20
Sep
09

Kissama

3 Oktober 2008

Kissama (of Quiçama) Nasionale Park is in 1938 gestig as wildsreservaat, maar op 11 Januarie 1957 as Nasionale Park benoem.  Om ‘n idee te gee van hoe groot die Park is:  die Krugerwildtuin is ongeveer 20 000 km²,  Kissama is 10 000 km².  (Alhoewel Wikipedia dit as 12 000 km² gee.)  Die suidelike grens is die Rio Longa (rivier), die westelike grens die Atlantiese Oseaan en die noordelike grens, die Kwanza rivier.  (Ons bly teen die Kwanza rivier.)  In die beginjare was wild volop, maar 27 jaar se burger-oorlog het dit byna volkome uitgewis.

‘n Interessante brokkie wat ons by een van die locals gehoor het, is dat die MPLA regering opdrag gegee het dat wild in die land uitgeskiet moet word om die UNITA guerilla-vegters te laat verhonger.  Amper soos die ’scorched earth’-beleid van die Britte met die Anglo-Boereoorlog.  Voorheen het ons aangeneem dat die Kubane die wild uitgeskiet het.  (Hoekom ons so gedink het, weet nugter alleen!)

Die Kissama Foundation is in 1996  deur ‘n groep Suid-Afrikaners en Angolese gestig omdat daar kommer geheers het oor die stand van wildtuine in Angola, en ook bewaring van natuurlike hulpbronne in die algemeen.  Tot vandag speel Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse instansies ‘n groot rol in natuurbewaring in Angola.  Professor Wouter van Hoven van UP het twee internasionale toekennings ontvang vir sy inisiatief om wild van Suid-Afrika, Namibië en Botswana in Angola te hervestig met die Noah’s Ark Operation.

Dit alles het ek gelees voor ons verlede Saterdag by Kissama ‘n draai gaan maak het.  Ek was meegevoer met die betrokkenheid van Suid-Afrikaners by Kissama.  Groot was my ergernis toe ons dus by die kamp  se hek kom, en vlae van Portugal, Brittanje, Angola en Brasilië  lustig in die briesie waai, maar Suid-Afrika s’n is nêrens in sig nie. Gelukkig het ek my bek gehou…

Kissama is pragtig.  Sonder om nou soos ‘n hakkerige langspeelplaat te klink, die kremetarte is volop.  En nabome.  Die vaal wintersveld is vir my ook mooier as die welige, groen plantegroei van die somer.  Ons wou eintlik net vinnig gaan kyk hoe dit daar lyk, maar het op die ou einde in die restaurant gesit en  afkyk oor die vorstelike Kwanza-rivier.  Die uitkomslag was ietwat moeiliker.  Wat ons op die langste ‘n uur moes vat, het later vier ure geword.  Erg verdwaal en baie dankbaar toe ons weer op bekende paaie kom!  ‘n Bonus is dat ons darem bietjie wild gesien het, alhoewel ons meer op die pad gekonsentreer het.

Hierdie naweek gaan ons soos beskaafde mense by die wildtuin se chalets inboek.  Die tricky deel is:  (konsentreer nou mooi!)  ons vermoed die wildtuin is so 10 km (nie meer as 20 km nie, in elk geval) van ons af.  Die normale roete sal wees om deur Luanda te ry, dan oor die enigste brug oor die 1 000 km-lange Kwanzarivier.  Ongeveer 140 km.  Hierdie naweek gaan ons iets probeer.  Wonderlik as dit gaan werk, maar weer een van ons rampspoedige toggies as dit nie werk nie!  ‘n Entjie van ons af, is daar ‘n pont wat mense heen en weer oor die Kwanza neem.  Ons was nog net een keer daar, maar toe was die pont buite werking.  Ons wil Saterdagoggend met die pont oor die rivier gaan en dan (blindelings) ons pad al langs die Kwanza wildtuin toe soek.  Dit sal baie korter wees as die ‘normale roete’, en op hierdie stadium sal ons enigiets doen om Luanda se verkeer te mis!

Ons het gebel en plek bespreek.  My man het ‘n Angolees gevra om die belwerk te doen terwyl hy by gestaan het.  Dit was die normale warra warra in Portugees gewees, en toe hoor hy “Africa de Sul”.  (Suid-Afrika)  Na die gesprek wou hy by die ou weet hoekom hy Suid-Afrika genoem het.  Nee, vertel die man hom,  hulle wou weet van watter land ons kom, want hulle wil vir ons ‘n vlag by die hek ophang…


0 Responses to “Kissama”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: