30
Nov
09

Mense van my Asem

(Dankie aan Steve vir die titel.  Oeps, en as jy nou hier is omdat jy dink die inskrywing gaan oor hom, SORRY!)   :wink:

Ek kan boeke skryf oor my Angolese  werknemers.  Soos ek hier sit, is my ousie, Domingas, besig om my koue hoendervleis te gee.  So lief soos die tuinboys vir hul pangas (catanas, soos hulle dit noem) is, so lief is sy vir haar mop.  Ek het die stryd al opgegee.   Soos nou, byvoorbeeld.  Sy mop die vloer nog lekker, sien ‘n spinnerak of merkie op die muur, en swipe dit dan sommer met die mop. Nevermind dat daai einste mop al hondepiepie opgevee het nie…  Hoeveel keer ek haar gevra het om die vloer èèrs te vee en dàn te mop, is ook nie meer ter sprake nie.  Sy mop eers, en dan kom sy met die vacuum cleaner agterna.  ‘n Besem is nie iets wat gemaklik in haar hande pas nie.

My tuinboys gee my ook die ritteltits.  As mens verby die daaglikse irritasies kyk, is daar ‘n groot liefde tussen ons.  Hulle noem my ‘Mama’.  Dit laat my soms soos ‘n ou, ou tannie voel, maar ek aanvaar dit maar in die gees wat dit gegee word.

Gister vra ek Sebastaõ om die bome by die onderste huisies te snoei sodat mens darem onderdeur kan loop.  Die takke hang amper op die grond.  Gelukkig het ek ‘n ruk later weer ‘n draai daar gaan maak.  Ek kry hom hoog bo in die eerste boom, besig om die arme ding heeltemal te demolish.  Wat hulle met ‘n panga kan doen, is ongelooflik.

Ek het die weedeater aan Almeida toevertrou.  Om elke dag in die son te staan en randte te sny, het my nie meer aangestaan nie.  Binne twee dae het hy die kosbare stukkie toerusting nutteloos gehad.  Ek kon nie raas nie, want dalk het ek hom nie mooi onderrig nie.  Maar toe moes hy die grasrandte met sy panga gaan doen.  ‘n Stadige, stadige manier.  Maandag en Dinsdag het hy dit gedoen.  Toe ek vanoggend uitstap, kry ek hom in my rotstuin.  Die rotstuin is ‘n veilige hawe, het ek agtergekom.  As hulle die dag lus is vir ‘time-out’, gaan sit hulle daar en trek kamma bossies uit.  Hulle dink hulle doen my ‘n groot guns, en ek bars maar nie die bubble nie, maar my hart krimp ineen as ek sien hoe my arme tuintjie verrinneweer word.  Soos nou.  My vuurpyle, wat nog nooit geblom het nie, is stomp afgesny.  :shock:

Pedro is aangestel met net een rede:  hy moet vuilgoed optel en die sementpaadjies vee.  Ek weet nie of hy dink dis ‘vrouewerk’ om ‘n besem te hanteer nie, maar as ek hom kry, is hy besig om iets anders te doen.  En vir hom is daar altyd werk.  Die expats hier maak my eintlik naar.  Drink bier en neuk hulle blikkies en botteltjies eenkant neer.  Gister het een ‘n slang doodgemaak en sommer verbrand, reg voor sy huis, op die grasperk.  :evil:

Alhoewel ek net moet werk uitdeel en toesig hou, gebeur daar nie veel tensy ek ook pens en pootjies saam met hulle in die tuin werk nie.  Ek vermoed dis hoekom hulle nog baie respekvol is teenoor my.  Hulle het my al sien bome uithaal, gate grawe, klippe ronddra, skoffel…daar is nie iets wat ek van hulle verwag wat ek nie self sal doen nie.  Maar die son vat sy tol.  Ek lyk permanent soos ‘n alkoholis met my rooi neus.  Die moerawiese groot sonbrille maak darem die res toe.  :lol: En ek het pragtige bruin voetjies – waar die cheap Crocs die son toelaat.

Met al hul dinge,  is die tuinboys my lifeline in Angola.  Sonder hulle sou ek lankal die kluts kwytgeraak het.  Dis met hulle wie ek ‘n ‘geselsie’ kan aanknoop in basiese Portugees en baie gebaretaal.  Ek kan hulle enigiets vra, regtig enigiets, en hulle sal dit vir my doen.  As ons vir ‘n naweek weg was, wil hulle altyd weet waar ons was en wat ons saamgebring het.  Toe ons Ebo toe was, was hulle amper in trane toe ek hulle vertel het van die vier Suid Afrikaanse soldate wat nog daar begrawe is.  Sulke goed maak my sommer aangedaan.

Eintlik slaan hulle my dronk.  Hulle werksetiek stink, maar…

Hulle is verdraagsaam en tolerate en vergewe my, my bad moods.  Hulle stel intens belang in my wel en wee.  As ek die dag ‘af’ is, hou hulle hul afstand en vra nie vrae nie.  As ek happy is, is hulle saam met my bly.

Sonder hulle was ek lankal terug in Suid Afrika.


0 Responses to “Mense van my Asem”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: