12
Sep
09

Wurms

25 Junie 2008

Dit help nie ek gee voor die lewe gaan net aan na laasweek se inbraak nie.  Dis ook geen troos dat dit met duisende ander Suid Afrikaners gebeur het, en vanaand wèèr êrens in ons land gaan plaasvind nie.  Die feit dat ons so lig daarvan afgekom het, stem my tot groot dankbaarheid, maar dis ook geen troos nie.  Nie dat ek troos nodig het nie.

Ek is oorweldig deur paranoia, maar dis paranoia wat verlede week ons redding was.  Ek het ‘n klein bietjie psigiatriese kennis, genoeg om te weet dat die psigologiese trauma die gogga is wat my en my seun nou treiter.  En ek weet dat die letsels mettertyd gaan vervaag soos die tyd aanstap. Die ding is net: nou, op hierdie oomblik, is dit ‘n vreemde ding. Iets wat ek nie 100 % weet hòè om te hanteer nie.

Ja, ek is bang.  Maar, dis nie ‘n verlammende soort van vrees nie, meer iets wat my aanspoor om voorbereid te wees.  Of ek ooit voorbereid genoeg gaan wees, is ‘n ander vraag.  ‘n Groot deel van elke dag (en veral elke nag) sit ek en dink moontlik scenarios uit.  Wat as ‘n ou in my kamer kom terwyl ek slaap en hy het ‘n vuurwapen? Wat as daai ou die wapen op my rig? Gaan ek stilsit en met hom redeneer, of gaan ek hom probeer platduik?  Wat as dit ‘n mes is?  Hoe gaan ek myself verdedig as iemand die trappe OPkom na my toe, en hoe as hy die trappe AFkom?  Hoe kan ek dit vir hom/hulle nog moeiliker maak om te kry wat hulle wil hê?

Ek het twee kinders in die huis.  Pieter is klein en hulpeloos, Bruce groot en sterk.  Ek voel albei het my beskerming nodig.  Ek en Bruce het ooreengekom dat hy by Pieter sal bly as ons ooit in ‘n gevaarsituasie kom.  Hy sal NIE macho probeer wees nie.  Sy kanse, fisies, is beter as myne, maar ek sal nooit, ooit dat een van my kinders my battles veg terwyl ek eenkant wegkruip nie.  Dit maak hom nie gelukkig nie, maar hy weet dat ek hom nooit alleen sal los nie, en dat dit sal beteken dat Pieter alleen gaan wees.  Iemand MOET by Pieter bly.  So, ons weet wat elkeen se rol gaan wees.

Ek lê nagte om en dink aan die potensiële noue ontkomings wat ons gehad het.  Warm somersaande met die balkonskuifdeur oop.  Deure per ongeluk ongesluit gelos in nag.  Ja, ek is dankbaar dat niks voorheen gebeur het nie, maar ons slapgatgeit laat my in ‘n koue sweet uitslaan.  Dit kon soveel anders gewees het…

Die voordeel van die hele storie, is dat ons nou in iets soortgelyk aan Fort Knox woon.  En dis nie net die huis nie.  Ek en Bruce het verander in twee pynlik veiligheidsbewuste wesens.  Met slaaptyd ken ons die hele ritueel.  Laptops, handsakke en selfone word veilig weggebêre.  Huis-en karsleutels word weggesteek.  Voor ons nagsê, kom ons eers weer ooreen oor wie wat gaan doen.  Telefoonnommers vir nood en hulp is gesafe op speeddial.  Tot ek en my buurman het ‘n plan van aksie uitgewerk om mekaar te hulp te snel, sou dit nodig wees.

Ek neem niks meer as vanselfsprekend aan die.  Die onverwagte geluid is nie meer ’sommer iets’ nie, ek gaan kyk wat dit is.  As ek onder sit en TV kyk, neem ek nie net aan dat alles bo veilig is nie. Kort-kort gaan loop ek ‘n draai deur die huis om doodseker te maak.  Met my sel in die een hand en pepperspray in die ander hand.

Ek is bang vir vuurwapens.  Dis ‘n fobie wat ek het, en ek stel nie belang om dit te oorkom nie.  Maar, ek wil iets kry met ‘velocity’.  Ek het al aan ‘n BB-gun gedink, maar ek sal meer daaroor moet uitvind.  Enigiets wat ek op ‘n afstand kan gebruik.  Wat sal seermaak.  Wat sal afskrik.

Maar dan het ek ook moord-en wraakgedagtes.  In my verbeelding het ek al iemand met Bruce se jagmes keel-af gesny.  Iemand se kop ingeslaan en by die boonste venster uitgestoot.  Iemand se gesig met my vuiste voos geslaan en sy lyf vodde geskop. Een ding het ek van myself geleer, (ek, wat seker die wêreld se grootste pasifis is) bedreig my kinders en jy kry met my te doen.  Wen of verloor, maar my kinders se veiligheid bring ‘n dierlikheid in my uit.

Ek weet ook ek gaan met sommige goed te ver.  Soggens, 1 uur of 2 uur, sal ek op die trappe gaan sit en luister vir geluide.  Ek check vensters en deure letterlik 100 maal per aand.  Ek doen dit om een rede: ek wil nie weer onverhoeds betrap word nie.  Soms laat ek ons aldrie saamslaap, deur gesluit, net om een goeie nagrus in te kry.  Want andersins slaap ek nie.  Of, op die beste, slaap ek onrustig.

Oor ses maande gaan die hele ding waarskynlik al baie vervaag het. Dalk het ons dan weer in ons ou leefstyl geglip.  Maar dis vir my erg dat daar vanaand duisende mense is wat voel soos ek vanaand voel.  Mense met wie daar erger dinge gebeur het.  Imagine ‘n land waar ‘n groot deel van die bevolking hul psigiese wonde lek.  Dis ons land daai.  Geen wonder dinge is soos dit is nie.

NS Dit mag dalk so klink, maar simpatie soek ek nie.  Dit was net goed om die spul wurms in my kop in swart op wit te sit.  Om daarna te kyk, en nuwe perspektief te kry.  Gee kans. Eendag is my kop weer dolleeg!


1 Response to “Wurms”


  1. Januarie 14, 2015 om 1:09 vm

    Hi there everyone, it’s my first pay a visit at this site, and piece of writing is truly fruitful in support of me, keep up posting these articles.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: