02
Dec
09

Vrede en ‘n wit lig

23 Maart 2009

Dirkie vertel my van die dag, jare gelede, toe hy deur ‘n swerm bye getakel is.  Hy was daardie jare ‘n transportdrywer, en moes iets op ‘n oubaas se plaas gaan aflewer.  Die oom het hom beduie waar om te stop, en Dirk het terug in sy lorrie geklim en gaan stop waar hy moes.  Met die uitklim, voel hy iets krap-krap tussen sy bene.  Hy dag dis ‘n grassie of  ‘n takkie en buk af om dit af te pluk.  Die volgende oomblik is die bye op hom.

Hy sê hy het instinktief eers begin doodklap, maar binne sekondes was hy toe onder die bye.  Hy’t begin hardloop,  later onder die lorrie ingeduik, maar die bye wou nie los nie.  Al wat hy geweet het, is dat hy by water moes uitkom.  Die oom van die plaas het geskree dat daar wel ‘n swembad by die opstal is, maar dat daar ‘n twee meter hoë heining om is.  Dirkie vertel dat hy in ‘n oogwink oor daardie muur is.  Sy nood was te groot.  Hy’t in die swembad gespring, en daar het die bye  vir die eerste keer laat los.

Toe begin hy opswel.  Die oubaas het hom in sy kar gelaai om hom hospitaal toe te vat.  Dis waar die storie vir my interessant raak.  Hy sê hy kon onthou hy het in die kar geklim; ‘n ou roomkleur Merc.  Op die pad het die oom hom probeer wakker hou.  Toe hulle by die hospitaal kom,  sien hy hoe die kar by Ongevalle stop, mense uithardloop en hom by die hospitaal inhelp.  Soos hy sê:  “Ek sien dit alles van bo af.  So asof ek in ‘n helikopter sit en afkyk.”

Vir ses ure het hulle met hom gespook.  Die dokter wou aanvanklik opgee, maar die suster het hom geken en gesê: “Ek ken hierdie kind.  Hy is X se seun.  Doen iets.”  Dìt het Dirkie waargeneem terwyl hy langs die dokter gestaan het.  Hulle het hom dertien keer gespuit.  Toe hy agterna met die dokter praat, was diè stom.  Hy het nie ‘n bloeddruk of  ‘n pols gehad nie.  Hy was, volgens die dokter, dood.  Die dokter  het maar gedoen wat hy gedoen het omdat die suster hom so beveel het.  Dirkie kon  hom  tot vertel wáár hulle hom gespuit het.  Die dokter kon dit nie glo nie.

Ek vra vir Dirk:  “Was jy nie bang nie?”  Glad nie, verseker hy my.  Hy het langs die dokter gestaan, maar daar was wit lig reg rondom hom.  So asof hy in ‘n witgeverfde kamer was.  Dis wat hy die beste onthou.  Die skerp wit lig.  Hy het gewonder of hy besig is om dood te gaan, maar hy was nooit bang nie.  Hy kan nie onthou wanneer en hoe hy weer in sy lyf gekom het  nie, maar toe hy wakker word was die susters besig om met skalpels die angels van sy vel af te krap.  Hy’s dieselfde dag ontslaan.  Behalwe vir die angels wat hulle vir maande daarna nog uitgehaal het, was hy 100 %.

Ek het al van ‘near death experiences’ gehoor.  Dirkie is die eerste mens wat ek ken, wat beweer hy is deur so ervaring.  Hy praat ook van ‘n vredige gevoel, en die wit lig, soos baie ander mense ook vertel.

Ek wonder.

Ek wens heimlik.  Ek sal nie omgee om self so wit lig te sien nie. Vrede te ervaar nie.  Al is dit net vir ‘n klein rukkie.


0 Responses to “Vrede en ‘n wit lig”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: