05
Oct
09

Koek en toekennings

24 November 2008

Hierdie stadige internet-konneksie is nou ‘n afgesaagde storie, maar dis ‘n feit soos ‘n koei.  Ek gaan vandag twee possies in een doen, want (a) ek gaan nie die geduld hê om elke dag deur hierdie marteling te gaan nie, en (b) stadige internet ten spyt, ek het darem nou internet maar dalk nie more nie!   :lol:

POS 1

Pieter het die 20ste verjaar.  Ek het, soos julle weet, grooooot planne gehad om die dag vir hom sommer super-duper spesiaal te maak.  Ongelukkig is ek en Pa ewe groot swakkelinge, en die mannetjie het êrens gehoor sy verjaardag is sommer om die draai.

So het ek hom die aand van die 16e in die bed gesit, en hy het met groot, hoopvolle ogies gevra of dit nie more sy bifday is nie.  Ek en Pa het die hele aand daaroor gelag, maar teen 1 uur die oggend het ons mekaar in die oë gekyk en besluit: more gaan sy verjaardag wees.

Daar, in die na-middernagtelike ure, het ek die bokskoek aanmekaar geslaan en begin bak.  Pa het ballonne opgeblaas en ‘n bos aan sy deur gaan hang.  Sy geskenk het bietjie probleme opgelewer.  Ek het geskenkpapier vergeet.  Boer maak egter ‘n plan, en aliminiumfoelie met  rooi Kersfees-tinsel het op die ou einde heel feestelik gelyk.

Die koek het ek toe versier met….(dankie, Jaco en Sonkind!) karamel en blink balletjies.  Die blink balletjies was Pieter se keuse, en ek het dit maar mildelik oorgestrooi.  So laat in die aand was die inspirasie vir snaakse vorpies/temas bietjie min, en in elk geval het ek dit ook reggekry om die koek self bietjie te breek.  Maar, die koek het baie fraai gelyk, veral na die gekartelde kersies en nommer 5 op is.

malange-049

Die volgende oggend vroeg (ek was nog baie deur die weer) het Pieter by my in die bed kom kruip en in my oor gefluister:  “Ma,  wat is op die kas?”  Dit was die blink geskenk wat daai ogies natuurlik nie kon miskyk nie, en ek het maar my moeë liggaam uit die bed gesleep en gaan verjaardag hou.

malange-052

Die koek was ‘n treffer.  Sy gesiggie het behoorlik gestraal.  Gelukkig weet die arme kind nie van beter nie, maar hy het gedink sy koek is die beste in die weste.  En vir die hele dag verder het hy net koek geëet. (En hierdie treurige ma het dit toegelaat!)

POS 2

Sandra het my vereer met ‘n blogtoekenning vir ‘n bydrae gelewer tot die bloggemeenskap.  Dankie, Sandra, ek beskou myself nie as so verdienstelik nie, maar noudat ek hom het, gaan ek vir hom hou!  Die reëls vereis dat ek 5 verdere mense benoem wie ek dink ‘n bydrae lewer (Engels of Afrikaans) en ‘n link gee na Sandra, wat my benoem het.  Oukei, dit klink nou erg deurmekaar, maar hopelik vang julle wat ek bedoel!  Ek is bly ek kan 5 benoem.  Gewoonlik is dit mos net 2 of 3, en daar is hopeloos te veel goeie blogs waaruit ‘n mens moet kies.  Na ernstige oorweging het ek op die volgendes besluit:

1.  Sonkind:  ek hoop sy sien dit nie as ‘n beleding nie, maar in my kop het ek hierdie beeld van ‘n wyse, grys antie wat nie tyd het vir kinderk…nonsens nie.  Sy sien ‘n ding soos hy is, en is nie bang om dit te sê nie.  Boonop skryf sy my altyd in ‘n hoendervleistoestand in.  Na haar kyk ek op.

2.  Bottertjie:  sonder Bottertjie sou blogland baie bleker gewees het!  Ons eie  grafiese ontwerper het al ‘n hele paar blogs, myne inkluis, met haar toorstokkie opgekikker.  Dan is sy nog so borrelende dingetjie, altyd besig met grappies en sy sê haar ding sonder pretensies.  As daar ’n swetswoordjie moet in wees, dan sal hy daar wees.  “What you see, is what you get.”  ‘n Prestasie in hierdie virtuele wêreld waar maskers die in-ding is.

3.  Neil Kroese:  nou ja, ek weet nie of Neil regtig te vinde is vir hierdie soort van ding nie, maar ek geniet sy humor verskriklik!  Soms lees ek hom en dan dink ek: hoekom het ek dit nie geskryf nie?  Hy skryf soos baie van ons dink, maar te skaam/ordentlik/bang/whatever is om openbaar te maak.  Kleinlikhede ruffle nie sy feathers nie, en daarvan hou ek baie.

4.  Tigerlily:  sy sit stil in haar hoekie en trotseer selde die buitewêreld, maar jinne, daai mens skryf mooi!  Dit tref my elke keer dat sy nie sit en nonsies uitryg nie, maar net skryf as sy iets op die hart het.

5.  Nelba:  soms laat sy my snot en trane tjank, ander kere lê van die lag.  Ek kan net nie blogland sonder haar voorstel nie.  Sy het ‘n manier om haar woorde so mooi in te span dat jy letterlik die storie voor jou oë kan sien afspeel.

En nou is die lysie gevul.  Daar is so baie blogs wat ek geniet, dis moeilik om net ‘n paar uit te sonder, maar reëls is reëls!  That’s my story and I’m sticking to it!  :lol:


0 Responses to “Koek en toekennings”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: