07
Oct
09

Alweer Menongue

23 Desember 2008

Tolla wil die hele Menongue storie hoor.  Wel, eintlik kan ek baie min oor Menongue sê.  Ons was nie lank genoeg daar nie!  As ek nog eenkeer “die Lopes-storie” sê, gaan ‘n paar mense seker hartverlamming kry, maar dis waar die motivering vandaan gekom het om Menongue toe te gaan.  Sandra en haar ma, Manuela, is op 20 Desember 1998 in ‘n landmynontploffing dood.  Haar pa het daarna besluit om terug Portugal toe te gaan.  Dit was vir my vreeslik.  Om in ‘n land begrawe te lê, en niemand kom ooit weer by jou graf uit nie.  Ja, ek weet, dit pla Sandra en haar ma sekerlik nie, maar veral omdat dit die 20ste presies 10 jaar gelede sou wees, was ek op hete kole om by hulle grafte uit te kom.  En ek het Tolla belowe ek sal nog eendag blomme daar gaan neersit.  My ma het twee koedoelelies gaan koop, en my kinders het dit saam met hulle opgebring van SA af.

Vir die laaste paar weke het ek en my geliefde hierdie trippie bespreek, en die kaart van alle kante bekyk.  Hy het twee dae verlof ingesit, want dit is darem ‘n stewige entjie wat ons moes ry.  Op die nippertjie (soos in ‘n dag voor ons sou ry), is sy verlof gekanseleer a.g.v druk by die werk.  Ek was verpletter, maar hy het my koeltjies ingelig dat ons wel gaan ry.  Liewe man.  Hy het geweet hoe belangrik dit vir my was. Vrydag, na werk, is ons hier weg.

Die roete waarop ons besluit het, was Dondo-Quibala-Huambo-Kuito-Menongue.  O ja.  Sonder ‘n GPS.  Na dese weet ons dis verseker die een ding wat ons moet aanskaf.  Die eerste aand het ons ses ure gery, tot net voor Huambo.  Geen probleme nie:  die pad is lieflik geteer, met tot reflektortjies op die geel strepe èn die middelste stippellyn.  Ons het amper halfpad gery, en ons was baie optimisties oor die pad vorentoe.  Het selfs gedink ons gaan ‘ekstra’ tyd hê, en ‘dalk kan ons bietjie verder ry tot by Cuito Cuanavale’!!  :shock:

angola-map1

Ek en my man spot altyd dat ons nooit moet sê “die pad lyk mooi” nie, want oombliklik verander dit in iets minder goed.  Dis wat toe ook na Huambo gebeur het.  Die teerpad het verander in ‘n grondpad.  Nie te sleg nie, mind you.  Ons het ons roetetjie getrou gevolg, maar by Chinguar moes ons die pad byster geraak het.  Toe ons weer sien, is ons op ‘n slingerpaadjie in ‘n grasland.  Dit het glad nie soos ‘n hoofpad gelyk waarop ons veronderstel was om te wees nie.  Dit was nie ‘n slegte paadjie nie, en die natuur was iets wat ons nog nie voorheen in Angola gesien het nie.  Fyn grassies, talle pragtige veldblommetjies. Niks van die robuuste plantegroei wat ons al gewoond geraak het nie.  Omdat ons gedruk vir tyd was, het ons met die wegspringslag ooreengekom om nie te stop om plante uit te haal of kerke te snap nie.  Dáár het ons weerstand verkrummel:  ons het ‘n paar plantjies uitgehaal.  :oops:

By ‘n klein-klein village het ons besef ons is op die verkeerde pad toe die locals dof na ons kyk as ons die pad na Kuito vra.  Hulle beduie ons na Cangala.  Cangala was darem op ons oorspronklike roete, en na ure se gery, kom ons uiteindelik weer op die hoofpad na Kuito.  Eenuur daardie middag kry ons die afdraaipad na Menongue.  Nog net 300 km oor, dan’s ons daar!

Wel, dit was die langste 300 km van my lewe.  Die pad kan mens rofweg in drie dele verdeel.  Die eerste deel is hoofsaaklik grondpad met stukke teer tussen-in.  Groot gate in die pad.  Omtrent so 150 km daarvan.  Die tweede deel is ‘n snotterige desvio (ompad) wat tantalizingly naby langs die nuwe teerpad loop.  Die derde deel is is teerpad, maar amper erger as die eerste twee stukke.  Slaggate oral.  Diep slaggate.  Om die kersie op die koek te sit, het dit begin reën kort nadat ons die Menongue-pad aangevat het.

Seker twee uur later vat ons ‘n breek.  Skaars 100 km ver gereis.  Staan sommer styf teen die pad.  Ons het vir die eerste keer ‘n “Warning Landmines”-bordjie gesien.  ‘n Ou ta kom aangestap en kom skud hand.  Hy lag met kort, bruin tandstompies.  Vra vir sigarette en ‘vuur’.  En gee ons hoop – êrens vorentoe gaan ons ‘asphaltos’-pad kry…  Ek moet erken, ons het later gewonder hoe ver hierdie ou man rêrig travel – dit het net nie gelyk of ons ooit weer teerpad gaan kry nie.

015

Later is ons op die desvio, en dit sous. Ten minste is die pad nie meer stamperig nie, maar nou skaats ons kort-kort oor die pad.  Lorries het diep vore in die modder gery.  Uit die desvio nòg desvios waar bruggies weggespoel het.  By sommige van die tydelike bruggies het ek my doubts gehad, maar Pa ploeg vreesloos voort en stadig vorder ons.  Heelwat oorblyfsels van die ooglog lê en roes langs die pad.

008-copy1

Intussen kon ek sien my droom om Menongue in daglig te sien, gaan nie realiseer nie.  Dis al sterk donker toe ons uiteindelik die teerpad tref.  Ek weet nie of ek net gewoond is aan SA se baie ligte nie, maar Angola in die donker maak my bang.  Bykans geen verkeer nie, geen maanlig, geen sterre, die reën val dreigend en hard en ruie bosse langs die pad.  Stuff nightmares are made of.  Omtrent 50 km van Menongue val die bakkie se ligte op ‘n mens met klere wat besonder baie na  policia lyk.  Ek gooi vervaard bierbotteltjies in ’n sak en my man stop.  Dis twee tieners wat motorfietsprobleme ondervind.  Die agterwiel is pap.  Sagmoedige Neelsie pomp dit gou vir hulle op, en hulle vat die pad, na duidelike instruksies aan ons dat ons agter hulle moet bly.  Vyf minute later kry ons hulle weer.  Die agterwiel is moer toe.  Sal ons hulle asseblief oplaai, saam met die bike, en ‘n lift Menongue toe gee?  Die plante word vorentoe gebring, die twee koedoelelies op my skoot, en die twee latte klim dankbaar onder die seiltjie in terwyl hulle die motorfiets met genade vashou.  En eintlik het ek beter gevoel.  Nie meer alleen in die donker nie.

Dis nege-uur toe ons Menongue se liggies sien.  ‘n Verbasend groot plek.  Op Google Earth het hy nie naastenby so groot gelyk nie.  Nadat ons die twee jongelinge afgelaai het, volg ons die aanwysings op die kaartjie wat ek van Google gemaak het.  Om die sirkel, verby ‘n driehoekie… Niks.  Later volg ons elke been van die sirkel, maar steeds niks.  En stadig tik die minute en ure verby…  Op ‘n stadium staan ons by ‘n stopstraat en hink en pink watter kant toe.  Toe manlief uiteindelik sy besluit neem, hoor ons ‘n dringende gefluit.  ‘n Polieste, en hy lyk nie gelukkig met ons nie.  Beduie wild ons moet aftrek, en storm vooruit met ‘n groot gun oor sy skouer.  Ons is witgeskrik.  Hy kom staan by my man se venster en praat kwaai in Porra met ons.  Gelukkig bly ons ordentlik. “Bon noite, senõr”.  Ek hoop ons word hiervoor vergewe, maar my man se oorlewingsinstink skop in.  Hy klim uit, sit ‘n moedelose gesig op, gooi sy hande in die lug en begin verduidelik.  Ons kom van Luanda af.  (Amper die waarheid.)  Ons is op soek na twee familielede se grafte. (Jammer, Lopes-gesin.)  Ons wil gaan blomme neersit. (Waarheid)  Hy ruk die seiltjie oop en wys hom die twee koedoelelies.  Volgende druk hy die ‘kaart’ in die ou se hande.

Die polisieman verander onmiddellik.  Si, si, hy verstaan, maar my man moet meer versigtig ry, hoor?  Hy kyk na die kaart en ‘n liggie gaan aan.  Hy beduie ons moet hier reguit ry, daai regs draai, daar links…en…en… Die plek waar ons uitkom is sonder straatligte. Pikdonker.  Reën.  Stukke veld.  Geen begraafplaas nie.  Ons ry doelloos daar rond.  Dis later 11 uur, en ek is lus en bars in trane uit.  Al die pad…vir niks.  My man vat ‘n desvio.  Ek baklei nog met hom, want hoe sal ‘n desvio jou na ‘n ou begraafplaas lei… en die volgende oomblik val die karligte op…die begraafplaas.  Toe huil ek regtig.

Tolla se aanwysings, foto by sy storie en Google Earth se doubtful inligting help my.  By die hekkie in, dadelik regs, amper by die ingang, geen die muur.  Tolla, geen grafstene nie?  Ook nie twee hope nie.  Net een bultjie.  Dis die enigste moontlike plek.  Die ander het grafstene op, en nie een is vir ‘n Lopes nie.  Terwyl die reën (nou) saggies val, maak ek ‘n plekkie skoon en maak die gate vir die lelies.  Plant hule en druk die sandgrondjies stewig vas.  En dink aan die dag, 10 jaar gelede.  Soveel bloed, soveel hartseer, deur die eeue, in Afrika.  Dalk was ouman Lopes reg?  Afrika is dalk nie vir ons witmense nie.

Met die lelies in die grond, het ons tyd finaal uitgehardloop.  Ons ry uit Menongue, moeg, maar tevrede.  Drie-uur het ons bietjie geslaap en sewe-uur was ons weer aan die gang.  Om tyd te probeer spaar, het ons die desvios geïgnoreer en op die teerpad gery.  Gelukkig geen moeilikheid opgetel nie. By Huambo het ons gestop om iets te eet (in die Ritz-hotel, nogal) en diesel in te gooi.  En verder gery.  Maandagoggend, twintig voor vier, stop ons voor ons huis.  My man gaan klim in die bed, want 8 uur moet hy gaan werk.  Ek drink eers koffie en lees deur die blogs.  En sien dat 20 Desember ook vir Tolla betekenis gehad het.  Ek’s bly ons het gegaan.  Ons ken nie die Lopes-familie nie, en ook nie vir Tolla nie, maar ek’s dankbaar ons kon namens hom Saterdag langs daardie twee grafte staan.  Tog nie vergete nie.

1423658858_e6b0355aec1


0 Responses to “Alweer Menongue”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: