12
Oct
09

Casper en S.A.A

22 Januarie 2009

Kaalvoet se ongelukkigheid met SAL het my laat dink aan Casper de Vries se storie toe hy eendag Eersteklas met dieselfde lugredery gevlieg het…  :lol: (Ek vrek oor Casper, maar moenie dat my ma dit hoor nie…)

Toe ek lees dat ons eie lugdiens diep in geldelike shi..uld is en dat daar nou ernstige veranderings in die infrastruktuur van die maatskappy gaan kom, het ek onwillekeurig teruggedink aan een van die walglikste vlugte wat ek ooit in my lewe gehad het, en dat dit op die einste redery was.

Ek praat nie nou van eksterne faktore soos turbulensie, wind of donderweer wat ‘n vlug heel ongemaklik kan maak nie.

Die ergste wat ek ooit onder sulke omstandighede gevlieg het, was toe ons met British Airways in Johannesburg binne-in ‘n storm opgestyg het. Mense, daai vliegtuig het só geruk en gepluk en geskud met die opstyg dat selfs ek begin bid het. Die enjins het geklink soos ‘n reus wat sit en pattie stoot op die toilet, maar nie die ding kan uitkry nie. “Hinnnnnnnn…Uuuhhhinnnnn…Aaaaaaarrrrggnnnnn.”

Verstaan jy?

“O Here, ons gaan sterf!” het iemand skielik gegil. Dit was die pilot.

Nee, grappie, dit was ek.

Gelukkig het ons daardie vlug oorleef en ek het belowe om nooit ooit weer tydens ‘n storm in ‘n vliegtuig te klim nie. Ook om in die vervolg altyd, maar altyd, ‘n ekstra onderbroekie in te pak by my handbagasie.

Maar terug na my storie oor die walglike vliegervaring. Ek het gevlieg van Djoubêg na London en het besluit om myself te trakteer deur ‘n stoel heel voor in die vliegtuig te bespreek. Ons praat nou van Blue Diamond Chip on the Shoulder Upperclass. Mens verwag natuurlik uitmuntende eg-Suid-Afrikaanse supergasvryheid as mens jou bepoeierde alie in daardie gedeelte van die vliegtuig gaan neerplak. Die personeelkorps wat ingedeel was om hierdie afdeling van die kajuit te beman, was klaarblyklik self nog nooit voor in ‘n vliegtuig nie. Miskien was hulle nog nooit in ‘n vliegtuig nie.Ek weet nie of hulle hul opleiding dalk oor die internet ontvang het of deur UNISA nie, maar hulle bekke het oopgehang terwyl hulle deur die vliegtuig gestrompel het.

Die een persoon wat wel gelyk het asof hy weet wat hy doen, was die Purser. Dis die hoofman oor honderd wat almal altyd welkom heet by die deur en oor die interkom aankondig dat as jy enige probleem het, jy dit nie hulle s’n moet maak nie.

Daar was twee ghêls wat ons kajuit moes bedien. Hulle het heeltyd soos gehipnotiseerde poedels agter die Purser aangeloop en verlore en bang gelyk. Dit was duidelik dat hulle nie ‘n clue gehad het wat om te doen nie. Skielik fluister die purser geïrriteerd aan hulle in Xholu (dit was of Xhosa of Zulu, ek kon nie lekker hoor nie): “Pepha xhlobile i-toiletbags!!”

Toe hol die twee met groot oë êrens heen en keer triomfantelik terug met ‘n toiletsakkie wat bestaan uit oorplugs, lipgloss, kouse en ‘n tampon.

Ná ‘n Xholu-aansporing deur die Purser, mompel een van die ghêls aan my: “Jy kan nou pis?”

Ek stamp ‘n paar keer met my linkerhand agter my oor en vra: “Can you say that again please?”

Met die tweede probeerslag hoor ek iets anders: “Cannabis?”

“My magtag,” dink ek, “hoe hoog wil hulle vanaand vlieg met ons?”

Erg verleë oor my skynbare skielike doofheid vra ek haar om asseblief stadig en hard vir my te ar-ti-ku-leer wat sy vir my wil sê.

“Canapés,” kom dit uiteindelik uit.

A-ha! Dis daardie klein happies wat hulle by cocktailparties eet. Jy weet, goed soos gestoomde salmlippies op ‘n sesamestafie, of kalfshol op rogbrood.

“No thanks!” sê ek toe maar beleefd, terwyl ek van voor af giggel vir “Jy kan nou pis”.

Ons is in die lug en kos gaan bedien word.

Die waardin kom staan by my stoel en kyk die hele spul so op en af, en verklaar aan my: “I don’t know how to get your tray out of the chair – this is my first time.”

“Your first time?” vra ek, “ever on a plane?”

“No, in First Class,” sê sy terwyl sy vroetel aan die knoppies en die TV s’n druk wat die monitor laat uitskiet en byna ‘n glas water oor my laat omval.

Die Purser kom nadergehol en trap haar weer in Xholu uit terwyl hy die tray uithaal uit die stoel se armleuning.

“So sorry,” sê hy.

“It’s OK,” sug ek.

“Hamba hlopile i-cutlery!” gil hy op haar.

Toe die etery klaar is en alle borde, koppies, vurke en plastiekmesse afgedek was, sit ek nog met my tray voor my sonder ‘n teken van enige personeel om die kontrepsie weer terug te druk in die stoelleuning.

Mens kan daai tafeltjie nie eiehandig terugdruk in die stoel nie, tensy jy uit jou stoel opstaan en dit afforseer in die armleuning. Maar jy kan nie uit die stoel uitklim as die tafeltjie voor jou opgeslaan is nie. Mens is as’t ware vasgevang in jou eie stoel.

Ek druk die hulpknoppie en ná ‘n tydjie kom my meisie aangetrippel.

“I don’t know how this thing works,” sê sy weer.

“Maybe you should go ask the Purser,” probeer ek van hulp wees.

Tien minute later. Nog geen teken van niemand nie en ek sit soos ‘n aap op ‘n raap met ‘n moerse tray hier voor my.

Gelukkig kick my 2 jaar army-opleiding in en ek leopardcrawl onderdeur die tray uit my stoel en die vliegtuiggangetjie binne. Ek gaan loer onmiddellik agter die kombuisgordyntjies in om te sien waar my hulp vandaan gaan kom, en so waar as waaragtag, daar sit my ghêl lekker agteroor met ‘n koppie tee en ‘n Bona.

“What about my tray?” vra ek

“Okeeeeee,” sê sy semi-geïrriteerd.

“And the bed?” voeg ek by.

Die waardinne is veronderstel om ná ete die passasiers se stoele plat te laat lê en dit op te maak met ‘n laken, duvet en kussings.

“I don’t know how the bed works. This is my first time,” pleit sy weer.

Ek weet nie hoe de hel hierdie klomp op die vlug beland het nie, en of daar ‘n personeeltekort was daardie dag nie, en of hulle mense van die straat af gepluk het om in te staan as waardesse nie, maar dit was ‘n skandalige affêre!

Ek het my só geskaam, want my mede-passasiers was toeriste en ek kon nie glo hóé swak diens hulle ontvang het nie. Die meeste het maar self hulle bedjies probeer opmaak of uiteindelik sonder lakens opgekrul op hulle stoele. En dis nie hoe dit hoort nie! Nie vir die astronomiese prys wat mens betaal vir Eerste Klas nie.

Deur die loop van die nag het ek siedend en koorsig van woede ‘n brief in my kop begin skryf vir die lugdiens waarin ek hulle vertel van hierdie hulpelose klomp ploeteraars op die vlug en watter ramp dit is vir die reputasie van ons lugdiens.

“Hope you had a nice flight!” sê die Purser by die deur met sy bolwangetjies en skitterwit tande toe ons by Heathrow uitklim.

“Jykanoupis” is ál wat ek kon sis.

‘n Paar dae later vlieg ek terug Suid-Afrika toe. Selfde vliegtuig. Selfde klas. Nie dieselfde personeel nie.

En dit was een van die aangenaamste vlugte wat ek gehad het op enige lugredery. Ooit.

Om Johan Stemmet aan te haal: “Ek weet nie wat dit beteken nie, maar dit beteken iets.”


0 Responses to “Casper en S.A.A”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: