Posts Tagged ‘Suid-Afrika

20
Mar
10

Papegaaihokke en ander koorsdrome

8 Augustus 2009

Boer vra nou die dag, toe ek weer aan’t klae was oor die gemors by die huis, of ek nie in Angola sal wil bly nie.  Ek het gesê ek sal daaroor skryf as ek die dag my eende in ‘n ry het.  Sederdien is dit omtrent al waaraan ek kan dink.  My eende is nie in ‘n ry nie; hierdie gaan maar net ‘n poging wees om weer te gee wat ek dink en voel.  :wink:

Angola is vir my ‘n magical plek.  Ek weet nie of dit is omdat ‘ons’ ‘n geskiedenis daar het nie.  Ek weet net ek is betower.  Dis die enigste plek waar ek op die grond wil lê en die rooi reuk inasem.  Waar ek ‘n boom wil omhels.  Waar ek ‘n klip optel en voel hoe kragtig dit is.  Waar die grote Kwanza tjoepstil verby my vloei, maar ek wéét hy hou een oog, half-oop, op my.

Angola het my gestroop van pretensies.  Vyf jaar gelede was ek ‘n maer modepop met fake highlights in ‘n ewe fake blonde haredos.  Ek was gesonbed, gemanikuur, gepedikuur, egte goud om my nek.  Daar was rooi cutex aan my toonnaels en die nuutste fashion aan my lyf.  Ek het kits-etes by Woolies gekoop en gedink geld maak my happy.  Ek het gegaan met ‘n tas vol hipness.

Omstandighede – nie swaarkry – het my stadig laat verander.  As ek maar net dieselfde mens gebly het, was my lewe nou baie makliker.  Dis wanneer ek by die lughawe gebou uitstap en die  hitte, stof, armoede, bedelaars en vlieë tegemoet gaan, dat ek lewendig voel.  My kop sê vir my een ding – Afrika is ‘n kak plek – en my hart sê vir my ek wil op geen ander plek op aarde wees nie.

In Angola kan ek myself wees.  Net ‘n girl in jeans en cheap crocs en ‘n t-shirt.  Waar die sweet maar kan pêrel op my voorkop en teen my neus en wange afrol.  Net ‘n girl wat brood bak as daar nie brood is nie.  Wat tamaties en mielies saai omdat dit goedkoper is as in Shoprite.  ‘n Girl wat gefassineer staan en kyk na die snaakse gat-aan-gat goggatjies wat daar rondloop.  Wat aandagtig na die tuinboys luister as hulle vertel waarvoor mens aalwyne kan gebruik.  En waar die hoogtepunt van my persoonlike versorging is as ek my swart vingernaels skoon kan kry.

Uiteindelik het ek ‘n mens geword wat wonder of dit moontlik sal wees om jouself aan die lewe te hou sonder insette van Belas Mall of Pavel Supermarket?

In Angola voel ek veilig.  Nie Luanda nie – dis ‘n hool waar die grootste kriminele die polisie is.  In Luanda sal iemand jou handsak of selfoon gryp, maar selfs daar word jou lewe nie bedreig nie.  Dis wanneer mens egter verby Dondo is, dat  jy regtig vry kan asemhaal.  Die mense in die platteland is anders as die mense van Luanda.  Jou wit vel word natuurlik  nuuskierig aangestaar, en natuurlik sal daar ‘n kaalvoet seuntjie wees wat ‘n koeldrank bedel, maar nog nooit het ek enigiets anders as veilig gevoel nie.  Hulle sal jou onbeskaamd aanstaar as jy jou tande borsel, maar dis ‘n klein prys om te betaal vir die wete dat jou lewe vir hulle ook kosbaar is.

In Angola het ek Bruce ‘n mens sien word.  Iemand wat nie omgee om met goedkoop mark-plakkies en ‘n geskeurde t-shirt rond te loop nie.  Wat saam met die village kinders in die bosse gaan loop het op soek na slange.  Saam met my groentetuin gemaak het en vroegoggend opgestaan het om te gaan kyk of sy pampoene al opgekom het.  Wat geduldig by die komplekswag gaan sit het en hom Engels geleer het.  Elke dag.  Wat op ‘n snikhete dag sou afstap mark toe omdat ons uie en suiker nodig gehad het.  En, snaaks genoeg, nie omgegee het dat die ousie die suiker met haar hande opgeskep het voor sy dit  in ‘n plastieksakkie gegooi het nie.  (Angola het nie dieselfde vir Jeannie gedoen nie. Sy is onaangeraak, glad nie ontroer nie.)  :wink:

Ek voel tuis in Angola.  Behalwe vir red tape-frustrasies, en soms ons eie onnoselheid, het die land nog geen skokke vir my ingehou nie.  Net keer op keer verwondering.  Asem-intrek oomblikke.  ‘n Eindelose avontuur.

Maar…na ‘n maand of twee of drie, verlang ek huistoe.  Behalwe na kinders en familie, verlang ek  na my land.  Ek verlang na ons swartmense wat so anders is as die Angolese. Nie beter of slegter nie, net anders.  Ek mis dit om Afrikaans te hoor en te praat.  Ek mis Afrikaanse musiek en ons humor.  Ek mis dae soos vandag, waar hordes mense met Springboktruie rondloop en regmaak vir die groot game.  En ek mis die gevoel dat ‘n plek jou huis is.  Al bly jy in ‘n papegaaihok.  :wink:

Advertisements
20
Mar
10

Die demone raak (weer) onrustig

3 Augustus 2009

Ek weet nie of ek moet lag of huil nie.

In vandag se Beeld – behalwe vir al die gewone horror-stories – het twee my net laat kop skud.

*  Die bevelvoerder van ‘n polisiekantoor in die Oos-Rand  het gaan huis opsit – sommer in die polisiekantoor.  Hy hou vergaderings in sy pajamas en was hom in die kombuis.  :shock:

* Die Limpopo-regering het ‘n reinigingseremonie op die N1 buite die stad gehou ná verskeie noodlottige ongelukke.  Die seremonie is onder meer deur Rastafariërs en tradisionele ‘geneeshere’ (hemel, geneeshere,nogal!) gelei.  Die NG Kerk het geskitter in sy afwesigheid.  :lol:

Volgens Beeld:

’n Reinigingseremonie word gehou om ’n persoon, plek of voorwerp met negatiewe energie en invloede daarvan te reinig. Sekere plantsoorte word gebrand en die rook dien as reinigingsmiddel.

Kan iemand my sê:  is daar lig aan die einde van die tonnel??

Ek soek net ‘n klein sprankie hoop.

24
Feb
10

‘n Brose lewe

16 Julie 2009

Gisteroggend 4h00 het drie mans probeer inbreek .  Ek gee nie om oor aardse goed nie.  As ek net geweet het hulle sal vat wat hulle wil hê en loop, sou ek nie so uitgefreak gewees het nie.  Maar voor my heilige siel weet ek dat drie mans nie met net ‘n tv en dvd-speler gelukkig sou wees nie.  Ek lees immers Die Beeld.  Daar is mag in getalle.  Hoekom sal mens mag wil hê?  Hulp om die tv te dra?

Toe ek verlede jaar ’n inbreker in die huis betrap het, het hy groter as ek geskrik.  Sou drie so groot geskrik het?  Partykeer wens ek dat ek tog nou maar in ‘n geweerloop of mes kan vaskyk.  Dalk sal dit beter wees om dit te ervaar, te baklei, en te wen – of verloor.  Hierdie vrees vir ‘n onbekende scenario verlam my.  Maar dis stupid.

Dis my plig om my kinders te beskerm.  Ek moet kyk dat geen wapens ooit op my kinders gerig word nie.  Dat my dogter nie verkrag word nie.

Vader, dit voel net al moeiliker om  reg te kry.

14
Feb
10

Z News

10 Julie  2009

29
Jan
10

Very much stranger than fiction

12 Mei 2009

Moenie my vra hóé ek 4,5 ure gelede hierop afgekom het nie.  Ek kan self nie meer onthou waarna ek op soek was nie.  Al wat ek weet, ek het met my ogies aan die screen geglue gesit – hulle staan nou op stelte.  Fassinerende leesstof as iemand die tyd en lus het om oor die Helderberg ramp te lees.  Iets waarvoor ek ook nie normaalweg sou lus wees nie, maar op die ou einde net nie kon los nie.

Ek is nie ‘n tegniese vroutjie nie.  Ek weet nie van ‘toxic gases’ nie.  Ek weet ook nie waaruit bestaan ‘rocket fuel’ nie.  Ek weet ook nie hoe brand rocket fuel nie, alhoewel ek kan dink dis bietjie woester as die kersies op ‘n verjaardagkoek.  Ek dink ook nie noodwendig daar was/is ‘n conspiracy om die waarheid oor die Helderberg te verdoesel nie.  In kort, ek wil myself glad nie voordoen as ‘n ekspert op lugvaartrampe nie.  :wink:

Ek het geweet van die Helderbergramp – wie het nie?  Ek het geweet daar was ‘n tweede ondersoek, en ek het geweet dat alhoewel die uitslag nie vir almal aanvaarbaar was nie, daar nie opspraakwekkende nuwe openbarings gemaak is nie.  Wat ek nie geweet het nie, is dat die Helderberg vir baie mense nog vars in die geheue is.  Dat daar mense is wat elke jaar vóór 28 November, die herdenking van daardie noodlottige dag, hoop die ‘waarheid’ sal uitkom.

SAA 297 was ‘n kommersiële vlug wat van Taiwan via Mauritius na Johannesburg onderweg was.  Êrens tussen Taiwan en Mauritius het ‘n brand op die vliegtuig uitgebreek wat veroorsaak het dat hy in die Indiese Oseaan neergestort het.  Daarmee stem almal saam.

Die Margo Kommissie wat ná die ramp aangestel is om die oorsaak te ondersoek, het bevind dat ‘n vuur in die ‘main deck cargo hold, orginating from the right-hand cargo pallet’ ontstaan het.  Twee moontlike redes is aangevoer as die rede hoekom die vliegtuig geval het:  Eerstens, die bemanning het a.g.v. rook wat die ‘cockpit’ binnegedring het, hul bewussyn verloor.  Tweedens, die vuur het die struktuur van die vliegtuig verswak, die stert het afgebreek en het tot gevolg gehad dat die vliegtuig geval het.

‘n Tweede ondersoek is in 1996 deur die TRC begin.  In 1998 het hulle bevind dat niks wat op die ‘cargo manifest’ is, die brand kon veroorsaak het nie.  M.a.w, geen cargo wat op die amptelike dokumente aangedui is, kon die oorsaak gewees het nie.  Hier kom die ‘conspiracy theory’ in.  Wás daar iets  op vlug SAA 295 wat nie veronderstel was om op ‘n vliegtuig te wees wat passasiers vervoer nie?  Gaan lees wat hulle sê hier en hier.  Dis baie leesstof, te veel om hier te noem.

In kort kom dit daarop neer dat Kaptein Danie Uys, die bevelvoerder van vlug SAA 295, reeds ten minste twee keer sy mediese ondersoek ‘gedop’ het.  Nogtans, as voormalige Lugmag vlieënier en Broederbond-lid, het hy spesiale ‘clearance’ gekry.  Dit wil ook voorkom asof hy spesifiek geteiken was om hierdie spesifieke vlug te doen.  Die vermoede bestaan dat daar ‘rocket fuel’ op hierdie vlug was.  (Nie ‘red mercury’ soos ek ook vantevore gelees het nie.)  Verder was hy skynbaar die enigste een wat bewus was van die onwettige vrag wat aan boord was.  Om die storie nóg korter te maak:  toe die brand uitbreek, was die vliegtuig basies verdoem.  Hulle kon nie na Taiwan terugkeer nie.  Daar was reeds van die passasiers dood.  (Skokkend, het ek gelees. Met die suurstofmaskers kry die passasiers ‘n mengsel van suurstof en hersirkuleerde ‘cabin air’.  D.w.s., ás daar toksiese gasse vrygestel is tydens die brand, die passasiers dit saam met hul suurstof sou inasem.)  Die bemanning sou ‘n aanklag van moord in die oë staar – om die minste te sê.  As die vliegtuig ondersoek word en onwettige vrag opgespoor word…sou die apartheidsregering vir hulle in die bresse getree het??)  So, vir my lyk dit of die kaptein besef het hulle het nie ‘n ander opsie om net aan te hou vlieg en te hoop vir die beste nie…

Daar is te veel goed om alles hier te noem, tensy ek ‘n Deel 2, 3, en 4 of meer hier wil opsit.  Regter Margo is onder groot verdenking.  Boeing is onder verdenking.  Ek lees dat net 3 passasiers se familie vergoeding gekry het a.g.v. die suurstofmengsel wat die passasiers gekry het.  Ook net omdat hulle daarvan geweet het.  Hulle het vergoeding gekry, maar nie voordat hulle pen op papier gesit het om nie daaroor te praat nie.  (As ‘n gereelde passasier kan ek maar net van harte hoop dat ons nou suiwer suurstof kry en nie een of ander mengsel nie.)

Die vernaamste een onder verdenking is die ou apartheidsregering.  Sou hulle REGTIG ‘n vliegtuig van SAA weerloos maak deur dit een of ander hoogs ontplofbare stof te laat vervoer?

Ek weet wat ék dink.

28 November 2009 is die 22ste herdenking van vlug SAA 295.  Ek hoop die spoke van daardie dag sal dan ten ruste gelê wees.

24
Jan
10

The flipside of the coin

24 April 2009

Ek het nou vreeslik hartlik gegroet vir die volgende maand, maar mens moet die yster smee terwyl dit warm is.  Boonop kan daardie laaste tragiese possie darem nie al wees wat vir mense gaan kyk nie…

Roer se comment by die Eendag inskrywing het my weer laat terugdink.  (Adrie het my egter ook vandag vertel dat dit ‘n gevaarlike ding is – as ek begin dink.)  :wink:

My pa se broer het in Windhoek gebly.  Soos dit maar gaan in ons familie, het my pa en sy broer mekaar af en toe gebel, maar ons het die Suidwes familie eers ontmoet toe ons al verstand begin kry het.  Oom Hendrik het drie seuns gehad.  Willem was die jongste.  Of Willempie, soos hulle hom genoem het.  Willem was ‘n stil, teruggetrokke man, maar nie onvriendelik nie.  Net baie in homself gekeer.  Willempie was in Koevoet.

Met die jare het ek Willem af en toe gesien.  Sy oudste broer het in Bloemfontein gebly –  en ons ook.  Toe is ek koshuis toe, en ek het Willem nooit weer gesien nie.  Dit was ‘n jaar of twee nà skool dat my ma my eendag vertel het.  Willempie is dood.  Killed in action. Ek was jonk en onverskillig en het nie veel daarvan gemaak nie.

Toevallig het ek en my ma op ‘n kol oor familie gepraat.  So kom ons toe ook by Willem uit.  Hy was sy ouers se witbroodjie.  Die blue-eyed boy.  Hulle was aan skerwe oor sy dood.  Toe vind ek vir die eerste keer uit dat Willem getroud was.  Kort voor  sy dood het sy vrou  ’n seuntjie gehad, ook Willem.  Soos ek verstaan, was die weduwee nie baie gretig om met haar skoonouers kontak te behou nie.  Hulle kon die seuntjie net ‘n paar keer daarna sien, en toe het sy (en klein Willempie) uit hul lewens verdwyn. Dit was veral vir ou tant Kan, Willem se ma, ‘n bitter pil om te sluk.   ‘n Paar jaar later is sy egter oorlede, en ek dink nie oom Hendrik sou veel moeite gedoen het om sy kleinkind op te spoor nie.  Hy is so 5 jaar gelede oorlede.

Roer, jy is reg.  Die Franse onder ons het swaargekry.   Nie dat dit sy hartseer minder maak nie, maar vandag kan sy broer ‘n freedom fighter genoem word.  ‘n Held wat vir vryheid geveg het.  Willem is in Windhoek begrawe.  Ek wonder of iemand nog aan hom dink?  Na sy graf gaan?  Koevoet is ‘n vloekwoord.  Hulle was ‘n klomp boewe.  Geen  eer aan hom en ander wat hul lewens ook maar vir hul land en vryheid afgelê nie.

Sickening.

En ek wonder wat het van klein Willem geword?

20
Jan
10

Eendag…

20 April 2009

Dit was laat een aand in die kroeg.  Swart Frans was die enigste customer en hy was nie haastig nie.  Toe gaan sit ek by hom en begin met hom praat, sommer koeitjies en kalfies.  Soos die gesprek gevorder het, het ons later by politiek uitgekom.  Is dit ook nou nie tipies Suid-Afrikaans nie?  :wink:

Frans is ‘n rustige outjie.  Hy is langer as ek in Angola.  Hy praat vlot Afrikaans, en as die enigste swart Suid-Afrikaner bring hy sy dae deur saam met die boertjies.  Nooit aggressief nie.  Altyd inskiklik, die minste.  Daar het al Afrikaner kontrakteurs gekom wat Frans opgedons het.  Net oor hulle kan.  En hy swart is.  Ek is trots om te sê dat die kamp altyd aan Frans se kant was; hy is immers een van ons.  So erg het dit op ‘n tyd geword dat ‘n sekere groep kontrakteurs net nie meer gebruik is nie – hulle houding het management nie aangestaan nie.

In elk geval, daardie aand praat ek en ou Frans hartsake.  Diep dinge.  Frans verklaar heel in sy skik dat hy vir die ANC gaan stem.  Vir ‘n oomblik was ek nogal geskok.  Ek het dit nie van Frans verwag nie – hy behoort mos nou al te dink soos ‘ons’.  Ek wys hom ons Afrikaners se benarde posisie uit.  Ek sê vir hom, “Frans, maar julle wil ons nie meer in daardie land hê nie.”  Op sy beurt het hy weer geskok gelyk.  Dis asof goed soos naamsveranderings, AA en BEE nooit iets vir hom beteken het nie.

Toe ek sy swak oomblik sien, het ek hom getakel.  “Hoekom, Frans, hoekom die ANC? ”   So het my tirade voortgeduur.  Skielik het Frans begin huil.  Ek het die Peroni’s verdink en hom ‘n druk gaan gee.  Toe hy homself weer bymekaar gekry het, het hy sy trane afgevee en my vierkantig in die oë gekyk.  “Ma”, het hy gesê, “Koevoet het my broer doodgemaak.  Ek sal nooit vir die witmens stem nie.”

Dit het my stil gehad en my weer laat besef:  voor jy nie ‘n myl in die ander ou se skoene geloop het nie… Ons het ook nie verder politiek gepraat nie, net swygsaam ons bier gedrink.  Die volgende dag het ek Frans buite raakgeloop.  Hy het na my gekom en gesê:  “Ma, oor gisteraand…jy sê ons like die boere nie?  Ma, lat ek nou vir jou sê, ons like die boere fokken baie.”  Ek wou nie verder hoor nie en het hom stilgemaak.  Ons het daardie dag ‘n ooreenkoms gemaak:  solank ons twee mekaar like, is die saak reg.  Ons sal nie weer politiek praat nie.

Op ‘n manier was dit gerusstellend om daardie gesprek met Fransie te hê.  Ek het al baie gesê dat as ek vir 4 dekades behandel is soos die swart mense van Suid Afrika behandel is, sou daar baie meer as AA en naamsveranderings gewees het.  Daar sou oorlog – bloed en guts – gewees het.  Ek is nie, om Steve aan te haal, Liewe Jesus nie.  Ek sou wou wraak hê, big time.

Nou is ons klomp wittes nie meer in charge nie.  Ons kerm en kla oor alles en nog wat.  Ja, die regering is korrup.  Maar…kla ons nie met die witbrood onder die arm nie?  Hoekom bly ek in ‘n dorp met skoon strate en sonder een enkele pothole?  Hoekom kan ek vir my vroeg-oggend oefeninkie gaan en die strate verlate kry – met net swart werkers op die pad – en almal groet my vriendelik?  Hoekom kan ek met my kind skool toe stap en nie een oomblik bedreig voel nie?  Ek lees in die koerante van een land, en ek leef in ‘n ander land.  Het kla nie ook gewoonte geraak nie?

Ander kan maar rant en rave.  Die land is nog nie heeltemal moer toe nie.  Die gewone mense, wit en swart, kom basies goed oor die weg.  Dis die politici wat probleme maak waar daar nie probleme is nie.  Die gewone swart mens gaan aanhou om vir die ANC te stem – oor ons geskiedenis.  Dit gaan lank aanhou, maar dit gaan nie vir ewig aanhou nie.

Ek glo dit regtig.  Daar gaan ‘n dag kom dat ons gaan stem vir die regering wat die beste na die land se mense kyk.  Nie vir ‘n ‘wit’ party of ‘n ’swart’ party nie.  Swart mense moet afkoel en ons leer vertrou.  En vice versa.

Byt net vas.

Posted in Suid Afrika 




Statistieke

  • 26,349 keer gelees
Oktober 2018
M D W T V S S
« Mar    
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
293031  
Advertisements