29
Jan
10

My lewe in ‘n boks

18 Mei 2009

Ek het vandag die bokse in die garage aangevat.  Van daai bokse is maklik al ses jaar lank toe.  Daar was ‘n paar met platiekgoed en een of twee met breekgoed in, maar die meeste was gemerk “Boeke”.  Eintlik moes hulle eerder “Kakkies” gemerk gewees het, want ek was destyds seker gatvol gepak en het allerhande strooi saam ingegooi.  Soos foto’s in ‘n koekblik en ’n tandemuis-kussinkie saam met ‘n klomp boeke.  Ek het hierdie werkie lank uitgestel.  Eerstens, omdat ek seker was daar sou kakkerlakke uitspring (daar het nie), en tweedens omdat ek besluit het ek gaan ruthless wees.  As ek in ses jaar iets nog nie gemis het nie, het ek dit nodig?  Ek sukkel om goed weg te gooi…

Die “boek”-bokse was ‘n belewenis.  Ek het later op ‘n boks gaan sit en deur al my ou goedjies gelees.  Uit “My Skoolloopbaan” het ek ‘n paar skatte gekry.  (Wie onthou nog daai groot, wit boeke waar jy jou rapporte en skoolfoto’s in kon bêre?!)  Die eerste was twee briefies van my jongste broer toe ons albei nog op skool was.

Liewe Hettie

Hoe gaan dit nog daar?  Met my gaan dit goed.  Saterdag het ek en Andries gaan fiets ry.  toe kom een van ons onnies daar verby gedraf.  hy het vals knie en draf maar stadig!!!!!!  Hy het ons ‘n paar dae van te voore ‘n pak gegee!!!!! toe wou hy nog ‘n spiets ok nog leewer. (verskoon speling)

Ag nou ja dis weer tyd om te groet.

Jou grootste beste flukste mooiste vinnigste broer

Toe hy st. 6 ook koshuis toe is, het ek hom blykbaar gas gegee oor sy rokery – en meisies ook, lyk dit my.  Hierdie briefie, onthou ek, het hy eendag ná skool vinnig in my hand gedruk.  ‘n Klein, opgevoude wit papiertjie.

Hettie wat jy gehoor het is miskien waar maar ek het reeds myself reg geruk en vir daai vleri geskryf dat ek niks met haar tedoen wil hê nie oor dinge wat ek van gehoor het en het al lankal opgehou rook!

Tussen die rapporte en ou love-letters kry ek ook ‘n briefie van my Afrikaanse onnie, Mnr. van Straten, gerig aan ons matriekklas voor die eindeksamen.  Onder andere sê hy:

Is jy nog bang, gespanne, vol twyfel, miskien wanhoop?  Dit is nie meer nodig nie.

Onthou:  1.  Lees die vraestel goed deur.

2.  Kies dan jou onderwerp en bly daarby.

3.  Raak al die komponente aan.

4.  Ervaar jou opstel en moet nie bang wees om te veel van jouself te gee nie.

5.  Gee jou gedagtes vrye teuels.

NB       6.  Ek koester hoë verwagtinge.

Mnr. van Straten, of ou Stovies, is verlede jaar in ‘n motorongeluk oorlede.  :sad:

Die boek waarna ek heimlik gesoek het, het saam met Bart Nel en ander walglike voorgeskrewe boeke, te voorskyn gekom.  Die huis van die vier winde. ‘n Geskenk van my pa in 1980.  Ek en my pa het nie ‘n baie goeie verhouding gehad nie, en hierdie boek…ag, ek weet nie.  Hy’t my verskeie boeke gegee, maar dié een is om een of ander rede spesiaal.  Die een storietjie in die boek gaan oor ‘n man wat heuning op ‘n berg gaan uithaal en dan om een of ander rede nie meer kon afkom nie.  Soos die jare verby gegaan het, het hy met sy lang baard en woeste hare gekyk hoe die vryers verby ry na sy plaas om vir sy ‘weduwee’ te gaan kuier.  Hy is darem eventually gered en herenig met sy vrou.  :wink:

Kersfees 1981 het my gróót tjommie vir my ‘n klein boekie gegee.  Springs of Comfort. Ek het nie gedink ek het die boekie nog nie.  Ek kon flikflakke doen vanmiddag toe ek op hom afkom en het ook gou weer deur hom geblaai.  The man who abandons all desire and lives without longing, who says neither mine nor I, wins peace.

Behalwe ‘n opgevoude toiletpapier vierkant met ‘n boodskap I love you, Vollie (ek het nie meer ‘n idee wie Vollie is/was nie!), het ek hope kinderboeke uitgepak.  Pieter is in sy noppies.  Wie sou kon dink dat ‘n skoenlapper-boek wat Bruce twaalf jaar gelede getickle het, vandag nog ‘n wenner kan wees?

Op die ou einde het goed soos my “Verloskunde Bybel” en “Die Pasgebore Baba” op die weggooi-hoop beland.  Somehow dink ek nie dat ek ooit weer die lus sal hê om ‘n moderne mamma te probeer oortuig dat ‘natuurlik’ beter is nie.  Induksies, keisers, epidurale, formule melk…ek het daai battle gefight – en verloor.  Tyd vir iemand anders om die goeie stryd te stry.  Ek quit.

Nog iets wat ek besef het, is dat mense (ek) in ‘n baie kort tyd geweldig kan verander.  Ek het half verbaas na my kerspitboek gekyk, en kop geskud oor die “How to make soft furnishings for the home”.  Die dae wat ek prinsesrokkies, godyne en kussinkies gemaak het, is lank, lank verby.  Om die waarheid te sê, ek sal vandag nie ‘n clue hê oor wáár om te begin nie.  En op ‘n tyd was ek nogal ‘n boffin daarmee!

Bokse uitpak is goedkoop terapie.  Soos ek die bokse oopgemaak het, móés ek net weer terugkyk oor my lewe die afgelope paar jaar.  Party goed wil mens mos nie eintlik onthou nie.  Soms is dit goed – om weer te onthou.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: