26
Jan
10

Bloed en sweet en liefde

4 Mei 2009

Onrusbarende nuus is dat die bouers sommer kortpad vat deur my tuin na die kraan toe, in plaas van om òm te loop.  Drie meter verder.  Murphy’s Law.  Drie jaar lank staan die kraan teen ons huis,  onaangeraak.  Noudat my tuin al tot daar trek, nòù is dit skielik diè kraan wat almal wil en moet gebruik.  :evil:

Ek verlang na die ou plekkie.  Elke plant en elke klip het ek en my lief met bloed en sweet bymekaar gemaak.  Dit het alles begin een dag toe ons Shipwreck Beach toe is.  Dit was winter en alles was wit van die stof.  Tussen die vaal grasse het die aalwyne oranje gestaan. Ek het nie ‘n idee gehad wat ek met hulle wou doen nie, maar daardie dag het ons, ons eerste aalwyne uitgehaal.  Ons was toe nog nie so geoefend soos nou nie, en moes met net ons kaal handjies daar in.  Letterlik bloed en sweet!

Die dag toe alles begin het…

Vir die eerste ruk het ek hulle sommer langs die groentetuin geplant.  Toe begin ek dink aan ‘n rotstuin by ons voordeur.  Die enigste probleem was dat daar klaar ‘n boom gestaan het.  Ek en my man kon nie oor die boom ooreenkom nie.  Ek wou die ding uit hê; hy wou hom net klein en netjies snoei.  Gelukkig het Moeder Natuur tot my redding gekom:  nà ‘n storm een aand, het ons die boom die volgende oggend op die grond gekry.  Talk about Sisterhood.  :wink:

As ek vandag na die foto’s van die begindae kyk, kan ek net smile.  Daai tyd het ek gedink dis flippen oulik.  Nou voel ek amper te skaam om dit te wys.  Letterlik net drie aalwyntjies en ‘n paar klippe.  Die gogga het egter seer gebyt, en stadigaan het ons nòg plante en klippe versamel.  Die piepklein tuintjie het mettertyd gegroei.

Ek het net gemaklik begin raak met die ‘look’ van die tuin, toe die reënseisoen aanbreek.  Ons huis het klokslag oorstroom.  Maintenance het besluit dat my tuin moet uit en dat die hele area omtrent ‘n halwe meter uitgegrawe moet word.  Daarna sou ek weer kon plant soos ek wil.  Gedienstig het ek àl die klippies opgetel, plante uitgehaal, rotse geskuif.  En gewag vir die ‘earth moving people’ om te kom grawe.  En gewag.  En gewag.

Intussen het my plante ook nie meer so vars begin lyk nie.  Toe besluit ek dat ek maar self die uitgrawings gaan doen.  Domingos van Maintenance het my aangekyk of ek mal is,  en toe ek eers daarmee begin het, het ek self oor my sanity gewonder.  Dit was blêrrie harde werk.  Dit was net ek, en my hande was rou en vol blase vir ‘n lang, lang ruk.   My gô het  later uitgehardloop, en in plaas daarvan om al die grond weg te kruie, het ek vir my ‘n klein heuweltjie gebou.  Een van my beter besluite.  :wink:

My ‘berg’

Skielik was die tuin driekeer sy oorspronklike grootte.  Ons het naweke rondgery en klippe opgetel.  Van Suid Afrika het ek plante ingesmokkel.  Ons het plante in Angola uitgehaal.  Ek onthou hoe ons  by ‘n quarry gaan spoelklippe optel het.  Bakkievragte vol.  Net ons twee, klippie vir klippie met ons hande opgetel.  Dis hoekom ek vandag ‘n hartaanval kry as mense net my klippe uit my tuin vat.

Daai tuin vertel van my tyd in Angola.  Op elke plek waar ons kom, vat ek ‘n klip as aandenking.  Op ‘n strand het ons eendag ‘n anker gesteel.  Don het sy opdrifsel-skuit aan my nagelaat toe hy die dag gewaai het.  Van Ebo het ons ‘n stukkie van die vliegtuigwrak saamgebring.  ‘n Klippie van die Dorslandtrekker begraafplaas.  ‘n Stuk sement wat Pieter vir my gebring het ‘for your garden’.  Klippe van Namibe en Lubango en Malange.

Soos ons versameling plante en klippe groei, groei die tuin saam.  Hy het nou al om die hoek gegaan – waar die kraan is.  Die nuwe deel is nie juis meer ‘rotstuin’ nie.  Daar is vlamlelies van Ebo en Malange.  ‘n Pienk onbekende bossie van Tunda Vala.  En my grootste – letterlik en figuurlik – flater:  ‘n kremetart.  ‘n Jaar gelede was dit ‘n meter hoë takkie, niks meer as ‘n stewige spriet nie.  Slim wat ek is, gaan plant ek hom langs ons undercover parking.  As ek dalk gedink het ek gaan al weg wees voor sy grootte ‘n probleem gaan word, het ek myself deeglik misgis.  :shock:

Die ‘baba’-kremetart

Nou is dit amper twee-uur.  In die oggend.  :wink:

Eintlik wou ek net oor die bouers gebiets het, maar nou ja…    :lol:

Posted in sommer, Tuinery


0 Responses to “Bloed en sweet en liefde”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: