26
Jan
10

Dana op die Agterpaaie

Dana Snyman se boek, Op die Agterpaaie, het my vandag meegesleur soos geen boek dit nog kon doen nie.  Ek het die boek vanoggend gekry, en kon nie ophou lees nie.  Die wasgoed lê nog in die mandjie en kreukel; dit pla my min.  Ek het koorsagtig gelees tot ek klaar was.  Soos altyd, is daar hope humor.  Soos altyd, hope tragedie.  Soos die lewe maar is.  Dana reis op die agterpaaie, en ontdek gewone mense, elkeen met ‘n storie.  Hy deel al daardie stories met soveel deernis, eerlikheid en nederigheid.  Dan gaan hy huistoe en besin oor die lesse wat hy geleer het:

NASKRIF:

Ek is ‘n Afrikaan

Ek is nie ek sonder die heuwels en die valleie, die berge en die vleie, die riviere en die woestyne, die bome en die blomme van hierdie kontinent nie.

Hier kry ek koud en kataza die son my.  hier klou ek aan ‘n lamppaal in Kaapstad vas as die Suidooster waai, reën ek nat en gooi ek ‘n kombers oor die spieël in my kamer wanneer die weer swaar is, nes my oorle’ ouma, oorle’ grootouma en dié voor hulle.

Hier is ek vrolik en is ek woedend, lag ek en is ek verdrietig, glo ek, bid ek, hoop ek, vrees ek, twyfel ek, vloek ek, wanhoop ek.

Soms probeer ek vergeet van dinge wat in die verlede hier gebeur het – dinge wat, indien jy dit onthou, ‘n waarskuwing is om nie jou menslikheid te verloor nie.

Bloukrans, Bethulie, Bulhoek, Boipatong.

Abraham Esau, Jopie Fourie, Bessie Head, Lucky Dube en Oom Sarel Breedt wat nou die dag op sy plaas Honingskrans in die distrik Roossenekal vermoor is.  Hier probeer ek liefhê en probeer ek vergewe.

Dokumente in die Kaapse argief wys my voorouers kom uit Europa, maar hul katedrale, paleise en villas het hier forte, gewelwonings en hartbeeshuisies kom word.  En die bloed van die Maleisiese slawe en Khoi-vroue wat  boegoe in die veld naby Garies oes, is ook in my are, en nes hulle glo ek ook aan die geeste van die voorvaders:  Shaka, oom Lokomotief, De la Rey en De Wet, Nat Nakasa en my oupa Danie, met sy kekkellaggie.

In Australië, Kanada of Brittanje wil ek nie woon nie, al hoef jy snags nie jou huis se deure te sluit nie, al kan jy daar steeds ‘n Suid-Afrikaanse kerk, Suid-Afrikaanse koerant, Suid-Afrikaanse blatjang, Suid-Afrikaanse tandarts en Suid-Afrikaanse ginekoloog hê.

Alles wat ek is en weet, is vervleg met hierdie heerlike, genadelose stuk aarde waar ek een oggend om 02:30 skreeuend in sonde gebore en ontvang is.

Hier sien ek TV-beelde van dooie honde, dooie beeste met afgekapte hakskeensenings, dooie kinders met dooie glimlagte, dooie polisiemanne, dooie moeders en vaders wat ná bankrooftogte dood op sypaadjies lê.

Maar hier sien ek ook drome en sakeplanne vlees word, sien ek genade, en pa’s en ma’s wat trots ná gradeplegtighede in Spur-restaurante vir foto’s glimlag.

Poniekoerante doen nie verslag oor geloof nie, mense bel nie Niekie van den Berg se Sê Wie? en wei liries uit oor hoop nie en Carte Blanche het nog nooit ‘n exposé oor die liefde gedoen nie.

Dié wat met genadige oë kyk, sal genade ontvang.

Ek is familie van  ‘n luiperd en ‘n mamba en al die donkies in die Colesberg-distrik.  Ek is boegoe en soutbos en tambotie, kaiingklip en tieroog en tanzaniet.  Ek is die Limpopo en die Gariep, die Zambesi, die Kongo en die Nyl, want ek het ‘n Rubicon in my hart oorgesteek.

Ek is ‘n Afrikaan.

Posted in Afrika, Alleprastig, Ander se kallers


0 Responses to “Dana op die Agterpaaie”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: