31
Jan
10

Oppad

27 Mei 2009

Heiko het nou die dag geskryf oor sy Malawi-trip in 1993 toe hy onder andere deur ‘n paar boomrokers opgelaai is.  Kort daarna het Sonneblom ’n brief aan haar seun geskryf.  Op ‘n plek skryf sy:

En seun, nou moet jy mooi luister na wat ek sê.

Jy het geen liefde vir die swart nasie nie. Dis geen geheim nie. Maar wat doen God toe vir jou? Hy stuur ‘n swart boemelaar na jou toe en sê jy moet by hom kom slaap want dis gevaarlik daar. Hy stuur ‘n swart boemelaar om jou op te pas. En toe stuur Hy ‘n swart man op ‘n fiets om jou meer as ‘n uur lank terug te neem na die gastehuis.

Dit was vir my ‘n wow! stukkie.  As haar seun wou vertel, dink ek dit sou ‘n aangrypende storie gewees het.

Ek is mal oor stories waar mense uit verskillende sfere mekaar ontmoet, ‘connect’ en weer uitmekaar gaan.  Die meeste vergeet jy nooit.

My ma vertel gereeld die ondervinding wat sy eenkeer op die pad gehad het.  Dit was in die vroeë sestigerjare.  Haar eerste man is pas oorlede en sy het besluit om met haar drie klein seuntjies van die Kaap te reis na haar ouers in die Bosveld.  Dit was 9 uur die aand toe sy in Bloemfontein aankom.  In Zastronstraat het sy ‘n motel gesien en het besluit om daar te oornag.  Sy is op en af in die straat, maar kon nie die ingang na die motel kry nie.  Op die ou einde het sy besluit  om maar net deur die nag te ry.

Net buite Bloem het ‘n stokou karretjie met swartes in, by haar gebly op die pad.  Sy vertel dat sy een of tweekeer langs die pad gestop het.  Dan het die ander kar ‘n entjie verder stilgehou, en gewag tot sy weer ry.  Nooit was daar enige kontak tussen my ma en die ander kar nie, maar hulle het by haar gebly tot hulle Johannesburg ingery het.  Tóé het die ander kar se bestuurder getoet en gewaai voor hulle in ‘n ander rigting afgedraai het.  Dit het ‘n groot indruk op my ma gemaak.  Oor die jare het ons daardie storie al baie keer gehoor.

My man vertel weer van ‘n keer, in die sewentigs, toe hy as dienspligtige deur ‘n swartman op Warmbad opgelaai is.  Hy wou Pietersburg toe, en die man was ook daarheen oppad.  Dit was ‘n stillerige ou, maar heel vriendelik.  Op Naboomspruit het hulle gestop vir ‘n koeldrank.  Toe my man terug in die kar klim, het hy vir die eerste keer gesien dat daar ‘n stel boeie onder die sitplek was.  Nuuskierig wat hy is, het hy die man daaroor gevra.  “En die boeie?  Is jy ‘n polisieman?”  Die ou het gelag en gesê:  “Nee, ek is ‘n terroris.”  Weer gelag, maar toe erken dat hy ‘n polisieman is.  My man het hom oor sy werk uitgevra, maar hy wou nie daaroor praat nie.  Net droogweg gesê: “Baas John (Vorster) kan maar lekker slaap in die aand as ek op die pad is.”

Later het my man hom gevra hoekom hy by die spoedbeperking hou as hy ‘n polisieman is.  (Daardie tyd was dit glo 90 km/uur, maar ek sal sy woord daarvoor moet vat.  Was lank voor ek geweet het van sulke goed.)  Die polisieman het gesê: “Ja, ek kán vinniger ry en ek sal dalk ‘n halfuur gouer op Pietersburg aankom.  Maar as die traffic cops my stop, laat hulle my maklik ‘n halfuur of langer wag.  So, dit help my niks om te jaag nie.”  True as nuts, toe hulle die Ysterberg uitkom, stop ‘n verkeersman hulle, ‘n groot grinnik op sy gesig.  “Jaaaaa, Kaffer!  Jy wíl mos jaag!”  Die polisieman het gedwee geantwoord:  “Dag, Baas.”  Die spietkop het vir sy papiere gevra, en toe hy daarna kyk, het sy gesig verstar.  Hy het dit teruggegee, die swart ou gesalueer en sonder verdere probleme laat  ry.  Dit tickle my man tot vandag nog oor wát presies daardie papiere gesê het.


0 Responses to “Oppad”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: