Posts Tagged ‘afrika

25
Feb
10

Bloekomboom

18 Julie 2009

Advertisements
14
Feb
10

Van lekker huil kom lekker lag. Of so iets.

6 Julie 2009

Ná ons rampspoedige trippie was ek regtig depressed.  Amper soos ‘n soldaat wat verslaan en verneder van die slagveld afgekom het.  In daardie tyd kry ek ‘n e-mail van ‘my plantman’, Conrad.  Hy was baie besorg oor die feit dat hy nie by my ‘protected’ blog kon inkom nie, en ek stuur toe sommer ‘n kortaf briefie terug met net die hooftrekke van wat gebeur het.  Dit was nie genoeg vir hom nie!  Kort daarna kry ek nóg ‘n e-mail van hom waarin hy mooi vra dat ek hom alles vertel.  Gelukkig was ek toe amper uit my gemoedsbek%kking, en het ek hom  die hele storie vertel.  En terwyl ek  tik, kom ek agter dat ek so by myselwers lag.  Lag vir ons stupidgeit.  Lag oor die hele verloop van sake, al was dit tóé alles behalwe snaaks!    :wink:

Om die hele petalje mooi te verstaan, moet mens ‘n kaart van Angola onder oë hê.  Ons het unfinished business in Menongue gehad.  Menongue is die hoofstad van Cuando Cubango, ‘n provinsie in die suide.  (Suid-ooste?)  Dit was eintlik ‘n helse draai wat ons moes ry, want EINTLIK wou ons…ahem…moenie lag nie…Ondjiva toe gaan.  Tussen Ondjiva en Xangongo is  die grootste kremetart in Afrika, die laaste ding wat ek nog in Angola wil, moet sien.  En Ondjiva is in Cunene, die provinsie langs Cuando Cubango.

angola-map

Die swart strepie is hoe ons EINTLIK moes ry.  Die blou kruisie is waar ons (om en by) opgeëindig het.  :oops:

Ons het ons dinge gedoen in Menongue, en dit was so 16:00 toe ons uiteindelik klaar is.  Toe begin ek en my man stry.  Ons vreeslik moderne kaart het ‘n k%k paadjie van Menongue na Ondjiva gewys.  My beloved wou hom vat.  Ek was nie só lus vir avontuur nie, en wou dat ons weer op ons pad terug ry na Lubango, en vandaar na Ondjiva.  Toegegee, dit sou ons seker twee dagreise geneem het, en ek was ook nie besonder lus daarvoor nie.  Op die ou einde vat ons toe die paadjie die onbekende in.

Aanvanklik ‘n teerpad met baie desvios, maar nie te sleg nie.  Dit word donker, en dit word KOUD.  Moenie my al die tegniese detail vra nie, maar Fortyfour het ‘n geneigdheid tot oorverhitting gehad.  Om die probleem op te los, is die radiator ge-’bypass’.  Met die gevolg dat die heater nie gewerk het nie.  As mens nie die aircon aansit nie, wasem die ruite toe en is dit onmoontlik om iets te sien.  Sit mens hom aan, vries jy jou gat af binne sekondes.  So ry ons toe: aircon aan, aircon af.  Maar dit bly vriesend koud!

Ter verdediging moet ek net noem dat daar nêrens enige naambordjies is nie.  Ons was darem beïndruk met ons nice kaart wat ‘n vurk in die pad aangedui het, en sowaar! daar kry ons ‘n vurk.  Weliswaar twee plaaspaadjies, maar ‘n vurk nietemin.  En volgens die kaart moes ons oor ‘n rivier gaan, en ons hét.  Ek vermoed dis ná die brug waar ons in ‘n verkeerde rigting geneuk het.  Daar was ook geen ordentlike dorpe nie; net villages in donker gehul met vuurtjies wat hier en daar brand.

Dit was ‘n vreemde aand.  Die paadjie was smal met gras wat hoog daarlangs gegroei het.  Baie wrakke langs die pad. Ons badkamerverlate het ons in die middel van die pad gedoen – elke kilometer of so het ons landmyn-waarskuwings gesien.  My nerwe was op.  Ek was koud. Ek was ook nie meer vriendelik nie.  Net na middernag het ek my arme man iets toegesnou, en het hy styf teen die pad afgetrek sodat ons kon slaap.  Die enigste probleem:  ons slaapsakke en warm klere was agter, diep weggepak.  Nie een van ons was lus om in daardie vriesende koue bakkie af te pak nie.  Tweede beste opsie:  kry die handdoeke uit en maak toe sover ons daarmee kan toemaak.  O, bittere nag!

Copy of DSC02307 Copy of DSC02312

Pieter het gelukkig deur dit alles geslaap.  Ma’s pak mos vir hul kinders in vir die wis en die onwis.  Hy het warm klere en twee komberse gehad.  Ek het hom só beny!  Vyf-uur die volgende oggend, steeds pikdonker, word ons wakker van ‘n ghong wat geslaan word.  Ons het onwetend langs ‘n village gestop, en dit was seker hul wake-up call.  Ons kon nie veel doen behalwe om maar verder te ry nie.

Jagter met sy tuisgemaakte boog en pyle

Jagter met sy tuisgemaakte boog en pyle

Soos die son opgekom het, was dit regtig pragtig.  Pragtig genoeg dat ek my man laat stop het en hom die koue ingestuur het om foto’s te neem!  :lol: Die locals het ook vroeg-vroeg begin verskyn.  Vreeslike vriendelike mense.  Aanvanklik het ons gewaai, maar toe kom ons agter dat hulle begin waai nog voor ons ‘n hand kon lig.  Van toe af was dit amper ‘n speletjie:  as ons hulle in die pad gewaar, het ons nie gewaai voor hulle nie eerste gewaai het nie.  Hulle het elke keer gewaai.  (Nou dink ons hulle wou ons vertel ons ry nou in ons maai in!)

Copy of DSC02317 Copy of DSC02322

My man ook musiek by iemand gekry het, en op ‘n kol luister ons na Troepie Doepie en Silwermaan en Daar’s ‘n man op die grens.  Was baie weird gewees.  Cuando Cubango en Cunene is die meeste deur die oorlog ge-affekteer.  Wonder hoeveel van ons soldate daar was, en daar ry ons en luister na die musiek wat Tannie Esmè vir die troepies gespeel het.

Rondom 10h00 het ons op ‘n kort desvio afgetrek en gou instant noodles verorber.  Pieter wou met geweld grassies pluk in die veld, en ek het amper ‘n hartaanval gekry elke keer as ek sien hy mik na die gevaarlike deel,  af van die pad.  So, dit was net eet, tande borsel, en weer waai.  Die natuurskoon was ongelooflik, maar…daar was geen kremetarte nie.  Volgens ons berekenings moes Ondjiva nie meer ver gewees het nie, en dit was bietjie snaaks dat ons na die grootste kremetart in Afrika kom soek in ‘n area waar daar boggerol kremetarte is!

Copy of DSC02324

‘n Uur later ry ons ‘n plekkie binne met straatligte en ordentlike geboue…en ons wonder hardop of dít nou Ondjiva is?  ‘n Groot skok het op ons gewag.  Dit was ‘n grenspossie.  Piepklein, dit word nie eens op ons vreeslike volledige! moderne! kaart aangedui nie.  Katuitwi.  Skynbaar is die meeste inwoners amptenare wat by die grenspos werk.  Ons help hulle met een se Pajero wat nie wil vat nie, en ons vra of daar nie ‘n pad vandaar is na Ondjiva nie.  Nee, daar is nie!  Maar!  Ons kan deur die grenspos gaan, Namibië toe, en dan by Oshikango weer Angola binnegaan. Uhm.  Let wel, dis die officials wat daar werk, wat ons van die raad voorsien.  Ons stry hulle op.  Ek en Pieter het net gewone visitors visas, my man het ‘n werkspermit en kan in en uit gaan soos hy wil.  Nee, verseker hulle ons.  Ek en Pieter mag vir 72 uur uitgaan om by Oshikango in te kom.  Nou hoekom sal ons hulle nie glo nie?  So, daar is ons deur die grens Namibië toe.

