01
Oct
09

Vergifnis

16 November 2008

Ek wonder regtig of drank mens tog nie sekere goed in die regte perspektief laat sien nie?  Nie beskonke dronk nie, net genoegsaam ‘losgemaak’ sodat inhibisies wegval.

Saterdag op die aerie het Pieter sommer met die opstyg aan die slaap geraak.  Dit het my amper die hele vlug gegee om vir ‘n slag ‘n fliek klaar te kyk.  Gewoonlik kyk ek die nuutste vrystellings, maar om een of ander rede het ek besluit om ‘n obskure Suid-Afrikaanse fliekie te kyk.  Een waarvan ek nog nooit gehoor het nie, maar wat ek na dese nooit sal vergeet nie.

Die fliek se naam is “Forgiveness”.  Arnold Vosloo speel die hoofrol; ‘n apartheidspolisieman wat reeds amnestie gekry het by die TRC, maar toe na Paternoster gaan om sy slagoffer se familie om vergifnis te vra.  Die pa en ma (Neville en Daleen van 7de Laan) is die sout van die aarde.  Ordentlik, steeds hartseer oor hul seun Daniël se dood, maar ook te skaam om aan die gemeenskap te erken dat hy ‘n ‘terroris’ was wat deur die veiligheidspolisie gemartel en vermoor is.  So, hulle vertel dat Daniël in ‘n motorongeluk oorlede is.

Die sussie, Sannie, en boetie, Ernest, (Errol van 7de Laan) is egter bitter, opstandig en wil wraak hê.  Sannie bel een van Daniël se vorige kamerade, en hy en twee tjommies val in die pad om Tertius Coetzee, die polisieman, van kant te maak.  Sannie kry opdrag om Coetzee in Paternoster te hou tot hulle daar aankom.

Sannie en Ernest hou Coetzee besig so goed hulle kan.  In daardie ‘wagtyd’ begin hulle besef dat Coetzee werklik berou het, en dat hy in geestelike pyn verkeer.  Op ‘n keer sien Sannie hom die dorpie uitry, en sy probeer hom injaag op haar fiets om hom te keer.  Hy draai egter af en gaan strand toe met ‘n tas wat hy vol wit skulpe pak.  Daarna ry hy begraafplaas toe en pak die skulpe op Daniël se graf.  (Die priester het hom vertel die mense noem dit ‘flowers from the sea’.)  Op ‘n afstand hou Sannie hom dop terwyl hy onbewus van haar teenwoordigheid is.

Intussen het die drie kamerade ook hul eie drama terwyl hul op pad is.  Die een begin die ander een beskuldig dat hy die ‘mol’ was wat Daniël aan die veiligheidspolisie verklap het.  Op Paternoster sê Daniël se ma aan Coetzee dat hy moet vergifnis by Daniël self gaan vra.  So staan hulle toe almal om die graf toe die drie oud-vryheidsvegters daar aankom.

Sannie begin berou kry, en vra Coetzee om in sy kar te klim en te ry.  Coetzee vertel die familie dat een van die drie wel vir Daniël uitgelewer het.  Maar, voeg hy by, dis omdat die veiligheidspolisie reeds sy broer gehad het.  Die oomblik is te veel vir die skuldige, en hy skiet Coetzee dood.

Ek het gehuil en gehuil.  Lank voor die einde van die fliek.  Coetzee se dood was amper genade.  Mens kon aanvoel hoe skuldgevoel en berou hom gejaag het.  Sannie sê op ‘n stadium aan hom: “You don’t want forgiveness.  You want punishment.”  Dis die gevoel wat ek ook gekry het.

In elk geval, 3 botteltjies rooiwyn later, het die hele sakie vir my kristalhelder gelyk.  Selfs vandag nog, en ek is nou doodnugter.  Veertien jaar is nie lank genoeg om veertig jaar se vergrype te laat verdwyn nie.  Laat iemand my seun martel en dan doodskiet.  Ek dink nie daar sal ooit vergifnis in my hart wees nie.  Ek sal wil wraak hê.

Skielik is daar nie meer ‘n blanke Suid-Afrikaner wat enigsins iets met apartheid te doen gehad het nie.  Ons is vandag almal onskuldig. Ons kla eerder oor swak onderwys of power gesondheidsorg.  Dis mos beter om ‘hulle’ te blameer vir wat verkeerd is in ons lewens.

Honderde ouers het kinders ‘verloor’, om die eenvoudige rede dat hulle velle nie so wit soos ons s’n was nie.  Baie ouers het nooit gehoor wat met hul kinders gebeur het nie.  Baie ouers het nooit ‘n liggaam gekry om te begrawe nie.  Hulle kon nêrens heen gaan om te kla nie.  Die polisie en regstelsel was teen hulle.

Ek het ook op ‘n stadium gedink dat swart pigment in jou vel jou minder mens maak.  Jou minder vatbaar maak vir pyn en hartseer.

Vandag weet ek van beter.

Vandag wil ek vergifnis vra.

Noem my maar ‘n kafferboetie.


0 Responses to “Vergifnis”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: