Posts Tagged ‘Vroumens-goed

20
Mar
10

Papegaaihokke en ander koorsdrome

8 Augustus 2009

Boer vra nou die dag, toe ek weer aan’t klae was oor die gemors by die huis, of ek nie in Angola sal wil bly nie.  Ek het gesê ek sal daaroor skryf as ek die dag my eende in ‘n ry het.  Sederdien is dit omtrent al waaraan ek kan dink.  My eende is nie in ‘n ry nie; hierdie gaan maar net ‘n poging wees om weer te gee wat ek dink en voel.  :wink:

Angola is vir my ‘n magical plek.  Ek weet nie of dit is omdat ‘ons’ ‘n geskiedenis daar het nie.  Ek weet net ek is betower.  Dis die enigste plek waar ek op die grond wil lê en die rooi reuk inasem.  Waar ek ‘n boom wil omhels.  Waar ek ‘n klip optel en voel hoe kragtig dit is.  Waar die grote Kwanza tjoepstil verby my vloei, maar ek wéét hy hou een oog, half-oop, op my.

Angola het my gestroop van pretensies.  Vyf jaar gelede was ek ‘n maer modepop met fake highlights in ‘n ewe fake blonde haredos.  Ek was gesonbed, gemanikuur, gepedikuur, egte goud om my nek.  Daar was rooi cutex aan my toonnaels en die nuutste fashion aan my lyf.  Ek het kits-etes by Woolies gekoop en gedink geld maak my happy.  Ek het gegaan met ‘n tas vol hipness.

Omstandighede – nie swaarkry – het my stadig laat verander.  As ek maar net dieselfde mens gebly het, was my lewe nou baie makliker.  Dis wanneer ek by die lughawe gebou uitstap en die  hitte, stof, armoede, bedelaars en vlieë tegemoet gaan, dat ek lewendig voel.  My kop sê vir my een ding – Afrika is ‘n kak plek – en my hart sê vir my ek wil op geen ander plek op aarde wees nie.

In Angola kan ek myself wees.  Net ‘n girl in jeans en cheap crocs en ‘n t-shirt.  Waar die sweet maar kan pêrel op my voorkop en teen my neus en wange afrol.  Net ‘n girl wat brood bak as daar nie brood is nie.  Wat tamaties en mielies saai omdat dit goedkoper is as in Shoprite.  ‘n Girl wat gefassineer staan en kyk na die snaakse gat-aan-gat goggatjies wat daar rondloop.  Wat aandagtig na die tuinboys luister as hulle vertel waarvoor mens aalwyne kan gebruik.  En waar die hoogtepunt van my persoonlike versorging is as ek my swart vingernaels skoon kan kry.

Uiteindelik het ek ‘n mens geword wat wonder of dit moontlik sal wees om jouself aan die lewe te hou sonder insette van Belas Mall of Pavel Supermarket?

In Angola voel ek veilig.  Nie Luanda nie – dis ‘n hool waar die grootste kriminele die polisie is.  In Luanda sal iemand jou handsak of selfoon gryp, maar selfs daar word jou lewe nie bedreig nie.  Dis wanneer mens egter verby Dondo is, dat  jy regtig vry kan asemhaal.  Die mense in die platteland is anders as die mense van Luanda.  Jou wit vel word natuurlik  nuuskierig aangestaar, en natuurlik sal daar ‘n kaalvoet seuntjie wees wat ‘n koeldrank bedel, maar nog nooit het ek enigiets anders as veilig gevoel nie.  Hulle sal jou onbeskaamd aanstaar as jy jou tande borsel, maar dis ‘n klein prys om te betaal vir die wete dat jou lewe vir hulle ook kosbaar is.

In Angola het ek Bruce ‘n mens sien word.  Iemand wat nie omgee om met goedkoop mark-plakkies en ‘n geskeurde t-shirt rond te loop nie.  Wat saam met die village kinders in die bosse gaan loop het op soek na slange.  Saam met my groentetuin gemaak het en vroegoggend opgestaan het om te gaan kyk of sy pampoene al opgekom het.  Wat geduldig by die komplekswag gaan sit het en hom Engels geleer het.  Elke dag.  Wat op ‘n snikhete dag sou afstap mark toe omdat ons uie en suiker nodig gehad het.  En, snaaks genoeg, nie omgegee het dat die ousie die suiker met haar hande opgeskep het voor sy dit  in ‘n plastieksakkie gegooi het nie.  (Angola het nie dieselfde vir Jeannie gedoen nie. Sy is onaangeraak, glad nie ontroer nie.)  :wink:

Ek voel tuis in Angola.  Behalwe vir red tape-frustrasies, en soms ons eie onnoselheid, het die land nog geen skokke vir my ingehou nie.  Net keer op keer verwondering.  Asem-intrek oomblikke.  ‘n Eindelose avontuur.

Maar…na ‘n maand of twee of drie, verlang ek huistoe.  Behalwe na kinders en familie, verlang ek  na my land.  Ek verlang na ons swartmense wat so anders is as die Angolese. Nie beter of slegter nie, net anders.  Ek mis dit om Afrikaans te hoor en te praat.  Ek mis Afrikaanse musiek en ons humor.  Ek mis dae soos vandag, waar hordes mense met Springboktruie rondloop en regmaak vir die groot game.  En ek mis die gevoel dat ‘n plek jou huis is.  Al bly jy in ‘n papegaaihok.  :wink:

Advertisements
20
Mar
10

M is nie vir Maandag nie

Julie 2009

Ge-organiseerd is ek nie.  Roetine is ook nie hoog op my lysie van prioriteite nie.  Ek probeer – ek is darem ‘n ma van ‘n vyfjarige, en vyfjariges het glo roetine nodig.  Soms is roetine egter ook vir my baie belangrik.  Dis hoekom ek my pakkie Triphasil-pilletjies oop en bloot langs my spieël ingedruk het.  Soggens as ek tande borsel, kyk ek daarin vas en ek onthou:  sluk die pilletjie.

Om by die pilletjie uit te kom, kan ‘n uitdaging wees.  Dis ‘n klein pilletjie in ‘n foeliepakkie, en my vingers is nie baie rats nie.  As daai pilletjie eers geval het, raak hy meer weg as ‘n kontaklens op ‘n wit teëlvloer.  Veral as mens sonder kontaklense daarna begin soek.  As ek baie lui is, leopard crawl ek maar in die badkamer rond, neus millimeters van die grond af.  As ek haastig is, sit ek eers die contacts in, maar selfs dan beteken dit ‘n rukkie op my knieë.

Gewoonlik kry ek die klein oranje balletjie.  Partykeer nie.  As ek manloos is, soos nou, is dit nie problematies nie.  Wanneer daar egter ‘n man met ‘n broekvol planne in die omtrek is, is dit  tyd om die “plastic jobs”  nader te trek.  Hoe bitter onromanties.

Vanoggend, nadat die hoeveelste pilletjie die hoeveelste keer tussen my dom vingers geglip het, het ek sommer met my voorkop op die muur gestamp.  Ek is siek en sat vir pilletjies!  Die goed reël my lewe.  As ons êrens heen gaan, kan ek eerder my tandeborsel vergeet, maar die pilletjies?  Nooit!

Dis tyd vir my menopause om te kom.  Volgens slim Wikipedia is dit nog ‘n paar jaar om te gaan, maar bedêmn, dit kan nie gou genoeg wees nie.  Menopause is nie vir my ‘n vloekwoord nie.  Dis die beloning vir jare en jare se maandelikse malkoeisiekte en  gestress oor handevol vermiste pilletjies: absoluut natuurlike “safe sex”.

Bring it on, Mother Nature.  Please?

11
Feb
10

Goed, beter, borste – oral!

24 Junie 2009

Ek het lank genoeg met borsvoedende vrouens gewerk om teen dié tyd te weet:  daar is pro-borsvoeders en anti-borsvoeders, en daar is ‘n kamp wat teen borsvoed in die openbaar is en ‘n ander een wat dink dis heeltemal in orde.  Jy sal selde, indien ooit, die ander groep se denke kan verander.  Ek is pro-borsvoeding én ten gunste van borsvoeding in die openbaar.

Die Beeld se berigte ontstig my selde, maar die storm-in-a-teacup oor ‘n ma wat in ‘n restaurant geborsvoed het, het my willer as wild gehad.  Om die kersie op die koek te sit, was daar vandag twee vroulike briefskrywers wat my amper ‘n aar laat bars het.  Lees hier en hier.

Die een noem dat sy self  ‘n mamma is, maar…  Dit het my sommer klaar afgesit.  Mamma. Hoekom nie net ‘nma nie?  Mens praat van mammas as jy met kinders praat, nie in ‘n koerant wat grootmense lees nie.  Anyway…

Dié mamma reken dis WALGLIK om in die openbaar te borsvoed.  Sy reken dat ons samelewing so goed ontwikkeld is, dat daar geen verskoning is om nie jou kind in die badkamer te gaan borsvoed nie.  Ha!  Het sy dit al probeer?  Gewoonlik is daar nie ‘n stoel nie.  Die badkamer stink van die vorige mamma wat haar bloedjie se strontdoekie in die hoek gegooi het.  Behalwe dit.  Hoekom sal ‘n borsvoedende ma wil uitgaan na ‘n restaurant as sy ‘n groot deel van die tyd in die badkamer moet deurbring?  Dis plein diskriminasie teenoor borsvoedende ma’s.  Die ma’s wat botteltiete in hul babas se bekkies druk terwyl hulle gesellig om ‘n tafel verkeer, is nie besig met een of ander seksuele ritueel nie.  Hulle voed bloot hul babas.   Hoekom moet borsvoedende ma’s na die buitewyke verjaag word?

Mamma van Noordwes (ja, mamma!) voel weer dat ’sekere dinge’…kry ek kriewels teen my rugstring af… soos om in jou neus te krap, winde te los, kafoefel, seks, kaal rondloop en borsvoed, private aksies is wat in privaatheid moet geskied.  Dis eintlik daardie stelling wat my laat voel het hoe die drukking in kop opbou.  Hoe op aarde kan jy borsvoeding vergelyk met poep of neuskrap?????  Let wel, daar is absoluut niks daarmee fout as ‘n ma ‘n onnatuurlike bottel met onnatuurlike formulemelk in ‘n kleintjie se mond sit nie.  Maar…dis so erg soos neuskrap om jou natuurlike bors, vol natuurlike  borsmelk, in jou baba se mond te sit.

Verder beweer sy dat die borsvoeding-aksie eters se aptyt sal laat kwyn.  Ek het al baie ma’s sien borsvoed in ‘n restaurant – en ja, ek het dit al self gedoen, so whê! – en dit het my nog nooit van my kos afgesit nie.  Maar dan, ek het nog nooit bedreig gevoel deur ‘n ander vrou se mooi borste nie – want ek sweer dis hierdie arme vrou se probleem: jaloesie.  In elk geval, soos party bottelbabas aan hul melk stik en spoeg is dit baie meer off-putting as ‘n rustige baba aan ‘n bors.

Dan is  hierdie vreeslik welopgevoede mamma ook van mening dat dit glad nie meer nodig is om ‘n baba van agt maande nog te borsvoed nie.  Ek voel of ek my hare uit my kop kan trek.  Dis sekerlik die tipe vrou wat ‘n epidurale induksie of keisersnit gehad het en haar kind vir net  4 weke geborsvoed het – want dan het hy/sy genoeg van die voordele van borsvoeding gekry.  Jy voed jou kind vir so lank jy wil en basta!

Eintlik dink ek nie dit gaan oor borsvoeding nie.  Dit gaan oor ‘n generasie vrouens wat skaam is vir hul lywe.  Wat steeds dink seks is vuil en nie in die slaapkamer kan perform sonder ‘n handleiding met stap 1 tot stap 5 (of hoeveel daar ook al is) om hul te help nie.  Wat dink hande vashou en soen in die openbaar is taboe.  En wat steeds hul eng, verouderde sienings wil afdwing op die res van ons wat al lankal die lig gesien het.

Borsvoeding bo!  Oral!  :evil:

Moenie met ons skoor soek nie!

Moenie met ons skoor soek nie!

26
Jan
10

Dit gaan ‘n laaang langnaweek wees

30 April 2009

Gisteraand was ek baie lus om my lot te bekla, maar het my weerhou daarvan.  Mens wil ook nie altyd soos Martie Martelgat klink nie.  Sederdien het ek so traumatiese nag gehad, ek dink ek mag maar.  :wink:

Dis langnaweek, en ek gaan stoksielalleen hier sit.  Wel, seker nie heeltemal so erg nie, Pieter is darem hier, maar hy is nie veel werd in die sin van verdediging nie.  Bruce het gisteraand al by ‘n vriend gaan slaap; hulle ry vandag om Potch se ope-dag by te woon.  Jeannie kom nie huistoe nie – sy gaan by Die Boyfriend kuier.   Eintlik het ek haar gebel om te hoor of sy nie haar naweek eerder by haar mammie wil deurbring nie, maar die stilte was oorverdowend en on-entoesiasties.

*sug*

Boonop verjaar my ma more, en selfs daar gaan ek skitter in my afwesigheid.  Die broers kom af vir die okkasie, en ek en een van hulle is nie meer op speaking terms nie.  So, dis regtig net me, myself and little Pieter hierdie naweek.

Gisteraand was ek klaar op my nerwe.  Van nà middernag was ek ekstra-paraat.  Dis mos wanneer mens onverwagte besoekers kan verwag.  Ek het kort-kort die huis gepatrolleer.  Vensters toegemaak, deure gesluit, die musiek afgesit – om beter te kan hoor, my kind!  Die skuifdeur was darem oop vir ‘n luggie.  Daar is immers ‘n sterk veiligheidshek…

Daar lê ek toe rustig en lees my boek oppie bank.  Heerlik.

Die volgende oomblik vlieg daar ‘n reusagtige bruin ding in, met vlerke wat soos ‘n helikopter se lemme klink.  Ek skrik my besimpeld en spring regoor die bank.  Vertel myself “ontspan, dis ‘n mot”, maar die gogga tol soos ‘n dronk ding in die lug en ek hardloop vir die Doom in die kombuis.  Halfpad daarheen besef ek dat Doom hom nie dadelik gaan laat dooi nie, en ek gooi Bruce se exam-pad na die grrrrrrrrrende ding.  Swak ball sense and all, tref ek hom wel.  Hy val op sy rug op die grond, die skryfblok half op hom.

Dis ‘n grillerige gesig.  Sy krom, bruin pote kriewel-kriewel teen die papier.  Ek besluit hy moet DOOD.  Dadelik.  Vat ‘n swaar boek en neuk dit met alle geweld op hom neer.  Half tevrede, half onrustig gaan sit ek by die tafel.  Hou my oë op die hopie boeke vir tekens van lewe. Alles blyk wel te wees en ek begin ontspan na omtrent 10 minute van doodse stilte.

Ek het skaars ophou bewe, toe kom daar ‘n alleraaklige gepiep van die slagveld se kant af.  My oë pop omtrent uit hul kassies uit.  Die fokken insek het met rugslagbewegings onder die boek uit beweeg.  Terwyl hy vir my skreeu èn weer op sy  pote probeer kom!

Op daardie stadium was ek meer kwaad as bang.  Ek vat nog ‘n swaar boek, gooi dit weer met alle mag op hom neer.  Spring sommer ‘n slag op die boek, net om seker te maak.  Ek gaan sit weer by die tafel terwyl ek kyk vir tekens van lewe.  Sowaar, die twee pootjies wat uitsteek, beweeg nog!  Desperaat, terwyl ek my doodgril, gaan staan ek op die boek.  Ek voel ‘n beweginkie onder my en geel soppies spat oor die vloer.  Toe kon ek eers ontspan.  Hy kon dalk nog lewe, maar vlieg sal hy nie weer nie.

Ek het eers vanoggend moed gehad om die boeke op te lig.  Dit was ‘n groot ‘water scorpion’.  En voor iemand vir my sê hulle is harmless:  ek het dit gaan Google.  ‘Water scorpions’ se byt is excruciatingly painfull!

Nou wag ek vir my ma om te kom tee drink sodat sy van die lyk kan ontslae raak.  :oops:

water_scorpion_nepa1

Posted in Vroumens-goed 

31
Des
09

The Sisterhood

15 April 2009

Ek is oor die algemeen nie lief vir vrouens nie.  Ja, skiet my, maar ek verstaan mans beter.  (Hulle is, after all, sulke eenvoudige wesens.  :mrgreen: )  Nee, ek speel.  Ek het 5 broers gehad wat my goed opgedonner het, maar op die ou einde was ek net so wild soos hulle.

Die laaste dag of wat was nie lekker nie.  Die wat weet, weet.  :wink:

Toe kom my girlfriends en…slaan my asem weg.

Dankie, girls.  Julle het my ogies oopgemaak vir die wysheid van ‘n vrou.  Ons hou maar elkeen die ordentlike en gelukkige front voor, maar almal struggle met issues.  En net iemand wat weet, kan die tissue’tjie aangee.

Mwha!  Julle weet wie julle is…  :wink:

21
Mar
08

Got it? Flaunt it!

21 Mei 2008

Die een ding wat ek by die Angolese dames geleer het, is dat size nie regtig saakmaak nie. Dis die attitude wat tel. En enigeen kan ‘n paar lessies oor attitude by hulle gaan neem – meesters!

So sien jy hulle nie sloef-slaf met plakkies en kommin klere in die dorp nie. O nee! Die hare is “gedoen”, die klere is modieus en die skoene MOET spykerhakkies he. Nou, ek is baie jammer, ek is nie werklik soooo gretig om ‘n goeie indruk te maak nie. Gemaklike klere en plat skoene, dis hoe EK die dorp aandurf!

Maar oor een ding wil ek regtig graag ‘n blaaitjie uit hulle boekie vat. Klein soos ‘n muis, groot soos ‘n huis – daai ladies like hul lywe, en is nie skaam om dit te flaunt nie. Dis normaal om ‘n groot (lees: vet) vrou op die strand te kry met ‘n eina klein bikini aan. Dis abnormaal om dieselfde vrou in ‘n eenstuk, met ‘n sarong of ekstra groot handdoek om haar gedraai, op die strand te kry.

En ons goeie boereseuns het waardering daarvoor. Baie het al prontuit gese dat ons Afrikaanse vrouens moet oor ons hangups kom wat ons oor ons eie lywe het. Dis “off-putting” – aldus die mans.

As jy mooi daaroor dink, het hulle ‘n punt beet. Imagine Vrou A in ‘n konserwatiewe eenstuk, handdoek tot onder haar armpitte om haar ronde lyf gedraai. (AS dit nie ‘n kortbroek en xtra-large T-shirt is nie!) Kop onderstebo, skouertjies wat hang sodat niemand tog die tieties moet raaksien nie, loop sy skelm-skelm water toe. Daar gekom, kyk sy eers rond wie kyk vir haar, voor sy die handdoek vinnig laat val en kop oor gat in die water inneuk om tog net haar lyflike foute te verbloem! En jy wat op die strand sit en haar skelmpies dophou, dink, “Ja, jou vetgat!”

Vat nou Vrou B. Modieuse eenstuk of sexy bikini aan. Geen handdoek of sarong in sig nie. Sy skud haar hare uitdagend oor haar skouers, stoot haar ken, tieties en boude uit en march met attitude af water toe.Sy is net so rond soos Vrou A, maar omdat sy loop met ‘n houding wat skree “ek like myself’ en dis boonop my beach ok”, kyk mens na haar met ‘n mate van respek en bewondering. Nie die minagting/bejammering/simpatie wat jy vir Vrou A het nie!

So, terwyl ons nou werk om ons lywe weer gemaklik en aanvaarbaar (vir ons) te kry, raak sommer lief vir jouself. Sexy is NIE in ‘n cute, maer lyfie nie. Dis tussen ons ore! Is ‘n plankdun blonde met die IK van ‘n grasspriet, sexy? I think not! ‘n Mooi lyf is net nice packaging vir die seksgodin wat binne jou prut en smeul! En wat is packaging, after all? Iets wat mooi is, maar jy nie veel mee kan doen nie! So, my nederige opinie is dus, kom ons werk aan ons packaging, by all means, maar moenie die VROU binne jou vergeet nie! Let’s walk the walk, and talk the talk!!

(Sorry, Eben en Jaco, as ek julle hare laat rys het!)




Statistieke

  • 26,349 keer gelees
Oktober 2018
M D W T V S S
« Mar    
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
293031  
Advertisements