15
Okt
09

Camping is for fools

27 Januarie 2009

My man hou van kampeer.  In Angola beteken dit net een ding:  slaan jou tent op êrens langs die strand.  Aanvanklik was dit vir my ‘n interessante nuutjie, maar na drie jaar het ek nou hartlik genoeg gehad.  Mý ideale outing is om die bakkie te pak en onbekende paaie te verken.  Net ry en ry en ry en ry…  :wink:

In die eerste plek is die pakslag ‘n pyn in die agterwêreld.  Ons het klein en eenvoudig begin, maar my ou dierbaarste is ‘n innoveerder.  (Is daar so woord?)  Nadat hy genoeg gesukkel het met flitse en lampe, het hy sy eie elektriese ligte ‘ontwerp’.  Dit werk soos ‘n bom, maar is ‘n moerse groot konstelasie.  Die gloeilampe word op sponsies vervoer.  En net hy weet hoe die kontrêpsie werk.  Na die tent, gazebo, stoele, tafel, kruideniersboks, matrasse, slaapsakke, talle coolboxes en toolbox gelaai is, is daar skaars plek vir handdoeke en klere.

Die afpak en opslaan is nog ‘n groter gedoente.  Eers sloeg jy deur die witwarm sand, heen en weer, heen en weer.  Daai son is nie genadig nie.  Maar mens byt maar op jou tande en maak klaar.  Voor ek die gazebo vir die ousie gegee het, was dit die een ding wat ek gepes het met ‘n passie.  Dit was ‘n paaltjie 4-pas op paaltjie 3 – en paaltjie 2 pas op paaltjie 1 – en waar de moer is paaltjie 6- affêre.  Dan moet die tuisgemaakte skadu-net gehang word, net totdat Pa besluit dit is nie op die regte plek nie want die son gaan hier of daar opkom, en dan moet die hele storie weer losgemaak word en op die regte plek gehang word.

copy-of-im000675

Kosmaak op die strand is ook nie idillies nie.  Die vuurtjie moet uit die wind se pad gemaak word, anders waai alles vol sand.  Maak jy ‘n potjie, moet mens mooi kyk waar jy die deksel neersit as jy die gedoente ‘n roer wil gee.  As jy nie Chicken-a-la-Grit wil hê nie.  Skep mens uiteindelik op, het die borde in elk geval al ‘n sandlagie op.  Die gekouery is maar girts-girts tussen die sand deur, al die voorsorgmaatreëls ten spyt.

‘n Aand op die strand is ook nie volmaak sonder ‘n heerlike bonfire nie.  Se gat.  Eers is dit die groot soektog na hout opdrifsels.  Vir die mans is dit ‘n lekker outing.  Vat die bakkie en ry vir ure op die strand op soek na hout.  Een bakkievrag hou ‘n aand.  Volgende dag is dit dieselfde storie.

Nie goed vir global warming nie...Nie goed vir global warming nie…

As die vuur aan die gang is, sit die mans agteroor en ontspan.  Dan moet die vroulike skaap die hele tyd ‘n wakende ogie hou oor die telgie (ook manlik) wat nie die vuur kan weerstaan nie.  Nog ‘n houtjie moet op, en nog een, en nog een…  Die noodhulpsakkie word meestal vergeet, en daar is nie mutie vir brandwonde nie.  My nerwe is gedaan tot hy uiteindelik gaan slaap.

Bly weg van die blerrie vuur!Bly weg van die blerrie vuur!

Toiletgeriewe is ook non-existent.  As niemand kyk nie, klem jy ongemerk jou velletjies toiletpapier vas en gaan soek ‘n beskutte plekkie.  Wat ook non-existent is.  So, jy hoop maar die ander bly besig met visvang en drentel nie in jou rigting nie.  Dit sorg vir ‘n paar ongemaklike oomblikke.  Op jou hurke, terwyl jou kop basies al in die rondte draai om te kyk of als nog veilig is.  En dan kom jy agter jy piepie nog nie, so gestress is jy.  En moenie ‘n nood in die aand/vroegoggend kry nie.  Ek het eenkeer by die tent uitgestrompel en in my spore vasgesteek.  Krappe, en moerawiese goed ook.  Op die ou einde moes Pa my vergesel terwyl hy die flitslig op my agterstewe skyn.  Ek het nie ‘n knyp aan my boud gefancy nie.

Oggendkoffie is al wat lekker is.  Die vuurtjie van die vorige aand smeul nog, en die primitiewe keteltjie word in die kole gesit.  Dis heerlik koel, en mens raak amper lus vir die dag.  Dan kom die son uit, en al daai drome verdamp soos dit warmer en warmer word.

As dit tyd word om op te pak, is die meeste maar traag.  Wie kan hul kwalik neem?  Uitgeput na die ‘wegbreek’  by die see, het niemand rêrig energie daarvoor nie. Boonop is jy taai en vol sand in elke onmoontlike gleufie.   Maar, dit moet gedoen word.  Tente en gazebo’s afbreek, sand tevergeefs probeer uitskud, opvou, en dan weer heen en weer deur die warm sand.

Hoekom skryf ek daaroor?  Ek het weer na vorige kampeersessies se foto’s gekyk, en dit lyk so blêddie idillies.  Maar ek weet van beter…

copy-of-1000-42


0 Responses to “Camping is for fools”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar


Statistieke

  • 29 968 keer gelees
Oktober 2009
M D W T V S S
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031