Copy of DSC02331
Namibië.  Met spotters sal daar gespot word.  Dís wat met my gebeur het.  Toe ek in SA opsoek na musiek was, het ek op die Suidweslied afgekom.  My man is ‘n ou Suidwester, en vir die grap het ek dit ook afgelaai.  Eish.  Plaas het ek my ligsinnigheid vir iets anders gelos.

Ek was verheug om uiteindelik in Namibië te kom.  By die grenspos was hulle vriendelik, en ek was so beïndruk om swart mense gemaklik in Afrikaans te hoor praat.  Ek en my man het al begin planne maak oor hoe ons in die toekoms langnaweke sommer oor die grens sal glip en bietjie in Namibië kom kuier.  Ons het oppad na Oshikango die eerste van vele “Veterinary Check Points” gekry.  Ek het nie ‘n idee wat dit behels nie, maar die ou was baie gewillig om te pose vir ‘n foto.  Die polisieman ook, maar nie voor ons hom R10 vir sy moeite gegee het nie.

Copy of DSC02336

Ons het Oshikango voor toemaaktyd, 17h00, gekry.  Ai tog.  Ons opgewondenheid.  Die ene smiles en grappies.  Die Namibiërs het nie pyne met ons gehad nie, en het ons paspoorte gestamp.  Toe na die Angolese kant….

‘n Afrikaan met integriteit is ‘n pyn innie gat.

Ek en Pieter mag onder GEEN omstandighede weer Angola binnegaan nie.  Ons het net ’single entry’ visas. Mooipraat het nie gehelp nie.  Trane het nie gehelp nie.  ‘n Bribe het nie gehelp nie.  Baklei het nie gehelp nie.  Ons moes is ons spore terugdraai Namibië toe en hulle ‘exit’-stamps laat kanselleer.  Teen daardie tyd was hulle egter toe, en ons moes êrens, daar naby, oornag en die volgende dag terugkom.  Ons was flou.  Platgeslaan.  Moeg.  Depressief.  Moedeloos.  En ons het nie geweet wáár ons kon kamp vir die nag nie.  Kamp moes ons.  Ons het ‘n dag gelede laas gewas en skoon klere aangetrek.  Die plek is ook effe meer beskaafd as Angola, en ons het nie geweet wat aanvaarbaar/toelaatbaar is, en wat nie.  Na ons ‘n ent op ons pad teruggery het, gewaar ons ‘n klompie hutte langs ‘n oop stuk grond.  Goed gatvol teen daardie tyd, spring ek uit die bakkie en gaan vra die hoofman of ons daar kan oornag.  Genadiglik gee hy toestemming.  Genadiglik gebeur niks met ons daardie nag nie.  Ons het selfs twee wagte gehad wat die plek ‘opgepas’ het.  Ons het vuur aangesteek vir ‘n braai, maar toe die kole net lekker warm is, besluit ons dat ons tog nie honger is nie.  Los toe die twee wagte by die vuurtjie en gaan klim in ons slaapsakke.

Die volgende oggend het ons ‘n game plan gehad.  Ons sou ons exit-stamps laat kanselleer op Oshikango, en dan terugry Katuitwi toe.  Daar sou ons ‘n beter kans gehad het om weer Angola binne te gaan.  Dis hulle wat ons after all die verkeerde inligting gegee het.

In Oshikango stop my man gou om by ‘n bank in te hol, gelukkig met sy paspoort by hom.  Die volgende oomblik ruk ‘n man my deur oop en begin warra-warra oor iets aan die bakkie wat glo nie reg is nie.  My hare rys onmiddellik, en ek klap die deur toe.  Met die terugsit, besef ek dadelik dat die sak met ons paspoorte, geld en twee telefone, weg is. Iemand moes my man se deur oopgemaak het en die sak gegryp het.  Tot vandag toe kan ek dit nie glo nie.  Dit het alles binne sekondes gebeur.  Ek het niks gehoor nie.  Pieter het niks gesien nie.  ‘n Goed ge-oliede operasie.

Die res is ou nuus.  Ons moes noodgedwonge Windhoek toe ry sodat ek en Pieter vir noodpaspoorte kon aansoek doen.  Sonder ‘n sent op ons naam.  My man het nog diesel agterop gehad, en ons sou daarmee Windhoek kon haal.  Amper op Otavi,  bel my neef my.  My ma het hom van ons penarie vertel.  Hy bied geld aan, en blyplek.  Sy broer se seun bly nog in Windhoek.  Ek het jare laas met hom gepraat, en voel te sleg om van sy aanbod gebruik te maak.  Verseker hom ons is heeltemal oukei vir die oomblik.  Terwyl ek met hom praat, trek my man af toe ons net deur Ontavi is,  en begin diesel ingooi.  Toe hy Fortyfour weer wil start, gee ons ou wit perd net een groot sluk en vrek ‘n groot vrekte.  My man sak gatvol terug in sy sitplek en sê:  Fok! Ek word yskoud en kyk hom grootoog aan.  Ek het so pas water in die tenk gegooi!

Nee, ek was nie kwaad nie.  Ek het ook nie gehuil nie.  Was lankal verby daardie stadiums.  Boonop was my man so moedeloos en kwaad vir homself.  Toe slaap ons maar.  Gelukkig nou  met slaapsakke.  Dinge klink altyd so sleg, maar mens kry baie genade.  Die Total-garage was binne loopafstand.  ‘n Vriend in Suid-Afrika het geld na hulle rekening oorgeplaas sodat ons kon volmaak met diesel.  Nadat twee mechanics eers die bakkie kom bloei het en skoon filters opgesit het.  Teen middagete is ons uiteindelik weg uit Otavi.

Copy of DSC02343

Ons was nie ver van Windhoek af nie, toe ek besef ons het nog nooit na die blessitse Suidweslied geluister nie.  Toe gaan soek ek hom.  Song 432 in ons versameling.  Ons het hom sommer klomp kere na mekaar geluister.  Soms hóú ek daarvan om self sout in my wonde te vryf.  :mrgreen:

14
Feb
10

Familie uitstappie

3 Julie 2009
image001

Spesiaal vir Heiko.   :mrgreen:

11
Feb
10

What good is a mind…

16 Junie 2009

…if you can’t change it?  Sê my man altyd, en hoekom sal ek hom nie glo nie?

Toe ek en Pieter Saterdag van Windhoek gevlieg het, moes my man die pad terug Bom Jesus toe vat met ‘n bakkie wat nie meer rêrig sy samewerking wou gee nie.  Terwyl hy in Namibië was, kon ek hom nog bel, maar nadat hy die grens oorgesteek het, het hy nie ‘n Angolese sim gehad nie.  Op Lubango het hy vinnig van ‘n Angolees se foon laat weet dat hy oukei is.  Dit was Sondagoggend.  Gister was ek in ‘n flat spin omdat ek nog niks van hom gehoor het nie.  Teen gistermiddag het ek die ergste verwag.  Gelukkig het een van sy kollegas teen 3 uur gebel en laat weet dat hy amper by die huis was, en gisteraand kon ek met hom praat.  My geloof in Angola is nog ongeskonde.  Behalwe dat Fortyfour nie vinniger as 80 km/h wou ry nie, het hy geen ander probleme gehad nie.  Ek hou dus vol:  Angola is een van die veiligste plekke om te wees.  Luanda is ‘n addernes, maar die res is plain sailing.  Nes ons daarvan hou:  wild en rof met baie vriendelike locals.

Ons grootste fout was om die grens na Namibië oor te steek.

Ek kan nog vrede maak met die wetter wat ons geld en paspoorte gesteel het.  Ek kan nie vrede maak met die feit dat die Suid-Afrikaanse regering geen bystand lewer aan mense wat in die vreemde gestrand is nie.  Dis nie so maklik om geld in die hande te kry nie.  Ons bank  by Nedbank, maar Nedbank Namibië en Nedbank Suid-Afrika is nie meer ‘gelink’ nie.  Dis dus nie net van instap en geld trek nie.  Veral nie as jy nie identifikasie by jou het nie.  En eintlik was Namibië nie op ons reisprogram nie.  Ons het half per ongeluk daar beland.  Lang storie, maar ek weet nou dat ek nie die GPS queen is nie.  :oops:

Ek was vinnig oppad om ‘n rassis te word, maar noudat ek weer rustig is met my geliefde veilig by die huis, kan ek dinge weer kalm bekyk.  Die High Commission het my die duiwel ingemaak, maar hulle volg ook maar reëls. (Dink ek.)  Hulle skakelbord-dame word blykbaar beveel om op elke vraag “no” te antwoord.  Maar…toe ek 5 minute voor toemaaktyd daar uitsak, het ‘n swart mannetjie met die mooiste bedside-manners my gehelp.  Baie simpatiek het hy my belowe dat hy sy bes gaan probeer om die proses te druk sodat ons die noodpaspoorte binne 24 uur kon kry.  En hy het.  En hy het my gebel toe dit reg was – soos hy belowe het.  Ongelukkig weet ek nie wie hy is nie, maar van hom het ek goeie diens gekry.

Eintlik het Namibië vir my so positief begin.  Die polisieman by die grenspos het half afkeurend my man gevra hoekom hy ‘n Suid-Afrikaanse burger is as hy in Namibië gebore is?  Ek het gevoel:  hulle wil ons tog hier hê.  Op hierdie kontinent.  ‘n Paar dae later is ons in Windhoek.  Ons ry met Robert Mugabe-straat af, kruis Laurent Kabila-straat.  Die mees korrupte Afrika-leiers kan ‘n straatnaampie kry, solank daar tog nie ‘n Boerenaam is nie. (Toe ons oor Esther Brand ry, merk my man droogweg op:  “Sy moes ‘n aktivis ‘of note’ gewees het.”  Nee, lief.  Ek het gaan Google.  Sy was ‘n atleet!  :lol: )  Later wag ek by die High Commission vir my paspoort.  Ek blaai deur die tydskrifte op die tafeltjie.  Daar is onder ander een oor Namibië se snelle ontwikkeling, en agter in is ‘n stukkie oor die geskiedenis van die land.  Hulle praat oor Cassinga.  Hoe 600 burgerlikes, hoofsaaklik vroue en kinders, deur die SA soldate vermoor is.  Opmerklik is dat daar nie na hulle as ’soldate’ verwys word nie.  Nee – “white racist colonialists”.  Net so.

Maar dan.  Ek land op Johannesburg.  Die swart ou by passport control nies en sê: “Eish, this swine flu is killing me.”  Hy bekyk die tydelik paspoorte en vra wat gebeur het.  Ek vertel hom.  Hy skud sy kop en sê dat hy gedink het dis net in Suid-Afrika waar daar misdaad is.  Join the club, dog ek by myself.  Maar sy volgende woorde was musiek in my ore:  “Don’t worry, you’re home now.  Welcome back.”

So, hier is ek nou.  Meer bewus van die realiteite, maar nog nie rêrig oortuig dat dit tyd is om boedel oor te gee nie.

06
Feb
10

Die laaste aflewering

12 Junie 2009

Bashing innie boendoes impliseer dat ek die boendoes – dit wil sê, Afrika – geniet.  Ek het. ‘n Paar dae gelede het ek nog baie filosofies oor Afrika geraak.  Dit het alles verander.  Binne 10 sekondes.  Ek trek alles terug wat ek sedert Oktober 2007 op hierdie blog oor idilliese Afrika kwytgeraak het.  Hierdie gaan ook my laaste inskrywing op dié blog wees.  Van hier gaan ek verkas na ‘n ander blog.  Een wat nie donnerse kremetarte en Afrika-sonsondergange uitbeeld nie.  Ek gaan selfs die comments oop los vir die wat sout in die wonde wil vryf, en vir dié wat my ‘n verraaier wil noem.  Om die waarheid te sê, ek gee nie om wié my wát wil noem nie.

Ek gaan nie uitbrei op die lang storie nie.  Die kort storie is dat ek en Pieter se paspoorte by die Oshikango-grenspos (Namibiese kant) gesteel is.  Saam met AL ons geld en twee selfone.  Gelukkig het ‘n engeltjie gesorg dat die een foon wat roaming is, nie gesteel is nie.  Daarmee kon ek hulp soek, want die #$%^%$#$% South African High Commission in #$%^%$#$%$ Windhoek het nie ‘n saak met jou nie.  Al sit jy op die Namibië/Angola border, is dit JOU probleem hoe jy,  sonder geld,  in Windhoek gaan kom om aansoek te doen vir ‘n noodpaspoort (wat N$81 kos) om jou uit daardie godverlate plek te kry.  Nee, dis maklik om ‘n bedelaar in ‘n vreemde land te word as jy nie geld het nie.  Jou eie land gaan verseker nie onkostes aangaan om jou daar weg te kry nie.  En hou tog net in ag, hulle operate ook net van 8h15 tot 12h15.  So, al kom jy 14hoo uiteindelik van Oshikango daar aan, moet jy maar êrens vir jou ‘n slaapplekkie soek en aanhang vir die 3 tot 5 dae tot die kosbare stukkie papier daar arriveer.

Gelukkig vir ons:  ons het die paspoorte binne 24 uur gekry.  Gelukkig vir ons:  danksy ‘n roaming foon kon ons die nodige hulp kry.  Dit was nie vir ons nodig om op straat te sit nie.  Engele is tog nog om ons.  Joe Botha.  Dianne de Beer.  Tom McClean.  Julle het nie ‘n idee wie hulle is nie, maar hulle was die verskil tussen gestrand in Windhoek en terug by die huis.

Of eerder, ek en Pieter is terug by die huis.  My arme man is nog steeds op die pad, hopelik vanaand by Otavi.  Fortyfour sluk diesel asof dit uit die mode gaan, en is skielik bitter moeg en stadig.  Ek sal eers kan ontspan as hy veilig by die huis is. Of ten minste oor die grens.  Nou voel dit asof dit nog ‘n ewigheid gaan wees.

Ek is klaar met Afrika.  Ek is klaar met hierdie blog.  Ek is nie meer Boendoe nie.

30
Jan
10

Janeth

22 Mei 2009

Craig bel vanoggend.  Hy is een van 5 expats wat nog geduldig (NOT!) wag vir ‘n visum.  Hy het slegte nuus.  Janeth is gister in ‘n motorongeluk dood.  Ek het beplan om eendag oor haar te blog.

Janeth was ‘n ’spanner swaaier’.  Sy was saam met Craig ‘n ‘valve and tube specialist.’  Sy het eendag, na werk, by my opgedaag.  Haar Engels was foutloos, en sy het ‘n lewendige, positiewe energie uitgestraal.  Ek was beïndruk.  Sy wou hê dat ek vir haar klere in Suid Afrika koop sodat sy dit in Angola kon verkoop.  Ek het haar fyn lyfie bekyk.  Sy was baie mooi aangetrek:  sexy jeans, mooi hempie, hoë hakkies.  Ek het gewonder of sy regtig ‘n goeie mechanic is.  Later het Craig my verseker:  sy was van die beste wat hy in Angola gehad het.

116

Ek het haar klere gaan koop en sy het dit kom haal.  Geklee in haar overalls.  Ek kon nie glo dis dieselfde modieuse meisie wat die ‘bestelling’ kom plaas het nie.  Met haar toestemming het ek ‘n foto van haar geneem en haar gevra om eendag terug te kom sodat ek haar in haar civvies ook kon afneem.  Haar gesê dat ek oor haar wou blog.  Sy het gelag, maar gesê dis reg.  Eendag, kort voor ek weg is, het sy by die kompleks ingehardloop gekom sodat ek die foto kon neem.  Sy was haastig om die bus terug Luanda toe te vang, maar het nogtans my vrae beantwoord.  Ek het geleer:  sy was 27 jaar oud.  Sy het nie ‘n man of kêrel gehad nie.  Ook nie ‘n baba, soos so baie van die meisies daar nie.  En sy was besig om ingenieurswese te swôt.

Janeth was vir my ‘n toonbeeld van die beste wat Afrika oplewer.  Toegewyd, ambisieus – ‘n girl met ‘n plan.  Nou’s sy weg.

SDC11864

30
Jan
10

Stilte = Verkragting

20 Mei 2009

Gisteraand het ek aanvanklik  met ‘n halwe oor geluister na ‘n program wat gehandel het oor die verkragting van vrouens in die DRC.  Later het ek vasgenael voor die tv gesit.  Net een ding het deur my kop gegaan:  “Goeie #%$!  Hóé is dit moontlik dat ek nog nóóit daarvan gehoor het nie??”  Ek lees immers elke dag my koerant, kyk SkyNews en CNN.

Is hierdie besig om ‘n tweede, veel erger,  Rwanda te word?  Met die Weste van gretig die rykdom van die land opslurp, maar te gewillig is om anderkant toe te kyk oor die erge, erge vergrype van militia?  Hierdie artikel van Jan Goodwin het al in 2004 verskyn.  Dit maak vir grieselrige leesstof – maar lees dit tog.

Volgens die V-Day Movement:

Rape is used as a weapon of war to torture and humiliate women and girls in DRC. This systemic sexual violence not only destroys women and young girls but also entire families and communities. Survivors often suffer in silence, fearing stigma and ostracism. In addition to the severe psychological impact, many survivors are left with genital lesions, traumatic fistulae and other physical wounds, as well as unwanted pregnancies and sexually transmitted infections. Local support for survivors is hindered by a lack of resources.

En ook:

DRC has been called the worst humanitarian crisis in the world and the widest interstate war in modern African history. Fueled by the exploitation of the country’s rich natural resources by foreign and local armies and private enterprises, the war has directly affected the lives of 50 million Congolese. Since 1996, this conflict has caused more deaths than any war since World War II, either as a direct result of fighting or from disease and malnutrition. Five million people have lost their lives as a result of the conflict.

Dis dalk ‘n baie simplisties, maar soos “blood diamonds” ‘n rol gespeel het (en skynbaar nog steeds) in verskeie lande in Afrika, is die DRC se “root of all evil” die mineraal coltan.  Elektroniese produkte soos selfone, rekenaars en dvd-spelers bevat almal coltan.  Die aanvraag is groot, en met die DRC wat 80 % van die wêreld se coltan besit, hoe maklik is dit nie om te maak of daar niks fout is nie?  Volgens die tv-program verlaat tot 80 ton onwettige coltan die DRC elke dag.

Ek wonder ook soos Jan Goodwin:  “Yet where is the international media coverage? The outrage? The demand for justice?”

V-Day Movement –  Stop Raping our Greatest Resource.

birds




Statistieke

  • 25,767 keer gelees
Julie 2018
M D W T V S S
« Mar    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  
Advertisements