12
Sep
09

Skerpioene, krieke en hoodias

27 Junie 2008

Die laaste groot outing wat ek en my man in Angola gehad het, was eintlik ‘n blêrrie nagmerrie.  Dit was nie sight-seeing trip nie, ons wou net nog ‘n plant in Namibe gaan uithaal. ‘n Hele 1000+ km ver agter ‘n plant aan. Ek besef nou dit was malligheid!

Op ons eerste aand het ons tent weggespoel.  Die res van die naweek het ons in die bakkie geslaap.  Al wat lekker was, was die restaurant-etes waarmee ons onsself getreat het.  Prawns, kreef, Chinees en op ons voorlaaste dag, die beste hamburger wat ek nog ooit geëet het. In ‘n baie obskure eetplekkie in Lubango.

Die tweede aand het ons êrens langs die mislike pad tussen Benguela en Lubango geslaap.  Vroeg die volgende oggend was ons in Lubango.  Af met die Leba-pas, en toe op ons pad na Namibe.  Net voor Namibe, het ons die afdraaipaadjie gevat na waar ons voorheen die spesifieke plant gekry het. Maar die landskap het heeltemal anders gelyk as die vorige keer.  In plaas van klippe en sand, was die hele wêreld toe onder gras!

Ons het ook nie ver gery nie, toe sien die uwe iets wat soos ‘n kaktus lyk. Natuurlik moes ons stop om hom uit te haal.  Dis eers toe ons langs die bakkie staan, dat ons opmerk dat alles TOE is onder yslike, massiewe koringkrieke.  Letterlik duisende van die goed. Ek ken koringkrieke nie, maar my man, ‘n ou Suidwester, het hulle dadelik herken.  Groot, vieslike, groenerige goed met laaaang pote.  En hulle skree, ‘n aaklige huilgeluidjie.

Dis die goed waarvan my nagmerries gemaak word, en my man moes die veld in om die ‘kaktus’ te gaan uithaal.  Na ‘n rukkie, toe dit te vervelig langs die bakkie raak, is ek ook versigtig die veld in.  Daar haal ons toe met ons kaal hande die fraai dingetjie uit.  Net om met die uithaalslag ‘n pikswart skerpioen op die plant te gewaar.  Ons het hom summier verbrysel, maar daarna was my senuwees aan flarde. Koringkrieke, skerpioene, what’s next?

Ons moes ‘n entjie aanry om by my geliefde woestynplant uit te kom.  Toe staan daar plate van die plante, wat ons die vorige keer nooit opgemerk het nie! Ek en Pieter wag weer langs die bakkie, terwyl arme Sagmoedige Neelsie met die graaf die veld in is.  Half op ons senuwees, want volgens wat ons gelees het, is dit eintlik in ‘n nasionale park!

So swoeg Geliefde in die woestynson, en ek en Pieter wag by die bakkie.  Die volgende oomblik sien ek twee figuutjies doer in die verte naderkom.  My bek hang oop toe ek sien dis twee meisietjies, seker so tussen 12 en 15 jaar oud.  Kaalvoet tussen al die gediertes wat daar rondwemel! Ons stres nie te veel nie, want ons vermoed daar gaan net weer gebedel word.

Gebedel is dit toe.  Maar nie vir water, soos ons vermoed het nie.  Nee, vra die twee girls, hulle soek sigarette.  Langtand, want ons voorraad is ook al laag, gee ek elkeen ‘n sigaret.  Die twee smile van oor tot oor.  Pa is nog steeds besig met die uithalery.  Die twee maak hulle sommer plat op die grond langs die bakkie tuis en begin behaaglik suig aan die sigarette.  Omdat ek nie van ‘droog rook’ hou nie, bied ek hulle elkeen ‘n Hunters aan. Die meisies gryp die bottels en flip die doppies met hulle tande af.  Seker nog nooit iets SO koud gedrink nie!  En daar is ons.  Vyf siele op die groot vlakte met die son wat braai en goggas wat skree.  Pa haal plante uit, en die twee sit en rook en drink terwyl hulle na die mal witman kyk wat plante steel.  Vreemde ervaring!  Hulle is op die ou einde daar weg met een van ons twee pakkies sigarette en twee 20 liter drommetjies water. Sonder seremonie op die kop gesit.

Terug by die huis (2450 km en 75 uur later) gaan doen ek navorsing oor my ‘kaktussie’. Dis die hoogs beskermde Hoodia.  Die plant wat die Boesmans geëet het as eetlusdemper en wat vandag die wêreld se vet mense maer maak.  Ek kan nie veel met hom doen nie, want hy soek net elke vier maande water, en op Bom Jesus kan dit somtyds sous.  Hy is nou in ‘n pot, beskermd teen enige reën!  Maar die sweet tap my af, want as die polisieman wat ons gestop het by die brug, ‘n flits gehad het toe hy ons bakkie deursoek het…


0 Responses to “Skerpioene, krieke en hoodias”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: