Archive for November, 2009

30
Nov
09

Juggle

11 Maart 2009

Vergeet van die aarde wat afbrand.  Vergeet van Afrika se ellende en wonders.  Vergeet van alles.  Vanaand verlang ek na my twee kinders in Suid Afrika.

Ek kry nou die aand van Bruce ‘n sms:

Dit gebeur nie baie nie, so relish hierdie moment:  ek mis ma!

‘n Uur later kry ek ‘n sms van Jeannie:

Hi ma, jus hoekom hoor ek niks van ma nie?  Ek sms laat dit hop en nee niks!  haha maar ja ek mis ma baie, wanneer gaan ma weer kom kuier?  Jisi maar okay lekker slaap

My hart is sommer seer oor hierdie lewenswyse.  Ons hier, hulle daar.  Dis nie normaal nie, maar dis wat ons moet doen.  ‘n Geval van al die balle in die lug hou.

Eintlik is ek nou sommer galbitter.

Advertisements
30
Nov
09

Tweede ontmoeting

10 Maart 2009

Ek het gesit en kopkrap oor wàt ek moet vertel oor ons naweek na Namibe.  Dit was weereens ‘n uitputtende reis, maar ons het baie mooi goeters gesien wat dit oor en oor die moeite werd gemaak het.  Eintlik is ek so one track minded dat enigiemand wat my ken, nou al  kan voorspel waaroor my volgende paar possies sal gaan.   :wink:

Ek moet egter hierdie uitsonder as die hoogtepunt van die naweek.

Ons het net voor Porto Namibe die afdraaipad na Bentiabe gevat – soos altyd.  Dis Cyphostemma wêreld, en ek het groot planne daar gehad.   Ons was nog aan die rondloop en rondkyk toe hierdie man vanuit die niet daar verskyn.  Die ene tande.  So happy om ons te sien.  So happy om ons weer te sien.  In Februarie verlede jaar het ons hom ‘n 20 liter drom water gegee.  En hy onthou ons sowaar.

dsc01855-copy

Hierdie keer het hy die water beleefd van die hand gewys.  Hy het nou water, vertel hy.  Die pomp is ver van sy huis en hy moet dit op sy rug huistoe dra, maar water is nie meer ‘n probleem nie.  Hy het ‘n sigaret en ‘n bier saam met ons geniet, en toe weer op sy pad gegaan.  Maar nie voor ons ‘n definitiewe reëling gemaak het dat ons in September ons tentjie by hom moet gaan opslaan nie.  En ons gaan, as die Here ons spaar.

30
Nov
09

Absobleddiefanfokkentasties

Hoeveel vloekwoorde kan ek nog daar inryg?

10 Maart 2009

Ons het vanoggend net na twee by die huis gestop.  Vol groot verwagtings van warm baddens, koel kamers en knus bedjies.  Noddefok.

Die krag in ons huis is af.  Nèt ons huis s’n.  Glo een of ander verskriklike erge probleem, wat seker weke kan vat om te herstel.  Niks is mos hier onmoontlik nie.  :evil:

Ons het by ‘n bakoond ingestap.  ‘n Bakoond wat vrot van al die kos wat lê en vrot in die yskas en vrieskas.  Vloere sopnat.  Vieslik, man, vieslik.  In die oggendure moes ons soek na ‘n leë huis, wat ons genadiglik gekry het.  Vandag pendel ek tussen twee huise – en ek wonder vir hoe lank?  :roll:

So, my dagtaak is uitgeknip.  Ek’t gedog dis net ‘n vuil bakkie om uit te sort, maar op die ou einde is dit ‘n titseltjie meer…  :mrgreen:

30
Nov
09

Mits

6 Maart 2009

Normaalweg  reën dit minder in Februarie/Maart.  Die reënseisoen kom tot ‘n einde April/Mei.  Nie hierdie jaar nie.  Die rivier stoot nog nie op nie, en gister het die eerste bietjie reën geval.  Dis vrekwarm en elke druppel is iets om oor fees te vier.  Toe daardie donker wolke opsteek, mòès ek net ‘n snapsie vat.

sdc11376

Ons hoop om vandag net na 12 in die pad te val.  Alles hang van Pieter af.  Skielik is hy ook knieserig en koorsig.  Nie dodelik nie, maar die idee dat ons dalk probleme langs die pad kan kry met ‘n siek kind…eeeeeek!! So, ons sal sien hoe hy is met opstaantyd.  Hier is hy met sy nuwe fiets.  Kaatjie van die baan.  Die verbande is te danke aan my.  Hy het nou die middag gery en was papnat gesweet.  Ek het gestaan en tuin natspuit, en toe dog ek ‘n ligte spreitjie sal hom laat afkoel.  Dit was egter te onverwags en hy het skoon van sy bike afgeneuk, met rampspoedige gevolge.  Soos die manlike spesie maar is, moes daar behoorlik gepamperlang word.  Gewone pleisters het nie die ding gedoen nie.  :lol:

sdc11387-copy

Ek sien baie, baie, baie uit na ons trippie Namibe toe.  (Ás die bloedjie oukei is…)   Ek weet dis ‘n alleraaklige sonde om plante in die natuur uit te haal, maar ek’s bevrees ek is heeltemal te greedy.  Gimme, gimme, gimme!!!  Ek is onbeskryflik trots op my Cyphostemma.  Die eerste een het nou wel gedooi, maar mens leer mos uit mens se foute.  Ag, en hierdie enetjie is regtig stunning… en daar’s plek vir nog.  :mrgreen:

sdc11379-copy

Hierdie aalwyntjie het ook ‘n spesiale plek in my hart.  Met ons eerste trip na Namibe het ons gestop om ‘n klip op te tel.  Met die afbuk het ek hierdie ou petieterige klein dingetjie gesien.  Ek onthou ek het hom nog so met ‘n knipmessie uit die los sandjies gewikkel.  Op die pad terug het olie op hom uitgeloop, en hy het regtig beteuterd gelyk.  Ek het meer hoop vir die Cyphostemma gehad as vir hom.  Intussen is die Cyphostemma dood, maar die aalwyntjie het voortgebeur.  Ook nie sonder terugslae nie.  Ten minste twee keer het iemand hom kapoet getrap.  Maar vandag is hy al ‘n decent size en kan mens hom actually sien.  :wink:

sdc11385

Klink dit na ‘n deurmekaar gebrabbel? Glad nie, alles is inmekaar verweef:

MITS Pieter oukei is, ry ons Namibe toe.  MITS alles verloop soos beplan, haal ons ‘n bietjie plante uit.  MITS dit nie te veel reën nie, oorleef hulle darem hier.  Daar’s hy.  :wink:

30
Nov
09

On the road again

4 Maart 2009

Whoopee!  Danksy Angola se vele publieke vakansiedae, het ons weer ‘n driedag-naweek wat voorlê.  Dit beteken net een ding:  ons gaan weer rondrits.  Dit was ‘n gewik en geweeg oor waarheen ons moet gaan.  Aan die een kant moet ons nog “die grootste kremetart in Afrika” gaan soek  in Cunene, naby Xangongo.  Aan die ander kant trek ons albei se harte met ‘n seer punt Namibe toe.  En die wenner is…

Namibe.  Ek weet vir baie is dit die aakligste, dorste plek, maar vir my is dit hemel op aarde.

Ons soek nog van diè:

dscf0415-copy

En hiervan sal ons nooit genoeg kry nie:

dscf0405-copy

dscf0397-copy

dscf0392-copy

Net om iets nuuts te doen, ry ons Huambo-Lubango-Namibe.  En ons wil die slag bietjie verder gaan, tot by Tombua.  Dalk kan ek vir die eerste keer ‘n welwitschia sien…en nee, Eugene, ek gaan NIE probeer om een saam te bring nie!  :lol:

En nog een wat ‘op die pad’ gaan wees diè  naweek, is Superkoel Roer.  Die Argus is nie vir sissies nie, maar ek weet ou Roer is ‘n ystervrou.  Sterkte, Roertjie!    :wink:

30
Nov
09

Mense van my Asem

(Dankie aan Steve vir die titel.  Oeps, en as jy nou hier is omdat jy dink die inskrywing gaan oor hom, SORRY!)   :wink:

Ek kan boeke skryf oor my Angolese  werknemers.  Soos ek hier sit, is my ousie, Domingas, besig om my koue hoendervleis te gee.  So lief soos die tuinboys vir hul pangas (catanas, soos hulle dit noem) is, so lief is sy vir haar mop.  Ek het die stryd al opgegee.   Soos nou, byvoorbeeld.  Sy mop die vloer nog lekker, sien ‘n spinnerak of merkie op die muur, en swipe dit dan sommer met die mop. Nevermind dat daai einste mop al hondepiepie opgevee het nie…  Hoeveel keer ek haar gevra het om die vloer èèrs te vee en dàn te mop, is ook nie meer ter sprake nie.  Sy mop eers, en dan kom sy met die vacuum cleaner agterna.  ‘n Besem is nie iets wat gemaklik in haar hande pas nie.

My tuinboys gee my ook die ritteltits.  As mens verby die daaglikse irritasies kyk, is daar ‘n groot liefde tussen ons.  Hulle noem my ‘Mama’.  Dit laat my soms soos ‘n ou, ou tannie voel, maar ek aanvaar dit maar in die gees wat dit gegee word.

Gister vra ek Sebastaõ om die bome by die onderste huisies te snoei sodat mens darem onderdeur kan loop.  Die takke hang amper op die grond.  Gelukkig het ek ‘n ruk later weer ‘n draai daar gaan maak.  Ek kry hom hoog bo in die eerste boom, besig om die arme ding heeltemal te demolish.  Wat hulle met ‘n panga kan doen, is ongelooflik.

Ek het die weedeater aan Almeida toevertrou.  Om elke dag in die son te staan en randte te sny, het my nie meer aangestaan nie.  Binne twee dae het hy die kosbare stukkie toerusting nutteloos gehad.  Ek kon nie raas nie, want dalk het ek hom nie mooi onderrig nie.  Maar toe moes hy die grasrandte met sy panga gaan doen.  ‘n Stadige, stadige manier.  Maandag en Dinsdag het hy dit gedoen.  Toe ek vanoggend uitstap, kry ek hom in my rotstuin.  Die rotstuin is ‘n veilige hawe, het ek agtergekom.  As hulle die dag lus is vir ‘time-out’, gaan sit hulle daar en trek kamma bossies uit.  Hulle dink hulle doen my ‘n groot guns, en ek bars maar nie die bubble nie, maar my hart krimp ineen as ek sien hoe my arme tuintjie verrinneweer word.  Soos nou.  My vuurpyle, wat nog nooit geblom het nie, is stomp afgesny.  :shock:

Pedro is aangestel met net een rede:  hy moet vuilgoed optel en die sementpaadjies vee.  Ek weet nie of hy dink dis ‘vrouewerk’ om ‘n besem te hanteer nie, maar as ek hom kry, is hy besig om iets anders te doen.  En vir hom is daar altyd werk.  Die expats hier maak my eintlik naar.  Drink bier en neuk hulle blikkies en botteltjies eenkant neer.  Gister het een ‘n slang doodgemaak en sommer verbrand, reg voor sy huis, op die grasperk.  :evil:

Alhoewel ek net moet werk uitdeel en toesig hou, gebeur daar nie veel tensy ek ook pens en pootjies saam met hulle in die tuin werk nie.  Ek vermoed dis hoekom hulle nog baie respekvol is teenoor my.  Hulle het my al sien bome uithaal, gate grawe, klippe ronddra, skoffel…daar is nie iets wat ek van hulle verwag wat ek nie self sal doen nie.  Maar die son vat sy tol.  Ek lyk permanent soos ‘n alkoholis met my rooi neus.  Die moerawiese groot sonbrille maak darem die res toe.  :lol: En ek het pragtige bruin voetjies – waar die cheap Crocs die son toelaat.

Met al hul dinge,  is die tuinboys my lifeline in Angola.  Sonder hulle sou ek lankal die kluts kwytgeraak het.  Dis met hulle wie ek ‘n ‘geselsie’ kan aanknoop in basiese Portugees en baie gebaretaal.  Ek kan hulle enigiets vra, regtig enigiets, en hulle sal dit vir my doen.  As ons vir ‘n naweek weg was, wil hulle altyd weet waar ons was en wat ons saamgebring het.  Toe ons Ebo toe was, was hulle amper in trane toe ek hulle vertel het van die vier Suid Afrikaanse soldate wat nog daar begrawe is.  Sulke goed maak my sommer aangedaan.

Eintlik slaan hulle my dronk.  Hulle werksetiek stink, maar…

Hulle is verdraagsaam en tolerate en vergewe my, my bad moods.  Hulle stel intens belang in my wel en wee.  As ek die dag ‘af’ is, hou hulle hul afstand en vra nie vrae nie.  As ek happy is, is hulle saam met my bly.

Sonder hulle was ek lankal terug in Suid Afrika.

29
Nov
09

Maggie: die slot

3 Maart 2009

Dit sou veiliger gewees het om nie vanaand hierdie inskrywing te maak nie.  Veiliger, maar nie makliker nie.  Dit sou veiliger gewees het, omdat niemand ooit die waarheid sou weet nie; niemand sou  die geleentheid hê om te oordeel of vinger te wys nie.  Maar dis nie maklik om nie te praat waarvan die hart vol is nie.

So kort as vier maande gelede het ek (half trots) na myself verwys as iemand wat regtig nie ‘n diereliefhebber is nie.  Ek gaan steeds nie oorboord nie:  diere is en sal nooit my ‘babas’ wees nie.  Ek trek nie vir hul kleertjies aan en behandel hul soos klein mensies nie.  Ek sal nooit so lief wees vir ‘n dier soos ek vir my kinders is nie.

Maar hierdie Maggie-hond het iets aan my gedoen.  Ek kan dit self nie mooi verklaar nie.  ‘n Honde-asem staan my nie aan nie, maar as sy met haar voorpootjies teen my bed staan en met soveel verwagting na my kyk, dan tel ek haar maar op.  Dan slaap sy in die holte van my arm met haar nat neus in my nek.

Dis nie net vir my wie sy holderstebolder deurmekaar het nie.  My man pes diere.  Punt.  Maar saans lê hy saam met haar op die mat en hou haar vas tot sy aan die slaap is.  Nes hy met een van sy knieserige kinders sou doen.

Maggie is vir alles, van ‘n gebreekte rib, tot ‘n virus, tot wurms behandel.  Maar Maggie kwyn voor ons oë weg.  In die laaste dag of twee het sy letterlik net vel en been geword.  Sy eet haar hoender-en-rys mengsel wat Mauritz voorgestel het.  Hel, sy vrek daaroor.  Maar sy word net maerder en maerder.  Sy het haar wurmpil in, en die pakkie sê dis vir ‘hookworms, tapeworms, roundworms and whipworms’.   Sy’t antibiotika gehad, kon ek ontsyfer op die veearts se kwitansie, en nog goed wat ek nie kon ontsyfer nie. Ons weet nie meer wat om te doen nie.  Sy is so swak, sy kan skaars een voet voor die ander sit.

More word Maggie ‘uitgesit’.  ‘Put to sleep’  Whatever jy dit wil noem.  Vier maande gelede sou ek ook nie ‘n issue daarmee gehad het nie.   Ek is grootgemaak met die idee dat mens nie ‘n dier laat ly nie.  Nou wonder ek.  Mens laat nie ‘n geliefde mens uitsit omdat hy ly nie.  Vir wie is ‘genadedood’ genade?  Vir die dier, of vir sy mense?

My hart is baie seer oor hierdie brak.  Sy het nie eintlik ooghare vir Pieter nie, maar sy is verskriklik lief vir my.  Sy kan skaars loop, maar sy wankel-waggel na waar ek ook al is en val in ‘n hopie op my voete neer.  En daar bly sy tot ek loop,  dan volg sy my net.  Sy is ‘n droewige figuurtjie, maar as mens vir haar sê “Maggie, Maggie!”, dan blink haar ogies en waai haar stertjie so moedig.

Dit voel onwerklik, ongelooflik.  Vanaand is Maggie se laaste aand by ons.




Statistieke

  • 25,767 keer gelees
November 2009
M D W T V S S
« Okt   Des »
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  
Advertisements