Posts Tagged ‘Herrinerings

16
Sep
09

My Lief se kleur is groen

15 September 2008

Dis nou amper eenuur in die oggend, en as mens nie hierdie aand bytel nie, is dit nog vyf slapies voor ek weer my man sien!  Op die oomblik haal ek net asem en wag vir die dae om verby te gaan.  Nie veel kan my nou ontstel nie, want die lig aan die einde van die tonnel word groter en groter.  Selfs die feit dat ek my twee oudstes hier moet agter los, kan nie die opwinding demp nie.  In elk geval sien hulle uit na tyd sonder my. Of so word ek vertel.

Die verlange het nou haas te erg geword.  Dis ‘n fisiese pyn in my hart.  Ek mis my Lief se blou oë (al vertel hy my dis eintlik groen), sy breë hande vol eelte en  die rustigheid wat hy is.  Ek wil weer saam met hom my eerste oggendkoffie drink en deur die tuin gaan stap.  Die bakkie pak en die vreemde inneuk.  Rooiwyn drink en diep dinge gesels.  Saam lag vir Die Seuntjie se lawwighede.

Op ons eerste tog na Namibe, het ek ‘n plant uitgehaal  wat ek darem op die ou einde ‘n naam voor kon gee: cyphostemma uter.  Ongelukkig het hy nie ons nat somer oorleef nie, en ons is in April terug om nog een te gaan uithaal.  Hierdie keer het ek seker gemaak ek plant hom in genoeg sand en klippies sodat hy nie weer te lank met sy voetjies in die water staan nie.  Dit was ‘n kleinerige specimen, en hy het vir lank net gestaan en my laat wonder oor sy lus vir oorlewing.  Laasweek kry ek dié foto:

Hy het sy eerste groenigheid begin opstoot, en sy pensie lyk baie ronder as toe ek hom laat gesien het.  Vir my is daar simboliek in.  Na vier maande van skynbare onwilligheid, begin hy nou tekens van lewe toon.  Is dit omdat ek huistoe kom?

Advertisements
15
Sep
09

R.I.P Stovepipe

1 September 2008

Hier het ek bietjie teruggedink aan my ou Afrikaanse onnie, Stovepipe.  Ek kry vandag diè mail van een van die min matriekmaats met wie ek nog kontak het: “Stovies het Saterdagoggend verongeluk…”

Rus in vrede, Meneer.  Ek is spyt ek het nooit weer gaan groet nie.

14
Sep
09

Diere van gister

Ek kan nie verstaan hoekom ek vandag nie erg is oor diere nie.  As kind was diere so deel van ons bestaan soos asemhaal.  As ek terugdink na my kinderdae, dan is die herinneringe deurspek met diere. Spesiale diere.

Soos Kaffertjie.  Ek was ‘n klein, klein dogtertjie toe ek en my pa eendag petrol ingegooi het.  By die garage het ‘n seuntjie gestaan en hy het hierdie klein, swart katjie aan sy nekkie vasgehou.  My pa, ondanks sy tekortkominge, was baie lief vir diere.  Ek weet nie of hy die katjie net gevat het, en of hy hom gekoop het nie, maar die katjie is saam met ons huistoe.  Eers baie, baie later het ons ontdek dat Kaffertjie eintlik ‘n Meidjie was.  Sy het haar kleintjies gereeld by my op die bed kom kry, en dit het my glad nie uitgefreak nie.  Dit was net te fantasties om wakker te word en ‘n hele spul katjies op die bed te kry!  Ondanks die foutiewe benaming, het Kaffertjie se naam Kaffertjie gebly, en almal onthou haar vandag nog.  Dertig jaar later.

My eerste en enigste hond was Rooie, ‘n pragtig rifrug met ‘n goudbruin pels en liggroen oë.  Ek was baie lief vir die hond.  Ek onthou hoe hy slap en ontspanne op my skoot kon lê terwyl ek sy ore vryf.  Hy was nog nie volgroeid nie, toe hy siek word en veearts toe is. Hy het nie teruggekom nie.  As ek mooi daaraan dink, is Rooie dalk die rede hoekom ek nie weer lief geword het vir ‘n dier nie.  My hart was stukkend oor hom.

Diere kan ‘n mens breek.  Party meer as ander.  My boet, Jurie, het ‘n Staffie teef gehad, genaamd Wurm.  Sy was ‘n skattige hond.  Liefdevol en spelerig, sonder om uitbundig te wees.  Almal was lief vir haar.  Ek was al uit die skool uit toe my ander broer, Pieter, my een aand baie laat wakker maak met die nuus dat hy Wurm per ongeluk doodgery het.  Ek wou nie wakkerword nie.  Ek het gedink as ek my oë toehou, sal dit net ‘n nagmerrie wees wat verbygaan.  Dit was toe nie net ‘n nagmerrie nie.  My pa het my die volgende oggend wakker gemaak en gevra dat ek Jurie moet gaan troos.  Jinne, daardie dag het ek gehuil!  Jurie het by die oop graffie gestaan en gesnik soos ‘n baba. (Hy was toe in matriek.)  Hy het Wurm gevryf terwyl die trane oor sy wange geloop het.  Eers baie later kon ek hom oorreed om die graffie maar toe te gooi.  Dit het hom egter nie van diere afgesit nie: hy het vandag hordes honde op sy plot.

Diere kan ook baie pret en vreugde gee.  Ons het ‘n kampie gehad met ‘n stal in die middel, ‘n kleinerige boompie aan die een kant en ‘n groot voerbak aan die ander kant.  Ons het altyd hanslammers gehad – wat naderhand nie meer lammers was nie, maar befoeterde ramme.  Vir ons drie kleintjies was dit ritueel wat nooit gemis is nie.  Na melktyd het ons en die lammers begin jol.  Eers het een van die voerbak afgespring met ‘n rammetjie agterna, dan om die stal en dan woeps! in die boom.  As die skaap net effens weggekyk het, is jy weer uit die boom, om die stal en terug op die voerbak. So het elkeen ‘n beurt gekry om ‘n adrenalien rush te kry!

‘n Kat het eendag een van my ma se kuikens onder hande gehad, en die arme ding het erg verrinneweer daaruit gekom.  My ma het hom mooi verpleeg, en hy het oorleef en ‘n groot haan geword.  Die enigste probleem:  sy nek was na die aanslag heeltemal misvormd en hy het permanent na sy stert gekyk! Hy het nie ‘n naam gehad nie, maar hy het los op die erf rondgeloop en geen kat of hond het hom ooit weer aangevat nie.

My ma se Siamees, Vinkel, het die ander katte ‘n helse lewe laat ly.  Tot sy die dag ‘n ander kat in ‘n boom injaag, haar houvas verloor en in ‘n bak ou olie geval het. (Dit was plotdae; my pa se goed het orals rondgestaan!  :lol: ) Sy het al haar hare verloor, en dit het eers weke later begin uitgroei.  Maar haar persoonlikheidsverandering was verstommend! Sy was so meek en mild daarna, en het geen kat ooit weer verpes nie.

En noudat ek begin het, kan ek nie ophou nie!  Ek wil nog praat oor ons hoendertjies, oor my pa se spesiale kat en Lisa, Cherrie en Serpent, ons eerste rifrûe.  Ek kan nie glo die diere is nog so helder in my geheue nie.  Dis darem 20, 30 jaar gelede se dinge!  En snaaks hoe strelend en helend dit is om weer in die verlede te gaan kuier.  Ek gaan maar ‘n Deel II  moet doen!  :wink:

13
Sep
09

Ode aan Stovepipe

10 Augustus 2008

My Afrikaanse onnie in die hoërskool was Stovepipe.  Sy naam het hy gekry oor die stovepipe broeke wat hy gedra het. Dit was die tagtigerjare, en stovepipe broeke was lankal nie meer fashionable nie.  Dit het hom ‘n paar jaar gevat om by te kom, en toe neuk hy oor na die ander uiterste: bell bottoms.

Hy het by ons skool begin toe ek in st. 7 was. Hy was toe ‘n jong man, pas uit die army, en hy was nogal ‘n kaptein ook.  Sy houding was militaristies tot ek die dag gewaai het.  Ken in die lug, agterkop amper teen sy nek, met ‘n stappie wat jou gewys het hy vattie kakie.  En ‘n yslike besemsnor.

Ou Stovies het baie eienaardighede gehad, maar hy was ‘n Afrikaanse leermeester duisend.  (Nie dat enige oorblyfsels daarvan vandag in my taal te bespeur is nie.  :lol: )  Hy het onbeskaamd sy paar witbroodjies gehad – waarvan ek nie een was nie – maar op ‘n manier het hy ons almal deur matriek gekry. Maar veral het hy daarin geslaag om Raka en Bart Nel in ons koppe te kry.  Oi, dit was twee pestelike voorgeskrewe boeke…!

Stovies was ook in beheer van die volkspele in die skool.  Volkspele was GROOT.  Dit was immers op ons dorpie, in ons skool, waar volkspele in 1914 deur Dr S. H. Pellisier begin is.  Hy was nogal baie aanskoulik in sy swart onderbaadjie en wyepyp broeke terwyl hy “Aanstap rooies” se passies aan ons verduidelik het.  (Ons volkspele-rokke was sulke dowwe pienk skeppings. Blykbaar was almal net een size, want ons welbedeelde dogters het bietjie verdruk gevoel daarin. ) Ek het nog ‘n foto van Stovies by Pellisier se borsbeeld…jonk, glimlaggend, groot snor.

Hy was, sover ek weet, altyd single.  Die jong Engelse juffrou wat saam met hom begin het, het hom baie getjaaf, maar hy het immuun gebly. En nee, ek dink nie hy het vir die ander span gespeel nie.  Nee, definitief nie!

Ek dink nie Stovepipe het al die eer gekry wat hy verdien het nie.  Hy was ‘n pyn in die agterent, dis waar, maar hy het Afrikaans vir ons lewendig gemaak.  Selfs die sukkel-kinders het Afrikaans deurgekom.  Hy was ‘n emosielose soort mens, maar kon gedigte behandel dat mens skoon ontroerd geraak het.  Dit was ‘n love-hate verhouding wat ons met hom gehad het.  Sy maniertjies het ons (my) irriteer, maar sy vakaanbieding was absoluut bo verdenking.

Ek wonder soms wat van hom geword het.  Ek is daar weg en het nooit weer teruggegaan nie, behalwe vir ons 20 jaar reünie, en toe was ons ou skool nie meer wat hy was nie.  In die nuwe bedeling het dit ‘n uitsluitlik swart skool geword, en ek wonder wat dink ou Pellisier daar waar hy in die skoolvierkant staan.  😉   En Stovepipe was toe al lankal weg.  Is hy ooit getroud?  Hou hy nog skool?  Ek wonder…

13
Sep
09

Die sirkus is hier!

1 Augustus 2008

Pietie is baie lief vir die Disney fliek, Dumbo, en gister slaat dit my skielik: The circus is in town!   Brian Boswell’s Circus se groot wit tent was opgeslaan op die oop stuk veld langs die munisipale kantore.  Van die pad af kan mens die twee olifante en wit perdjies sien.  Ek het vir ons drie ringside seats gekry.

O, die sirkus.  Ek vat my kinders net eenkeer sirkus toe.  Gister was dus die tweede keer in tien jaar wat ek my gemaklik gemaak het in die rooi plastiekstoele van die sirkus.  Dis eers as ek daar is, dat ek besef hoe deel van ons kultuur die Boswell Sirkus is.  Hy was daar voor televisie en malls, en dis ‘n wonder hy bestaan nog steeds.

Dis nog steeds ‘n stowwerige affêre.  DIe reuk van diere hang swaar in die lug.  Daar’s liggies en harde musiek.  ‘n Fluitjie wat blaas.  Clowns in silly klere en wit geverfde gesigte.  Van die vertonings slaan jou asem weg, ander is heel ordinêr.  Maar hoe geniet die kinders dit nie!  Bygesê, ek en Ouma het ook!  Dit was ‘n tyd om memories te maak.  Pieter het tydens pouse perdjies gery.  Ons het popcorn en Coke op ons skote gehad.  Toe ons daar weg is, het hy flikkerende brilletjies en ‘n flitsende ligstokkie gehad.  En vanoggend praat hy nog steeds oor die sirkus.  Met geluk kan hy eendag sy kroos ook Boswell Sirkus toe vat.

Ons kon nie foto’s neem nie, maar op hul website het ek tog foto’s van sommige van gister se helde gekry. Ondersteun tog die sirkus as hulle ‘n draai in julle geweste kom maak!

Vir ietsie meer oor Boswell Wilkie Sirkus (wat nie meer bestaan nie), lees hier.  Vir meer oor Brian Boswell Circus, hier.  En hier het Fred de Vries ‘n interessante stukkie geskryf oor Brian Boswell.

12
Sep
09

Hondedrolle en groen dieretuintjies

30 Junie 2008

Julle moet my vergewe. Ek is nou so meegevoer deur soete herinnerings aan my kleintyd op Ascent.  Alles was nie altyd maanskyn en rose nie.  Ek het ‘n pa gehad wat nie altyd al sy varkies op hok gehad het nie, maar selfs hy kan nie ‘n skaduwee gooi oor regtig gelukkige memories nie. Tsk! Vergeet hom vir die oomblik.  Laat ek julle vertel van my bababoetie, Jurie.

Jurie is drie jaar jonger as ek.  Vir ‘n lang, lang tyd was my naam Sussie, Pieter was Boetie, en Jurie was Baba.  Hy was seker so 5 jaar oud, toe my ma besluit het die kind kan nie deur die lewe gaan met sò naam nie.  Ons moes oorskakel na ons regte name. O, die ontwrigting! Met ‘n paar klappe en baie tyd,  het ons dit later tog aangeleer.

Jurie is nou al diep in die dertigs.  As mens vandag na hom kyk, met alle respekte, dan sal mense wat hom nie ken nie, hom ‘n sloerie noem.  ‘n Regte maplotter.  Maar, as klein seuntjie  was Jurie my ouers se trots.  Ek onthou so vaagweg die klein blondekop seuntjie wat altyd ‘asseblief’ en ‘dankie’ gesê het, en ook goed soos ‘Verskoon my asseblief van die tafel’.  Vriende van my pa het eendag amper hul vurke ingesluk toe die klein polite mannetjie homself van die tafel verskoon het.  En hy het altyd ‘n toeknoophempie en ‘n das gedra.  En kouse en skoene.

Dit was dus g’n wonder dat ek en Pieter hom altyd afgeknou het nie.  Destyds was ons twee bietjie bar, en die fynopgevoede seun waaroor die mense ge-oe en ge-aa het, het ons suur gemaak.  Boonop was ons ouer (en groter) as hy.  Ek onthou eenkeer toe Pieter en Jurie resies gehardloop het op die ‘atletiekbaan’.  Dit was ‘n gelyke stryd, want al was Pieter ouer, was hy ‘n klein pokkel, en Jurie sou hom maklik kon wen.  Hy het net nooit die kans gekry nie. Piet het gesien hy gaan sleg tweede kom, vinnig gesaag om net langs Jurie te kom, en hom toe met ‘n mighty shove laat sloeg deur die grond.

Maar met sonsondergang het Jurie wraakgeneem. Elke aand, sonder uitsondering.  Dis te lank terug om te kan onthou presies hòè lank die ritueel aangehou het, maar ek reken dit was ten minste ‘n jaar.  Dit was voor televisie in ons lewens gekom het.  Ons het buite rondgespeel vir solank ons kon, want badtyd was iets wat ons wou vermy.  Dis wanneer Jurie sy troefkaart uitgehaal het:  ‘n droë, wit, harige hondedrol.  Ek en Pieter het om een of ander rede ‘n heilige vrees vir daardie drol gehad, en Jurie het dit goed uitgebuit.  Hy het ons gejaag met daai ding, en ons het gehardloop asof ons lewens daarvan afhang.  As die ’speletjie’ uiteindelik verby was, het hy sy drol gaan wegsteek en weer in die opgevoede seuntjie verander.

Ek en Pieter kon darem èènkeer goed voel toe Jurie my ma in ‘n groot verleentheid gestel het. Nogal voor vername mense van die omgewing wat die spesifieke aand by ons kom eet het.  My ouers was baie trots op hul groentetuin, en die aand het my ma weer vir elkeen ‘n individuele bakkie slaai geskep: ‘n hele slaaiblaar met tamaties, uie en pietersielie mooi daarop gerangskik.  Die ete was al aan die gang toe my ma ‘n groen wurmpie uit Jurie se slaaiskeppinkie sien kruip. Ongemerk het sy die wurmpie van die bordjie afgeskiet en op haar servet doodgedruk.  Maar Jurie het dit gesien en luidkeels aan’t skreeue gegaan: “Ma het my dieretuintjie doodgemaak!!!”  Die gaste het beleefd geglimlag, maar my ma het nie gehou van die manier hoe hulle die slaai daarna geïnspekteer het nie…

12
Sep
09

Die kat wat nie wou praat nie

29 Junie 2008

My kinderjare het ek deurgebring op Ascent, ‘n klein spoorwegstasie tussen Vrede en Standerton.  My ma was die skoolhoof van die plaasskool.  Dit klink baie vernaam, maar sy het net een klaskamer gehad en al die standerds van sub A tot st. 5 was in dieselfde klas.  En sy was die enigste juffrou.   Die plaasskool het ‘n huis op die perseel gehad, en dit was ons tuiste vandat ek kan onthou, tot ons in my st. 5 jaar Bloemfontein toe is.

Ek en my twee jonger boeties, Pieter en Jurie, het ‘n redelik onbevange jeug gehad op Ascent. Behalwe vir die feit dat my ma ons nooit laat Chappies koop het by die enigste kafee nie, en dat sy geweier het dat ons in die ’strate’ rondloop, soos die ander kinders nie. As mens die grondpadkruising strate kon noem! Gelukkig was die skoolperseel groot.  Die ‘rugbyveld’ was ‘n ronde sirkel veld toe onder kniehoogte rooigras.  Die ‘atletiekbaan’ was rondom die rugbyveld, maar die gras was effe korter.  Die twee kante wat aan die pad gegrens het, het groot bloekombome gehad. Die res was omgrens deur Oom Cilliers se plaas, waar ons ook kon speel.

In ons erf het ons ‘n groot appelkoosboom gehad.  In daardie boom het ek en Pieter ontdek dat alle diere nie dieselfde is nie.  As skoolhoof het my ma redelik gesag gedra, en ons, haar spruite, in ‘n mindere mate, ook. So het ek en Pieter eendag besluit dat van ons skoolmaats nie na behore na hul katjie omgesien het nie, en ons het die kat vir ons gevat.  Dit was ‘n klein, swart katjie.  Hoe ons op die idee gekom het om die kat te leer praat, kan ek nie meer onthou nie.  Al wat ek wel kan onthou, is dat ons vir twee weke elke middag met die katjie in die appelkoosboom gaan sit het, en hom intensiewe spraaklesse gegee het.

In ons kindergemoedjies kon ons geen rede sien hoekom ‘n papegaai kan praat, en ‘n kat nie.  Ons eerste leesboekie op skool, was Toos.  Ek onthou so goed die eerste drie bladsye uit Toos. (Toos was ‘n papegaai) “Toos”.  “Kom, Toos”. “Kom sit, Toos”  Gewapen met Toos het ons die kat probeer onderrig in die wonder van spraak.  Na twee weke het ons besef die kat gaan nooit praat nie, en hom weer by sy eienaars gaan afgee.  Een van die eerste teleurstellings van ons lewens.

Ons het nie opgehou op diere te leer praat nie.  Die hoenders was volgende, en daarna ons rifrughonde.  Ondanks al ons pogings, kon ons dit nooit reggekry om ‘n dier te laat praat nie.




Statistieke

  • 25,284 keer gelees
April 2018
M D W T V S S
« Mar    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30  
Advertisements