12
Oct
09

Hoop

27 Januarie 2009

Nou die oggend loop ek saam met Pieter skool toe.  Skaars buite die hek, of sy mater, Thabiso, diè se ma en sy sussie kom ook te voorskyn.  Ook oppad skool toe.  (Ek het intussen uitgevind dis Thabiso, nie Thabetho nie.  Pieter kan nog steeds nie ‘n ’s’ uitspreek nie!)  Nou, die twee is baie erg oor mekaar.  Dadelik los hulle die ma’s en hardloop na mekaar toe.  Ek dog toe, shame, die tweetjies is so bly om mekaar te sien, ek sal maar al drie skool toe vat.  Die ander ma is maar tog te bly, want sy sit nog met ‘n pap baba in haar arms, en daar gaat ons.

Dis moes ‘n vreemde prosessie gewees het: ek, met die dogtertjie aan die hand, voor, en Pieter en Thabiso hand aan hand agter ons.  En hulle gesels kliphard oor goed wat ek nie verstaan nie.  Op ‘n stadium hoor ek Pieter sê: “Thabetho, I love you.”  Die love word sommer so uit die hart beklemtoon.  “You’re my best friend in the whole wide world.”  Arme Thabiso kry so skaam, maar knik maar net sy kop.  Ek het innerlik gelag.  As my arme ma dit kon sien!  Haar boere-kleinseun wat net Ingels praat (nugter weet hoekom) en so lief vir sy swart maatjie.

My ma het my verras.  Toe ek haar agterna die storie vertel, het sy net gelag.  En gesê:  “Ons moet maar liewer nie ons vooroordele ons kinders s’n maak nie.”  My ma is tagtig.  ‘n Stoere boeretannie wattikakvattie.  Maar wys.

In elk geval, gister sit ek vasgenael voor die kassie en krieket kyk.  Die Proteas het my so trots gemaak.  Nie net oor die wen nie, maar omdat hulle duidelik ‘n hegte band het.  Goed oor die weg kom en mekaar verstaan.  En op ‘n stadium het ek die storie só gekyk en gewens dat hulle verteenwoordigend is van die groter Suid-Afrikaanse prentjie.  Waar daar plek is vir elkeen om ‘n rol te speel, ongeag kleur, taal of geloof.

Ek het hoop vir die jonges.  Ek dink hulle gaan die wa deur die drif kry.  Maar dis veral Pieter en Thabiso se geslag wat heeltemal anders gaan wees as wat ons nou is.  Mits hulle die geleentheid kry om mekaar te leer ken.  Mits hulle nie opgesaal sit met ons vooroordele nie.


0 Responses to “Hoop”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: