14
Feb
10

Van lekker huil kom lekker lag. Of so iets.

6 Julie 2009

Ná ons rampspoedige trippie was ek regtig depressed.  Amper soos ‘n soldaat wat verslaan en verneder van die slagveld afgekom het.  In daardie tyd kry ek ‘n e-mail van ‘my plantman’, Conrad.  Hy was baie besorg oor die feit dat hy nie by my ‘protected’ blog kon inkom nie, en ek stuur toe sommer ‘n kortaf briefie terug met net die hooftrekke van wat gebeur het.  Dit was nie genoeg vir hom nie!  Kort daarna kry ek nóg ‘n e-mail van hom waarin hy mooi vra dat ek hom alles vertel.  Gelukkig was ek toe amper uit my gemoedsbek%kking, en het ek hom  die hele storie vertel.  En terwyl ek  tik, kom ek agter dat ek so by myselwers lag.  Lag vir ons stupidgeit.  Lag oor die hele verloop van sake, al was dit tóé alles behalwe snaaks!    :wink:

Om die hele petalje mooi te verstaan, moet mens ‘n kaart van Angola onder oë hê.  Ons het unfinished business in Menongue gehad.  Menongue is die hoofstad van Cuando Cubango, ‘n provinsie in die suide.  (Suid-ooste?)  Dit was eintlik ‘n helse draai wat ons moes ry, want EINTLIK wou ons…ahem…moenie lag nie…Ondjiva toe gaan.  Tussen Ondjiva en Xangongo is  die grootste kremetart in Afrika, die laaste ding wat ek nog in Angola wil, moet sien.  En Ondjiva is in Cunene, die provinsie langs Cuando Cubango.

angola-map

Die swart strepie is hoe ons EINTLIK moes ry.  Die blou kruisie is waar ons (om en by) opgeëindig het.  :oops:

Ons het ons dinge gedoen in Menongue, en dit was so 16:00 toe ons uiteindelik klaar is.  Toe begin ek en my man stry.  Ons vreeslik moderne kaart het ‘n k%k paadjie van Menongue na Ondjiva gewys.  My beloved wou hom vat.  Ek was nie só lus vir avontuur nie, en wou dat ons weer op ons pad terug ry na Lubango, en vandaar na Ondjiva.  Toegegee, dit sou ons seker twee dagreise geneem het, en ek was ook nie besonder lus daarvoor nie.  Op die ou einde vat ons toe die paadjie die onbekende in.

Aanvanklik ‘n teerpad met baie desvios, maar nie te sleg nie.  Dit word donker, en dit word KOUD.  Moenie my al die tegniese detail vra nie, maar Fortyfour het ‘n geneigdheid tot oorverhitting gehad.  Om die probleem op te los, is die radiator ge-’bypass’.  Met die gevolg dat die heater nie gewerk het nie.  As mens nie die aircon aansit nie, wasem die ruite toe en is dit onmoontlik om iets te sien.  Sit mens hom aan, vries jy jou gat af binne sekondes.  So ry ons toe: aircon aan, aircon af.  Maar dit bly vriesend koud!

Ter verdediging moet ek net noem dat daar nêrens enige naambordjies is nie.  Ons was darem beïndruk met ons nice kaart wat ‘n vurk in die pad aangedui het, en sowaar! daar kry ons ‘n vurk.  Weliswaar twee plaaspaadjies, maar ‘n vurk nietemin.  En volgens die kaart moes ons oor ‘n rivier gaan, en ons hét.  Ek vermoed dis ná die brug waar ons in ‘n verkeerde rigting geneuk het.  Daar was ook geen ordentlike dorpe nie; net villages in donker gehul met vuurtjies wat hier en daar brand.

Dit was ‘n vreemde aand.  Die paadjie was smal met gras wat hoog daarlangs gegroei het.  Baie wrakke langs die pad. Ons badkamerverlate het ons in die middel van die pad gedoen – elke kilometer of so het ons landmyn-waarskuwings gesien.  My nerwe was op.  Ek was koud. Ek was ook nie meer vriendelik nie.  Net na middernag het ek my arme man iets toegesnou, en het hy styf teen die pad afgetrek sodat ons kon slaap.  Die enigste probleem:  ons slaapsakke en warm klere was agter, diep weggepak.  Nie een van ons was lus om in daardie vriesende koue bakkie af te pak nie.  Tweede beste opsie:  kry die handdoeke uit en maak toe sover ons daarmee kan toemaak.  O, bittere nag!

Copy of DSC02307 Copy of DSC02312

Pieter het gelukkig deur dit alles geslaap.  Ma’s pak mos vir hul kinders in vir die wis en die onwis.  Hy het warm klere en twee komberse gehad.  Ek het hom só beny!  Vyf-uur die volgende oggend, steeds pikdonker, word ons wakker van ‘n ghong wat geslaan word.  Ons het onwetend langs ‘n village gestop, en dit was seker hul wake-up call.  Ons kon nie veel doen behalwe om maar verder te ry nie.

Jagter met sy tuisgemaakte boog en pyle

Jagter met sy tuisgemaakte boog en pyle

Soos die son opgekom het, was dit regtig pragtig.  Pragtig genoeg dat ek my man laat stop het en hom die koue ingestuur het om foto’s te neem!  :lol: Die locals het ook vroeg-vroeg begin verskyn.  Vreeslike vriendelike mense.  Aanvanklik het ons gewaai, maar toe kom ons agter dat hulle begin waai nog voor ons ‘n hand kon lig.  Van toe af was dit amper ‘n speletjie:  as ons hulle in die pad gewaar, het ons nie gewaai voor hulle nie eerste gewaai het nie.  Hulle het elke keer gewaai.  (Nou dink ons hulle wou ons vertel ons ry nou in ons maai in!)

Copy of DSC02317 Copy of DSC02322

My man ook musiek by iemand gekry het, en op ‘n kol luister ons na Troepie Doepie en Silwermaan en Daar’s ‘n man op die grens.  Was baie weird gewees.  Cuando Cubango en Cunene is die meeste deur die oorlog ge-affekteer.  Wonder hoeveel van ons soldate daar was, en daar ry ons en luister na die musiek wat Tannie Esmè vir die troepies gespeel het.

Rondom 10h00 het ons op ‘n kort desvio afgetrek en gou instant noodles verorber.  Pieter wou met geweld grassies pluk in die veld, en ek het amper ‘n hartaanval gekry elke keer as ek sien hy mik na die gevaarlike deel,  af van die pad.  So, dit was net eet, tande borsel, en weer waai.  Die natuurskoon was ongelooflik, maar…daar was geen kremetarte nie.  Volgens ons berekenings moes Ondjiva nie meer ver gewees het nie, en dit was bietjie snaaks dat ons na die grootste kremetart in Afrika kom soek in ‘n area waar daar boggerol kremetarte is!

Copy of DSC02324

‘n Uur later ry ons ‘n plekkie binne met straatligte en ordentlike geboue…en ons wonder hardop of dít nou Ondjiva is?  ‘n Groot skok het op ons gewag.  Dit was ‘n grenspossie.  Piepklein, dit word nie eens op ons vreeslike volledige! moderne! kaart aangedui nie.  Katuitwi.  Skynbaar is die meeste inwoners amptenare wat by die grenspos werk.  Ons help hulle met een se Pajero wat nie wil vat nie, en ons vra of daar nie ‘n pad vandaar is na Ondjiva nie.  Nee, daar is nie!  Maar!  Ons kan deur die grenspos gaan, Namibië toe, en dan by Oshikango weer Angola binnegaan. Uhm.  Let wel, dis die officials wat daar werk, wat ons van die raad voorsien.  Ons stry hulle op.  Ek en Pieter het net gewone visitors visas, my man het ‘n werkspermit en kan in en uit gaan soos hy wil.  Nee, verseker hulle ons.  Ek en Pieter mag vir 72 uur uitgaan om by Oshikango in te kom.  Nou hoekom sal ons hulle nie glo nie?  So, daar is ons deur die grens Namibië toe.

Copy of DSC02331
Namibië.  Met spotters sal daar gespot word.  Dís wat met my gebeur het.  Toe ek in SA opsoek na musiek was, het ek op die Suidweslied afgekom.  My man is ‘n ou Suidwester, en vir die grap het ek dit ook afgelaai.  Eish.  Plaas het ek my ligsinnigheid vir iets anders gelos.

Ek was verheug om uiteindelik in Namibië te kom.  By die grenspos was hulle vriendelik, en ek was so beïndruk om swart mense gemaklik in Afrikaans te hoor praat.  Ek en my man het al begin planne maak oor hoe ons in die toekoms langnaweke sommer oor die grens sal glip en bietjie in Namibië kom kuier.  Ons het oppad na Oshikango die eerste van vele “Veterinary Check Points” gekry.  Ek het nie ‘n idee wat dit behels nie, maar die ou was baie gewillig om te pose vir ‘n foto.  Die polisieman ook, maar nie voor ons hom R10 vir sy moeite gegee het nie.

Copy of DSC02336

Ons het Oshikango voor toemaaktyd, 17h00, gekry.  Ai tog.  Ons opgewondenheid.  Die ene smiles en grappies.  Die Namibiërs het nie pyne met ons gehad nie, en het ons paspoorte gestamp.  Toe na die Angolese kant….

‘n Afrikaan met integriteit is ‘n pyn innie gat.

Ek en Pieter mag onder GEEN omstandighede weer Angola binnegaan nie.  Ons het net ’single entry’ visas. Mooipraat het nie gehelp nie.  Trane het nie gehelp nie.  ‘n Bribe het nie gehelp nie.  Baklei het nie gehelp nie.  Ons moes is ons spore terugdraai Namibië toe en hulle ‘exit’-stamps laat kanselleer.  Teen daardie tyd was hulle egter toe, en ons moes êrens, daar naby, oornag en die volgende dag terugkom.  Ons was flou.  Platgeslaan.  Moeg.  Depressief.  Moedeloos.  En ons het nie geweet wáár ons kon kamp vir die nag nie.  Kamp moes ons.  Ons het ‘n dag gelede laas gewas en skoon klere aangetrek.  Die plek is ook effe meer beskaafd as Angola, en ons het nie geweet wat aanvaarbaar/toelaatbaar is, en wat nie.  Na ons ‘n ent op ons pad teruggery het, gewaar ons ‘n klompie hutte langs ‘n oop stuk grond.  Goed gatvol teen daardie tyd, spring ek uit die bakkie en gaan vra die hoofman of ons daar kan oornag.  Genadiglik gee hy toestemming.  Genadiglik gebeur niks met ons daardie nag nie.  Ons het selfs twee wagte gehad wat die plek ‘opgepas’ het.  Ons het vuur aangesteek vir ‘n braai, maar toe die kole net lekker warm is, besluit ons dat ons tog nie honger is nie.  Los toe die twee wagte by die vuurtjie en gaan klim in ons slaapsakke.

Die volgende oggend het ons ‘n game plan gehad.  Ons sou ons exit-stamps laat kanselleer op Oshikango, en dan terugry Katuitwi toe.  Daar sou ons ‘n beter kans gehad het om weer Angola binne te gaan.  Dis hulle wat ons after all die verkeerde inligting gegee het.

In Oshikango stop my man gou om by ‘n bank in te hol, gelukkig met sy paspoort by hom.  Die volgende oomblik ruk ‘n man my deur oop en begin warra-warra oor iets aan die bakkie wat glo nie reg is nie.  My hare rys onmiddellik, en ek klap die deur toe.  Met die terugsit, besef ek dadelik dat die sak met ons paspoorte, geld en twee telefone, weg is. Iemand moes my man se deur oopgemaak het en die sak gegryp het.  Tot vandag toe kan ek dit nie glo nie.  Dit het alles binne sekondes gebeur.  Ek het niks gehoor nie.  Pieter het niks gesien nie.  ‘n Goed ge-oliede operasie.

Die res is ou nuus.  Ons moes noodgedwonge Windhoek toe ry sodat ek en Pieter vir noodpaspoorte kon aansoek doen.  Sonder ‘n sent op ons naam.  My man het nog diesel agterop gehad, en ons sou daarmee Windhoek kon haal.  Amper op Otavi,  bel my neef my.  My ma het hom van ons penarie vertel.  Hy bied geld aan, en blyplek.  Sy broer se seun bly nog in Windhoek.  Ek het jare laas met hom gepraat, en voel te sleg om van sy aanbod gebruik te maak.  Verseker hom ons is heeltemal oukei vir die oomblik.  Terwyl ek met hom praat, trek my man af toe ons net deur Ontavi is,  en begin diesel ingooi.  Toe hy Fortyfour weer wil start, gee ons ou wit perd net een groot sluk en vrek ‘n groot vrekte.  My man sak gatvol terug in sy sitplek en sê:  Fok! Ek word yskoud en kyk hom grootoog aan.  Ek het so pas water in die tenk gegooi!

Nee, ek was nie kwaad nie.  Ek het ook nie gehuil nie.  Was lankal verby daardie stadiums.  Boonop was my man so moedeloos en kwaad vir homself.  Toe slaap ons maar.  Gelukkig nou  met slaapsakke.  Dinge klink altyd so sleg, maar mens kry baie genade.  Die Total-garage was binne loopafstand.  ‘n Vriend in Suid-Afrika het geld na hulle rekening oorgeplaas sodat ons kon volmaak met diesel.  Nadat twee mechanics eers die bakkie kom bloei het en skoon filters opgesit het.  Teen middagete is ons uiteindelik weg uit Otavi.

Copy of DSC02343

Ons was nie ver van Windhoek af nie, toe ek besef ons het nog nooit na die blessitse Suidweslied geluister nie.  Toe gaan soek ek hom.  Song 432 in ons versameling.  Ons het hom sommer klomp kere na mekaar geluister.  Soms hóú ek daarvan om self sout in my wonde te vryf.  :mrgreen:


1 Response to “Van lekker huil kom lekker lag. Of so iets.”


  1. Desember 22, 2015 om 12:28 nm

    Hey there, I hadn’t thought of it like that…. I believe I
    concur, but do you mind explaning the 3rd paragraph for me?


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: