Posts Tagged ‘Vreemd

29
Jan
10

Net ‘n blou klippie

14 Mei 2009

‘n Seldsame blou diamant uit die Cullinanmyn is teen ‘n rekordprys opgeveil.  R80, 7 miljoen, om meer presies te wees,  danksy ‘n anonieme koper wat per telefoon gebie het.  Die diamant weeg 7,03 karaat en is een van slegs ‘n handvol blou diamante in die wêreld.  Aldus die Beeld.  Dis ‘n babatjie teen sommige ander diamante.

Blou diamant

DIE 10 GROOTSTE DIAMANTE IN DIE WÊRELD

10.  Die Millennium Star Diamant:  weeg 203, 4 karaat en is verseker vir 100 miljoen Britse Pond.  Oorsprong: Demokratiese Republiek van die Kongo.

milleniumstar

9.  Die Rooi Kruis Diamant:  weeg 205, 07 karaat en is ‘n geel diamant.  Oorsprong:  Kimberly, Suid-Afrika.

red_cross diamant

8.  Die De Beers Diamant:  234, 65 karaat.  Oorsprong:  Kimberly, Suid-Afrika.

debeersdiamond

7.  The Jubilee:  245, 35 karaat.  Oorsprong:  Jagersfontein myn.

jubileediamond

6.  The Centenary:  273, 83 karaat.  Oorsprong, Premier myn, Suid-Afrika.

centenarydiamond

5.  Spirit of de Grisogono:  312, 24 karaat, die wêreld se grootste swart diamant.  Oorsprong:  Wes Afrika.

spirit of de_grisogono

4.  Die Cullinan II:  317, 40 karaat.  Gesny uit ‘n diamant wat oorspronklik 3 106 karaat was!  Vandag pryk dit in die Britse Kroonjuwele.  Oorsprong:  Suid-Afrika.

cullinan II TheCullinan2

3.  The Incomparable:  407, 48 karaat.  ‘n Bruin-geel diamant.  Oorsprong:  Demokratiese Republiek van Kongo.

incomparable

2.  Die Ster van Afrika (Cullinan I):  530, 20 karaat.  Nou in die Britse Kroningsepter.  Beraamde waarde ongeveer $400 miljoen!

cullinan 1 cullian

1.  The Golden Jubilee:  545, 67 karaat.  Oorsprong:  Premier myn, Suid-Afrika.  In 1997 aan die koning van Thailand oorhandig.

goldenjubilee

Ironies.

Die tien grootste diamante in die wêreld kom uit Afrika.  Die armste kontinent in die wêreld.

Ek wonder hoekom daar soveel waarde aan ‘n diamant geheg word.  Jy kan dit nie eet of drink nie.  Dit het geen nut, behalwe om mooi te lyk nie.  En die tien grotes is so waardevol, hulle is seker permanent toegesluit in ondeurdringbare kluise.

En daai klein blou klippie sou vir Jacob Zuma se inhuldiging betaal het.  En nog meer.

Weird.

Bron

Posted in Vreemd 

Advertisements
29
Jan
10

Very much stranger than fiction

12 Mei 2009

Moenie my vra hóé ek 4,5 ure gelede hierop afgekom het nie.  Ek kan self nie meer onthou waarna ek op soek was nie.  Al wat ek weet, ek het met my ogies aan die screen geglue gesit – hulle staan nou op stelte.  Fassinerende leesstof as iemand die tyd en lus het om oor die Helderberg ramp te lees.  Iets waarvoor ek ook nie normaalweg sou lus wees nie, maar op die ou einde net nie kon los nie.

Ek is nie ‘n tegniese vroutjie nie.  Ek weet nie van ‘toxic gases’ nie.  Ek weet ook nie waaruit bestaan ‘rocket fuel’ nie.  Ek weet ook nie hoe brand rocket fuel nie, alhoewel ek kan dink dis bietjie woester as die kersies op ‘n verjaardagkoek.  Ek dink ook nie noodwendig daar was/is ‘n conspiracy om die waarheid oor die Helderberg te verdoesel nie.  In kort, ek wil myself glad nie voordoen as ‘n ekspert op lugvaartrampe nie.  :wink:

Ek het geweet van die Helderbergramp – wie het nie?  Ek het geweet daar was ‘n tweede ondersoek, en ek het geweet dat alhoewel die uitslag nie vir almal aanvaarbaar was nie, daar nie opspraakwekkende nuwe openbarings gemaak is nie.  Wat ek nie geweet het nie, is dat die Helderberg vir baie mense nog vars in die geheue is.  Dat daar mense is wat elke jaar vóór 28 November, die herdenking van daardie noodlottige dag, hoop die ‘waarheid’ sal uitkom.

SAA 297 was ‘n kommersiële vlug wat van Taiwan via Mauritius na Johannesburg onderweg was.  Êrens tussen Taiwan en Mauritius het ‘n brand op die vliegtuig uitgebreek wat veroorsaak het dat hy in die Indiese Oseaan neergestort het.  Daarmee stem almal saam.

Die Margo Kommissie wat ná die ramp aangestel is om die oorsaak te ondersoek, het bevind dat ‘n vuur in die ‘main deck cargo hold, orginating from the right-hand cargo pallet’ ontstaan het.  Twee moontlike redes is aangevoer as die rede hoekom die vliegtuig geval het:  Eerstens, die bemanning het a.g.v. rook wat die ‘cockpit’ binnegedring het, hul bewussyn verloor.  Tweedens, die vuur het die struktuur van die vliegtuig verswak, die stert het afgebreek en het tot gevolg gehad dat die vliegtuig geval het.

‘n Tweede ondersoek is in 1996 deur die TRC begin.  In 1998 het hulle bevind dat niks wat op die ‘cargo manifest’ is, die brand kon veroorsaak het nie.  M.a.w, geen cargo wat op die amptelike dokumente aangedui is, kon die oorsaak gewees het nie.  Hier kom die ‘conspiracy theory’ in.  Wás daar iets  op vlug SAA 295 wat nie veronderstel was om op ‘n vliegtuig te wees wat passasiers vervoer nie?  Gaan lees wat hulle sê hier en hier.  Dis baie leesstof, te veel om hier te noem.

In kort kom dit daarop neer dat Kaptein Danie Uys, die bevelvoerder van vlug SAA 295, reeds ten minste twee keer sy mediese ondersoek ‘gedop’ het.  Nogtans, as voormalige Lugmag vlieënier en Broederbond-lid, het hy spesiale ‘clearance’ gekry.  Dit wil ook voorkom asof hy spesifiek geteiken was om hierdie spesifieke vlug te doen.  Die vermoede bestaan dat daar ‘rocket fuel’ op hierdie vlug was.  (Nie ‘red mercury’ soos ek ook vantevore gelees het nie.)  Verder was hy skynbaar die enigste een wat bewus was van die onwettige vrag wat aan boord was.  Om die storie nóg korter te maak:  toe die brand uitbreek, was die vliegtuig basies verdoem.  Hulle kon nie na Taiwan terugkeer nie.  Daar was reeds van die passasiers dood.  (Skokkend, het ek gelees. Met die suurstofmaskers kry die passasiers ‘n mengsel van suurstof en hersirkuleerde ‘cabin air’.  D.w.s., ás daar toksiese gasse vrygestel is tydens die brand, die passasiers dit saam met hul suurstof sou inasem.)  Die bemanning sou ‘n aanklag van moord in die oë staar – om die minste te sê.  As die vliegtuig ondersoek word en onwettige vrag opgespoor word…sou die apartheidsregering vir hulle in die bresse getree het??)  So, vir my lyk dit of die kaptein besef het hulle het nie ‘n ander opsie om net aan te hou vlieg en te hoop vir die beste nie…

Daar is te veel goed om alles hier te noem, tensy ek ‘n Deel 2, 3, en 4 of meer hier wil opsit.  Regter Margo is onder groot verdenking.  Boeing is onder verdenking.  Ek lees dat net 3 passasiers se familie vergoeding gekry het a.g.v. die suurstofmengsel wat die passasiers gekry het.  Ook net omdat hulle daarvan geweet het.  Hulle het vergoeding gekry, maar nie voordat hulle pen op papier gesit het om nie daaroor te praat nie.  (As ‘n gereelde passasier kan ek maar net van harte hoop dat ons nou suiwer suurstof kry en nie een of ander mengsel nie.)

Die vernaamste een onder verdenking is die ou apartheidsregering.  Sou hulle REGTIG ‘n vliegtuig van SAA weerloos maak deur dit een of ander hoogs ontplofbare stof te laat vervoer?

Ek weet wat ék dink.

28 November 2009 is die 22ste herdenking van vlug SAA 295.  Ek hoop die spoke van daardie dag sal dan ten ruste gelê wees.

28
Jan
10

Go Bulle Go

9 Mei 2009

‘n Bitter ding wat ek nou doen, maar as dit die Bulle sal laat wen, so be it.  :wink:

12
Sep
09

Pie in the Sky

29 Julie 2008

Ek moes die afgelope naweek help werk aan ‘n Geskiedenistaak.   Man, eintlik geniet ek dit verskriklik! Mens dink jy weet alles, net om weer ‘n paar interessante feite by te leer.  Bruce se klas moes oor die onafhanklikheidswording van enige Afrika land ‘n taak doen.  En natuurlik kies hy toe Angola.

Ek het baie meer simpatie met die Angolese.  Die eerste Portugese setlaars in Angola, was hoofsaaklik misdadigers wat verban is uit hul land.  Hulle was ‘n rowwe spulletjie, nie soos die ‘misdadigers’ wat van Engeland Australië toe gestuur is vir ‘petty crime’ nie.  Hulle was hard en wreedaardig met die plaaslike bevolking, en gou het die twee groepe nie ooghare vir mekaar gehad nie.  Boonop het Angola ‘n belangrike slawebron geword.  Tussen 1580 tot 1680 word ongeveer 1 miljoen slawe na Brasilië uitgevoer, sommige kenners reken dit kon selfs 2 miljoen gewees het.  Vir die volgende 4 eeue het die Angolese bevolking regtig swaar gekry onder die Portugese. Dwangarbeid, en selfs slawerny, was aan die orde van die dag tot diep in die 20ste eeu.

Die MPLA, FNLA en UNITA was die drie vernaamste politieke groepe in Angola.  Terwyl hulle teen die koloniale magte van Portugal geveg het, het hulle mekaar ook goed gas gegee.  Die burgeroorlog het dus al in die vroeë sestigerjare begin. Geen wonder die land se infrastruktuur lyk soos dit lyk nie.  In 1974 is die Portugese diktator, Salazar, uitgeskop, en die nuwe regering het nie lus of geld gehad om al sy oorsese kolonies in stand te hou nie.  Al die kolonies het blitsvinnig, een na die ander, onafhanklikheid verkry.  In 1975 het die MPLA beheer oor Luanda verkry en hulself as die regeerders aangewys. UNITA het gekla, en gesê Portugal behoort een laaste taak as koloniale heerser te vervul, naamlik om ‘n verkiesing te reël.  Die Porras was egter so haastig om weg te kom, dat hulle die land verlaat het sonder om amptelik die beheer van die land aan enigiemand oor te dra.  Dit was ‘n resep vir moord.  Volskaalse burgeroorlog het uitgebreek wat aangehou het tot met Jonas Savimbi se dood in 2002.

Die eerste leier van die MPLA, was Agostinho Neto.  Tot vandag is hy besonder geliefd onder die Angolese.  Sy verjaardag op 17 September staan bekend as Hero’s Day.  In 1976 word hy die eerste President van Angola.  In 1979 sterf hy in Moskou, waar hy vir kankerbehandeling was.

In Luanda is daar vir hom ‘n mausoleum gebou.  Dis ‘n indrukwekkende swart naald wat mens van ver kan sien. Blykbaar gebou met 100 miljoen dollar, ‘n lenig van Rusland, wat nog nooit terugbetaal is nie.  Ek kon min inligting oor die mausoleum in die hande kry, maar van my man se kollegas het ‘n storie vertel wat vreemder as sci fi is.  Die storie loop dat die mausloleum sò ontwerp is, dat, indien die MPLA die oorlog sou verloor, Neto se gebalsemde lyk met ‘n ondergrondse tonnel na die see geneem sou word, waar ‘n skip van Soviet Unie dit sou kom oppik.  Hoe waar dit is, weet ek nie.  Ek het egter al gelees van sy weduwee wat ongelukkig is oor haar man se oorskot wat in ‘n “onvoltooide projek, vol kakkerlakke en rotte” moet bly.

Dit bly darem een van Luanda se bekendste landmerke, ongeag die storie!

Agostinho Neto MausoleumAgostinho Neto Mausoleum
11
Sep
09

tat24u?

16 Junie 2008

My oudste skimp af en toe dat hy graag ‘n tattoo wil hê.  Nou, kyk, ek dink ek is die mees slapgatste ma wat daar is, maar dààr trek ek ‘n streep. ‘n Baie dik streep.  Ek het ‘n kleintjie dood daaraan; dis die een ding wat ek nie kan verdra nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie.  As ek iemand ontmoet wat ‘n tattoo het, sal ek hom/haar nie anders behandel as enige ander mens nie.  Dis nie die mens wat my afsit nie. Dis die liederlike merk op die lyf wat my afsit.  Tattoos is so kommin soos kaaskoek.

Dis my beskeie mening dat die meeste tattoos aangebring word in ‘n oomblik van totale waansin.  Bv. jy is doodverlief en besluit sommer op die ingewing van die oomblik (wanneer jy toevallig by ‘n tattoeerplek verbystap) dat jou geliefde se naam op jou arm moet pryk.  Net om dit twee maande later te berou.  Iemand wat ek ken, het na sy pa se dood (twee dae na sy pa se dood, om presies te wees) ‘n moerawiese swart kruis met sy pa se geboorte- en sterfdatums op sy rug laat aanbring.  Ek weet nie hoe hy vandag daaroor voel nie, maar ek sal bietjie awkward voel om kaal bolyf rond te loop met so iets op my rug.

En dan die elegante dolfyntjies waarvoor die dames so lief is.  Nog iemand wat ek ken, het ‘n pragtige klein dolfyn op haar plat, bruin magie laat verf.  Met haar swangerskap het hy in ‘n walvis verander, en nadat sy gekraam het, was dit ‘n jellievis.  En al kry sy haar lyfie eendag terug, daai dolfyn gaan seker vir altyd bietjie oversized wees.

‘n Vriend het ‘n  pragtige ‘thistle’ op sy bo-arm laat tattoeer.  Hy is nog jonk, en dit lyk regtig goed op sy gespierde arm.  Ek het egter al te veel ou mense met tattoos gesien om te dink dat dit vir altyd so mooi gaan lyk.  Ouderdom bring pap spiere en pap velle.  As mens hul tattoos mooi wil sien, moet jy eers die velle soos ‘n padkaart oopvou.  En hoe stupid lyk ‘n ou man met ‘n draak op sy rug of ‘n ou vrou met ‘n skoenlapper bokant haar een (pap) bors nie?

Dis wat ek teen tattoos het.  Dit akkordeer nie met ouderdom nie.  Vir ‘n paar jaar lyk dit goed op ‘n mooi, jong lyf, maar dertig jaar later is dit ‘n ander storie.  Dus, as ek dit enigsins kan verhelp, gaan my seun nie eendag ‘n tagtigjarige ou man wees met ‘n verrimpelde Nike-teken of iets dergeliks op sy arm nie. BEHALWE as hy I LOVE MY MOM op sy agterstewe wil aanbring,,,




Statistieke

  • 25,767 keer gelees
Julie 2018
M D W T V S S
« Mar    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  
Advertisements