14
Sep
09

Diere van gister

Ek kan nie verstaan hoekom ek vandag nie erg is oor diere nie.  As kind was diere so deel van ons bestaan soos asemhaal.  As ek terugdink na my kinderdae, dan is die herinneringe deurspek met diere. Spesiale diere.

Soos Kaffertjie.  Ek was ‘n klein, klein dogtertjie toe ek en my pa eendag petrol ingegooi het.  By die garage het ‘n seuntjie gestaan en hy het hierdie klein, swart katjie aan sy nekkie vasgehou.  My pa, ondanks sy tekortkominge, was baie lief vir diere.  Ek weet nie of hy die katjie net gevat het, en of hy hom gekoop het nie, maar die katjie is saam met ons huistoe.  Eers baie, baie later het ons ontdek dat Kaffertjie eintlik ‘n Meidjie was.  Sy het haar kleintjies gereeld by my op die bed kom kry, en dit het my glad nie uitgefreak nie.  Dit was net te fantasties om wakker te word en ‘n hele spul katjies op die bed te kry!  Ondanks die foutiewe benaming, het Kaffertjie se naam Kaffertjie gebly, en almal onthou haar vandag nog.  Dertig jaar later.

My eerste en enigste hond was Rooie, ‘n pragtig rifrug met ‘n goudbruin pels en liggroen oë.  Ek was baie lief vir die hond.  Ek onthou hoe hy slap en ontspanne op my skoot kon lê terwyl ek sy ore vryf.  Hy was nog nie volgroeid nie, toe hy siek word en veearts toe is. Hy het nie teruggekom nie.  As ek mooi daaraan dink, is Rooie dalk die rede hoekom ek nie weer lief geword het vir ‘n dier nie.  My hart was stukkend oor hom.

Diere kan ‘n mens breek.  Party meer as ander.  My boet, Jurie, het ‘n Staffie teef gehad, genaamd Wurm.  Sy was ‘n skattige hond.  Liefdevol en spelerig, sonder om uitbundig te wees.  Almal was lief vir haar.  Ek was al uit die skool uit toe my ander broer, Pieter, my een aand baie laat wakker maak met die nuus dat hy Wurm per ongeluk doodgery het.  Ek wou nie wakkerword nie.  Ek het gedink as ek my oë toehou, sal dit net ‘n nagmerrie wees wat verbygaan.  Dit was toe nie net ‘n nagmerrie nie.  My pa het my die volgende oggend wakker gemaak en gevra dat ek Jurie moet gaan troos.  Jinne, daardie dag het ek gehuil!  Jurie het by die oop graffie gestaan en gesnik soos ‘n baba. (Hy was toe in matriek.)  Hy het Wurm gevryf terwyl die trane oor sy wange geloop het.  Eers baie later kon ek hom oorreed om die graffie maar toe te gooi.  Dit het hom egter nie van diere afgesit nie: hy het vandag hordes honde op sy plot.

Diere kan ook baie pret en vreugde gee.  Ons het ‘n kampie gehad met ‘n stal in die middel, ‘n kleinerige boompie aan die een kant en ‘n groot voerbak aan die ander kant.  Ons het altyd hanslammers gehad – wat naderhand nie meer lammers was nie, maar befoeterde ramme.  Vir ons drie kleintjies was dit ritueel wat nooit gemis is nie.  Na melktyd het ons en die lammers begin jol.  Eers het een van die voerbak afgespring met ‘n rammetjie agterna, dan om die stal en dan woeps! in die boom.  As die skaap net effens weggekyk het, is jy weer uit die boom, om die stal en terug op die voerbak. So het elkeen ‘n beurt gekry om ‘n adrenalien rush te kry!

‘n Kat het eendag een van my ma se kuikens onder hande gehad, en die arme ding het erg verrinneweer daaruit gekom.  My ma het hom mooi verpleeg, en hy het oorleef en ‘n groot haan geword.  Die enigste probleem:  sy nek was na die aanslag heeltemal misvormd en hy het permanent na sy stert gekyk! Hy het nie ‘n naam gehad nie, maar hy het los op die erf rondgeloop en geen kat of hond het hom ooit weer aangevat nie.

My ma se Siamees, Vinkel, het die ander katte ‘n helse lewe laat ly.  Tot sy die dag ‘n ander kat in ‘n boom injaag, haar houvas verloor en in ‘n bak ou olie geval het. (Dit was plotdae; my pa se goed het orals rondgestaan!  :lol: ) Sy het al haar hare verloor, en dit het eers weke later begin uitgroei.  Maar haar persoonlikheidsverandering was verstommend! Sy was so meek en mild daarna, en het geen kat ooit weer verpes nie.

En noudat ek begin het, kan ek nie ophou nie!  Ek wil nog praat oor ons hoendertjies, oor my pa se spesiale kat en Lisa, Cherrie en Serpent, ons eerste rifrûe.  Ek kan nie glo die diere is nog so helder in my geheue nie.  Dis darem 20, 30 jaar gelede se dinge!  En snaaks hoe strelend en helend dit is om weer in die verlede te gaan kuier.  Ek gaan maar ‘n Deel II  moet doen!  :wink:


0 Responses to “Diere van gister”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: