20
Mar
10

Papegaaihokke en ander koorsdrome

8 Augustus 2009

Boer vra nou die dag, toe ek weer aan’t klae was oor die gemors by die huis, of ek nie in Angola sal wil bly nie.  Ek het gesê ek sal daaroor skryf as ek die dag my eende in ‘n ry het.  Sederdien is dit omtrent al waaraan ek kan dink.  My eende is nie in ‘n ry nie; hierdie gaan maar net ‘n poging wees om weer te gee wat ek dink en voel.  :wink:

Angola is vir my ‘n magical plek.  Ek weet nie of dit is omdat ‘ons’ ‘n geskiedenis daar het nie.  Ek weet net ek is betower.  Dis die enigste plek waar ek op die grond wil lê en die rooi reuk inasem.  Waar ek ‘n boom wil omhels.  Waar ek ‘n klip optel en voel hoe kragtig dit is.  Waar die grote Kwanza tjoepstil verby my vloei, maar ek wéét hy hou een oog, half-oop, op my.

Angola het my gestroop van pretensies.  Vyf jaar gelede was ek ‘n maer modepop met fake highlights in ‘n ewe fake blonde haredos.  Ek was gesonbed, gemanikuur, gepedikuur, egte goud om my nek.  Daar was rooi cutex aan my toonnaels en die nuutste fashion aan my lyf.  Ek het kits-etes by Woolies gekoop en gedink geld maak my happy.  Ek het gegaan met ‘n tas vol hipness.

Omstandighede – nie swaarkry – het my stadig laat verander.  As ek maar net dieselfde mens gebly het, was my lewe nou baie makliker.  Dis wanneer ek by die lughawe gebou uitstap en die  hitte, stof, armoede, bedelaars en vlieë tegemoet gaan, dat ek lewendig voel.  My kop sê vir my een ding – Afrika is ‘n kak plek – en my hart sê vir my ek wil op geen ander plek op aarde wees nie.

In Angola kan ek myself wees.  Net ‘n girl in jeans en cheap crocs en ‘n t-shirt.  Waar die sweet maar kan pêrel op my voorkop en teen my neus en wange afrol.  Net ‘n girl wat brood bak as daar nie brood is nie.  Wat tamaties en mielies saai omdat dit goedkoper is as in Shoprite.  ‘n Girl wat gefassineer staan en kyk na die snaakse gat-aan-gat goggatjies wat daar rondloop.  Wat aandagtig na die tuinboys luister as hulle vertel waarvoor mens aalwyne kan gebruik.  En waar die hoogtepunt van my persoonlike versorging is as ek my swart vingernaels skoon kan kry.

Uiteindelik het ek ‘n mens geword wat wonder of dit moontlik sal wees om jouself aan die lewe te hou sonder insette van Belas Mall of Pavel Supermarket?

In Angola voel ek veilig.  Nie Luanda nie – dis ‘n hool waar die grootste kriminele die polisie is.  In Luanda sal iemand jou handsak of selfoon gryp, maar selfs daar word jou lewe nie bedreig nie.  Dis wanneer mens egter verby Dondo is, dat  jy regtig vry kan asemhaal.  Die mense in die platteland is anders as die mense van Luanda.  Jou wit vel word natuurlik  nuuskierig aangestaar, en natuurlik sal daar ‘n kaalvoet seuntjie wees wat ‘n koeldrank bedel, maar nog nooit het ek enigiets anders as veilig gevoel nie.  Hulle sal jou onbeskaamd aanstaar as jy jou tande borsel, maar dis ‘n klein prys om te betaal vir die wete dat jou lewe vir hulle ook kosbaar is.

In Angola het ek Bruce ‘n mens sien word.  Iemand wat nie omgee om met goedkoop mark-plakkies en ‘n geskeurde t-shirt rond te loop nie.  Wat saam met die village kinders in die bosse gaan loop het op soek na slange.  Saam met my groentetuin gemaak het en vroegoggend opgestaan het om te gaan kyk of sy pampoene al opgekom het.  Wat geduldig by die komplekswag gaan sit het en hom Engels geleer het.  Elke dag.  Wat op ‘n snikhete dag sou afstap mark toe omdat ons uie en suiker nodig gehad het.  En, snaaks genoeg, nie omgegee het dat die ousie die suiker met haar hande opgeskep het voor sy dit  in ‘n plastieksakkie gegooi het nie.  (Angola het nie dieselfde vir Jeannie gedoen nie. Sy is onaangeraak, glad nie ontroer nie.)  :wink:

Ek voel tuis in Angola.  Behalwe vir red tape-frustrasies, en soms ons eie onnoselheid, het die land nog geen skokke vir my ingehou nie.  Net keer op keer verwondering.  Asem-intrek oomblikke.  ‘n Eindelose avontuur.

Maar…na ‘n maand of twee of drie, verlang ek huistoe.  Behalwe na kinders en familie, verlang ek  na my land.  Ek verlang na ons swartmense wat so anders is as die Angolese. Nie beter of slegter nie, net anders.  Ek mis dit om Afrikaans te hoor en te praat.  Ek mis Afrikaanse musiek en ons humor.  Ek mis dae soos vandag, waar hordes mense met Springboktruie rondloop en regmaak vir die groot game.  En ek mis die gevoel dat ‘n plek jou huis is.  Al bly jy in ‘n papegaaihok.  :wink:


0 Responses to “Papegaaihokke en ander koorsdrome”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: