29
Nov
09

Siedend

18 Februarie 2009

Ek het al van Thabiso, Pieter se maatjie vertel.  Ek het altyd in my mou gelag vir sy pa en hom die “swart Boer” genoem.  Hy ry ‘n groot 4X4, het twee quadbikes (vir hom en Thabiso) en is alewig besig om aan iets in die garage te werk.  Nie my idee van ‘n tipiese swartman nie.

Ons het gister weer Angola toe gevlieg.  Skaars ‘n uur nadat ons by die huis aangekom het, kry ek ‘n “Please Call Me” van Bruce.  Ek bel hom, en kon dadelik hoor die kind is ‘nie reg nie’.  En toe ek dié storie hoor, was ek ook geskok.  En briesend.

Hy het gistermiddag van ‘n rugby-oefening gekom.  By ons kompleks, kon hy nie deur die hek ry nie – Thabiso se pa se bakkie het in die hek-opening gestaan.  ‘n Ander bakkie het agter syne gestaan. ‘n Witman het uitgeklim en by sy venster gaan staan en skree.  Thabiso se pa het uitgeklim, en die volgende oomblik begin die witman hom met die vuis in die gesig slaan.  ‘n Hele paar houe.  Toe het hy mnr. Thabiso se bakkiesleutels gegryp en weggery.

Bruce sê hy was so geskok, hy kon nie glo wat hy voor sy oë sien afspeel nie.  Dit was oor binne sekondes.  En die rede vir die aanranding:  Thabiso se pa het glo êrens in die dorp nie ‘reg’ gery nie. Die man het hom agtervolg en by die hek kom vastrap.  Bruce het uitgeklim en die pa gaan help.  Hy kan nie oor die toestand van die man se gesig kom nie.  En sy verslaentheid oor wat gebeur het.

Bruce sê:  Ma, ek voel so sleg.  Ek voel so skaam.  Dat een van MY mense so barbaars kan wees.  Ek het sommer lank by Thabiso se pa gebly, want ek wou nie hê hy moet dink dat alle witmense so sleg is nie.

En laat gisteraand stuur hy vir my dié sms:   Ek kan nie vir ma beskryf hoe kwaad ek is nie. Die arme man, wens net ma kon sy gesig sien.  Kan nou glad nie slaap nie. Is daar nie iets wat ek kan doen nie?

Ek kan nie regtig antwoorde gee van hier af nie.  Gelukkig het hy die man se bakkie gesien, dis een of ander konstruksie-maatskappy voertuig.  En hy sal die man herken as hy hom weer sien.  Al wat ek kan voorstel is dat hy aan die polisie vertel wat hy gesien het.  Dis nou as Thabiso se pa ‘n saak van aanranding sou wou maak.

Die hele storie maak my woedend.  Daar is nog te veel wit mans wat met ‘n AWB-mentaliteit rondloop en dink hulle kan maak en breek.  Wat dink Thabiso se pa vanoggend van witmense?  Sien hy die ding in perspektief?  Een wit man het hom opgefoeter,  en ‘n wit seun het hom kom help?  Of dink hy net aan die wit man wat hom kom slaan het?

Ek wil my goed oppak en maan toe trek.  Waar daar nie mense is nie.


0 Responses to “Siedend”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: