Archive for Augustus, 2009

31
Aug
09

Die Kwanza en die opblaasbootjie

23 Mar 2008 22:56

Ek en my wederhelfte het die magtige Kwanza-rivier hierdie naweek oorwin! ‘Oorwin’ laat dit dalk te maklik klink.  Ek weet nie of mens in water kan sweet nie, maar as mens kan, het ons gesweet.

Ons het vir Jongste ‘n opblaasbootjie vir R100 by Pick & Pay gekoop. Laas toe ons in Suid Afrika was.  Saterdag toets ek en Pa die bootjie uit met twee Kastele tussen ons knieë vasgeknyp. Ons ploeter nog onvaardig in die vlak watertjies rond, toe een van ons vriende van die wal af skree: “Gaan groet vir Bruce en dan kom julle terug.” Bruce het ‘n gastehuis aan die ander kant van die Kwanza.  In ‘n mal oomblik, sekerlik aangevuur deur die Kastele, oorreed ek Pa dat ons moet gaan en die grootbek stilmaak.

Die stroom is bedrieglik sterk, en toe ons weer kyk, sien ons die riviermond gevaarlik nader kom, die Atlantiese Oseaan onrustig en woelig.  Witgeskrik begin ons ‘paddle’ vir ‘n vale: Pa met die spane en ek met my hande. Ons maak nie hond haar-af nie.  Pa gee my die spane aan en beduie ek moet roei; hy spring in die water, gryp die bootjie vas en begin skop.  Dis nou stroom-op en dis ‘n stryd, maar adrenalien gee ons krag en die rivier gooi ons, na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, op die oewer neer.  Poegaai sleep ons die (papperige) bootjie teen die wal uit en rus.

Ons het nie vir Bruce gaan groet nie, net die bootjie opgesleep tot bokant ons kampplek aan die ander kant van die rivier.  Pa reken mos dat die stroom ons netjies sal afvat, en as ons regoor die kamp kom, kan ons kant toe ‘paddle’.  Gelukkig het ek nie daarvoor geval nie! Pa is baie meer vaardig as ek met die speelgoedspane, en ek order hom in die bootjie in terwyl ek skop.  En het ek nie geskop nie! Die gedagte aan al die gruwelike groot visse wat ek al uit die Kwanza sien kom het, het my bene oorreed om aan te hou, al was hulle by moeg verby gewees. Die verligting toe my voete weer grond raak: prysloos.

En om die hele gedoente net in perspektief te plaas:  die Kwanza is amper 1000 km lank, op plekke tot 15 m diep, en stoot 85 000 l water per sekonde die see in! En volgens Google Earth is die Kwanza, waar ons hom oorgesteek het, 500 m wyd.  Ons het ons ‘prestasie’ en oorlewing summier met nog twee Kastele gevier.

kwanza

copy-of-barro-do-cuanza-2-046.jpg

Advertisements
31
Aug
09

Hoe oud is jy regtig?

20 Mar 2008 00:16

Hoe oud is jy rêrig? Volgens die slim mense, het jy ‘n kronologiese ouderdom en dan jou regte ouderdom. Jou regte ouderdom word bepaal deur jou lewenswyse: wat jy eet, oefening, rook, drink, ens.  By Oprah kan jy met ‘n vinnige toetsie jouself gou-gou in ‘n depressie kry.  Of dalk nie.  Ék is 3 jaar ouer as my kronologiese ouderdom!

31
Aug
09

Ma

18 Mar 2008 03:43

My ma word 1 Mei tagtig jaar oud.

Ek wil so graag hulde aan haar bring, maar dis asof ek nie my woorde mooi agtermekaar kan kry nie.  Sy was/is ‘n formidabele vrou.  Waar ek sit, lyk dit vir my of haar lewe meer ‘hardship’ as vreugde geken het.  Sy ervaar dit dalk anders.  Ek sal nie weet nie, want ek het my ma nog nooit op ‘n hopie gesien sit waar sy haarself bejammer nie.

In haar leeftyd het sy jonk haar eerste man aan die dood afgestaan en na jare se emosionele mishandeling uiteindelik haar tweede man (my pa) verlaat.  Nie omdat sy wou nie, want sy stoïes geglo aan ‘n huwelik wat vir altyd moet hou. Dit was eerder omstandighede wat haar geen keuse gelaat het nie.  Dìt het sy gedoen toe sy alreeds in haar sewentigs was.  Nie ‘n maklike besluit op daardie leeftyd nie.  Soms dink ek dit was genade.  My pa is ‘n paar maande later op sy kleinhoewe vermoor.  As my ma nog daar was, wie weet…

Die laaste 8 jaar was seker die moeilikste jare van haar lewe.  Twee van haar ses kinders is oorlede, twee van haar kinders praat nie meer met mekaar nie, ek is geskei, die laaste twee van haar broers het weggeval, asook ‘n suster.  Van haar agt broers en susters, is dit nog net sy en my ou tante (nou 87 jaar) wat oor is.

Alles wat gebeur het, het haar skielik oud gemaak.  Nie geestelik nie, maar fisies.  ‘n Jaar gelede het sy nog, skipants en Reeboks, elke oggend 5 km gaan stap.  Nou is daar oral pyne.  Soms probeer sy deur die pyn aangaan, maar die pas het te vinnig geword.  Sy het oud geword.

Haar gees is egter nog onblusbaar.  Altyd vrolik, altyd opgewek.  Nog steeds besig met tuinwerk, haar kerk en oumensklubs.  Dit kuier en gesels elke dag.  Van haar vriende is dertig jaar jonger as sy.  Sy klink nie soos ‘n oumens nie.  Sy speel rekenaarspeletjies en luister na haar mp3-speler.  Sy ry nog rond en onthaal graag die ‘oumense’, soos sy hulle noem.

As ek net ‘n fraksie van haar ma-wees talente kon hê, sal my kinders gelukkig wees.  Wat ek die meeste van my ma waardeer, is dat sy altyd aan my kant was.  Selfs wanneer ek erg drooggemaak het.  Nie dat sy blind vir my foute was nie, maar as sy kant moes kies, sou sy my kant kies.  Maar nie as sy moes kies tussen my en ‘n broer nie. Dan was sy altyd neutraal.  Haar kinders het sy almal dieselfde behandel.

Ek kan eerlik sê dat ek alles met my ma kon bespreek.  En ek het.  Ek doen dit nog steeds.  Niks was te skokkend, te sleg, te vernederend om met haar te deel nie.  Sy sou luister en raad gee.  As ek my eie kop gevolg het, het sy my ondersteun.  As my eie kop my in die moeilikheid gebring het, was sy daar om my op te tel en af te stof.  Nooit, ooit met ‘n ‘I told you so’ houding nie.

Sy was ‘n remediërende onderwyseres.  Ek dink sy het die rekord vir die onderwyser wat die langste gewerk het in onlangse geskiedenis! Sy het skoolgehou tot sy 70 jaar oud was!  Vandag is haar advies rakende my kinders, vir my van onmeetbare waarde.  Sy sal vir my sê waar my jongste meer hulp nodig het.  Potensiële probleme sal sy uitwys.  Sy het die vermoë om heeltemal objektief na my kinders te kyk en raad te gee.  As ek daarom vra.  Andersins sal sy nooit uit haar eie opinies lug nie.

As mens het sy natuurlik haar foute, maar as ma is haar rekord vlekkeloos.  Ek kan nie ‘n lewe sonder my ma indink nie.  Wie gaan ek bel as ek nastergalkonfyt wil kook?  Wie gaan ek bel as ek bietjie moed-inpraat nodig het?  Wie gaan ek bel as my jongste ‘n nuwe mylpaal bereik het?  Ek wil nie eens daaraan dink nie.  Die gedagte alleen is te vreeslik.

Op haar verjaardag sal ek nie by haar wees nie.  Met daardie mylpaal sal ek 3000 km van haar af wees. Maar ek sal ‘n glasie klink op die aller, aller, allerbeste ma wat nog ooit hierdie aarde bewandel het.

31
Aug
09

[Tydskrif] – tag

17 Mar 2008 12:26

Dankie, NetJane, dis nou rêrig ‘n tag waarvoor ek my lippe afgelek het!  Om 3 van die beste stukke wat ek sedert 1 Desember 2007 raakgelees het, te noem en aan [Tydskrif] te e-mail by tydskrif@gmail.com.  En my gunstelinge is:

–  If it is to be, it’s up to me (Wosonki)

Verlange (Sonkind)

Wat is in ‘n naam? (Voetjies)

En nou sal ek graag vir Voetjies, Dellie en Kaalvoet ini reen wil tag om dieselfde te doen!

31
Aug
09

Gesellinne by die trop

17 Mar 2008 10:00

Ek is vandag sommer omge-ellie.  Erg.  As ek mooi gaan sit en dink, kan dit dalkies die koms van die maandelikse runderpes wees wat my so laat voel.  Nietemin, vir ‘n rukkie is dit ‘n ding wat krap en die naweek en toe vandag weer net vir my te erg geword het.  Niks wat ek daaraan kan doen nie. Dis ‘n geval van byt op jou tande en sluk en verdra.

En oukei, noem my ‘n rassis. Vandag gee ek regtig nie om nie.

‘n Paar mans – swart èn wit – het nou in die ‘gewoonte’ verval om ‘vriendinne’ van die village in die kompleks te onthaal.  Saterdag het hier ses of sewe van hierdie ‘vriendinne’ opgedaag.  Almal met reguit haartjies en mooi lyfies wat hulle skaars toemaak met kort kleertjies oor die eina bikini’s.  En hulle het te heerlik baljaar in die swembad.  Later het een van die ousies wat hier werk se dogtertjie kom saamswem.  M. a. w., mammie kuier ook êrens in die kompleks rond.  Gister dieselfde storie.

Dis veronderstel om ‘n ’secure complex’ te wees. Nou is dit mode dat elke Jan Rap en sy mater hier inkom.  So is daar bv ‘n seun van so 17 jr wat glo ‘n casual in die fabriek is.  Bedel alewig koeldrank of bier.  Dié knaap kom nou roetine hier ingestap met sy swembroek asof dit die munisipale swembad is.  Hoe kom hy verby die sekuriteitswagte?  Of kom hy op spesiale vergunning van een van die mans? Niemand weet nie, en niemand gee om nie.

Vanoggend doen ek my rondte in die tuin.  Sowaar as vet, daar sit twee vreemde madams voor ‘n meneer se huis, voete in die bloomin’ blombedding.  Gee my ook net vuil kyke, groet nie.  En hul babatjie hardloop die hele wêreld vol.  Ag nee, damn, dis een ding om kuiergaste te hê, dis ‘n ander ding as hulle by jou kom plak.

My bediende laat my ook nie beter voel nie.  Toe sy vanoggend, weereens laat, hier aankom, is haar heel eerste prioriteit om haar eie klere gewas te kry.  Met my waspoeier.  Haar goedjies hang die draad vol, en myne moet wag om droog te word.  Weereens moes ek die beddens wegskuif sodat sy vir ‘n slag daar kan skoonmaak.  Wanneer gaan sy eendag besef dat sy ook maar af en toe uit eie vrye wil onder die beddens kan skoonmaak?  Ek kry van haar ‘hair extension’ in my rotstuin.  Ek onthou ek het dit verlede week op die vloer sien lê. M.a.w. sy het dit uitgevee op my rotstuin uit. Soos ek haar ook male sonder tal gesê het om nie te doen nie.

Die Angolese is die mees arrogantste lot wat ek in my lewe teëgekom het.  Krepeer van ellende, maar die wil om te werk ontbreek erg.  En om te dink hulle is as slawe Amerika toe gestuur!  Wil nie eens dink watse tipe slawe hulle was nie!  Die Angolese vrouens het oor die algemeen mooi lyfies en gesiggies, maar dit lyk of hulle net een ding op die brein het: buitelandse mans met hope dollars.  Of altans, so dink hulle.

Mens kan hulle egter nie kwalik neem dat hulle hul kanse benut nie.  As die patetiese klomp mans so ‘hard-up’ is vir ‘n gewriemel tussen die lakens, hoe kan die ‘dames’ so meevallertjie nie met albei hande vasgryp nie?  Ek wil nie eens dink hoe dit gaan wees as die kinders weer kom kuier n ie.  As hulle tussen ‘n klomp orige mans en wulpse swart meisies in die swembad moet klim, kry ek ‘n hartaanval.

Ek is gelukkig nie die enigste een wat so voel nie.  Dit grief van die ander mans ook, maar niemand het die moed om iets te sê nie.  Bang dit ontaard weer in ‘n rasse-geding.  Al wat ek weet, is dat ek nou baie na aan my limit gekom het.  Voorheen was dit ‘n subtiele gekuier in die huise, nou word die kompleks behoorlik beset. Een meisie is nie meer genoeg nie, dit moet nou ‘n trop wees.  Ek moet hard op my tande byt. Fokken Flippen hard

31
Aug
09

Gestop deur die poelieste

16 Mar 2008 16:13

Die eentonige lewe in Angola het soms sy hoogtepunte. Soos Vrydagaand, toe ons na ‘n klein inkopie-ekspedisie en sop en prawns  by Marisqueira, die tog terug huistoe aanpak.  Pa ry by polisie verby en spot nog dat hy bly is hy is nie daar gestop nie. Sekondes later word ons agtervolg deur ‘n polisie vên wat ons verbygaan en skerp voor ons indraai en ons stop.

Pa draai die venster oop en begin nog met “Bon noite, Senhor”, maar die reusagtige polisieman wil niks stories hoor nie.  Pa word uit die bakkie gehelp en al ons paspoorte word gekonfiskeer.  (Arme vriend Martin het nie ‘n paspoort by hom nie!) Sonder seremonie word Pa by die poliesvên ingeboender, en Groot Polisieman klim in ons kar.  In doodse stilte ry ons agter die vên aan.  Net so 200 m verder, daar waar hulle ons in die eerste plek ‘gestop’ het.

Ek sien vir arme Pa, nog steeds agter in die vên, en ek besluit, come hell or high water, maar ek gaan hom nie alleen los nie.  Martin sit tjoepstil, want om sonder ‘n paspoort gestop te word, is amper erger as moord.  Ek gaan sluit my aan by die gros polisiemanne wat teen die tyd weer vir Pa met sy voete op vaste grond het.  En ek begin met hulle gesels. Ek bid maar net dat my stemtoon rustig is en nie die innerlike paniek weergee nie!  Die bietjie Portugees wat ek magtig is, verdwyn soos mis voor die son.  “Pappa, Mamma, Bambino…nao banditos”, probeer ek hulle oortuig dat ons nie geharde kriminele is nie.  “Nao, nao, nao banditos”, stem hulle met my saam.  Ons aartssonde was om nie te stop toe hulle ons gewys het om dit te doen nie.

Ons pleit hoog en laag misverstand, maar dis duidelik dat die poelieste op ‘n missie is.  Later gaan haal ek vir Kleinboet en staan met hom op my heup daar rond. ‘n Pluspunt vir die Angolese is dat hulle regtig ‘n swak het vir kinders.  Kinders word nie sommer verontrief nie.  Die taktiek werk, want gou-gou roep hulle my.  Hulle soek geld.  Teen die tyd is ek al redelik braaf, en wil begin protesteer.  Martin die Paspoortlose sien hier egter sy uitkoms.  Hy roep die poeliesman en begin krap in sy beursie.  Honderd dollar later is ons weer op ons pad. Met handdrukke en vriendelike gewuifery, so asof ons net gestop het om ou vriende te groet.

Met die hele spulletjie agter ons, kon ons net lag.  Dis moes een of ander tyd met my ook gebeur het. (Pa en Martin is albei al voorheen geharrass deur die polisie.) Dit was die klimaks van ons aandjie uit, en ek dink nie die poelieste weet dit eers nie! Nou’s ek weer reg vir ‘n vervelige week in die kompleks…

31
Aug
09

Base en dienaars

14 Mar 2008 10:13

Terwyl ek my kop breek oor wat om te skryf, kry ek vandag hierdie irritasie wat langs my rug afgly tot in my tone. En nou gaan ek dit neerpen!

Ek was besig in die tuin toe ‘n nuwe besending oondjies hier aankom.  Die senõra in beheer van die distribusie van die oondjies, wink my nader en sê ek moet my bediende gaan roep om die oond te kom haal!  My bediende is omtrent ‘n halwe meter korter as ek en ‘n halwe ton ligter ook.  So, dis nie omdat ek klein en tingerig en my ousie groot en sterk is nie. Nee, dis omdat ek wit en sy swart is.  Dit grief my.  Ek weet dis ‘ordentlikheid’ teenoor my, maar moet ek regtig huistoe loop, die ousie gaan roep om die oondjie te kom haal en  weer terugloop na waar ek gewerk het? Ek het die (veerligte) boks opgetel en huistoe gedra.

Ek sal seker nooit ‘n manager in die ware sin van die woord kan wees nie.  Ek sal nooit kan orders gee uit die gemak van my leunstoel nie.  Ek het alewig hierdie ding in my agterkop: ek sal nooit van iemand verwag om iets te doen wat ek nie self kon/wou doen nie.  Soos nou die dag met Paulo.  Waar hulle gras geplant het, het die bossies, na die reën, wild en welig gestaan.  Ek vra hom toe om die area skoon te maak.  ‘n Dag en ‘n half later lyk dit nog nie beter nie, en ek kon sien hy is nie rêrig lus vir die joppie nie.  Met my moer versuur, gee ek hom ‘n ander taak, en spring self in.  Om te sien of dit regtig so erg is.  (Twee en ‘n half uur later was dit skoon, kan ek byvoeg!) Maar hy weet ek weet (nadat ek ‘n myl in sy skoene gestap het, so te sê) dat hy net leeggelê het.

Ek kan sien die ousies kyk na my asof ek van lotjie gekluts is.  Dis seker nie elke dag dat ‘n wit madam met haar oudste klere net so hard saam met die manne werk nie.  Is dit omdat ek wit is, of omdat ek eintlik die ‘baas’ is?  Ek vermoed dis iets van albei.  Gewoonlik werk die base mos nie saam met hul werkers nie.  (En is die base gewoonlik wit?)

Lang storie, maar wat ek eintlik wil sê, is dat ek niemand nodig het om my oond vir my te dra nie.  Ek sal self my harde hande-arbeid doen. Want ek kan! En ek wil! Of ek nou wit, ‘n baas of ‘n vrou is, dis vir my pateties om te verwag dat jou swart dienaar jou van kop tot tone moet bedien.

Ek soek nie ‘n slaaf nie, net iemand wat net so hard soos ek kan werk. En ek is nie bang vir werk nie.




Statistieke

  • 25,284 keer gelees
Augustus 2009
M D W T V S S
« Mar   Sep »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  
Advertisements