Posts Tagged ‘mal

24
Feb
10

Say cheese!

16 Julie 2009

Terug by die bokke…

Ek dink nou al vir ‘n rukkie om die baie bokke van Bom Jesus te gebruik om kaas te maak.  Op die internet kon ek baie inligting daaroor kry, ek kan selfs ‘n ‘kaasmaak’-pakket koop met alles wat nodig is klaar daarin.  Ek het net gewonder of die goed wat daar bo rondloop, regtig melk het?  Goed genoeg vir kaas?  In elk geval, Die Aussie Boerbok Boer dink dis moontlik.   Wie’s ek nou om te stry?  :lol:

My volgende concern was hoe om die melk actually in die hande te kry.  Ek dink nie ek gaan die locals  vertrou om genoegsaam higiënies te melk nie.  So, al uitweg is dat ekself moet gaan melk.  Nou wonder ek, is die kuns om te melk (en dit IS ‘n kuns!) iets soos fietsry?  Iets wat mens nie vergeet nie?

Ek was ‘n klein dogtertjie toe my pa my leer melk het.  Daar in die Vrystaatse koue.  Dis seker weer ‘n bron vir grappies, maar ek kan eerlik nie onthou dat ek in my kleintyd skoene gedra het nie.  :oops: Ek sal my ma gaan vra, dalk onthou ek net nie meer nie.  In elk geval, ek onthou die ryp op die wit gras en hoe dit gevoel het of jou voete gaan afval van koue.  Sulke oggende was ‘n hoop vars koeimis ‘n weelde.  Ek onthou hoe ek en my twee boeties genael het vir so stomende warm lekkerte.  Ons het daarin gaan staan, met ons tone in die mis gewriemel en net gestaan en “oeeee” en “aaaa” van pure lekkerte.

Die melkery was ‘n hele ritueel.  My pa was baie kwaai en ons moes nie rondneuk nie.  Sy manier, of ons het ‘n oorveeg gekry.  Ons het twee koeie gehad:  Antjie, ‘n saggeaarde klein Jersey koeitjie, en Aandblom, ‘n groot, goue koei met wit kolle.  Eers het ons hulle voerbakke toe gejaag – maar eintlik het hulle self daarheen geloop.  Lieflike, mak goed.  Ons het ons sit gekry op ‘n lae stoeltjie en die uiers gewas met lekker warm Dettol-water.  Daarna vingersvol  Dubbin aan die spene gesmeer.  Die spene ‘n trek-trek gegee sodat die koeie kon ’sak’.     Ek kan eintlik nie die melk-aksie beskryf nie, maar ek kan nog  ‘voel’ hoe mens dit doen.  Dis nie regtig trek nie, meer ‘n afwaartse drukbeweging.  Aan die begin kon die vingertjies nie lank hou nie, maar dit was nie lank voor ek ook kon melk dat dit swoerrr-swoerrr in die emmertjie nie.  Ek was baie trots op myself toe ek die eerste keer ‘n koei kon leegmelk.  Grootgat met die emmer huistoe geloop om vir my ma te gee.  Die volgende mikpunt was om ook, soos my pa, te melk dat daar ‘n skuimpie bo-op was.

Terug by die hede…

Nie ver van ons kompleks, het ‘n local ‘n kraal of sort gebou met takke en goed waar sy trop bokke saans slaap.  Ek dink ek gaan bietjie met hom gesels.  Hoor of ek nie ‘n bok of twee of drie kan melk vir my kaas nie.  Natuurlik gaan dit weer iets kos – niks daar is mos verniet nie.  Maar hel, ek kan al sien hoe ek met my emmertjies afloop om bokke te gaan melk.  Dis nie meer nodig om te soek vir warm mis nie – ek dra nou skoene.  Maar ek wonder of my duime nog sterk genoeg is vir bokke melk?

Kannie wag nie!  :mrgreen:

Advertisements
20
Jan
10

Klipkrag

19 April 2009

Klipbefok.  Dìs wat my man my noem.  Of is dit  Bruce?  Kan nie nou onthou nie.  Van al die goeters-wat-nie-asemhaal op die aardbol, is ek die liefste vir klippe.  My oë dwaal obsessief op soek na klippe.  Ek lag partykeer vir myself as ons in Bom Jesus se stofstrate rondry en ons kry ‘n hopie klippe wat die locals opmekaar gestapel het.  So in die verbygaan scan ek die hoop met skrefiesogies vir die mooistes.  Nie dat ons ooit sal stop en  klippe koop nie.

Nie lank gelede was ons by ‘n bekende plek  in Huila-provinsie.    Ek wou ‘n klip saamvat as aandenking, maar kon net nie die regte een kry nie.  Enige klip sal nie doen nie.  Hy moet darem met my ‘praat’.  Op ons pad uit, het ek ‘n rooi klip in die gras sien lê.  Ek dink my man was al redelik gatvol vir my, maar hy het gestop sodat ek die klip kon laai.  Terug by die huis, het ons afgepak.  Die rooi klip het ek op die kassie by kombuisdeur gesit.  Ek sou later vir hom ‘n plek in die tuin soek.

Die rooi klip lê nog steeds op die kassie.  Elke keer as ek kombuis toe stap, vat ek aan die klip.  Koud en glad.  Ek stap die fyn lyn tussen normaal en abnormaal hier, maar my hand tintel as ek aan die klip raak.  Ek het verlief geraak op die klip.  Hy sal nooit in die tuin gaan lê nie.  En as daar een ding is wat ek  van Angola gaan huistoe vat, is dit my rooi klip.

Ek wonder soms of ek nou heeltemal die kluts kwytgeraak het.  Ek het al gaan Google om te kyk of ek nie dalk ‘n punt beet het nie.  Behalwe vir weirdo’s wat allerande psigiese goed in klippe sien, en snaakse goed met klippe doen, kon ek nog nie bewys kry dat party klippe lewe nie.

My rooi klip lewe. Glo my maar.

copy-of-sdc11958

Posted in Mal 




Statistieke

  • 26,349 keer gelees
Oktober 2018
M D W T V S S
« Mar    
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
293031  
Advertisements