11
Oct
09

Wil jy ry of wil jy bly?

19 Januarie 2009

Ek speel my lewe deur nog vir die tweede span.

Op skool was ons skool nooit die ’sterkste’ skool nie.  Ons het net af en toe rugbywedstryde gewen teen die buurskole.  Ander skole het gespot met ons skool se naam – en ek gaan dit nie nou hier noem en my arme skool weer aan ‘n klomp katlagters blootstel nie!

Verder is ek ‘n Vrystater.  Ja, daai ‘patetiese’ stukkie grond in die middel van die RSA.  Die voorwerp van grappies oor boere met kamme in hul kouse en safaripakkies.  Dít, terwyl almal weet die Vrystaat is eintlik ‘n juweel propvol kultuur en wonderlike mense.

Om die kersie oppie koek te sit, bly ek in hierdie godverlate land aan die suidpunt van ‘n pikswart, wrede kontinent.

Ai.

Maar ek is hardegat.  Vier-en twintig jaar later reken ek steeds my skool was die beste.  Ek bly al twintig jaar nie meer in die Vrystaat nie, maar dis nog my hartland.  Maak nie saak dat ons amper 30 jaar moes wag om die Curriebeker vir die tweede keer te wen nie.

En Suid-Afrika…

Op Luanda se lughawe is daar te min tafeltjies vir ons rokers.  Dis nie snaaks om sommer by ‘n wildvreemde te gaan sit en ‘n tafel te deel nie.  Ek loop vriend Donovan daar raak en hy nooi my om by hom en sy tafelvennoot te gaan sit.  ‘n Nieu Zealander.  Ek sê!  Blykbaar moet mens grovel op die grond in die teenwoordigheid van so groot man  van so fantastiese eiland.  Ek het besluit ek sterf eerder ‘n stadige, moeilike dood in Afrika vòòr ek eendag na daardie geweste  emigreer.  Voor ek nog op tipies ordentlik-Vrystaatse manier kon koeitjies en kalfies,  het hierdie heer met albei voete in my keelgat afgeklim oor kak Suid-Afrika en nog kakker Afrika.

Oombliklik was my rug stokstyf.  My gat nog harder as gewoonlik.  Later het ek opgestaan en met bewende hande op ‘n ander plek gaan rook.  Op daardie oomblik was ek reg om hom met my kaal hande te vermoor.  Tydens die vlug was ek steeds omgekrap.  Ek was geïrriteerd met Afrika.  (Alles wat die ou kwytgeraak het, kan deurgaan vir die waarheid.  Die manier hoe hy dit uitgedruk het, was arrogant ongeskik.)

Ja, as ek moet eerlik wees,  Afrika is ook tweedespan.  Glad nie so goed georden, veilig, ontwikkeld en logies soos enige ander plek in die wêreld nie.  Maar steeds…  Ek is vreeslik bly as ander mense in ander lande voel hulle is in die hemel omdat hulle snags nie hul huise hoef te sluit nie.  As hulle nie in rye hoef te staan by regeringsinstansies nie.  As hulle mediese sorg en onderwys verniet, mahala, is nie.  Pragtig.  Ek verheug my in julle oorvloed. Los om vadersnaam net kak Afrika uit en konsentreer op jou fabelagtige lewe in jou ewe fabelagtige land.  Afrika se probleme is immers nie jou probleme nie. Los dit vir ons, die mense wat hier bly.

Wat my bring by my landgenote.  As jy nie die plek laaik nie, sny maar eerder ‘n lyn na ‘n ander idilliese plek op die aardbol?  Ek is moeg vir negatiwiteit.  Dis tyd dat ons, ons vingers uit ons agterente trek en begin trots raak op die plek waar die goeie Vader in Sy wysheid besluit het om ons die eerste lewenslig te laat aanskou.  Daar is ‘n geteem oor die ANC-regering wat nie die Afrikaner se bydrae in die verlede wil erken nie.  Bogger dit!  Dis die bydrae van  mense wat al dood is.  Dis nou die tyd om  hakke in te skop en ‘n bydrae van ons eie te maak.

Ons roem ons so op ons ‘unieke’ karaktereienskappe:  kanniedoters, hardwerkend, lojaal, kamma ‘mense van Afrika’.  Se gat!  Ons wil maar nie vergeet van ons Europese wortels nie.  Noudat ons nie meer die hef in die hand het nie, dinge moeilik lyk, is dit maklik om te begin soek  na groener weivelde.  Wáár het ons so sag begin raak??  Wanneer was die lewe in Afrika ooit maklik?

Moenie my verkeerd verstaan nie.  As iemand wil emigreer, sal ek dit nooit, ooit teen hom hou nie.  Elkeen het sy redes hoekom hy/sy emigreer, en soos ek dit sien, kan dit nooit ‘n maklike besluit wees nie.   Dis egter my besluit om in Afrika te bly.  Hier is net nog so baie mense wat nie hul minds kan opmaak nie.  Ek wens hulle wil.  Afrika het nou mense nodig wat hier wil bly.


0 Responses to “Wil jy ry of wil jy bly?”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: