29
Nov
09

Maggie: die slot

3 Maart 2009

Dit sou veiliger gewees het om nie vanaand hierdie inskrywing te maak nie.  Veiliger, maar nie makliker nie.  Dit sou veiliger gewees het, omdat niemand ooit die waarheid sou weet nie; niemand sou  die geleentheid hê om te oordeel of vinger te wys nie.  Maar dis nie maklik om nie te praat waarvan die hart vol is nie.

So kort as vier maande gelede het ek (half trots) na myself verwys as iemand wat regtig nie ‘n diereliefhebber is nie.  Ek gaan steeds nie oorboord nie:  diere is en sal nooit my ‘babas’ wees nie.  Ek trek nie vir hul kleertjies aan en behandel hul soos klein mensies nie.  Ek sal nooit so lief wees vir ‘n dier soos ek vir my kinders is nie.

Maar hierdie Maggie-hond het iets aan my gedoen.  Ek kan dit self nie mooi verklaar nie.  ‘n Honde-asem staan my nie aan nie, maar as sy met haar voorpootjies teen my bed staan en met soveel verwagting na my kyk, dan tel ek haar maar op.  Dan slaap sy in die holte van my arm met haar nat neus in my nek.

Dis nie net vir my wie sy holderstebolder deurmekaar het nie.  My man pes diere.  Punt.  Maar saans lê hy saam met haar op die mat en hou haar vas tot sy aan die slaap is.  Nes hy met een van sy knieserige kinders sou doen.

Maggie is vir alles, van ‘n gebreekte rib, tot ‘n virus, tot wurms behandel.  Maar Maggie kwyn voor ons oë weg.  In die laaste dag of twee het sy letterlik net vel en been geword.  Sy eet haar hoender-en-rys mengsel wat Mauritz voorgestel het.  Hel, sy vrek daaroor.  Maar sy word net maerder en maerder.  Sy het haar wurmpil in, en die pakkie sê dis vir ‘hookworms, tapeworms, roundworms and whipworms’.   Sy’t antibiotika gehad, kon ek ontsyfer op die veearts se kwitansie, en nog goed wat ek nie kon ontsyfer nie. Ons weet nie meer wat om te doen nie.  Sy is so swak, sy kan skaars een voet voor die ander sit.

More word Maggie ‘uitgesit’.  ‘Put to sleep’  Whatever jy dit wil noem.  Vier maande gelede sou ek ook nie ‘n issue daarmee gehad het nie.   Ek is grootgemaak met die idee dat mens nie ‘n dier laat ly nie.  Nou wonder ek.  Mens laat nie ‘n geliefde mens uitsit omdat hy ly nie.  Vir wie is ‘genadedood’ genade?  Vir die dier, of vir sy mense?

My hart is baie seer oor hierdie brak.  Sy het nie eintlik ooghare vir Pieter nie, maar sy is verskriklik lief vir my.  Sy kan skaars loop, maar sy wankel-waggel na waar ek ook al is en val in ‘n hopie op my voete neer.  En daar bly sy tot ek loop,  dan volg sy my net.  Sy is ‘n droewige figuurtjie, maar as mens vir haar sê “Maggie, Maggie!”, dan blink haar ogies en waai haar stertjie so moedig.

Dit voel onwerklik, ongelooflik.  Vanaand is Maggie se laaste aand by ons.


0 Responses to “Maggie: die slot”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: