Posts Tagged ‘Donker

30
Jan
10

Janeth

22 Mei 2009

Craig bel vanoggend.  Hy is een van 5 expats wat nog geduldig (NOT!) wag vir ‘n visum.  Hy het slegte nuus.  Janeth is gister in ‘n motorongeluk dood.  Ek het beplan om eendag oor haar te blog.

Janeth was ‘n ’spanner swaaier’.  Sy was saam met Craig ‘n ‘valve and tube specialist.’  Sy het eendag, na werk, by my opgedaag.  Haar Engels was foutloos, en sy het ‘n lewendige, positiewe energie uitgestraal.  Ek was beïndruk.  Sy wou hê dat ek vir haar klere in Suid Afrika koop sodat sy dit in Angola kon verkoop.  Ek het haar fyn lyfie bekyk.  Sy was baie mooi aangetrek:  sexy jeans, mooi hempie, hoë hakkies.  Ek het gewonder of sy regtig ‘n goeie mechanic is.  Later het Craig my verseker:  sy was van die beste wat hy in Angola gehad het.

116

Ek het haar klere gaan koop en sy het dit kom haal.  Geklee in haar overalls.  Ek kon nie glo dis dieselfde modieuse meisie wat die ‘bestelling’ kom plaas het nie.  Met haar toestemming het ek ‘n foto van haar geneem en haar gevra om eendag terug te kom sodat ek haar in haar civvies ook kon afneem.  Haar gesê dat ek oor haar wou blog.  Sy het gelag, maar gesê dis reg.  Eendag, kort voor ek weg is, het sy by die kompleks ingehardloop gekom sodat ek die foto kon neem.  Sy was haastig om die bus terug Luanda toe te vang, maar het nogtans my vrae beantwoord.  Ek het geleer:  sy was 27 jaar oud.  Sy het nie ‘n man of kêrel gehad nie.  Ook nie ‘n baba, soos so baie van die meisies daar nie.  En sy was besig om ingenieurswese te swôt.

Janeth was vir my ‘n toonbeeld van die beste wat Afrika oplewer.  Toegewyd, ambisieus – ‘n girl met ‘n plan.  Nou’s sy weg.

SDC11864

Advertisements
29
Jan
10

Wat gebeur as jy jou ma se foto’s uitsorteer

18 Mei 2009

Ek onthou ‘n dag toe ek iets by die hospitaal moes gaan doen het.  Ek het van die parkeerarea na die hospitaalingang geloop toe ek die lang figuur met die donker bos hare gesien het.  ‘n Onverklaarbare drang het oor my gekom om hom in te hardloop en te groet.  Ek het begin hardloop, hoë hakskoene en al.  Hy het net-net voor my gebly.  Eers voor die deur van die laboratorium het ek hom ingehaal.  Uitasem het ek hom van agter op sy rug geklap.  Hy het omgedraai en verras gelag.  “Hallo, Sus”, het hy gesê.  En my ‘n druk gegee.

Ek onthou ook ‘n ander aand, ‘n paar jaar vantevore.  Hy het pas uit Wallis teruggekom.  Ons was almal in die sitkamer.  Hy het Pieter se begrafnisbriefie gevat en in die hoekie gaan staan.  “My boetie!  My boetie!”, het hy gehuil.  Ek het gehuil omdat hy gehuil het.

Ses jaar later het ek oor hom gehuil, soos vanaand.

My boetie.  My boetie.

Copy of Picture    Hubert 010 Copy of Picture    Hubert 129 Copy of Untitled-2-1 Copy of 1062-1

28
Jan
10

Polsafvretenswaardig

8 Mei 2009

Net gisteraand wou ek ‘n bietjie my bygelowe wegskryf.  Plaas het ek maar.

Die Groot Bygeloof:  As ek BAIE uitsien na iets, is dit gewoonlik ‘n flop, of dit realiseer nie eens nie.  En tensy daar ‘n wonderwerk gebeur (wat ek betwyfel) gaan ek reg bewys word.

Ek sien BAIE uit na ons vakansie in die Angolese gopse, maar ek het die hele tyd ‘n krieweling gehad.  Die paspoorte is ingestuur vir die visums – die Angolese sê dit vat 13 werksdae om ‘n aansoek te ‘process’ – en ek het salig hier gesit en dink dís ten minste van my rug af.

Toe nie.  Ná ‘n roetine mailtjie, moes ek uitvind dat die “Letters of Invitation” nog uitstaande is.  En in Angola laat weet hulle dat dit al verlede week gestuur is.  Maak nou nie saak watter kant toe nie, die punt is, ek het net 9 werksdae oor.  Ek gaan verseker nie ‘n visum betyds hê vir die 21ste nie.

Al wat nou oorbly, is om dit ‘n ernstige gebedsaak te maak.

Om die kersie op die koek te sit, moet ek hierdie naweek vir die blêrrie Bulls skree.  :sad:

22
Des
09

Bang vir my Land

Deesdae boer ek by YouTube.  Ek het op hierdie liedjie van Karen Wessels afgekom.  Nog nooit gehoor nie, maar dit breek my hart.  Opgedra aan Suid-Afrikaners wat nie meer hier woon nie – ek wonder wat is die ergste?  Die vrees of die verlange?  (Ek het klaar besluit.)  :sad:

12
Sep
09

Waar de hel is Biegblok??

23 Julie 2008

Ek is nou op my perdjie.  Biegblok is ge-delete.

Vir ‘n hele rukkie het Biegblok my vasgevang met gewone mense se verhale van hartseer en vreugde.  Sommige mense het bekender geklink as wat ek sou wou hê!  Maar meer as net ‘n plek om lekker sopstories te lees, was dit ‘n plek waar mense kon praat. Anoniem.  Praat oor goed wat so rou en intiem is, dat mens dit eerder NET anoniem sou wou doen.

En nou is Biegblok weg. Ek weet nie of die oorspronklike ’stigter’ die blog ge-delete het nie, (maar ek betwyfel dit) en of een of ander skurwejantjie was wat nie werk vir sy kloutjies gehad het nie.  In elk geval, dis hartseer.  Biegblok was oop vir almal en het niemand skade gedoen nie.

As ek slimmer was, het ek Biegblok weer op die been gebring.  Ongelukkig is my kop effe toe as dit kom by IT-dinge!  Miskien sal die een wie se breinkind dit was, hom weer soos ‘n Phoenix uit die as laat verrys???

12
Sep
09

Groet-tyd

18 Julie 2008

More, more!

Ek is nog nie amptelik op my blog-pos nie; kon net nie help om vinnig in te loer nie.  My geliefde vlieg vanaand Johannesburg toe, more Angola toe.  Ek het dus die hele naweek om twee weke se blogs te lees.  Lekker!  Regtig iets om na uit te sien.  Die meeste van ons het seker al agtergekom hoe baie mens blogging mis as jy dit vir ‘n ruk nie kon doen nie!

Ek en my ou man moet weer gewoond raak aan die ‘expat-lewe’.  Drie kuiertjies ‘n jaar.  Gelukkig kan ek ook drie keer vir hom gaan kuier.  Nogtans bly dit ‘n lang, lang tyd om sonder jou ander helfte te wees.  Die ergste is die dae soos vandag.  Amper soos doodgaan.  Jy weet dit (die groet-slag) gaan/moet kom, maar jy kan dit net nie indink nie.  So onwerklik.

Die funny ding is, ek het geen begeerte om ooit weer Angola toe te gaan nie.  Dit was vir langer as twee jaar my huis gewees.  Ek weet nie hoe ek sal kan gaan kuier, en niks daar doen nie! Destyds het ek soos ‘n nuttelose ‘attachment’ gevoel, maar ek besef nou eers ek was regtig kaatjie van die baan.  Imagine. Net kuier by my ou huis!  Dit klink baie, baie vreemd.

Toe Sonneblom se man in Rusland was, het ek baie goeie raad vir haar gehad.  “Hou jouself besig, vrou”, het ek vir haar gesê.  “Doen goed waarvan JY hou.”  Hmm.  Makliker gesê as gedaan.  Hoe vat jy die seuntjie see toe, terwyl jy weet Pa sou vir hom vissies gevang het en dalk nog ‘n vleisie oor die kole ook gegooi het?  Alles is net soveel lekkerder as hy ook hier is.  ‘n Mooi sonsondergang of ‘n silwer volmaan is net nie heeltemal perfek as jou wederhelfte dit nie met jou kan deel nie.

Gedane sake het nie keer nie.  Dis soos ons lewe is.  Ons sal albei maar net die beste van ‘n slegte saak moet maak.  Ten minste weet ons dat ons na ‘n gesamentlike mikpunt toe werk.  Dis nie dat ek pessimisties is nie, maar ek het ‘n vrees dat ek en my man nie eendag saam, onder een dak, kan oud word nie.  As ek net daai versekering gehad het, sou ek dalk nou meer tevrede gewees het.  Al wat ek kan doen tot die tyd aanbreek, is hoop. Hopelik beskaam hoop my nie!

“Hope” is the thing with feathers-

That perches in the soul-

And sings the tune without the words-

And never stops – at all.

Emily Dickinson

12
Sep
09

Wurms

25 Junie 2008

Dit help nie ek gee voor die lewe gaan net aan na laasweek se inbraak nie.  Dis ook geen troos dat dit met duisende ander Suid Afrikaners gebeur het, en vanaand wèèr êrens in ons land gaan plaasvind nie.  Die feit dat ons so lig daarvan afgekom het, stem my tot groot dankbaarheid, maar dis ook geen troos nie.  Nie dat ek troos nodig het nie.

Ek is oorweldig deur paranoia, maar dis paranoia wat verlede week ons redding was.  Ek het ‘n klein bietjie psigiatriese kennis, genoeg om te weet dat die psigologiese trauma die gogga is wat my en my seun nou treiter.  En ek weet dat die letsels mettertyd gaan vervaag soos die tyd aanstap. Die ding is net: nou, op hierdie oomblik, is dit ‘n vreemde ding. Iets wat ek nie 100 % weet hòè om te hanteer nie.

Ja, ek is bang.  Maar, dis nie ‘n verlammende soort van vrees nie, meer iets wat my aanspoor om voorbereid te wees.  Of ek ooit voorbereid genoeg gaan wees, is ‘n ander vraag.  ‘n Groot deel van elke dag (en veral elke nag) sit ek en dink moontlik scenarios uit.  Wat as ‘n ou in my kamer kom terwyl ek slaap en hy het ‘n vuurwapen? Wat as daai ou die wapen op my rig? Gaan ek stilsit en met hom redeneer, of gaan ek hom probeer platduik?  Wat as dit ‘n mes is?  Hoe gaan ek myself verdedig as iemand die trappe OPkom na my toe, en hoe as hy die trappe AFkom?  Hoe kan ek dit vir hom/hulle nog moeiliker maak om te kry wat hulle wil hê?

Ek het twee kinders in die huis.  Pieter is klein en hulpeloos, Bruce groot en sterk.  Ek voel albei het my beskerming nodig.  Ek en Bruce het ooreengekom dat hy by Pieter sal bly as ons ooit in ‘n gevaarsituasie kom.  Hy sal NIE macho probeer wees nie.  Sy kanse, fisies, is beter as myne, maar ek sal nooit, ooit dat een van my kinders my battles veg terwyl ek eenkant wegkruip nie.  Dit maak hom nie gelukkig nie, maar hy weet dat ek hom nooit alleen sal los nie, en dat dit sal beteken dat Pieter alleen gaan wees.  Iemand MOET by Pieter bly.  So, ons weet wat elkeen se rol gaan wees.

Ek lê nagte om en dink aan die potensiële noue ontkomings wat ons gehad het.  Warm somersaande met die balkonskuifdeur oop.  Deure per ongeluk ongesluit gelos in nag.  Ja, ek is dankbaar dat niks voorheen gebeur het nie, maar ons slapgatgeit laat my in ‘n koue sweet uitslaan.  Dit kon soveel anders gewees het…

Die voordeel van die hele storie, is dat ons nou in iets soortgelyk aan Fort Knox woon.  En dis nie net die huis nie.  Ek en Bruce het verander in twee pynlik veiligheidsbewuste wesens.  Met slaaptyd ken ons die hele ritueel.  Laptops, handsakke en selfone word veilig weggebêre.  Huis-en karsleutels word weggesteek.  Voor ons nagsê, kom ons eers weer ooreen oor wie wat gaan doen.  Telefoonnommers vir nood en hulp is gesafe op speeddial.  Tot ek en my buurman het ‘n plan van aksie uitgewerk om mekaar te hulp te snel, sou dit nodig wees.

Ek neem niks meer as vanselfsprekend aan die.  Die onverwagte geluid is nie meer ’sommer iets’ nie, ek gaan kyk wat dit is.  As ek onder sit en TV kyk, neem ek nie net aan dat alles bo veilig is nie. Kort-kort gaan loop ek ‘n draai deur die huis om doodseker te maak.  Met my sel in die een hand en pepperspray in die ander hand.

Ek is bang vir vuurwapens.  Dis ‘n fobie wat ek het, en ek stel nie belang om dit te oorkom nie.  Maar, ek wil iets kry met ‘velocity’.  Ek het al aan ‘n BB-gun gedink, maar ek sal meer daaroor moet uitvind.  Enigiets wat ek op ‘n afstand kan gebruik.  Wat sal seermaak.  Wat sal afskrik.

Maar dan het ek ook moord-en wraakgedagtes.  In my verbeelding het ek al iemand met Bruce se jagmes keel-af gesny.  Iemand se kop ingeslaan en by die boonste venster uitgestoot.  Iemand se gesig met my vuiste voos geslaan en sy lyf vodde geskop. Een ding het ek van myself geleer, (ek, wat seker die wêreld se grootste pasifis is) bedreig my kinders en jy kry met my te doen.  Wen of verloor, maar my kinders se veiligheid bring ‘n dierlikheid in my uit.

Ek weet ook ek gaan met sommige goed te ver.  Soggens, 1 uur of 2 uur, sal ek op die trappe gaan sit en luister vir geluide.  Ek check vensters en deure letterlik 100 maal per aand.  Ek doen dit om een rede: ek wil nie weer onverhoeds betrap word nie.  Soms laat ek ons aldrie saamslaap, deur gesluit, net om een goeie nagrus in te kry.  Want andersins slaap ek nie.  Of, op die beste, slaap ek onrustig.

Oor ses maande gaan die hele ding waarskynlik al baie vervaag het. Dalk het ons dan weer in ons ou leefstyl geglip.  Maar dis vir my erg dat daar vanaand duisende mense is wat voel soos ek vanaand voel.  Mense met wie daar erger dinge gebeur het.  Imagine ‘n land waar ‘n groot deel van die bevolking hul psigiese wonde lek.  Dis ons land daai.  Geen wonder dinge is soos dit is nie.

NS Dit mag dalk so klink, maar simpatie soek ek nie.  Dit was net goed om die spul wurms in my kop in swart op wit te sit.  Om daarna te kyk, en nuwe perspektief te kry.  Gee kans. Eendag is my kop weer dolleeg!




Statistieke

  • 25,767 keer gelees
Julie 2018
M D W T V S S
« Mar    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  
Advertisements