13
Sep
09

Ode aan Stovepipe

10 Augustus 2008

My Afrikaanse onnie in die hoërskool was Stovepipe.  Sy naam het hy gekry oor die stovepipe broeke wat hy gedra het. Dit was die tagtigerjare, en stovepipe broeke was lankal nie meer fashionable nie.  Dit het hom ‘n paar jaar gevat om by te kom, en toe neuk hy oor na die ander uiterste: bell bottoms.

Hy het by ons skool begin toe ek in st. 7 was. Hy was toe ‘n jong man, pas uit die army, en hy was nogal ‘n kaptein ook.  Sy houding was militaristies tot ek die dag gewaai het.  Ken in die lug, agterkop amper teen sy nek, met ‘n stappie wat jou gewys het hy vattie kakie.  En ‘n yslike besemsnor.

Ou Stovies het baie eienaardighede gehad, maar hy was ‘n Afrikaanse leermeester duisend.  (Nie dat enige oorblyfsels daarvan vandag in my taal te bespeur is nie.  :lol: )  Hy het onbeskaamd sy paar witbroodjies gehad – waarvan ek nie een was nie – maar op ‘n manier het hy ons almal deur matriek gekry. Maar veral het hy daarin geslaag om Raka en Bart Nel in ons koppe te kry.  Oi, dit was twee pestelike voorgeskrewe boeke…!

Stovies was ook in beheer van die volkspele in die skool.  Volkspele was GROOT.  Dit was immers op ons dorpie, in ons skool, waar volkspele in 1914 deur Dr S. H. Pellisier begin is.  Hy was nogal baie aanskoulik in sy swart onderbaadjie en wyepyp broeke terwyl hy “Aanstap rooies” se passies aan ons verduidelik het.  (Ons volkspele-rokke was sulke dowwe pienk skeppings. Blykbaar was almal net een size, want ons welbedeelde dogters het bietjie verdruk gevoel daarin. ) Ek het nog ‘n foto van Stovies by Pellisier se borsbeeld…jonk, glimlaggend, groot snor.

Hy was, sover ek weet, altyd single.  Die jong Engelse juffrou wat saam met hom begin het, het hom baie getjaaf, maar hy het immuun gebly. En nee, ek dink nie hy het vir die ander span gespeel nie.  Nee, definitief nie!

Ek dink nie Stovepipe het al die eer gekry wat hy verdien het nie.  Hy was ‘n pyn in die agterent, dis waar, maar hy het Afrikaans vir ons lewendig gemaak.  Selfs die sukkel-kinders het Afrikaans deurgekom.  Hy was ‘n emosielose soort mens, maar kon gedigte behandel dat mens skoon ontroerd geraak het.  Dit was ‘n love-hate verhouding wat ons met hom gehad het.  Sy maniertjies het ons (my) irriteer, maar sy vakaanbieding was absoluut bo verdenking.

Ek wonder soms wat van hom geword het.  Ek is daar weg en het nooit weer teruggegaan nie, behalwe vir ons 20 jaar reünie, en toe was ons ou skool nie meer wat hy was nie.  In die nuwe bedeling het dit ‘n uitsluitlik swart skool geword, en ek wonder wat dink ou Pellisier daar waar hy in die skoolvierkant staan.  :wink:   En Stovepipe was toe al lankal weg.  Is hy ooit getroud?  Hou hy nog skool?  Ek wonder…


0 Responses to “Ode aan Stovepipe”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: