16
Sep
09

Die dag toe Naas geval het.

2 September 2008

In 1987 het my broer, Pieter, my na my eerste (en laaste) rugbywedstryd gevat.  Die venue was die Vrystaat Stadion, en dit was die twee aartsvyande teen mekaar.  Vrystaat teen die Blou Bulle.  As ek nou terugdink, was die pawiljoen maar klein, amper soos ‘n skoolpawiljoen, maar dit was gepak met geesdriftige ondersteuners.

Ek en Pieter het ‘n lekker plekkie halfpad op teen die pawiljoen gekry.  Voor ons het ‘n baie stugge oom gesit.  Ek dink hy was ‘n Bul-ondersteuner.  Langs en agter ons het egter mense met gees gesit.  Die oom voor ons het gelyk soos iemand wat “Rugby for dummies” sou kon skryf.  Ons geskree het hom duidelik baie geïrriteer, maar dit het ons nie in die minste afgesit nie.  Kort-kort het hy half vererg omgekyk, en dan het ons èèrs luidkeels tekere gegaan.  Maar ons was nie alleen nie.  Die res van die toeskouers het net so hard soos ons lawaai.

Die atmosfeer was meesleurend.  Ek weet nie veel van rugby af nie, maar as die regte mense, die Vrystaters, skree, dan skree ek uit volle bors saam.  Soms weet ek nie mooi waaroor die gejubel gaan nie, maar ek het hulle volkome vertrou.  So ploeter die wedstryd aan.  Naas word geboe met elke moontlike geleentheid, en as ek reg onthou, het ons spannetjie nie juis hond haaraf gemaak nie.  Nie dat dit die gees hoegenaamd gedemp het nie.  Daardie jare het ons nie ‘n ‘wenkultuur’ gehad nie.  Ons was gewoond aan verloor, maar het dit geniet om Naas te haat.

Eintlik het ons nie veel rede gehad om so vrolik te wees nie.  Die Bulle het voorgeloop, en ons frustrasievlakke het mettertyd ook begin styg.  En toe.  Kom die Held van Bloemfontein.  Jannie Els.  En hy slaat Naas katswink hier reg voor ons.  Dat Naas agterna opgesukkel het en ‘n strafskop oorgetik het EN dat ons wel verloor het, het nie saak gemaak nie.  Die genoegdoening om ou Tandekas amper in slow-motion te sien val, was iets wat mens nie met ‘n Master Card kan koop nie.  Daai hou het die wedstryd vir ons ‘ge-clinch’.

Ons is op ‘n high daar weg.  Die knorrige oom het ons wel vuil kyke gegee en onderlangs gebrom van ‘onopgevoedheid’, maar dit was water op ‘n eend se rug.  Ons was jonk, ons het die Blou Bulle verpes, en Naas Botha nog meer!

Ek het nie weer van Jannie Els gehoor nie.  Dalk was hy geskors.  Ek onthou net hoe liefdevol die Bloemfonteiners oor hom gepraat het.  Die man wat uitdrukking gegee het aan die provinsie se gevoel oor Naas Botha!  En vroeg in daardie week, het baie karre met stickertjies rondgery wat verkondig: I ♥ JANNIE ELS.

Dis seker hoekom ek nie weer by ‘n rugbywedstryd was nie.  As mens jou rugbytoeskouerloopbaan op sò hoogtepunt begin, sal volgende wedstryde net ‘n anti-klimaks wees.  I really, really ♥ Jannie Els!  xx


1 Response to “Die dag toe Naas geval het.”


  1. 1 chris moolman
    September 23, 2012 om 11:08 vm

    Ek het vir jou ‘n foto soos hy nou lyk


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: