01
Oct
09

Ebo

23 November 2008

23 November 1975 het vier Suid-Afrikaanse soldate gesneuwel by die veldslag van Ebo, Angola.  Dis vandag presies 33 jaar gelede.  Hulle oorskot is steeds daar begrawe.  Lees die berig en my vorige inskrywing daaroor.

Die storie het ons laat hoendervleis kry.  Dus, toe ons uiteindelik Woensdag hier kon wegkom, was Ebo heel eerste op ons lysie van goed-om-te-doen.  Angola se binneland is vir ons grotendeels nog ‘n misterie.  Gewoonlik vat ons die pad kuslangs af.  Gewapen met die eerste moderne kaart van Angola, is ons hier weg.  Die eerste dag het ons tot in Gabela geneem. Dit het gesous en die grondpad het ons deur mistige berge geneem.  Dit was reeds donker toe ons by ‘n vulstasie intrek en volmaak.  Die plan was om ‘n slaapplek te soek en die volgende dag na Ebo te reis.  Die petroljoggie, bless his soul, het ons egter  40 km op ons spore teruggestuur met wonderlike akkurate aanwysings.  Daardie eerste aand het ons by die vulstasie op Gabela geslaap, sommer in die bakkie, terwyl dit aanhoudend sag reën.

Die volgende oggend het ongemaklike slaapposisies ons vroeg uit die vere gejaag.  Ons is terug op die pad waarmee ons gekom het.  ‘n Landskap soortgelyk aan Duiwelskloof/Haenertsburg het ons verwelkom: ruig, mistig, motreën, grasgroen.  Na presies 40 km het ons die dowwe aanwyser na Ebo gekry.

malange-124-copy

Moet ons of moet ons nie?Moet ons of moet ons nie?

Die paadjie na Ebo loop deur lowerryke heuwels met ‘n paar dodgy bruggies.  Oral is die mense aan die werfskaf.  Elke beskikbare lappie grond word bewerk, en sesuur in die oggend is die mense al besig om te skoffel en te plant.  Hulle is vriendelik.  Waai en groet waar ons ook al kom.

Die dorpie Ebo is klein en, in Angolese terme, ‘n oulike plekkie.  Ons het daardeur gery op soek na ‘n afgeleë plek waar ons kon aftrek, tande borsel en iets eet.  Dit was moeilik.  Oral loop mense en daar is nie onbewerkte gebiede nie.  Op die ou einde het ons langs ‘n mielieland ingetrek, maar binne 5 minute het ons ‘n skare toeskouers gehad.  Elke motorfiets (met pa, ma en ‘n baba) het gestop en gegroet.  Daar het ons uitgevind waar die 4 soldate begrawe is.  Daar is Kubane ook begrawe, maar aan die ander kant van die dorp.

Belangstelling...Belangstelling…

Die Suid-Afrikaners lê aan die voet van ‘n groot granietklip by die ingang na Ebo.

malange-102-copy

Die omgewing is ruig, maar toevallig het die ‘kurator’ en sy helper juis daardie oggend ‘n paadjie oopgeskoffel na die area toe.

Kurator en assistentKurator en assistent

Tussen die pilare van ‘n ou, lank reeds vergane gebou, lê die tank en die vliegtuig.  Dis emosioneel om na die wrakke te kyk en te dink dat mense daarin dood is.  Volgens koerantberigte is Niël Lombard omtrent ‘n kilometer verder begrawe, maar volgens die ou ‘kurator’, is al vier begrawe onder die wrakstukke.  Ons swak Portugees het dit nie toegelaat om daaroor te debatteer nie.

VliegtuigwrakVliegtuigwrak

23-11-197523-11-1975

Ek het stil daar gestaan terwyl Pieter opgewonde rondgehardloop het.  In my gedagtes het ek hulle gegroet.  Op ons pad uit het Pieter vir my ‘n bloedrooi vlamlelie gepluk.  Dis toe dat ek opmerk dat daar baie van hierdie lelies tussen die lang grasse groei.  Pa het een gepluk en op die tank gaan neersit.  Ek het vier uitgehaal, een vir elkeen wat daar dood is.  En ‘n stukkie van die vliegtuigwrak geneem om in my rotstuin te sit.

Rus in vrede, Niël Lombard, Daniël Taljaard, Keith Williamson en Eric Thompson.  Mag julle gou huistoe kom.

malange-111-copy


0 Responses to “Ebo”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: