16
Sep
09

Wolf in skaapklere

3 September 2008

Toe ek klein was, het ek gedink moordenaars is lelike mense.  Mens sou hulle sommer op ‘n afstand kon uitken aan die moordadige, wrede uitdrukking in hul oë en pokmerk-gesigte.  Jare later, besig met my opleiding in ‘n provinsiale hospitaal, het ek vir die eerste keer ‘n moordenaar gesien.  En sy het die gesig van ‘n engel gehad.

Sy het ‘n kiosk in die hospitaal gehad.  Tee- en etenstyd het ons gegaan en muffins of pies daar gekoop.  Sy was altyd vriendelik, sprankelend.  Ek kon selfs op skuld by haar koop as ek nie geld by my gehad het nie.  Toe word haar man een aand vermoor.  ‘n Inbreker het haar vasgebind en haar man met vier skote in sy bed doodgeskiet.  Haar dogtertjie was ook in die huis.  Ek was oorkom met meegevoel vir die arme mens, maar gou het die gerugte begin loop.  Sy was agter die moord.  Ek kon dit nie glo nie.  Nie sy nie.  Nooit.

Maande het verbygegaan.  Die gerugte het halsstarrig gebly.  Sy is weer getroud, en het steeds die kiosk in die hospitaal bedryf.  Partykeer het ek na haar gekyk en tot in haar siel probeer kyk.  Hoe kan so mooi mens so boosaardige plan beplan en uitvoer?  Sonder dat ek my kop daaroor gebreek het, het ek aanvaar dat dit net ‘n misverstand was en dat die waarheid wel sal uitkom.  Diè storielyn sou meer van pas wees in ‘n sepie as in ons stowwerige dorpie.

Na ‘n lang, lang tyd was daar uiteindelik ‘n hofsaak.  Gru-feite het aan die lig gekom.  Sy het die ‘inbreker’ ‘n som geld belowe om haar man te vermoor.  Op die betrokke aand het sy die hond toegemaak, die deur oopgesluit en ‘n rewolwer in die yskas gesit.  Nadat haar man doodgeskiet is, het die ‘inbreker’ haar met toue vasgebind, maar nie te styf nie.  Sy moes kon loskom om die polisie te bel.  Toe sy nie die huurmoordenaar kon betaal nie, het hy by haar in die kiosk kom werk, en saans na toemaaktyd het hulle op ‘n sponsmatras gekuier.  Haar medebeskuldigde het alles erken, maar die spyker in haar kis was toe haar bekentenis aan haar dominee toegelaat is in die hof.

Een Sondag na kerk staan ek by Pick & Pay om te betaal.  Voor my in die tou staan sy en haar nuwe man.  Sy is mooi soos altyd.  Sy het ‘n vrolike rooi truitjie aan.  Ek kyk hoe sy tamaties en blaarslaai uitpak.  Haar naels was lank en rooi en haar hande goedversorg.  Die volgende dag sou vonnisoplegging wees.  Ek het gewonder hoe sy dit doen.  Om aan te gaan asof niks fout is nie.  En ek het gewonder hoe lief haar man vir haar moet wees om ondanks alles, steeds by haar te staan.

Die volgende dag is sy lewenslank tronk toe.  Soms is duiwel baie mooi, weet ek nou.


0 Responses to “Wolf in skaapklere”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: