10
Oct
09

Hau! Hau! Hau! Hau! YEBO!!

11 Januarie 2009

Ek onthou hoe ek omtrent ‘n jaar gelede geskryf het oor my vrees vir vlieg.  Dit was amper so erg soos my vrees vir die tandarts.  Nou nie heeltemal so groot soos my vrees vir kakkerlakke nie, maar dat ek ‘n heilig vrees vir vlieg gehad het, is nie altemit nie.  Intussen het ek bietjie makker geword.  Opstyg en turbulensie het my nie meer ondergekry nie.  Landings was maar steeds spanningsvol, maar ek kon darem al sit en kyk hoe die grond nader kom en hoe ons DOEF! wiele op die grond sit.  Voorheen het ek met toe oë en natgeswete vuiste gebid vir oorlewing.

Gister sit ons toe op die klein Da Havilland met sy twee propellertjies vir die vlug huistoe.  Geen vrees in my hart nie.  Af en toe gaan die seatbelt-liggies aan as ons turbulensie tref, maar dit onstig my glad nie.  Toe die bevel “prepare the cabin for landing” kom, kom daar net ‘n effense beklemming om my hart sit, maar ek het nog goed gevoel.  Pieter hou van landings, al is hy nou banger vir vlieg nadat hy saam met die groot kinders na Air Disasters gekyk het.  Hy weet nou vliegtuie kan ‘crash’.

Hy het in ‘n halwe beswyming teen my skouer gelê, maar toe hy hoor die ‘wielietjies kom uit’, het hy opgespring en met sy gesig teen die venstertjie gewag vir die landing.  Ons het deur die digte wolkbank gegaan, en onder ons was die groen plantasies.  Mis het dik tussen die bome gehang.  Van die oop lug in Johannesburg na reënweer in KZN.  Great.  Net wat ek nodig het om my senuwees om te krap.

Die volgende oomblik tjoerrr die ‘wieletjies’ weer terug in hul boks.  Pieter sit terug en kyk my groot-oog aan.  Ek kry ‘n mini-stuipe maar hou ‘n selfversekerde front voor.  “Nee, Piet, dit reën.  Die oom gaan net wag dat dit klaar reën, en dan gaan hy land.”  Alle eer aan die klein jet-setter.  Hy bly kalm, maar sê net koraf: “Hou my vas.”  Ek gee nie om nie.  As ek bang is, is daar niks wat my soveel verligting gee as om aan ‘n ander lewende wese vas te klou nie.  Ek vou albei my arms om hom en druk my kop styf teen syne in.

Die kaptein se opgewekte stem vul die kajuit.  “Sorry about this, folks, but…” sy stem raak verlore in die rumoer om ons weer bo die wolke te kry.  Ek ontspan effens.  Dit klink darem nie of die kaptein dink hy staan by die dood se deur nie.  Ek weet steeds nie hoekom hy nie gaan land het nie, maar neem aan dis omdat dit te veel reën.  Ons vlieg skynbaar doelloos rond vir ‘n ruk, en dan begin ons weer afdaal.  Deur die wolke, weer die plantasies…en tjoerr kom die wiele uit.  Pieter sit weer by die venster, maar hou my hand styf vas.  Af, af, af… Ek haal skaars asem.  Maar nee.  Tjoerr.  Wieletjies word weer gebêre.  Op, op, op.

Die kaptein sprak geen woord nie.  Ek wil ook niks van hom hoor nie.  As hy in ‘n geveg tussen lewe en dood is, verkies ek dat hy sy volle aandag daaraan gee.  Ek en Pieter sit weer in ‘n stywe omhelsing.  Albei van ons is natgesweet.  Haal skaars asem.  Nog twee keer daal ons af.  Twee keer kom die wiele te voorskyn.  Twee keer gebêre.  As ek om my kyk, kan ek sien dis nie net ek en Pieter wat nou erg bekommerd is nie.  “Vlieënde doodskis” is ‘n term wat flietend deur my kop gaan.

Die lugwaardin begin haar rondte doen om ons gerus te stel.  “We should be going to Durban, but we’ll wait and see what the captain does. And we can’t disturb him now.”  Ja, asseblief, moet hom nie gaan steur nie.  Maar ek wonder by myself:  as hy nie hier kan land nie, gaan Durban, skaars 200 km verder, beter lyk?  Gaan ons nie op ‘n stadium sonder brandstof raak nie?  Ek weet ‘n Airbus kan ‘glide’ – soos ‘n baksteen – maar hoe goed is hierdie klein aerie met ‘gliding’?

Dan gaan ons weer deur die wolkbank.  Ons sien die plantasiebome groter en groter word.  Ek besef:  ons gaan nou land.  Ek hou Pieter styf vas.  Ek hoop en bid ons sit nie met ‘n cowboy-kapteintjie wat lus is vir rondneuk nie.  As hy die vorige kere nie kon land nie, wat het hom nou laat besluit hy kan land?  Of besef hy ook ons het uit opsies gehardloop?  Want ons is al amper ‘n uur verby ons ‘time of arrival’.

Met toe oë, elke spier tot breekpunt gespanne, klaar in die ‘brace’-posisie, wag ek vir die landingslag.  Geen geskud, geskree, geruk of lawaai nie.  Net ‘n dowwe “doef”, en toe is ons op moeder aarde.  Vir ‘n sekonde is almal doodstil, en dan klap ons uitbundig hande asof die Bokke nou net gescore het.

Ek hoor later dat die kaptein gesukkel het om op die ‘regte plek’ vir landing deur die digte, lae wolke te kom.  Nie die reën wat hom afgesit het nie.  Net die wolke.  Sjoe.  Blêrrie wolke.


0 Responses to “Hau! Hau! Hau! Hau! YEBO!!”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: