Posts Tagged ‘Tuinery

26
Jan
10

Bloed en sweet en liefde

4 Mei 2009

Onrusbarende nuus is dat die bouers sommer kortpad vat deur my tuin na die kraan toe, in plaas van om òm te loop.  Drie meter verder.  Murphy’s Law.  Drie jaar lank staan die kraan teen ons huis,  onaangeraak.  Noudat my tuin al tot daar trek, nòù is dit skielik diè kraan wat almal wil en moet gebruik.  :evil:

Ek verlang na die ou plekkie.  Elke plant en elke klip het ek en my lief met bloed en sweet bymekaar gemaak.  Dit het alles begin een dag toe ons Shipwreck Beach toe is.  Dit was winter en alles was wit van die stof.  Tussen die vaal grasse het die aalwyne oranje gestaan. Ek het nie ‘n idee gehad wat ek met hulle wou doen nie, maar daardie dag het ons, ons eerste aalwyne uitgehaal.  Ons was toe nog nie so geoefend soos nou nie, en moes met net ons kaal handjies daar in.  Letterlik bloed en sweet!

Die dag toe alles begin het…

Vir die eerste ruk het ek hulle sommer langs die groentetuin geplant.  Toe begin ek dink aan ‘n rotstuin by ons voordeur.  Die enigste probleem was dat daar klaar ‘n boom gestaan het.  Ek en my man kon nie oor die boom ooreenkom nie.  Ek wou die ding uit hê; hy wou hom net klein en netjies snoei.  Gelukkig het Moeder Natuur tot my redding gekom:  nà ‘n storm een aand, het ons die boom die volgende oggend op die grond gekry.  Talk about Sisterhood.  :wink:

As ek vandag na die foto’s van die begindae kyk, kan ek net smile.  Daai tyd het ek gedink dis flippen oulik.  Nou voel ek amper te skaam om dit te wys.  Letterlik net drie aalwyntjies en ‘n paar klippe.  Die gogga het egter seer gebyt, en stadigaan het ons nòg plante en klippe versamel.  Die piepklein tuintjie het mettertyd gegroei.

Ek het net gemaklik begin raak met die ‘look’ van die tuin, toe die reënseisoen aanbreek.  Ons huis het klokslag oorstroom.  Maintenance het besluit dat my tuin moet uit en dat die hele area omtrent ‘n halwe meter uitgegrawe moet word.  Daarna sou ek weer kon plant soos ek wil.  Gedienstig het ek àl die klippies opgetel, plante uitgehaal, rotse geskuif.  En gewag vir die ‘earth moving people’ om te kom grawe.  En gewag.  En gewag.

Intussen het my plante ook nie meer so vars begin lyk nie.  Toe besluit ek dat ek maar self die uitgrawings gaan doen.  Domingos van Maintenance het my aangekyk of ek mal is,  en toe ek eers daarmee begin het, het ek self oor my sanity gewonder.  Dit was blêrrie harde werk.  Dit was net ek, en my hande was rou en vol blase vir ‘n lang, lang ruk.   My gô het  later uitgehardloop, en in plaas daarvan om al die grond weg te kruie, het ek vir my ‘n klein heuweltjie gebou.  Een van my beter besluite.  :wink:

My ‘berg’

Skielik was die tuin driekeer sy oorspronklike grootte.  Ons het naweke rondgery en klippe opgetel.  Van Suid Afrika het ek plante ingesmokkel.  Ons het plante in Angola uitgehaal.  Ek onthou hoe ons  by ‘n quarry gaan spoelklippe optel het.  Bakkievragte vol.  Net ons twee, klippie vir klippie met ons hande opgetel.  Dis hoekom ek vandag ‘n hartaanval kry as mense net my klippe uit my tuin vat.

Daai tuin vertel van my tyd in Angola.  Op elke plek waar ons kom, vat ek ‘n klip as aandenking.  Op ‘n strand het ons eendag ‘n anker gesteel.  Don het sy opdrifsel-skuit aan my nagelaat toe hy die dag gewaai het.  Van Ebo het ons ‘n stukkie van die vliegtuigwrak saamgebring.  ‘n Klippie van die Dorslandtrekker begraafplaas.  ‘n Stuk sement wat Pieter vir my gebring het ‘for your garden’.  Klippe van Namibe en Lubango en Malange.

Soos ons versameling plante en klippe groei, groei die tuin saam.  Hy het nou al om die hoek gegaan – waar die kraan is.  Die nuwe deel is nie juis meer ‘rotstuin’ nie.  Daar is vlamlelies van Ebo en Malange.  ‘n Pienk onbekende bossie van Tunda Vala.  En my grootste – letterlik en figuurlik – flater:  ‘n kremetart.  ‘n Jaar gelede was dit ‘n meter hoë takkie, niks meer as ‘n stewige spriet nie.  Slim wat ek is, gaan plant ek hom langs ons undercover parking.  As ek dalk gedink het ek gaan al weg wees voor sy grootte ‘n probleem gaan word, het ek myself deeglik misgis.  :shock:

Die ‘baba’-kremetart

Nou is dit amper twee-uur.  In die oggend.  :wink:

Eintlik wou ek net oor die bouers gebiets het, maar nou ja…    :lol:

Posted in sommer, Tuinery

Advertisements
22
Des
09

Het van Verlangenkraal

6 April 2009

Wat ‘n bleddie rollercoaster was ek nie op sedert Vrydag nie!

Die dag het so goed begin. Ek het vroegoggend uitgestap en wou soos Heidi in Alpe hier rondhol. Die kroeg het my in ‘n greep beetgehad; ek het skaars uitgekom gedurende die dag. Jy weet mos, ‘werk’ tot 2, 3 uur in die oggend, slaap dan lekker laat. As ek dan uiteindelik wakker geword het, moes ek die boeke doen en voorraad aanvul. En teen daai tyd het die mans van die werk afgekom en moes ek weer oopsluit.

So, Vrydagoggend het ek sommer eers gaan staan en die warm son opgesoak. I love it! Dan vergeet ek om te worry oor my bruin neus – pure lekkerte. Groot Dirk het vir my sewe blombakke gebring en mooi gevra ek moet ietsie vir hom daarin plant. Ek was heel geesdriftig oor die storie. Het rondgeloop en begin kyk wat ek vir hom kan insit. En toe val die souffle plat…

Ek was besig om in my rotstuin bossies uit te trek en sommer net te kyk hoe dit nog met alles gaan. Ek meen darem, ek het hulle 3 weke laas behoorlik bekyk. En daar, langs die Cyphostemma, sien ek ‘n oop kolletjie. Dit het nie dadelik geregistreer nie, maar boeta! toe ek besef wat gebeur het, was ek platgeslaan. My klein aalwyntjie van Namibe is gesteel! Ek het die tuinboys geroep, maar hulle het niks gesien nie. Ek kan hulle ook nie kwalik neem nie, die plek is deesdae ‘n miernes van bouers en vreemdes wat hier in en uit gaan. Toe begin die trane rol. Arme Miguel en Paulo het heel verbouereerd daar rondgestaan en probeer troos, maar dit was net te erg vir my. Ek het toe maar ingegaan, koffie gaan maak, ‘n siggie aangesteek en by my agterdeur se trappie verder gaan ween. (Ja, ek besef dit meer as enigiemand anders: my laaste varkie het die hok verlaat.) Toe Geliefde lunchtyd by die huis kom, vind hy my in ‘n halwe beswyming op die bank, ogies bloedrooi gehuil. Ten minste weet die arme ding nou al dat met runderpestyd van die maand, hy simpatie en liefde vryelik moet uitdeel. :lol:

Die rekenaar moes Vrydag ook af na die IT-mannetjie toe.  Ek het sooo uitgesien daarna om die tandem-stories te gaan lees en kon nie wag vir die ding om terug te kom nie.  En ja, so waar as wat para ‘n manel dra, daar kry ek die nuus:  die hele Angola se internet is af.  Nou dink ek dis ‘n bogstorie.  Bruno het intussen vertel dat die Chinese, wat aan’t boue is by die fabriek, ‘n donnerse badkamer voor die skottel gaan bou het.  Hier fix mens net probleme.  Niemand probeer dit voorkom nie.  Ek vreet sommer my polse af. Om die kersie op die koek te sit, was die selfoonnetwerk ook af – ‘n hele 24 uur.  My liefste geliefde het Saterdag toe maar Luanda toe gery en vir my ‘n 3G kaart gaan koop.  Die ding is bloomin’ stadig, maar ten minste is daar darem ietsie.  En hy vreet geld dat dit nie snaaks is nie.  So, hierdie is my eerste – en laaste – posting tot die internet weer aan die gang is.  (Ek kan maar net hoop die baas se vrou mis internet net so baie.  Anders gaan dit dalk nie prioriteit wees nie.)

En so sukkel ek sedert gister op hierdie smart klein foontjie.  Vanaand toe besluit ek:  genoeg is genoeg.  Dis tyd dat tegnologie vir ons begin werk.  En dit doen, hoor!  Ek weet nie presies hoe nie, maar dit doen.  Ek het nou internet op die rekenaar via die selfoon.  Bitter stadig.  Soos ek nou hier tik, het die ‘New Post’ bladsy nog nie heeltemal oopgegaan nie. Dus, as ek nie mails antwoord/nie comment nie/alles en almal ignoreer op Facebook, moenie geaffronteer voel nie. Versukkelde Het veg hard om bo haar omstandighede uit te styg…maar die 17e is sy terug in die beskawing!

19
Okt
09

Sirkeltuin

4 Februarie 2009

Pas nadat ek in Bom Jesus aangekom het, het ek begin met ‘n groentetuin.  Dis was ‘n nood leer bid-situasie:  groente is vrekduur in die winkels (Shoprite) en alhoewel mens dit goedkoper by die straatverkopers kry, is die gehalte nie watwonders nie.

Die suksesvolste jaar was die eerste jaar.  Dit moes ‘n gelukskoot gewees het, want ek kon die volgende twee jaar net nie weer die resep regkry nie.  Veral die tamaties was ‘n reuse sukses:  groot, geurige rooi vrugte.  Tamaties het later by almal se ore uitgeloop.  Ek het tot my hand aan tamatiekonfyt en -blatjang gewaag, wat nie te vrot uitgekom het nie.

Intussen is daar so baie nuwe huise gebou dat daar nou net nie meer plek is vir ‘n groentetuin nie.  Om sonder groente, veral tamaties, spinasie en kruie, te gaan, is egter net nie ‘n opsie nie.  Op die internet het ek van ‘circle gardens’ gelees.  Dit slaan nie baie plek in beslag nie, verg nie baie inspanning nie, en is maklik om in stand te hou.  Of so word daar belowe.  Dit het (en nog steeds) na ‘n baie goeie idee geklink.

Dis maklik.  Jy merk ‘n sirkel af, 1 m in diameter, verwyder die ‘topsoil’, sit dit eenkant.  Dan grawe jy die ’subsoil’ uit, tot omtrent kniediepte.  Diè word ook eenkant gehou.  Dan word ‘n 2 liter plastiekbottel in die middel van die gat gesit.  (Nadat jy 16 gaatjies in rye van 4 daarin gemaak het.)  Enige ou tuingemors of kompos (in my geval, ou gras) word onder in die gat gesit, omtrent 2 cm dik.  Volgende ‘n 8 cm laag ’subsoil’.  Die hele storie word  goed natgemaak, en dan begin jy met die volgende laag tot jy uiteindelik by die ‘topsoil’ eindig.  Jy kan dan jou saadjies saai/saailinge uitplant.  Die idee is dat die bottel net elke week volgemaak moet word.  Die sponseffek van die grond-en kompos en die water wat uit die bottel drup,  sal plantwortels aanmoedig om af te groei.  Die eindresultaat behoort sterk, gesonde plante te wees.

Pas terug in Angola, probeer ek toe hierdie groentetuintjies.  Merk vir my drie netjiese sirkels uit, en begin grawe.  En grawe.  Ek was vir ses maande in Suid-Afrika, wintertyd.  Die hitte van Bom Jesus het my onkant gevang, glad nie meer gewoond daaraan nie.  Die vyf ‘gardeners’ kyk my met medelye aan.  Ek weier om hulp te vra.  Die aanwysings het gesê dis glad nie ‘labour intensive’ nie.   Ek het egter ook vergeet hoe hard en klipperig die grond is.  In my geestesoog het ek twee netjiese hopies grond gesien:  een met ‘topsoil’, ‘n ander met ’subsoil’.  Op die ou einde was daar een groot, deurmekaar hoop grond en klippe wat rond en bont gelê het.

Een sirkel het my langer as ‘n week geneem.  Ek kon die hitte nie uitstaan nie.  Die ander twee uitgemerkte sirkels het gelukkig vervaag en later verdwyn.   Almeida, my lang, stadige tuinboy, kon dit later net nie meer vat om my gespartel te aanskou nie.  Een oggend het hy my saggies uit die pad gedruk en met die pik daar ingespring.  In die proses ‘n dreinpyp stukkend geslaan, maar hy het ‘n stuk plastiek rondom die pyp gedraai en met grond ‘gepad’.  Einde van die probleem.  Tot dusver.

Die res wàs maklik.  En lekker.  Ek het spinasie gesaai, en toe ek begin Januarie daar weg is, het dit al welig gestaan.  En dis regtig waar:  jy maak die bottel net eenkeer ‘n week vol, en dis die einde van jou bekommernis oor die tuin.  Die deklaag ou gras wat ek bo-op gesit het, verhoed verdamping en ook dat onkruid oorneem.

Die tuiniers, wat aanvanklik  kopskuddend na my gekyk het, het intussen bietjie respek vir die klein, ronde tuintjie gekry.  Ek’t mos gesien hoe hulle elke oggend eers na die beddinkie kom kyk het voor hulle hul gereedskap uit die stoepkamer kom haal het…  :wink:

16
Sep
09

My Lief se kleur is groen

15 September 2008

Dis nou amper eenuur in die oggend, en as mens nie hierdie aand bytel nie, is dit nog vyf slapies voor ek weer my man sien!  Op die oomblik haal ek net asem en wag vir die dae om verby te gaan.  Nie veel kan my nou ontstel nie, want die lig aan die einde van die tonnel word groter en groter.  Selfs die feit dat ek my twee oudstes hier moet agter los, kan nie die opwinding demp nie.  In elk geval sien hulle uit na tyd sonder my. Of so word ek vertel.

Die verlange het nou haas te erg geword.  Dis ‘n fisiese pyn in my hart.  Ek mis my Lief se blou oë (al vertel hy my dis eintlik groen), sy breë hande vol eelte en  die rustigheid wat hy is.  Ek wil weer saam met hom my eerste oggendkoffie drink en deur die tuin gaan stap.  Die bakkie pak en die vreemde inneuk.  Rooiwyn drink en diep dinge gesels.  Saam lag vir Die Seuntjie se lawwighede.

Op ons eerste tog na Namibe, het ek ‘n plant uitgehaal  wat ek darem op die ou einde ‘n naam voor kon gee: cyphostemma uter.  Ongelukkig het hy nie ons nat somer oorleef nie, en ons is in April terug om nog een te gaan uithaal.  Hierdie keer het ek seker gemaak ek plant hom in genoeg sand en klippies sodat hy nie weer te lank met sy voetjies in die water staan nie.  Dit was ‘n kleinerige specimen, en hy het vir lank net gestaan en my laat wonder oor sy lus vir oorlewing.  Laasweek kry ek dié foto:

Hy het sy eerste groenigheid begin opstoot, en sy pensie lyk baie ronder as toe ek hom laat gesien het.  Vir my is daar simboliek in.  Na vier maande van skynbare onwilligheid, begin hy nou tekens van lewe toon.  Is dit omdat ek huistoe kom?

31
Aug
09

As tuinmaak jou ‘n koue sweet gee…

6 Mar 2008 03:43

Ek geniet tuinwerk baie. Wat is daar om nie van te hou nie? Die warm son op jou vel, die sweet wat teen jou voorkop en neus afbiegel, jou T-shirt wat nat aan jou vasklou, swart naels…ag, dis hemels!

Ek het gou agtergekom dat my huidige fiksheidstoestand my nie toelaat om sekere takies te verrig nie. Skoffel vir langer as 10 minute is uit. Grassny vir langer as ‘n uur, uit. Daar het nie veel van die nitty-gritty werkies oorgebly nie, en ek wou graag my spannetjie wys dat die senõra ook murg in haar pype het.

Ek neem toe vrywillig die taak van snoeiwerk oor. Die blombeddinkies voor die huisies is nie groot nie, en ek het regtig gedink dit behoort ek te kan baasraak. By nadere betragting sien ek toe dat dit heeltemal oorgroei is met twee tipes grondbedekkers. Een met ‘n ronde blaartjie, rooi aan die onderkant. Die enetjie is nie te agressief nie, en ek snip-snap die balhorige blaartjies sommer tjoef-tjaf af.

Die ander grondbedekker ken ek van my Pietersburg-dae. Die Singapore Daisy. Lieflik op die oog af, maar draai jou rug en daai ding rank dat hy sommer die huis van sy fondament af lig. Dit maak lang lote (2 – 3 m) en uit die lote kom daar dan die parmantige steeltjies met stupid geel blommetjies.  (Dit word as ‘n indringerplant in Australië beskou!)

ipa-singaporedaisy-closeup-250_rdax_250x1801.jpg ipa-singaporedaisy-infestation-250_rdax_250x1801.jpg

Dis ook nogal nie ‘n dun stingel om af te knip nie, jy moet dus heelwat effort insit om die skêr daardie knipaksie te laat uitvoer. So sit ek en swoeg. Die klein beddinkie lyk ewe skielik nie meer so klein nie. Ek belowe myself, maak net nog ‘n meter klaar, dan kan jy gaan vir ‘n smokebreak.

Ek werk toevallig by Frans se huis. Die kom daar aan en lyk besonder happy dat ek sy tuin bietjie trim. “Nee, Ma, ek los hom die tuin nou vir djou.” En ek voel chuffed! Hy dink ek gaan die battle wen! “Satterdag ek wou hom biedgie skonmaak, toe daar kom sjo dik slang daar uit.” En hy wys ‘n redelik groot sirkel met sy duim en middelvinger.

Wel, dit het die res van die dag vir my geruineer. Ek kry juis so swaar om die verdomde lote almal by te kom, maar om dit te doen terwyl jy in ‘n paraatheidsposisie is, maak dit nog moeiliker. Nie meer houtgerus op my hurke nie. Nee, altwee voete stewig op die grond, reg om te hardloop as die situasie dit vereis. Ek gryp ook nie meer die lote vas en KNIP nie. Van toe af is dit net mik-en-knip. Die afgeknipte koppies vee-vee ek met die snoeiskêr uit die bedding terwyl my oë die donker dieptes tussen die lote fynkam.

Gelukkig is al die beddings nou gedoen sonder enige ontmoeting met enige reptiele. Kleinboet kon net nie verstaan hoekom sy ma die heel tyd vir hom skree om op die stoep te staan nie! En ek het besluit dat daai welige grondbedekkers gaan waai. Gee net kans! .




Statistieke

  • 25,284 keer gelees
April 2018
M D W T V S S
« Mar    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  
Advertisements