27
Dec
09

Lank Gelede

12 April 2009

My gerondkrappery in YouTube het weer baie onthou aan die gang gesit.  Ek weet nie hoekom ek dit nie al lankal gedoen het nie!  Die kinders verwilder my gewoonlik van elke ding wat musiek kan maak, maar hier voor my lappie het ek vrede.

Nadat ek Steve gevind  het, moes ek my ander ou gunsteling, Robbie Williams, ook weer gaan soek.  Hy het ‘n regte bad boy-image, maar ek dink hy word ook deur die swart hond gepla.  Sy lirieke is so donker, op die regte dag beskryf sy woorde hoe ek voel.  En dan’s dit tog te lekker om saam met hom in ‘n poel van selfbejammering te lê.  :wink:

Terwyl ek na Robbie luister, het dit my weer teruggevat na 2002.  ‘n Misrabele tyd in my lewe.  Pas geskei.  Alles was onseker en rou.  Ek het by ‘n klein kliniek gaan werk wat pas oopgemaak het.  Ons het iets van alles daar gedoen:  kraam, psigiatrie, post-operatiewe sorg…ag, alles, behalwe pediatrie.  Aanvanklik was ons baie stil, net ‘n pasiënt of twee op ‘n slag.  Dit was nie ‘n baie formele besigheid nie.  Gemaklik en huislik.  Een van ons eerste pasiënte was Dewald.

Dewald (nie sy regte naam nie) was ‘n 24-jarige jongman wat in ‘n rugbywedstryd seergekry het en erge breinbeserings opgedoen het.  ‘n Johannesburgse rehabilitasie-sentrum het hom sonder meer teruggepos na sy ouers.  Hulle kon niks vir hom doen nie.  Dewald het my laat skrik.  Maer, met ‘n trageostomie en gastrostomie.  Hy het op niks gereageer nie.  Met leë oë gekyk en doelloos rondgevat in die lug.  Die spreekwoordelike vegetable.  Sy ouers het ook maar finansieël gesukkel om in alles te voorsien.  Die dokters het hom dus ook  net af en toe kom besoek.  Fisioterapie was basies onbekostigbaar.  Een of tweekeer ‘n week het ‘n goedhartige enetjie gekom om sy tragi behoorlik te suig en skoon te maak.  Vir die res…Dewald was aan ons genade oorgelaat.

Ons het baie genade gehad, maar min kennis.  En min hulp van enige ekspert.  Toe doen ons wat ons guts ons vertel het om te doen.  Daar was in elk geval nie baie werk op daardie stadium nie, dus kon ons bekostig om net op hom te fokus.  Heel eerste het ons musiek ingebring.  Barokmusiek, dag en nag.  Ons het sy stywe, spastiese lyf masseer.  Met hom gepraat.  Hy was nooit alleen nie.  Later het ons hom in ‘n stoel gesit.  Sukkel-sukkel.  Ons moes hom aan die stoel vasbind; hy het altyd afgegly.  So het dit vir weke, maande aangehou.  En eendag het hy na ons gekyk.  Regtig gekyk. En geknik toe ons hom iets vra.

Kort daarna is tragi verwyder.  Gastrostomie toegemaak.  Hy kon met moeite sagte kossies sluk.  Hy kon nie praat nie, maar kon met kopknikke vir ons wys “ja” of “nee”.  Op sy verjaardag, 17 Junie, het al sy rugbymaats vir hom kom kuier.  Ons het die sitkamer mooi gemaak.  Daar was koshappies en koeldrank.  Dewald het in sy rolstoel gesit en al kon hy nie praat nie, het hy geblom.  Later daardie aand, nadat ons hom in die bed gesit het, het iemand vir hom “Ou Ryperd” gesing.  Dewald het gelag.  Vir die eerste keer.  Sonder geluid, maar ‘n properse lag!

Ek het nagdiens gewerk, sewe dae aan, sewe dae af.  In die sewe dae wat ek  gewerk het, was my kinders by hul pa.  Ek het hulle gemis.  Om te kompenseer vir die verlange, het ek al my liefde en aandag op ou Dewald uitgestort.  Ons het gekliek.  Baie gou was hy soos ‘n stout kind oor my – nie dat ek omgegee het nie.  Net ek kon hom gaan bad.  Selfs op my af dae moes ek inry om hom te bad.  Soms het hulle my gebel en gevra:  “Kom praat met Dewald.  Hy wil nie saamwerk nie.”  Hy kon nie emosie wys nie, maar as ek daar instap nà my week af, het sy oë gelag as hy my sien.  Ons het in ‘n roetine verval.  Saans sou ek my werk klaarmaak, en dan het ek by hom gaan sit op sy Lazyboy.  Ek dink dit was vir hom gerusstellend as hy in die aand wakker word, en my daar langs hom sien.

Ons het musiek geluister.  (Barokmusiek was toe lankal deur hom verban!)  Veral die Cranberries was sy een van sy gunstelinge.  Robbie Williams was my gunsteling, en ek het vir hom ‘n cd gaan koop.  Ek weet nie of hy my net wou plesier nie, maar hy het ook graag na Robbie geluister.  Ek onthou ‘n aand alleen by die huis.  Die kinders was om een of ander rede weer by hul pa.  Dit het liggies gereën en ek was alleen en verdrietig.  Toe het ek in my kar geklim, pizza gaan koop en na die kliniek gery.  (Snaaks, ek onthou die nat strate van daardie aand so goed.) Ek en Dewald het woordeloos pizza geëet en na die Cranberries en Robbie Williams geluister.  Salf vir my seer siel.

Dewald is huistoe einde 2003, kort voor ek weg is uit die dorp.  Sy ouers se geld was op.  Ek het hom by die huis gaan groet.  Hy het in sy lazyboy voor die tv gesit.  Hy het intensiewe fisioterapie en arbeidsterapie nodig gehad, maar dit was hom nie beskore nie.  Ek wonder hoe gaan dit met hom.  Ek hoop hy sit nie vandag nog voor die tv in daai stoel nie.


0 Responses to “Lank Gelede”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: