13
Sep
09

Agter-ossies was ook kinders!

4 Augustus 2008

Ekke, so tussen 3 en 5 jaar oud.Ekke, so tussen 3 en 5 jaar oud.
Zee het my seker ‘n maand gelede, indien nie langer, getag om foto’s van my kleintyd te wys.  Ek het geen foto’s nie, alles is by Ouma.  Dit was ‘n storie om eerstens te onthou om te vra vir die foto’s en tweedens om te gaan soek daarna. Maar wat. All’s well that ends well.  Of hoe?  Skuus, Zee, maar jy sal nie weet hòè sleg ek al hieroor gevoel het nie!

Ons was plaaskindertjies.  As ek reg onthou, was die plaas se naam Mooiplaas, in die Standerton-distrik.  Ek onthou nie veel van daardie tyd nie, behalwe dat ons in ‘n ruim huis met houtvloere gebly het, en dat die tuin groot en boomryk was.

Dit was ook die tyd toe my voete baie in gedrang was.  Ek onthou hoe my Shetland ponie, Trippeles, op my voet getrap het en dat ek te bang was om te huil. My pa sou dan sien ek staan agter die ponie, waar ek nie veronderstel was om te wees nie, en dit sou definitief ‘n pakslae tot gevolg gehad het.

Die ander keer was my ma besig om ek-weet-nie-wat te doen nie, en daar het ‘n tamaai pot kokende water op die vloer gestaan.  Ek onthou die ousies wat daar rondgesit het. Hoekom ek dit gedoen het, weet ek nie, maar ek het met altwee voete in die pot gaan klim en myself liederlik verbrand.

Sulke goed gebeur mos in drieë.  My grootboet was besig om in die tuin te werk en ek het hom gepla. Dan wou ek dit doen, dan wou ek dat doen.  Op ‘n stadium het hy my vertel om nie die tuinvurk op te tel nie.  Hardekwas dogtertjie wat ek was, het ek dit wel gedoen die oomblik toe hy sy rug draai.  En daar laat val ek die ding, en die een tand steek regdeur my swart blinkleer skoentjie, deur my voet.

My ander grootboet het eendag voëltjie-eiertjies gaan soek.  Met die ekspedisie het hy in ‘n boom geklim om by ‘n nessie uit te kom.  Die tak waarop hy gestaan het, het afgebreek, en die stomp stuk wat oorgebly het, het die vleis uit sy been gepluk dat tot die been sigbaar was. Hy wou nie vir my ma vertel nie, maar gelukkig het ma’s oë en ore agter hul koppe ook.  Toe hy uiteindelik met die sak patats vorendag gekom het, het my ma hom gesond gedokter.  Geen besoek aan die dokter, geen antibiotika, geen niks.

Die foto’s is swart en wit.  Nie omdat ons nie daai tyd kleurfilms gehad het nie, maar omdat my ma gedink het swart en wit foto’s is mooier as kleurfoto’s!

Ek en kleinboet Pieter. My laatlam is na hom vernoem.

Ek en kleinboet Pieter. My laatlam is na hom vernoem


0 Responses to “Agter-ossies was ook kinders!”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: