Posts Tagged ‘Richardsbaai

11
Sep
09

Sypaadjie Shopping

19 Junie 2008

Donderdae is ons beurt vir die rubbish-lorrie.  Ons kompleks-ousie stoot van vroeg af al die vullisdromme by die hek uit.  Toe ek uitry om Pieter skool toe te vat, sien ek een ou met ‘n swart sak oor sy kop, besig om bietjie ’shopping’ te doen in die dromme. Dis ‘n grys, reënerige dag, maar dit sit hom nie af nie.

Nà die skool, ry ek na my ma toe om haar hond terug te besorg.  Toe ek by haar kompleks uitry, sien ek ‘n ou in ‘n heldergeel reënjas opgewonde rondspring.  In sy hande het hy ‘n swart plastiekperdjie met ‘n pers stert en maanhare.  Gered uit iemand se gemors.  Ek moes smile.  Ek wonder of ‘n dogtertjie in ‘n lekkende shack vanaand ‘n persentjie gaan kry?

Op pad terug na my huis, sien ek hulle oral vergader om die vullisdromme.  Geen haas nie, rustig, soos dit hoort as mens gaan shop.  Uitsoekerig. Kieskeurig.  Een ou het selfs ‘n Pick & Pay trollie om sy taak te vergemaklik.  Reeds halfvol plastieksakke en ‘n kwartbottel Coke.

Hierdie shoppers vir last day specials pla my nie.  Is dit nie ‘n manier van recycling nie? En as ek kyk na die skatte wat hulle daar uitgrawe, raak ek bietjie skaam oor al my gekla…

11
Sep
09

Op my voorstoep

17 Junie 2008

Ek moet bieg.  Ek was bietjie bek-af omdat ek nie meer opwindende avonture en asemrowende natuurskoon kon deel nie. Ek is mos terug by ‘die huis’. Boring. Totaal onopwindend.  Bowendien kon ek in 5 jaar nog nie regtig vat kry aan Richardsbaai nie.  Maar, toe begin ek mos stap in die oggende. En seker 200 m van my huis af, een oggend, kyk ek op en ‘n verblindende lig tref my.  Stap nader en sowaar. Daar is ‘n meer! Dit was die oggendson op die water wat my geroep het!  Dis eintlik ‘n skande dat ek hierdie storie vertel, want ek bly al langer as ‘n jaar so naby die meer, en was nog nooit bewus van sy bestaan nie.  Nuuskierige ek gaan lees toe op oor Richardsbaai, en dìs wat ek gekry het:

Richardsbaai is vernoem na Sir Frederick William Richards, ‘n admiraal in die Britse vloot, wat met troepe hier geland het in 1879.  Richardsbaai was ‘n klein vissersdorpie tot 1976 toe die hawe in gebruik geneem is.  (In 1968 was die bevolking maar 200, vandag amper 40 000!)  Die ontwikkeling van Richardsbaai is dan ook nou verwant aan die hawe.  Die dorp is geleë op die “estuary and wetlands” van die Mhlathuze-rivier.

Met die beplanning van die dorp, is gepoog om die industriële-en resedensiële gebiede rondom die omgewing te beplan.  (die sg ‘garden city concept’) Die dorp word omring deur varswatermere, ‘wetlands’, timberplantasies en suikerrietvelde.  ‘n Groen dorp!

Ons het ‘n heerlike subtropiese klimaat.  Die wintertemperature val baie selde onder 11 °C.  Dus die ideale plek vir ‘n wintersvakansie!

Richardsbaai se industriële ontwikkeling is een van die vinnigstes in die land.  Biljoene rand is belê in verskillende nywerhede:  Richards Bay Minerals (wat blykbaar ‘n baie interessante toer vir toeriste aanbied), Alusaf aluminium smelters, Bell Equipment en Mondi, om maar net ‘n paar te noem. Daar hang af en toe ‘n snaakse geurtjie in die lug, en dis te danke aan al die nywerhede om ons!

Toe ek van Limpopo Richardsbaai toe getrek het, was daar veral 3 goed wat vir my baie vreemd was: taxi’s waarmee witmense rondry (dis nooit in Pietersburg gesien nie!),  hier is geen boorgate nie en niemand betaal vir water nie, en almal is van ‘prepaid electricity’ afhanklik.  Dalk is/was Pietersburg net ‘agter’, maar dit was vir my heeltemal nuut.

Maandag  was daar ‘n vakansiestemming.  Ek het my kamera gevat en gaan foto’s neem.  Ons het regtig ‘n pragtige dorp. Ek kyk met nuwe oë om my rond.

Kon ek julle bietjie lusmaak om te kom kuier??

Inligting hier gekry.




Statistieke

  • 29 978 keer gelees
Mei 2024
M D W T V S S
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031