12
Sep
09

Pie in the Sky

29 Julie 2008

Ek moes die afgelope naweek help werk aan ‘n Geskiedenistaak.   Man, eintlik geniet ek dit verskriklik! Mens dink jy weet alles, net om weer ‘n paar interessante feite by te leer.  Bruce se klas moes oor die onafhanklikheidswording van enige Afrika land ‘n taak doen.  En natuurlik kies hy toe Angola.

Ek het baie meer simpatie met die Angolese.  Die eerste Portugese setlaars in Angola, was hoofsaaklik misdadigers wat verban is uit hul land.  Hulle was ‘n rowwe spulletjie, nie soos die ‘misdadigers’ wat van Engeland Australië toe gestuur is vir ‘petty crime’ nie.  Hulle was hard en wreedaardig met die plaaslike bevolking, en gou het die twee groepe nie ooghare vir mekaar gehad nie.  Boonop het Angola ‘n belangrike slawebron geword.  Tussen 1580 tot 1680 word ongeveer 1 miljoen slawe na Brasilië uitgevoer, sommige kenners reken dit kon selfs 2 miljoen gewees het.  Vir die volgende 4 eeue het die Angolese bevolking regtig swaar gekry onder die Portugese. Dwangarbeid, en selfs slawerny, was aan die orde van die dag tot diep in die 20ste eeu.

Die MPLA, FNLA en UNITA was die drie vernaamste politieke groepe in Angola.  Terwyl hulle teen die koloniale magte van Portugal geveg het, het hulle mekaar ook goed gas gegee.  Die burgeroorlog het dus al in die vroeë sestigerjare begin. Geen wonder die land se infrastruktuur lyk soos dit lyk nie.  In 1974 is die Portugese diktator, Salazar, uitgeskop, en die nuwe regering het nie lus of geld gehad om al sy oorsese kolonies in stand te hou nie.  Al die kolonies het blitsvinnig, een na die ander, onafhanklikheid verkry.  In 1975 het die MPLA beheer oor Luanda verkry en hulself as die regeerders aangewys. UNITA het gekla, en gesê Portugal behoort een laaste taak as koloniale heerser te vervul, naamlik om ‘n verkiesing te reël.  Die Porras was egter so haastig om weg te kom, dat hulle die land verlaat het sonder om amptelik die beheer van die land aan enigiemand oor te dra.  Dit was ‘n resep vir moord.  Volskaalse burgeroorlog het uitgebreek wat aangehou het tot met Jonas Savimbi se dood in 2002.

Die eerste leier van die MPLA, was Agostinho Neto.  Tot vandag is hy besonder geliefd onder die Angolese.  Sy verjaardag op 17 September staan bekend as Hero’s Day.  In 1976 word hy die eerste President van Angola.  In 1979 sterf hy in Moskou, waar hy vir kankerbehandeling was.

In Luanda is daar vir hom ‘n mausoleum gebou.  Dis ‘n indrukwekkende swart naald wat mens van ver kan sien. Blykbaar gebou met 100 miljoen dollar, ‘n lenig van Rusland, wat nog nooit terugbetaal is nie.  Ek kon min inligting oor die mausoleum in die hande kry, maar van my man se kollegas het ‘n storie vertel wat vreemder as sci fi is.  Die storie loop dat die mausloleum sò ontwerp is, dat, indien die MPLA die oorlog sou verloor, Neto se gebalsemde lyk met ‘n ondergrondse tonnel na die see geneem sou word, waar ‘n skip van Soviet Unie dit sou kom oppik.  Hoe waar dit is, weet ek nie.  Ek het egter al gelees van sy weduwee wat ongelukkig is oor haar man se oorskot wat in ‘n “onvoltooide projek, vol kakkerlakke en rotte” moet bly.

Dit bly darem een van Luanda se bekendste landmerke, ongeag die storie!

Agostinho Neto MausoleumAgostinho Neto Mausoleum

0 Responses to “Pie in the Sky”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: