20
Sep
09

Gasoleo

6 Oktober 2008

Ek sit nou hier en tik, my ogies op stelte – van moegheid.  Ek wag net vir Domingas om by die deur in te stap, dan gaan ek die bed tref met die spoed van lig.  Die naweek was soos al ons naweke gewoonlik is:  onvoorspelbaar.  Ek ly nog effe aan bomskok, dus gaan ek nie te veel uitbrei nie.  Die rofies moet eers gesond word!  :lol:

Ons is Saterdagoggend baie suksesvol met die pont oor die rivier.  Ek voel nogal baie chuffed, want een van die dae gaan die pont nie meer nodig wees nie.  Die Chinese is besig om ‘n brug daar te bou.  Ek is nie ‘n brugkenner nie, maar dit lyk of hy binne ‘n maand of twee oopgestel kan word.  Ek het die pont beskou en by myself gereken hulle behoort twee karre op ‘n slag oor te neem.  Op die ou einde het hulle vier karre tegelyk oorgeneem – waarvan een ‘n stootskraper was!

Die onbetroubare pontDie onbetroubare pont

Ons nuwe pad na Kissama is 100 km langer as die ou roete.  Dis ‘n grondpad, maar so gelyk soos ‘n teerpad.  Baie min verkeer beweeg tans daarop, omdat almal afhanlik is van die pont.  As die pont nie loop nie…maar wag, ek kom daarby.

Kissama was heel lekker, as mens vergeet van die feit dat hulle mens 50 dollar charge om in jou eie braaier, met jou eie charcoal en blitz, ‘n vuurtjie maak om jou eie vleis  gaar te maak.  Ten minste was brêkfis darem ingesluit by die prys, maar dit het ons ook toevallig agtergekom toe ons wou betaal na ete.

Ons het ons sommetjies baie verkeerd gehad, en het gedink die ‘nuwe pad’ is net 30 km langer as die ou pad.  Ons is Sondagmiddag toe weer vort op die langer pad, want ons wou weer die ‘pond experience’ hê.  Gistermiddag 4 uur kom ons by die rivier aan nadat talle mense by ons verbygery het, al flitsend met hul hoofligte.  Ons het nie geweet waaroor die commotion gaan nie, het tot gestop en gekyk vir moontlike pap wiele.  Later het ek gespot hulle flash “die pont is toe”.  Gmf.  Simpel grappie.  Daar het ‘n enkele taxi gesit en wag vir die pont.  DIe operateur was kerk toe in ‘n naburige dorpie.  Toe hy teen 5 uur nog nie daar is nie, het ons maar omgedraai en teruggery.  Om te dink ons was net 54 km van die huis af…

Die sexy grondpad na KissamaDie sexy grondpad na Kissama

Dit was aaklig om te dink ons moes die hele pad (280 km) terugry, verby Kissama en oor die ou brug.  Ons diesel was gevaarlik laag, maar op daardie hele stuk pad kon ons niemand kry wat diesel verkoop nie.  Toe ons oor die brug is, omtrent 8h30,  het ons vreugde geen perke geken toe ons die tuisgemaakte teken sien:  Vendese Gasolina.  Eers rys ons hare toe ons die prys hoor: amper R300 vir 30 liter.  (Wat in Suid-Afrika normaal is, maar hier is brandstof spotgoedkoop.)  Maar, beggars can’t be choosers, en ons aanvaar dit toe.  Die outjie het net begin ingooi, toe my man die pypie uit die tenk ruk.  Petrol!!  In ‘n dieselbakkie!  En besef te laat: gasolina is petrol.  Gasoleo is diesel.  Ag, tjorts.  Daar staan ons toe.

Na gisteraand het ek nie tyd vir Rooinekke nie.  ‘n Suid-Afrikaner bestuur ‘n baie bekende oord by die Barro de Kwanza, en was omtrent 2 km van waar ons gestaan het.  Hy ken ons.  Ons ken hom.  Sy verweer:  hy is nie lus om nou uit die bed te klim nie.  Op die ou einde kom Groot Joe met sy bakkie van Bom Jesus (2-3 ure of 140 km van ons)  en bring vir ons 30 liter diesel.  (Die fabriek se mechanic het ons aangeraai om die petrol met genoeg diesel te verdun.)  En ons wag.  Langs die klein shack waar ons die petrol per ongeluk gekoop het.  Wag, wag, wag…

Later gaan sit ek op die bankie van die shack.  Drie lorries kom trek in en maak ‘n mini-laer.  Ek bekyk die storie so, en spits my ore.  Afrikaans!  Ons het nadergestap en met die drie manne begin gesels.  Hulle kom van Keetmanshoop af en is al amper ‘n maand lank oppad na Luanda.  Hulle wys vir ons foto’s van ander trokdrywers wat saam met hulle weggetrek het, maar langs die pad ‘geval ‘ het.  Lorriedryf is nie vir sissies nie.  Ons deel ons braaivleis van die vorige aand met hulle voor hulle gaan inkruip.    Dankie, onbekende manne.  Die wag was baie korter nadat julle daar opgedaag het.

Joe het ons teen middernag kom verlos.  Ons het sy 30 liter diesel ingegooi, gery na ‘n proper garage en die tenk volgemaak – R129 vir 42 liter!  Halfdrie vanoggend het pa in die bed geklim.  Pieter het amper die hele dag in die bakkie gesnooze, en wou van slaap niks weet nie.  En dis hoekom ek nou hier sit met leepogies.  Ek het die klein Diktator opgepas tot nou toe.  Bygesê, hy was ‘n modelkind in die bakkie.  Geen gekerm of geteem.  As ek nog met ‘n moeilike kind ook moes sit, het ek sowaar ‘n koronêr geskiet.  So, ek vergewe hom nou baie!

Amper 800 km in een dag…ek wil nie die een weer oorhê nie!


2 Responses to “Gasoleo”


  1. Oktober 9, 2009 om 12:49 vm

    Dankie, Eeltjie. Ek kon darem nou hierna terug verwys. 😉


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: