Posts Tagged ‘Angola

20
Mar
10

Papegaaihokke en ander koorsdrome

8 Augustus 2009

Boer vra nou die dag, toe ek weer aan’t klae was oor die gemors by die huis, of ek nie in Angola sal wil bly nie.  Ek het gesê ek sal daaroor skryf as ek die dag my eende in ‘n ry het.  Sederdien is dit omtrent al waaraan ek kan dink.  My eende is nie in ‘n ry nie; hierdie gaan maar net ‘n poging wees om weer te gee wat ek dink en voel.  :wink:

Angola is vir my ‘n magical plek.  Ek weet nie of dit is omdat ‘ons’ ‘n geskiedenis daar het nie.  Ek weet net ek is betower.  Dis die enigste plek waar ek op die grond wil lê en die rooi reuk inasem.  Waar ek ‘n boom wil omhels.  Waar ek ‘n klip optel en voel hoe kragtig dit is.  Waar die grote Kwanza tjoepstil verby my vloei, maar ek wéét hy hou een oog, half-oop, op my.

Angola het my gestroop van pretensies.  Vyf jaar gelede was ek ‘n maer modepop met fake highlights in ‘n ewe fake blonde haredos.  Ek was gesonbed, gemanikuur, gepedikuur, egte goud om my nek.  Daar was rooi cutex aan my toonnaels en die nuutste fashion aan my lyf.  Ek het kits-etes by Woolies gekoop en gedink geld maak my happy.  Ek het gegaan met ‘n tas vol hipness.

Omstandighede – nie swaarkry – het my stadig laat verander.  As ek maar net dieselfde mens gebly het, was my lewe nou baie makliker.  Dis wanneer ek by die lughawe gebou uitstap en die  hitte, stof, armoede, bedelaars en vlieë tegemoet gaan, dat ek lewendig voel.  My kop sê vir my een ding – Afrika is ‘n kak plek – en my hart sê vir my ek wil op geen ander plek op aarde wees nie.

In Angola kan ek myself wees.  Net ‘n girl in jeans en cheap crocs en ‘n t-shirt.  Waar die sweet maar kan pêrel op my voorkop en teen my neus en wange afrol.  Net ‘n girl wat brood bak as daar nie brood is nie.  Wat tamaties en mielies saai omdat dit goedkoper is as in Shoprite.  ‘n Girl wat gefassineer staan en kyk na die snaakse gat-aan-gat goggatjies wat daar rondloop.  Wat aandagtig na die tuinboys luister as hulle vertel waarvoor mens aalwyne kan gebruik.  En waar die hoogtepunt van my persoonlike versorging is as ek my swart vingernaels skoon kan kry.

Uiteindelik het ek ‘n mens geword wat wonder of dit moontlik sal wees om jouself aan die lewe te hou sonder insette van Belas Mall of Pavel Supermarket?

In Angola voel ek veilig.  Nie Luanda nie – dis ‘n hool waar die grootste kriminele die polisie is.  In Luanda sal iemand jou handsak of selfoon gryp, maar selfs daar word jou lewe nie bedreig nie.  Dis wanneer mens egter verby Dondo is, dat  jy regtig vry kan asemhaal.  Die mense in die platteland is anders as die mense van Luanda.  Jou wit vel word natuurlik  nuuskierig aangestaar, en natuurlik sal daar ‘n kaalvoet seuntjie wees wat ‘n koeldrank bedel, maar nog nooit het ek enigiets anders as veilig gevoel nie.  Hulle sal jou onbeskaamd aanstaar as jy jou tande borsel, maar dis ‘n klein prys om te betaal vir die wete dat jou lewe vir hulle ook kosbaar is.

In Angola het ek Bruce ‘n mens sien word.  Iemand wat nie omgee om met goedkoop mark-plakkies en ‘n geskeurde t-shirt rond te loop nie.  Wat saam met die village kinders in die bosse gaan loop het op soek na slange.  Saam met my groentetuin gemaak het en vroegoggend opgestaan het om te gaan kyk of sy pampoene al opgekom het.  Wat geduldig by die komplekswag gaan sit het en hom Engels geleer het.  Elke dag.  Wat op ‘n snikhete dag sou afstap mark toe omdat ons uie en suiker nodig gehad het.  En, snaaks genoeg, nie omgegee het dat die ousie die suiker met haar hande opgeskep het voor sy dit  in ‘n plastieksakkie gegooi het nie.  (Angola het nie dieselfde vir Jeannie gedoen nie. Sy is onaangeraak, glad nie ontroer nie.)  :wink:

Ek voel tuis in Angola.  Behalwe vir red tape-frustrasies, en soms ons eie onnoselheid, het die land nog geen skokke vir my ingehou nie.  Net keer op keer verwondering.  Asem-intrek oomblikke.  ‘n Eindelose avontuur.

Maar…na ‘n maand of twee of drie, verlang ek huistoe.  Behalwe na kinders en familie, verlang ek  na my land.  Ek verlang na ons swartmense wat so anders is as die Angolese. Nie beter of slegter nie, net anders.  Ek mis dit om Afrikaans te hoor en te praat.  Ek mis Afrikaanse musiek en ons humor.  Ek mis dae soos vandag, waar hordes mense met Springboktruie rondloop en regmaak vir die groot game.  En ek mis die gevoel dat ‘n plek jou huis is.  Al bly jy in ‘n papegaaihok.  :wink:

Advertisements
14
Feb
10

Queen of the Quarry Dwellers

12 Julie 2009

Ek’t ‘n baie liewe man.  Hy dra my op sy hande en probeer die lewe vir my so lekker en gerieflik moontlik maak.

Dis hoekom, as ons gaan rondrits, ons nie sommer in enige hierjy plek bly nie.   Nee, my man doen moeite om seker te maak dis

skoon

privaat

eksklusief, en

met ‘n mooi uitsig.

DSC02147 DSC02209

DSC02211 DSC02160

Jip.  Die Hoof van die huis weet ek slaap nooit weer op ‘n strand nie – die sand in my cleavage maak my mal – en daarom ry ons rond.  Hy weet ook ek hou nie van ‘n nuuskierige skare wat my dophou as ek tande wil borsel nie, daarom slaap ons in quarries.  (Ek weet steeds nie wat dit in Afrikaans is nie?)  Daar is ‘n swetterjoel, maar mens moet mooi kies.  Nie enige quarry doen die ding nie.  :wink:

As die Queen van die Quarries, het ek ‘n troon nodig.  Die beste ding since sliced bread, laat ek julle verseker! Na amper vier jaar se primitiwiteit, was hierdie ‘n heerlike luukse:

DSC02154

Wat maak bietjie water by die diesel saak met so mooi stukkie handewerk??  :lol:

14
Feb
10

Familie uitstappie

3 Julie 2009
image001

Spesiaal vir Heiko.   :mrgreen:

11
Feb
10

What good is a mind…

16 Junie 2009

…if you can’t change it?  Sê my man altyd, en hoekom sal ek hom nie glo nie?

Toe ek en Pieter Saterdag van Windhoek gevlieg het, moes my man die pad terug Bom Jesus toe vat met ‘n bakkie wat nie meer rêrig sy samewerking wou gee nie.  Terwyl hy in Namibië was, kon ek hom nog bel, maar nadat hy die grens oorgesteek het, het hy nie ‘n Angolese sim gehad nie.  Op Lubango het hy vinnig van ‘n Angolees se foon laat weet dat hy oukei is.  Dit was Sondagoggend.  Gister was ek in ‘n flat spin omdat ek nog niks van hom gehoor het nie.  Teen gistermiddag het ek die ergste verwag.  Gelukkig het een van sy kollegas teen 3 uur gebel en laat weet dat hy amper by die huis was, en gisteraand kon ek met hom praat.  My geloof in Angola is nog ongeskonde.  Behalwe dat Fortyfour nie vinniger as 80 km/h wou ry nie, het hy geen ander probleme gehad nie.  Ek hou dus vol:  Angola is een van die veiligste plekke om te wees.  Luanda is ‘n addernes, maar die res is plain sailing.  Nes ons daarvan hou:  wild en rof met baie vriendelike locals.

Ons grootste fout was om die grens na Namibië oor te steek.

Ek kan nog vrede maak met die wetter wat ons geld en paspoorte gesteel het.  Ek kan nie vrede maak met die feit dat die Suid-Afrikaanse regering geen bystand lewer aan mense wat in die vreemde gestrand is nie.  Dis nie so maklik om geld in die hande te kry nie.  Ons bank  by Nedbank, maar Nedbank Namibië en Nedbank Suid-Afrika is nie meer ‘gelink’ nie.  Dis dus nie net van instap en geld trek nie.  Veral nie as jy nie identifikasie by jou het nie.  En eintlik was Namibië nie op ons reisprogram nie.  Ons het half per ongeluk daar beland.  Lang storie, maar ek weet nou dat ek nie die GPS queen is nie.  :oops:

Ek was vinnig oppad om ‘n rassis te word, maar noudat ek weer rustig is met my geliefde veilig by die huis, kan ek dinge weer kalm bekyk.  Die High Commission het my die duiwel ingemaak, maar hulle volg ook maar reëls. (Dink ek.)  Hulle skakelbord-dame word blykbaar beveel om op elke vraag “no” te antwoord.  Maar…toe ek 5 minute voor toemaaktyd daar uitsak, het ‘n swart mannetjie met die mooiste bedside-manners my gehelp.  Baie simpatiek het hy my belowe dat hy sy bes gaan probeer om die proses te druk sodat ons die noodpaspoorte binne 24 uur kon kry.  En hy het.  En hy het my gebel toe dit reg was – soos hy belowe het.  Ongelukkig weet ek nie wie hy is nie, maar van hom het ek goeie diens gekry.

Eintlik het Namibië vir my so positief begin.  Die polisieman by die grenspos het half afkeurend my man gevra hoekom hy ‘n Suid-Afrikaanse burger is as hy in Namibië gebore is?  Ek het gevoel:  hulle wil ons tog hier hê.  Op hierdie kontinent.  ‘n Paar dae later is ons in Windhoek.  Ons ry met Robert Mugabe-straat af, kruis Laurent Kabila-straat.  Die mees korrupte Afrika-leiers kan ‘n straatnaampie kry, solank daar tog nie ‘n Boerenaam is nie. (Toe ons oor Esther Brand ry, merk my man droogweg op:  “Sy moes ‘n aktivis ‘of note’ gewees het.”  Nee, lief.  Ek het gaan Google.  Sy was ‘n atleet!  :lol: )  Later wag ek by die High Commission vir my paspoort.  Ek blaai deur die tydskrifte op die tafeltjie.  Daar is onder ander een oor Namibië se snelle ontwikkeling, en agter in is ‘n stukkie oor die geskiedenis van die land.  Hulle praat oor Cassinga.  Hoe 600 burgerlikes, hoofsaaklik vroue en kinders, deur die SA soldate vermoor is.  Opmerklik is dat daar nie na hulle as ’soldate’ verwys word nie.  Nee – “white racist colonialists”.  Net so.

Maar dan.  Ek land op Johannesburg.  Die swart ou by passport control nies en sê: “Eish, this swine flu is killing me.”  Hy bekyk die tydelik paspoorte en vra wat gebeur het.  Ek vertel hom.  Hy skud sy kop en sê dat hy gedink het dis net in Suid-Afrika waar daar misdaad is.  Join the club, dog ek by myself.  Maar sy volgende woorde was musiek in my ore:  “Don’t worry, you’re home now.  Welcome back.”

So, hier is ek nou.  Meer bewus van die realiteite, maar nog nie rêrig oortuig dat dit tyd is om boedel oor te gee nie.

28
Jan
10

Die draak gaan getem word

8 Mei 2009

Verlede jaar het ons,  in ons onkunde,  op die pad van Lucira na Dombe Grande beland.  In die nag.  Dit was ‘n rit reg uit die hel, maar soos die tyd verby gegaan het, het ons begin praat oor teruggaan.  Om te sien hoe dit in die dag lyk.  Sommer twee of drie dae te vat om die ± 200 km rustig af te lê.  As ek nie voorheen baie begeesterd was nie, is ek nou.

Die draak se rug gaan gebreek word.  ‘n Rekonstruksie-projek wat ongeveer 79 miljoen USD gaan kos, is in Junie verlede jaar begin.  Vooruitgang is onvermydelik, maar ons wilde dae word stadig, maar seker, minder.

Dis hoekom ons net móét gaan.  Net vir oulaas die draak gaan ontmoet op sy terme.

22
Des
09

Het van Verlangenkraal

6 April 2009

Wat ‘n bleddie rollercoaster was ek nie op sedert Vrydag nie!

Die dag het so goed begin. Ek het vroegoggend uitgestap en wou soos Heidi in Alpe hier rondhol. Die kroeg het my in ‘n greep beetgehad; ek het skaars uitgekom gedurende die dag. Jy weet mos, ‘werk’ tot 2, 3 uur in die oggend, slaap dan lekker laat. As ek dan uiteindelik wakker geword het, moes ek die boeke doen en voorraad aanvul. En teen daai tyd het die mans van die werk afgekom en moes ek weer oopsluit.

So, Vrydagoggend het ek sommer eers gaan staan en die warm son opgesoak. I love it! Dan vergeet ek om te worry oor my bruin neus – pure lekkerte. Groot Dirk het vir my sewe blombakke gebring en mooi gevra ek moet ietsie vir hom daarin plant. Ek was heel geesdriftig oor die storie. Het rondgeloop en begin kyk wat ek vir hom kan insit. En toe val die souffle plat…

Ek was besig om in my rotstuin bossies uit te trek en sommer net te kyk hoe dit nog met alles gaan. Ek meen darem, ek het hulle 3 weke laas behoorlik bekyk. En daar, langs die Cyphostemma, sien ek ‘n oop kolletjie. Dit het nie dadelik geregistreer nie, maar boeta! toe ek besef wat gebeur het, was ek platgeslaan. My klein aalwyntjie van Namibe is gesteel! Ek het die tuinboys geroep, maar hulle het niks gesien nie. Ek kan hulle ook nie kwalik neem nie, die plek is deesdae ‘n miernes van bouers en vreemdes wat hier in en uit gaan. Toe begin die trane rol. Arme Miguel en Paulo het heel verbouereerd daar rondgestaan en probeer troos, maar dit was net te erg vir my. Ek het toe maar ingegaan, koffie gaan maak, ‘n siggie aangesteek en by my agterdeur se trappie verder gaan ween. (Ja, ek besef dit meer as enigiemand anders: my laaste varkie het die hok verlaat.) Toe Geliefde lunchtyd by die huis kom, vind hy my in ‘n halwe beswyming op die bank, ogies bloedrooi gehuil. Ten minste weet die arme ding nou al dat met runderpestyd van die maand, hy simpatie en liefde vryelik moet uitdeel. :lol:

Die rekenaar moes Vrydag ook af na die IT-mannetjie toe.  Ek het sooo uitgesien daarna om die tandem-stories te gaan lees en kon nie wag vir die ding om terug te kom nie.  En ja, so waar as wat para ‘n manel dra, daar kry ek die nuus:  die hele Angola se internet is af.  Nou dink ek dis ‘n bogstorie.  Bruno het intussen vertel dat die Chinese, wat aan’t boue is by die fabriek, ‘n donnerse badkamer voor die skottel gaan bou het.  Hier fix mens net probleme.  Niemand probeer dit voorkom nie.  Ek vreet sommer my polse af. Om die kersie op die koek te sit, was die selfoonnetwerk ook af – ‘n hele 24 uur.  My liefste geliefde het Saterdag toe maar Luanda toe gery en vir my ‘n 3G kaart gaan koop.  Die ding is bloomin’ stadig, maar ten minste is daar darem ietsie.  En hy vreet geld dat dit nie snaaks is nie.  So, hierdie is my eerste – en laaste – posting tot die internet weer aan die gang is.  (Ek kan maar net hoop die baas se vrou mis internet net so baie.  Anders gaan dit dalk nie prioriteit wees nie.)

En so sukkel ek sedert gister op hierdie smart klein foontjie.  Vanaand toe besluit ek:  genoeg is genoeg.  Dis tyd dat tegnologie vir ons begin werk.  En dit doen, hoor!  Ek weet nie presies hoe nie, maar dit doen.  Ek het nou internet op die rekenaar via die selfoon.  Bitter stadig.  Soos ek nou hier tik, het die ‘New Post’ bladsy nog nie heeltemal oopgegaan nie. Dus, as ek nie mails antwoord/nie comment nie/alles en almal ignoreer op Facebook, moenie geaffronteer voel nie. Versukkelde Het veg hard om bo haar omstandighede uit te styg…maar die 17e is sy terug in die beskawing!

01
Des
09

Trekarbeiders

16 Maart 2009

Ek is weer die barmaid vir die volgende twee weke, en eintlik wou ek oor al die kroegsnaaksighede geskryf het.  Daar is baie.  ‘n Argument oor hoeveel sintuie ‘n mens het en hoeveel sintuie ‘n kat het, kan in iets baie komies verander.  Daar is uiteindelik besluit dat ‘n mens 5 sintuie het, maar ‘n kat 7.  Tot ‘n effens-nugter ou wakker skrik en aankondig: “‘n Kat het nege lewens, nie sewe sintuie nie, jou f#$%%^ aap.”  :wink:

As mens egter verby die gespot en gelag kyk, is dit ‘n hartseer-storie.  Ek kan verkeerd wees, maar dis een ding om jou vrou en kinders te vat en in ‘n land soos Australië, Kanada of Engeland te gaan woon en werk.  Hetsy  permanent of tydelik.  Dis ‘n ander ball game as net die pa sy tassies pak en in Afrika gaan werk.  Daar is hordes van hulle, die nuwe  trekarbeiders van Suid-Afrika.  Ek sien hulle op die lughawe, ek sien hulle op ons vlug na Luanda.  Jonk en oud, met jeans en T-shirts en diksoolskoene en Reebok-rugsakkies.  Die meeste is ambagsmanne wat nooit in Suid-Afrika die salaris sal kry wat hulle elders in Afrika sal kry nie.  En dis die enigste rede hoekom hulle dit doen.  Die geld is goed, baie goed.

Maar dit het ‘n prys.

In ons klein mikrokosmos sien ek die mans betaal vir die voorreg om in Afrika te werk.

Klein vet Dirkie se derde kind is in Januarie gebore; drie weke later was hy terug by die werk.  Hy sien sy nuweling eers oor drie maande weer – vir twee weke.  Hy is gelukkig, hy het nog nie ‘n werkspermit nie en moet elke drie maande die land uit wees om ‘n visum te kry.  As hy ‘n werkspermit gehad het, sal hy so lank bly as wat die werk dit goed dink.  Ses weke uit 52 weke by die huis.  Dis hoekom ek hier is.  Ses weke is nie vir my goed genoeg nie.  Ses weke ‘n jaar is nie ‘n huwelik nie.  Ses weke ‘n jaar is nie genoeg vir my kind om sy pa te sien nie.

As jy werk in Afrika het jy nie beskerming nie.  As die werk jou nodig het, sal jy 24 uur aaneen werk.  Jy sal op jou af naweek werk as jou werk dit vereis.  Jy sal twee uur in die oggend ‘n masjien gaan regmaak want “jy is die ex-pat met al die kennis.”  Jy mag nie kla as jy nie betaling kry daarvoor nie, want jy word maklik vervang.  Daar is nog hordes in Suid Afrika wat sal spring vir hierdie voorreg.  Moet dus nie wonder hoekom ons so baie rondry nie.  Dis deels vir die lekker daarvan, maar dis een manier om te verseker dat my man ‘n ‘af ‘ naweek het.

Dis ‘n roetine wat jou sleg maak.  Werk, eet, drink, slaap.  Oor en oor.  Niemand het stokperdjies nie.  Oor naweke gaan hulle in groot gros see toe om ‘vis te gaan vang’.  Die stokke word uitgehaal, maar na ‘n uur of twee het bier en son die oorhand gekry.  Hulle kom rooi gebrand en vuisvoos terug.

In die aande en oor naweke drink hulle.  Dis die belangrikste tydverdryf.  Party drink by die 1000 $ uit ‘n maand.  En terwyl hulle hangskouer voor jou sit by die kroegtoonbank, dan hoor jy stories van verlange en hartseer en bekommernis.  Van vrouens wat ‘rondneuk’, van tienerseuns wat rebels raak en ander probleme waaraan hulle niks kan doen nie.  Net daaroor bekommer.

As die verlange na ‘n vrou te groot word, dan kry jy ‘n meisie uit die village.  Maak nie saak dat sy skaars uit haar kinderskoene is nie.  Natuurlik kos hierdie voorreg ook geld.  En selfverwyt.  Dit raak ‘n verslawing en party probeer regtig om dit nie te doen nie, maar swig telkens voor die jong, gewillige vleisies.  Hier het ek geleer dat jy ‘jou mense’ nie moet oorskat nie.  After all is said and done, bly ‘n man ‘n man.

‘n Gewilde kroegpraatjie is oor hoeveel miljoen elkeen in sy bankrekening het.  Ek lag innerlik vir hulle.  As jy ‘n multi-miljoenêr is, soos sommige beweer, sou jy verseker nie hier gesit het nie.  Die toelae hier sal jou gemaklik laat lewe in Suid Afrika, maar kos en ontspanning is baie duur hier.  Jy betaal dat jy hop as jy ‘n leefstyl wil hê soos by die huis.  Baie min kan spaar wat hulle hier kry.  Die salaris wat in Suid Afrika betaal word is uitstekend, maar almal het kinders, karre, huise…verpligtings.  Maar dis ontvlugting.  Om te vertel jy is nie verleë oor hierdie werk nie.  Jy kan waai as jy wil.

Daar is mans wat al amper twintig jaar in Afrika werk.  Daar is mans wat skaars ses maande kan uithou.




Statistieke

  • 25,284 keer gelees
April 2018
M D W T V S S
« Mar    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  
Advertisements