desember 2009
M D W T V S S
« Nov   Jan »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  
Advertisements